Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 August 2020

Persoonlike Probleme: Sondige Gedagtes en -Drome

Spreuke 4:20-23

Toe ek in die laerskool was, het ek gedagtes vol roem gehad. Ek het gedagdroom oor hoe mense my prys. Later in my hoërskool loopbaan en kort daarna, het ek gedagtes van wellus bygevoeg. Mense wat my geken het, het gedink dat ek ’n goeie seun is. Maar hulle het nie my gedagtes geken nie. Ek het eers later geleer dat my gedagtes sonde is. Nog ’n bietjie later het ek geleer dat die duiwel se vuil vinger in die pastei is en dat hy hierdie gedagtes aanhits. Soos die jare aangestap het, het ek besef dat ek nie alleen is in my stryd nie. Ander gelowiges het my van húlle stryd vertel; van gedagtes waar hulle God se Naam laster, vieslike vloekwoorde sê, versoek word om mense dood te maak, en ander bose dinge te doen.

Hoe oorwin ’n mens sondige gedagtes van lastering, angs, vrees, wellus, egbreuk, woede, hoogmoed, jaloesie, en ander sondes? Hoe oorwin ’n mens sulke drome?

1. Voer die Bybel in (v.20-22)

Geen baba kan homself voer nie. So het kinders ook hulle ouers nodig om hulle te leer om reg te dink (v.20, 1, 10, vgl. 1:8, 2:1, 3:1, 10, 5:1, 7, 6:1, 20, 7:1, 24). Salomo het nie bloot sy seun geleer om reg te doen nie, maar ook dat hy ’n hart moes hê wat reg dink (v.21, 23). Leer dit vir jou kinders wanneer jy hulle tugtig. Vra hulle: ‘Wat het jy gedink toe jy dit gedoen het; wat wou jy gehad het?’ So sal jy agter hulle motiewe en begeertes kom en kan jy hulle na Jesus toe wys wat hulle harte kan verander.

Salomo het sy kind geleer om sy oor te neig, sodat hy die wyse lering van die Woord kon ontvang (v.20). Hy moes nie toelaat dat die Woord uit sy sig verdwyn nie, maar hy moes dit in sy hart bewaar soos wat ’n tronkwag ’n gevaarlike misdadiger oppas (v.21). In die Bybel verwys die hart na die mens se verstand (Spr. 3:3), emosies (Spr. 15:15, 30), wil (Spr. 11:20, 14:14), en sy hele innerlike wese (Spr. 3:5).1 Die hart is as’t ware die kontrole kamer waaruit jou persoonlikheid, karakter, en jou hele lewe ontspring. Sorg daarom dat die regte Operateur in die kontrole kamer sit: die Heilige Gees en die Woord van God (Ps. 119:11, Joh. 14:17). Vul jou gedagtes met die Woord. Memoriseer dit, oordink dit, en hersien wat jy geleer het (v.21, Ps. 1:2, 119:97). Gehoorsaam Fil. 4:8 soos opgesom in die Persoon en werk van Jesus Christus: “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Vul jou gedagtes met dank en lof aan die Here.

As jy hierdie dinge nalaat, sal die wêreld en die duiwel jou gedagtes vír jou vul net soos wat plakkers ’n huis beset as niemand daar bly nie (Matt. 12:43-45). As jy egter jou gedagtes met die waarheid vul, sal jy geestelik en fisies lewe (v.21).

[a] Geestelik (v.22)

God se Woord sê vir jou hoe en waar jy geestelike lewe kan vind (Rom. 1:16, 2Tim. 3:15, 1Kor. 1:18, 1Pet. 1:23, 25, Jak. 1:21). Vind dit in God self: in Jesus wat sy lewe vir ons gegee het aan die kruis, asook deur die Heilige Gees wat dit in ons harte bewerk. Soek daarna in die Skrif en deur gebed. Hou aan vra totdat die Here jou antwoord en jou geestelik lewend maak (v.22, 2:1-6, Deut. 4:29, Jer. 29:13, Matt. 7:7-8).

As jy dit nie doen nie, sal jou hart en jou gedagtes vuil bly soos ’n rioolplaas; dit sal so wanordelik wees soos die verkeer in Indië (Gen. 6:5). God alleen kan deur sy Woord en Gees orde uit die chaos skep (Gen. 1:2-3). Bekeer jou van jou sondige gedagtes en vra die Here om jou ’n nuwe hart te gee (Jes. 55:7, Eseg. 18:31, 36:26). Vra Hom om jou hart te reinig elke keer wanneer jy sonde doen (Ps. 51:12, 1Joh. 1:7, 9).

[b] Fisies (v.22, 3:8)

Wat het Salomo bedoel? Hy het nie bedoel dat Christene nie siek word nie. Die vers beteken ook nie dat jy jouself gesond kan dink deur genesing vir self toe te eien nie. Die punt is eerder dat ons partykeer siek word, omdat ons verkeerd dink. As jy byvoorbeeld gedagtes vol bitterheid het, kan dit lei tot spanningshoofpyne, ’n slegte slaappatroon, ’n swak immuunstelsel sodat jy gouer siek raak, hoë bloeddruk, maagswere, hartaanvalle, artritis, beroertes, en meer (sien Spr. 14:30, 17:22).2 Gedagtes wat egter vol is van die Woord, sal hierdie siektes verhoed en jou gesondheid bevorder (v.22). Sodoende lei ’n regte hart en regte gedagtes dan tot geestelike en fisiese lewe (v.22).

2. Hou die sonde uit (v.23)

’n Plek soos die Withuis, of Buckingham Paleis het ekstra streng sekuriteit. Hulle doen dit om die regte mense in te hou en die verkeerde mense uit te hou. Net so moet ons die regte dinge in ons harte bêre (v.21), maar ook die verkeerde dinge uithou (v.23). Dit is nie so maklik nie, veral omdat ons met ’n sondige hart gebore is (Ps. 51:7). En tog kan jy stelselmatig die sonde uitfilter as jy nuwe hart het en jy dit met die Woord vul. Dit werk byna soos ’n hond se drinkbak wat vol modderwater is. Sonder om die vuil water uit te gooi, kan jy dit met skoon water vervang. Al wat jy hoef te doen, is om die drinkbak onder die kraan neer te sit en die kraan vol oop te draai. Na ’n paar minute sal die skoon water die vuil water uitspoel. Ongelukkig gooi ons partykeer modder in die drinkbak: ons dagdroom oor dinge wat sonde is. Spreek jouself aan as jy dit doen. Jaag die gedagtes uit sodra dit in jou kop kom. Moet dit nie eers ’n bietjie koester nie. Gebruik die swaard van die Woord wat jy in jou hart gebêre het (v.21, Ef. 6:17). Memoriseer en gebruik verse soos Spr. 16:18 en Jak. 4:6 om gedagtes van hoogmoed teë te werk; Matt. 5:27-30 vir gedagtes van wellus; Ef. 4:26-27 en Jak. 1:20 vir gedagtes vol woede; ensovoorts.

Hou ook die sonde uit deurdat jy die poorte van jou sintuie beheer. Moenie toelaat dat die vyand inkom, omdat jy na sonde kyk, dit lees, daarna luister, slegte geselskap hou, of by verkeerde plekke uithang nie (v.24-27, Spr. 13:20, Ps. 101:3, 119:37, Rom. 13:14, 1Kor. 15:33). Sorg eerder dat jou hart ’n tipe tuin van Eden word waar God se Woord soos ’n fontein opborrel om alles rondom van lewe te voorsien (v.22-23, Gen. 2:10-14, Joh. 4:14, 7:37-39). Soos die fontein oorloop, sal jou hart sigbaar word in die riviere van jou woorde en dade (v.23). As jou hart sleg is, sal jou woorde en dade sleg wees; as jou hart goed is, sal jou woorde en dade goed wees (Matt. 15:19, Luk. 6:43-45).

Om dan ’n goeie mens te wees, moet jy nie net jou woorde en dade verander nie, maar jou gedagtes. En hoe doen ’n mens dit? Buiten dat jy ’n nuwe hart moet hê en jouself met die Woord moet vul, moet jy ’n hoë siening van God hê. Jy moet besef dat jou hart en gedagtes oop voor Hom lê—Hy sien alles (1Kon. 8:39, Ps. 44:22, 139:2, Jer. 17:10, Eseg. 11:5, Matt. 9:4, Joh. 2:24-25, Rom. 8:27, Heb. 4:13, Op. 2:23). Jy moet besef dat Hy sondige gedagtes soveel haat soos sondige dade (Spr. 15:9, 26). Gevolglik sal Hy mense nie net vir hulle woorde en dade oordeel nie, maar ook vir hulle gedagtes (Pred. 12:14, Rom. 2:16, 1Kor. 4:5).

Vra dan die Here om jou hart te deursoek, om jou sonde uit te wys, om jou op die regte weg te lei, en om jou te help om reg te dink, sodat jy Hom met jou verstand kan liefhê (1Kron. 29:18, Ps. 139:23-24, Matt. 22:37). Dink oor Jesus en die hemel eerder as oor die wêreld en sy sonde (Kol. 3:1-5). Ek weet eerlik nie altyd hoe gesond dit is om op ‘hoogte te bly’ met die nuus nie. Miskien sê jy: ‘As ek nie op hoogte bly nie, dan weet ek nie wat aangaan in die wêreld nie—dan raak ek agter.’ Maar wat daarvan? Hoe het jy geestelik gegroei toe jy uitvind dat Joost van der Westhuizen sy vrou verneuk het, of dat Oscar Pistorius sy meisie vermoor het?

Sal dit nie beter wees as jy jou gedagtes met Jesus en die Bybel vul nie? Op hierdie manier sal jy die Here beter leer ken en Hom meer vrees. En as jy Hom vrees, sal jy nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle is versigtig om nie voor mense te sondig nie, maar gee nie om as hulle sondig waar niemand sien nie. As jy egter die Here vrees, wil jy nie eers in jou gedagtes teen Hom wil sondig nie (Matt. 5:21-30).

Om die Here te vrees sal jou ook help om in jou stiltetyd nie dwalende- en sondige gedagtes te hê nie. Thomas Brooks sê: ‘There is nothing that will contribute so much to the keeping out of vain thoughts, as to look upon...a God whose majesty, purity, and glory will not suffer him to behold the least iniquity. The reason why the blessed saints and glorious angels in heaven have not so much as one vain thought is, because they are greatly affected with the greatness, holiness, majesty, purity, and glory of God.’3

Maar wat as dit nie jý is wat hierdie sondige gedagtes koester nie, maar die duiwel wat jou versoek—hoe keer ’n mens dít? Memoriseer die Skrif en gebruik dit om hom te antwoord (Matt. 4:4, 7, 10). Bid Ps. 19:15 in die oggend: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser!” Glo in die krag van God deur gebed: “want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”

(2Kor. 10:4-5). “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Ef. 3:20).

Maar wat as die duiwel jou deur sondige drome in jou slaap versoek; hoe veg ’n mens daarteen? Onthou in die eerste plek dat daar ’n verskil is tussen wat jy in die aand droom en wat in die werklike lewe gebeur. Net soos wat jy nie die dokter besoek as jy van siekte droom nie, hoef jy nie te dink jy is geestelik siek net omdat jy van sonde gedroom het nie.

En tog moet jy nie sonde in jou drome aanwakker, deurdat jy in die dag aan sondige dinge dink, jou sintuie daarmee vul, of na okkultiese films kyk en na sulke musiek luister nie. Richard Baxter sê: ‘If you think of lustful, filthy objects, and speak of them, or meddle with them, you will dream of them...they that make no conscience to sin waking, are not like much to scruple sinning in their sleep.’4

Bid deur verse soos Ps. 4:9, 121:3-4, Matt. 6:13, en 1Joh. 4:4 voor jy aan die slaap raak: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o Here, alleen laat my in veiligheid woon... Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie... en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose... Hy wat in julle is, [is] groter...as hy wat in die wêreld is.” Oordink dit selfs terwyl jy aan die slaap raak. As jy dit doen, sal jou drome soet wees. Spr. 6:20-22 sê: “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals; mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.” Dit is juis om hierdie rede dat John MacArthur eenkeer gesê het dat hy Bybelse drome het: sy hart is vol van die Skrif.

‘Maar wat as ek myself nie deur die dag met sonde vul nie, maar nog steeds in die aand daarvan droom?’ Dit lyk my dat sulke drome jou pla. Dit is ’n goeie teken, omdat dit wys dat jy die sonde selfs in jou drome haat. Sê vir die Here dankie dat dit net drome is en dat dit nie werklik gebeur het nie. Moenie jou hele dag ontwrig oor ’n droom wat jy nie kon help nie. As jy aanhoudend oor die droom dink, sal dit in sonde verander. Gee daarom jou droom vir die Here en dien Hom terwyl jy wakker is. Ene Diogenes het gesê: ‘What folly is it to be careless of your waking thoughts and actions, and inquisitive about your dreams? A man’s happiness or misery lieth upon what he doth when he is awake, and not upon what he suffereth in his sleep.’5

Laat jou sondige drome jou aanspoor om sonde meer te haat en daarteen te stry. Ek het twee of drie jaar gelede ’n vreeslike sondige droom gehad. Toe ek wakker geword het, was ek ontsteld. Die aaklige droom het my egter laat dink: ‘Moenie met sonde speel nie; vlug daarvoor’ (vgl. Job 7:14, 33:14-18, Matt. 27:19).

Maar wat as jy bogenoemde raad volg en die sondige drome net nie wil ophou nie? Besoek jou dokter. Net soos wat narkose en ander sterk medikasie jou in die dag kan laat hallusineer (Spr. 23:33), kan dit ook in die aand nagmerries veroorsaak.6

As niks wil werk om die drome te keer nie, moet jy jouself aan God onderwerp, op Hom wag, jou sorge vir Hom gee, teen die duiwel waak en hom weerstaan (Jak. 4:7, 1Pet. 5:6-8). Vertrou dat die Here jou op die regte tyd sal uithelp en jou sondige drome sal gebruik om jou meer soos Jesus te maak (Rom. 8:28-29).

Waar jy egter wakker is, moet jy jou gedagtes beheer eerder as wat dit jou beheer. Moenie toelaat dat sondige gedagtes jou hart oorneem soos wat onkruid ’n tuin oorneem nie: “Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef?” (Jer. 4:14). Sê vir jouself dat Jesus oor jou sonde getriomfeer het aan die kruis en dat jy met die Gees se hulp jou sondige gedagtes kan doodmaak (Rom. 8:13).

Dit is wat die Here vir John Bunyan gedoen het. Bunyan het lasterende gedagtes gehad. Soms het hy dit twintig keer in ’n uur gehad. Partykeer het hy nie vir ’n enkele dag, of eers vir ’n uur rus gehad nie. Na twee en ’n half jaar toe kom dit tot ’n einde en kon hy rus. Sy situasie het hom geleer om daagliks teen die versoeking te bid (Matt. 26:41).7 En wat die Here vir John Bunyan gedoen het, kan Hy vir jou doen, sodat jy jou sondige gedagtes en drome kan oorkom (1Kor. 10:13).


1  Derek Kidner, Tyndale Old Testament Commentaries: Proverbs (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1964), 68

2  S.I. McMillen (M.D.) & David E. Stern (M.D.), None of These Diseases: Revised Edition (Grand Rapids, Michigan: Fleming H. Revell, 1963, 1984, 2000), ch. 23

3  Thomas Brooks, Precious Remedies Against Satan’s Devices (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1984 [1652, 1866]), 135-6

4  Richard Baxter, The Practical Works of Richard Baxter: Vol. 1—A Christian Directory (Moran, PA: Soli Deo Gloria Publications, 2000 [1846]), 341

5  Aangehaal in ibid.

6  Robert Smith (M.D.), The Christian Counselor’s Medical Desk Reference (Stanley, NC: Timeless Texts, 2000), 332

7  John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners (Springdale, PA: Whitaker House, 1993), 76, 111, 115, 137-8

Kategorieë