Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 June 2022

Persoonlike Probleme: Skisofrenie en Persoonlikheidsafwykings

Verskeie Tekste

Skisofrenie kom van twee Griekse woorde (schizō + phrēn) wat verdeel en verstand beteken. Wat is skisofrenie en hoe lyk dit? Psigiaters gebruik dit van iemand wat hallusineer, stemme hoor, glo dat hy of sy buitengewoon talentvol en beroemd is; van iemand wat min emosie wys, anti-sosiaal is en monotoon praat. Navorsers meen dat dit ’n breinsiekte is, maar hulle kan dit nie bewys nie.1 Inteendeel, tydens ’n konferensie van 7000 psigiaters in Phoenix, Arizona, het drie uit elke vier gesê skisofrenie bestaan nie. ’n Skotse psigiater genaamd R.D. Laing het gesê: ‘Schizophrenia did not exist until the word was invented.’2 By ’n ander geleentheid het die Amerikaanse psigiater, Karl Menninger, gesê: ‘Schizophrenia is just a nice Greek word.’3

Wat van persoonlikheidsafwykings? Daar is meer as een soort afwyking wat hom op verskillende maniere in verskillende mense voordoen. Simptome kan die volgende insluit:4

  • Agterdog oor mense se motiewe, woorde en aksies.
  • Anti-sosiale gedrag.
  • Tower denke waardeur die persoon dink hy kan mense deur sy gedagtes beheer.
  • Onstabiele verhoudings.
  • ’n Buitengewone vrees om alleen te wees.
  • Ekstreme emosionaliteit en ’n soeke na aandag.
  • Narsistiese of selfgesentreerde optrede. Die persoon toon geen vermoë om empatie te wys nie.
  • ’n Gevoel dat almal jou veroordeel.
  • Hiper-perfeksionisme.

Psigiaters vermoed dat brein chemikalieë die probleem veroorsaak en sê dat daar nie ’n oplossing is nie. Weereens kan hulle dit nie bewys nie.5 Wat is dan die diagnose, oorsake en oplossing vir bogenoemde toestande?

 

1. Demone

’n Ierse reisiger genaamd Eliot Warburton (1810-1851) beskryf die volgende insident, nadat hy die Midde-Ooste besoek het:

‘On descending from these heights [of Lebanon], I found myself in a cemetery, whose sculptured turbans showed that the neighbouring village was Moslem. The silence of the night was now broken by fierce yells and howlings, which I discovered proceeded from a naked maniac, who was fighting with some wild dogs for a bone. The moment he perceived me he left his canine comrades, and, bounding along with rapid strides, seized my horse’s bridle, and almost forced him backward over the cliff, by the grip he held of the powerful Mameluke bit. A madman is not a pleasant opponent any where; but on a dangerous precipice at midnight, far from all human aid, he becomes the most formidable opponent one can encounter. I felt a scruple about shooting him, but I smote him with the butt-end of my pistol, and spurred away before he could recover himself.’6

Ons sien dieselfde vreemde optrede by die demoonbesete man in Markus 5. Hy het geskreeu, homself stukkend gesny en sonder klere rondgeloop. Hy was anti-sosiaal en het ’n ander persoonlikheid gehad.

In die Ou Testament het Saul irrasioneel opgetree toe ’n bose gees hom geteister het (1Sam. 16:14). Telkemale en sonder goeie rede het hy Dawid probeer doodmaak (1Sam. 18:10-11, 19:9-10, hfst. 18-26).

Die oplossing vir bogenoemde gevalle is nie ’n psigiater nie. Die oplossing lê by Jesus Christus. Deur sy krag, die Woord en gebed, moet Jesus die besete persoon vrymaak (Mark. 9:29, Luk. 8:2, Joh. 8:32).

 

2. Bitterheid

Jare gelede het iemand wat ek ken sy vrou verlaat. Hy het soos ’n mal mens opgetree en na ’n ander dorp toe gevlug. Later het hy oor ’n treinspoor gehardloop, terwyl die polisie hom agterna sit. Toe ek met hom oor die foon praat, toe sê hy: ‘Ek is bitter. Ek is bitter. Ek is bitter.’ Sy diepgewortelde bitterheid het gemaak dat hy irrasioneel en onverantwoordelik optree.

Dieselfde het met koning Saul gebeur. Bitterheid, jaloesie en haat het hom verteer (1Sam. 18:7-9). As gevolg daarvan, het hy irrasioneel opgetree. Hy het probeer om sy eie seun dood te maak (1Sam. 20:30-33). Hy het 85 onskuldige priesters vermoor (1Sam. 22:18). Hy het Dawid soos ’n vlooi gejag en later gehuil om te sê hoe jammer hy is (1Sam. 24:2, 14, 16-22). Daarna het hy hom weer soos ’n patrys in die berge gejag, omgedraai en sy sonde bely (1Sam. 26:6, 18, 20-21, 25). So het hy op ’n emosionele wipplank gery.

Wat is die oplossing vir sulke optrede? God moet die hater in sy spore stuit en hom red (Handelinge 9, Tit. 3:3-5). Die persoon moet Christus se vergifnis ontvang, sodat hy ander kan vergewe (Kol. 3:13).

 

3. Vrees

’n Paar jaar voor sy dood, het my oupa demensie gekry. Saam met die demensie het hy vreesagtig begin word. Hy sou byvoorbeeld in die bank afsak en ons vra om die gordyne toe te trek. ‘Hulle kyk vir my,’ het hy gesê.

Sommige mense met ’n persoonlikheidsafwyking is agterdogtig. So iemand sal ’n muntstuk op die grond sien en glo dat dit met opset daar geplant is om hom mal te maak.7 Ek het iemand ontmoet wat so vreesagtig is. Sy is met ‘conspiracy’ teorieë behep. Sy glo byvoorbeeld dat ’n sekere winkel die voedingswaarde uit Pronutro haal om ons dood te maak.

Nie almal se vrees is denkbeeldig nie. Toe Dawid vir Saul gevlug het, het hy op ’n stadium in die land van die Filistyne gaan skuiling soek. Met Goliat se swaard in sy hand het hy in Goliat se tuisdorp probeer wegkruip! Die Filistyne het hom herken, gegryp en na hulle koning toe gevat. Om uit die situasie te ontsnap, het Dawid gemaak of hy mal is. Hy het die spoeg teen sy baard laat afdrup en soos ’n mal mens teen die deure gekrap. Sy plan het gewerk en hy het weggekom (1Sam. 21:10-15).

Jay Adams vertel van ’n siniele man genaamd Steve. Adams het hom in die inrigting besoek en gesê: ‘Ek weet jy is nie mal nie Steve. As jy gehelp wil word, moet jy saamwerk en vir ons vertel wat aangaan.’ Na ’n paar weke het Steve erken dat hy nie mal is nie. Van jongs af het hy afwykend opgetree as hy in die moeilikheid beland. Toe hy op universiteit was, het hy gejol eerder as om te studeer. Hy het sy toetse gedruip en pienk strokies gekry. Om te verhoed dat sy ouers hiervan uitvind, het hy gemaak of hy mal is. Toe mense begin vermoed dat hy toneelspeel, toe vererger hy sy optrede. Uiteindelik het hy in ’n inrigting beland. Sy gewete het hom aangekla toe sy ouers hom bejammer. Adams het gesê dat hy ’n keuse het: ‘Gaan huistoe en erken wat jy gedoen het, of bly vir die res van jou lewe in die inrigting.’ Steve het nie ’n geestesversteuring gehad nie, maar sy gewete het hom gepla. Hy was skaam en bang.8

Die oplossing in hierdie geval is nie kamoeflering nie, maar om jou sonde te bely en jou vrese vir die Here te gee. Dit is wat Dawid gedoen het. Na sy episode in die land van die Filistyne, het hy Psalm 34 en 56 geskryf. Hy het sy sorge vir die Here gegee. “God het ons tog nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:7).

 

4. Mishandeling en verwerping

’n Psigiater van Yale universiteit vertel van ’n pasiënt wat met ‘Borderline Personality Disorder’ gediagnoseer is. As kind het sy verwerping deur haar ouers beleef. Sy het selfmoord probeer pleeg en haarself later aan alkohol en dwelms oorgegee. Sy was paranoïes en het stemme gehoor. Vir jare was sy in hospitale en inrigtings. Sy het selfs elektriese skokterapie ondergaan. Uiteindelik het die psigiaters opgegee. Toe sy swanger raak, het sy besef sy moet verander, omdat die sosiale werkers haar kind gaan wegvat. Sy het na Jesus Christus toe gedraai, tot bekering gekom en in ’n gemeente betrokke geraak. Haar sondes is weggewas en haar hele lewe het verander. Sy het nooit weer selfmoord probeer pleeg of ’n psigiater besoek nie. Haar verhouding met haar ouers is volkome herstel.9

Ek ken ’n vrou wat met ‘Borderline Personality Disorder’ gediagnoseer is. Reeds toe sy sewe was, wou sy nie lewe nie. Op twaalf het sy haarself begin sny. Op vyftien het sy probeer om selfmoord te pleeg. Sy was byna suksesvol, maar het in die hospitaal wakker geword. Haar stiefpa het haar seksueel mishandel. Op sestien het sy drank en dwelms begin gebruik. Die mishandeling by die huis het aangehou. Haar ma het daarvan geweet, maar niks gedoen nie. Die ma self het haar dogter fisies en verbaal mishandel.

Op sestien het die dogter swanger geraak en die huis verlaat. Na haar kind se geboorte het sy erg depressief geraak. Sy het woede uitbarstings gehad, haarself beseer, selfmoord probeer, dwelms gebruik en in ’n losbandige lewe verval. Niks het gewerk om die pyn weg te vat nie. Toe die vrou uiteindelik tot bekering kom, het Jesus haar sondige verlede weggewas en haar in ’n nuwe mens verander.

Voel jy verwerp? Twyfel jy oor jou identiteit; oor wie jy regtig is? Die oplossing lê nie in pille, psigiaters of inrigtings nie. Dit lê by Jesus. Jy moet weergebore word. Hy moet jou sonde wegwas en jou ’n nuwe mens maak (1Kor. 6:11, 2Kor. 5:17, Ef. 1:7). Jy moet in Hom glo en jou vertroue in Hom plaas. Deur Christus sal die Vader jou onskuldig en regverdig verklaar (2Kor. 5:21, Fil. 3:9). Hy sal jou as sy kind aanneem (Joh. 1:12, Gal. 4:4-7, Ef. 1:5). Jou nuwe identiteit is nie meer dié van ’n hopelose en gebroke mens nie—jy is ’n bloedgewaste kind van God.

 

5. Hoogmoed

’n Paar jaar gelede het iemand my kom sien en gesê dat hy ’n narsis is. Hy het sy vrou en kinders se lewe hel gemaak, sodat sy uiteindelik van hom geskei is. Wat het hom ’n narsis gemaak? Sy eie arrogantheid en hoogmoed. ’n Narsis is maar net ’n groot woord vir iemand wat met homself behep is. Nebukadnesar was so. In Daniël 4 sien ons hoe hy in homself geroem en sy eie stert geprys het. Sy roem en sukses het na sy kop toe gegaan. Om hom te straf, het die Here hom aan homself oorgegee. Hy kon nie meer reguit dink nie, maar het soos ’n dier geword. Vir sewe tydperke het hy in die veld gelewe en soos ’n bees gras geëet.

Hoe meer jy hoogmoedig is, hoe meer irrasioneel raak jy, totdat jy later nie meer reguit kan dink nie. “Die denke van hoogmoediges verwar Hy...” (Luk. 1:51). Om die probleem op te los, moet jy jouself in die lig van God se heiligheid sien, sodat jy jouself verneder (Jes. 6:5, Dan. 4:34-37, Jak. 4:8-10). Sien jouself in die lig van die kruis. Besef dat jy skuldig is en God se straf verdien (Luk. 23:41). Erken dat jy ’n sondaar is wat die Here se vergifnis benodig (Luk. 18:13).

 

6. Gifstowwe

’n Vrou het my vertel dat haar volwasse seun stemme hoor. Die seun het met okkultiese dinge betrokke geraak en dwelms gebruik. Dit verduidelik hoekom hy stemme gehoor het. Salomo sê van die drankverslaafde: “Dan sien jou oë vreemde goed...” (Spr. 23:33a). Sulke hallusinasies is nie altyd jou skuld nie. Party mense se voorskrifmedikasie kan hallusinasies veroorsaak. Dalk werk jy in ’n fabriek waar jy skadelike gasse of walms inasem. Dit kan hallusinasies veroorsaak. In so ’n geval moet jy die dokter besoek. Indien jy aan drank, dwelms of pille verslaaf is, moet jy jou tot die Here bekeer en desperaat bid dat Hy jou red. Jesus kan die bande van verslawing breek en jou vrymaak (Ps. 107:10-16, Rom. 6:1-14)

 

7. Fisieke probleme

’n Kollega het my eenkeer oor ’n vrou in sy gemeente gebel. As gevolg van een of ander siekte het sy eienaardig begin optree. Sy het haar humeur verloor en mense gevloek.

Ek ken ’n jongman wat in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. As gevolg van die ongeluk het hy breinskade opgedoen. Hy het ’n vreeslike humeur ontwikkel, sodat niemand met hom kan saamleef nie.

’n Kollega en sy vrou is baie gelukkig getroud. Op ’n dag toe verloor sy haar humeur met hom. Sy het verskriklike dinge gesê. Toe die man sy vrou dokter toe vat, toe vind hulle uit dat sy hormoonprobleme het.

Volgens Robert Smith (M.D.) kan ’n gewas op die brein, kopbeserings, Huntingdon’s siekte, Alzheimers, hormone en ander siektes abnormale optrede of persoonlikheidsafwykings veroorsaak.10 Toe ek as kind epileptiese aanvalle gekry het, het die objekte rondom my beweeg.

Bogenoemde kwessies is ’n werklike probleem waarmee een van my kollegas worstel: ‘Hoe kan siekte die werk van die Heilige Gees oorheers? Hoe kan ’n probleem in iemand se liggaam die vrug van die Gees by die venster uitgooi? Is siekte dan sterker as die Heilige Gees? Hoe kan siekte iemand laat sondig?’

Eintlik is dit nie die siekte wat sonde veroorsaak nie. Die fisieke probleem is net ’n sneller wat die mens se hart bekendmaak (Spr. 4:23, Mark. 7:21-22). Iemand wat Alzheimer’s ontwikkel en perverse goed sê, wys wat nog altyd in sy hart is. Die Alzheimer’s het dit net navore gebring.11 So is dit met ’n dronk man. Wanneer hy vieslike goed sê, wys hy wat in sy hart is (Spr. 23:33b). Die alkohol het nie lelike dinge in sy hart geplant nie, maar net bekendgemaak wat reeds daar was.

Verder mag dit ook wees dat iemand wat gehoor- of sigprobleme het, abnormaal optree of stemme hoor. Iemand met akute gehoor kan op ’n redelike afstand mense se stemme hoor. Wanneer hy stemme hoor, hoor hy iets wat die normale persoon nie optel nie. Iemand anders se sigprobleme kan daartoe lei dat objekte beweeg of dat kleure buitengewoon helder of dof is. So iemand het nie ’n persoonlikheidsafwyking nie, maar daar is fout met sy gehoor of sig. Hy moet by ’n dokter uitkom.

 

8. ’n Skuldige gewete

My beradingdosent het ons vertel van ’n skisofreen wat hy beraad het. Die man was met ’n Italianer getroud. Hy het sy vrou baie sleg behandel. Oral waar hy in New York gegaan het, het hy aslorries begin sien. Blykbaar word New York se aslorries deur deur die Mafia beheer. Dit het hom laat dink dat sy vrou se familie die Mafia teen hom gehuur het. Hy het van New York af Las Vegas toe gevlug. Las Vegas is die laaste plek waarheen jy wil trek om van die Mafia weg te kom. Gevolglik het hy Los Angeles toe gevlug. Terwyl hy eendag op sy stoep sit, toe stop daar ’n swart limousine buite sy huis. Die persoon het die venster oopgemaak, vir hom gekyk en weggery. Na hierdie episode het hy by Wayne Mack (my berading dosent) uitgekom. Na baie vrae, toe besef mnr. Mack dat hierdie man vir homself weghardloop. Niemand het hom agtervolg nie. Sy gewete het hom gepla.

Die Bybel sê: “’n Goddelose vlug sonder dat iemand hom agtervolg” (Spr. 28:1, vgl. Lev. 26:17). Die goddelose man se gewete maak hom agterdogtig of paranoïes. Hy is soos Adam wat homself wil verdedig sonder dat iemand hom aankla (Gen. 3:9-10). Die oplossing in hierdie geval, is om ’n skoon gewete te kry. Dit kan net gebeur deur Jesus wat die straf vir ons sonde gedra het (Heb. 9:14, 10:22). Jy moet die Here aanroep en jou sonde bely, sodat Hy jou gewete kan reinig (1Pet. 3:21, 1Joh. 1:9).

 

9. Die sondige natuur

Jay Adams het Bybelse berading terug op die kaart gebring. Soms beskuldig mense hom daarvan dat alles volgens hom sonde is. Dit is nie waar nie, alhoewel ons eie en ander mense se sonde die meeste van ons probleme veroorsaak. Dit geld ook vir skisofrenie en persoonlikheidsafwykings: baie van die simptome is as gevolg van jou eie of iemand anders se sonde. Derhalwe is die sondige natuur eerder as die mens se brein die sondebok. Elke ongelowige se persoonlikheid of karakter is gebroke en vol sonde. Die Bybel sê:

“...the hearts of the children of man are full of evil, and madness is in their hearts while they live...” (Pred. 9:3, ESV).

“Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hulle keel is ’n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en ’n pad van vrede ken hulle nie. In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” (Rom. 3:10-18).

“Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge...” (Gal. 5:19-21).

Selfs die oorblyfsels van sonde in die gelowige laat hom by tye voel dat hy twee persoonlikhede het (Rom. 7:14-25, Gal. 5:17). Jesus Christus is die enigste oplossing. Hy moet jou van die ou mens verlos en jou in ’n nuwe mens verander. Daarna moet jy in realiteit word wat jy reeds in status is. Deur die proses van heiligmaking, moet jy stadig maar seker die ou mens aflê en jou met die nuwe mens beklee. Jy moet al hoe meer soos Jesus word. Die antwoord lê nie by psigiaters nie. Hulle self sê immers van skisofrenie en persoonlikheidsafwykings: ‘’n Mens kan dit nie keer nie. Dit is ongeneeslik. Jy benodig lewenslange behandeling.’12

Gaan sien jou dokter om fisiese oorsake uit te skakel en soek die oplossing in Christus. Bely jou sonde en vergewe die mense wat teen jou gesondig het. Jy sal persoonlik sien en beleef hoe Jesus jou vrymaak: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8:36). Ek het gesien hoe die Here dit in iemand se lewe doen. Sy het in ’n gebroke huis groot geword. Haar pa het haar verbaal afgebreek en haar broers het haar verkrag. Sy was vir 60 jaar depressief en is met ‘Borderline Personality Disorder’ gediagnoseer. Deur dit alles het haar man haar bygestaan. Toe sy uiteindelik tot bekering kom, het die Here haar vrygemaak. Sy het haar familie vergewe en lewe vandag met ’n vriendelikheid wat aansteeklik is.

Kan Jesus dit vir jou of jou geliefde doen? Hy kan. Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde (Heb. 13:8). Die uitnodiging staan nog steeds: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” (Matt. 11:28-30).


1  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/schizophrenia/symptoms-causes/syc-20354443

2  John MacArthur and the Master’s College Faculty, How to Counsel Biblically (Nashville, Tennessee: Thomas Nelson, 2005), 12-3

3  Jay E. Adams, Shepherding God’s Flock (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 1974, 1975), 219

4  American Psychiatric Association, Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders: Fifth Edition (Washington: American Psychiatric Publishing, 2013), 645, 46-84

5  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/personality-disorders/symptoms-causes/syc-20354463

6  Eliot Warburton, The Crescent and the Cross or Romance and Realities of Eastern Travels: Vol. 2—Fourth Edition (London: Henry Colburn, 1846), 249-50. Verkry by https://books.google.co.ls/books?id=1GpCAAAAcAAJ&printsec=frontcover&source=gbs_book_other_versions_r&cad=2#v=onepage&q=canine%20comrades&f=false

7  https://www.ccef.org/eyes-see-ears-hear-or-what-do-bananas-have-do-work-spirit/

8   Jay Adams, Competent to Counsel (Grand Rapids, Michigan: Baker Book House, 1970, 1974), 31-3

9  Jeffrey H. Boyd, The Journal of Biblical Counseling: An Insider’s Effort to Blow up Psychiatry (Vol. 15, Nr. 3, Spring 1997), 30-1. Verkry by https://goodnewsunlimited.com/wp-content/uploads/Jeffrey-Boyd-An-Insiders-Effort-to-Blow-Up-Psychiatry.pdf

10  Robert Smith (M.D.), The Christian Counselor’s Medical Desk Reference (Stanley, NC: Timeless Texts, 2000), 366-7

11  Edward T. Welch, Blame it on the Brain? (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1998), 78-9

12  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/schizophrenia/symptoms-causes/syc-20354443 en https://www.verywellmind.com/is-there-a-cure-for-borderline-personality-disorder-425468

Kategorieë