Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 September 2020

Persoonlike Probleme: Onbeantwoorde Gebed

Verskeie Tekste

God is die hoorder van gebed (Ps. 65:3). Sy normale patroon is om presies te gee waarvoor ons vra (Matt. 7:7-11). In baie gevalle antwoord Hy gou—selfs nog voordat ons vra (Jes. 65:24, Luk. 18:7-8). Soms gee Hy meer as waarvoor ons vra (Ef. 3:20). Maar partykeer sê Hy ook ‘nee’. Hy genees byvoorbeeld nie die sieke vir wie jy bid nie. Hy voorsien nie die geld, of werk waarvoor jy bid nie. Ek het dit al ervaar. Toe ek ’n student was, moes ek eenkeer R20 vir ’n klasprojek hê. Ek het daarvoor gebid, maar die Here het dit nie voorsien nie. By tye voel dit of die Here ons glad nie hoor nie. Dit voel of jy in die plafon vas bid. Dit is veral erg as dit lank aanhou en jy nie weet hoekom dit gebeur nie (Ps. 44:24-27, 88:14-15, 102:1-2, 143:1, 7). In die Bybel is daar ten minste vyftien redes vir hoekom die Here soms ‘nee’ sê. Hulle is as volg:

1. Jy is biddeloos

Michelle en haar seun sit gedurig vas. Sý soek respek, terwyl hý ’n ma soek wat hom verstaan. Nie een van hulle kry wat hulle wil hê nie. Hoekom nie? “Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4:2). Dit is ’n voldonge feit dat 100% van die gebede wat nie gebid word nie, onbeantwoord sal bly. Daarom moet jy vra as jy wil ontvang, eerder as wat jy biddeloos is en verbaas staan as die Here jou nie antwoord nie.

2. Jy is besig met sonde

Alles loop skeef vir MJ en Karen. Hulle bid vir ’n werk, ’n baba, en ’n goeie verhouding. Die hemel is stil, omdat hulle in sonde leef. Die Here sal jou nie hoor as jy jou met sonde ophou nie. Die Bybel sê:

“As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.” (Ps. 66:18).

“En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.” (Jes. 1:15).

"Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos 'n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes. Wel soek hulle My dag vir dag en het 'n behae in die kennis van my weë! Soos 'n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het 'n behae in die toenadering tot God. Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie?—Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan. Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.” (Jes. 58:1-4).

“Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (Jes. 59:1-2).

“En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie.” (Jer. 7:16). Die konteks wys vir ons hoekom die Here ‘nee’ gesê het: hulle was besig met sonde.

“Dan sal hulle die Here aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het.” (Miga 3:4).

Koester jy sonde? Is daar iets wat jou gewete pla; iets waaroor die Here al met jou gepraat het; iets wat jy nie wil los nie? Indien wel, sal die Here jou nie hoor as jy bid nie. Die enigste gebed wat Hy by jou wil hoor, is dat jy berou het oor jou sonde en dat jy jou bekeer (1Joh. 1:9). Sorg dat jy dit opreg doen en dat jy nie vals is soos die Israeliete nie: “Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser. En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.” (Ps. 78:34-37). Wees dankbaar dat die Here in sulke gevalle ‘nee’ sê, want as Hy ‘ja’ moes sê, sou jy gedink het dat Hy jou sonde goedkeur. Jy sou daarmee aangehou het en op die einde in die hel beland het.

3. Jy baklei met ander

Ek was teenwoordig toe ’n vrou op haar kinders geskreeu het. Sy aanhoudend op hulle afgegaan. Ek het geïrriteerd geraak en gedink: ‘Shut net up!’ Vir die volgende drie dae het ek gesukkel om te bid. Ek het nie geweet wat aangaan nie en het moedeloos vir die Here gesê: ‘Wys my asseblief wat fout is.’ Die Here het my aan my sonde herinner. Toe ek dit bely het, het ek dadelik met vrymoedigheid gebid.

As jy met ander baklei (selfs al is dit net in jou gedagtes), sal jy sukkel om te bid. Dit geld veral in die huwelik. 1Pet. 3:7 sê: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” Sukkel jy om te bid? Is dit omdat jy in ’n rusie betrokke is (dalk in jou huwelik)? Gaan maak reg met die persoon as jy wil hê dat die Here jou gebede moet antwoord.

4. Jy is onvergewensgesind

Hierdie rede hang saam met die vorige een. Die Here sal jou nie antwoord as jy bitter is en weier om mense te vergewe nie. Jesus het gesê: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matt. 6:14-15).

Hoekom wil jy nog aan dinge vasklou wat 5, 10, 20 jaar gelede gebeur het? Ek weet van twee predikante wat ’n uitval gehad het en vir meer as 15 jaar nie met mekaar gepraat het nie. Ek het onlangs gehoor van ’n vrou wat al vir jare ’n wrok het teen haar predikant. Volgens haar het hy haar seun nie betaal toe hy ’n werkie gedoen het nie. Sy verstaan nie dat haar seun lui was en nooit die werk klaargemaak het nie.

Hoekom wil jy ’n wrok teen ander dra as dit net jou verhouding met die Here gaan vergiftig? Hoekom probeer jy nie liewer van jou kant af om dinge reg te maak nie (Rom. 12:18)? Vergewe jou broer, praat dinge met hom uit, en jaag die vrede na (Mark. 11:25, Matt. 5:23-24, Heb. 12:14, 1Pet. 3:11).

5. Jy is kleingelowig

Wat is die tipiese antwoord van moderne geloofsgenesers as hulle iemand nie kan genees nie? ‘Jy het nie genoeg geloof nie.’ Maar eintlik weet hulle nie wat geloof beteken nie. Geloof in die Bybel fokus nie op jouself nie, maar op God. Jy glo met ander woorde nie in jou geloof nie, maar in God wat almagtig en getrou is om sy beloftes te vervul (Matt. 21:22, Mark. 11:22-24, Joh. 15:7). Iemand wat God se getrouheid en almag betwyfel, moenie ’n antwoord verwag nie. Jakobus sê:

“En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—so ’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.” (Jak. 1:5-8).

Andrew Murray sê van sulke mense: ‘we view prayer as religious work without expecting an answer.’1 Bid jý so: jy bid, maar jy het alreeds planne in plek vir in geval die Here nie vir jou deurkom nie? Of jy bid, maar jy sê vir jouself en vir ander: ‘Dit is onmoontlik dat die situasie verander. Hoekom sal die Here buitendien help as Hy alreeds besluit het wat Hy gaan doen? Ek weet eintlik nie hoekom ek die moeite gedoen het om te bid nie.’

6. Jy bid selfsugtig

Sal ’n liefdevolle pa vir sy kind geld gee as die kind dit wil gebruik vir ’n buskaartjie om weg te loop van die huis af? En sal die Here vir jou iets gee as dit vir jou om jou eie plesier gaan en nie om sy eer nie; as dit jou verhouding met Hom sal benadeel? Verseker nie. “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?” (Jak. 4:3-5).

Vra jouself af hoekom jy vir ’n lewensmaat, kar, huis, geld, of bevordering bid? Is dit omdat jy ’n naam vir jouself wil maak, omdat jy beter as iemand anders wil wees, of iets soortgelyk? Of is dit omdat jy die Here wil eer, vir jou gesin wil sorg, en ander wil dien? Wees eerlik. As dit regtig vir jou oor die Here gaan, sal sy antwoord op jou gebed jou verhouding met Hom bevorder en jou nie van Hom af wegdryf nie.

7. Jy ignoreer die armes

In Luk. 16:19-31 lees ons van ’n ryk man en arm man genaamd Lasarus. Die ryk man wou nie vir Lasarus kos gee nie. Toe die ryk man sterf en in die hel beland, toe vra hy Abraham om hom te help. Sy versoek is nie toegestaan nie.

Hierdie beginsel geld ook vir gebed. Hoekom moet Here jóú gebede verhoor as jy jou ore toedruk vir die hulpgeroep van die armes? Salomo sê: “Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.” (Spr. 21:13). Is dit dalk ’n arm familielid, of medegelowige wat jy moet help? Moet asseblief nie vir hulle geld gee om sondige gewoontes soos drank, dwelms, of luiheid te voed nie. Waar daar egter ware nood is, moet jy help (1Joh. 3:17). En as jy dít gedoen het, sal die Here jou gebede verhoor.

8. Jy verhard jou teen God se Woord

Henry is 7 jaar oud. Hy is baie stout en wil nie vir sy ouers luister nie. Toe sy pa besluit om hom pak te gee, toe smeek hy om genade en belowe hy om soet te wees. Dit het egter nie gehelp nie. Sy pa het geweet dat hy nie regtig jammer is nie, maar dat hy homself uit die moeilikheid wou kry.

Net so kom daar punt wat dit nie help om te bid nie. Ek praat nie hier van iemand wat regtig berou het oor sonde nie. Ek praat eerder van iemand wat gou wil bid om uit die moeilikheid te kom. Volgens die Bybel sal die Here so iemand nie antwoord nie. Toe Israel byvoorbeeld ’n koning gesoek het, toe waarsku Samuel hulle dat die koning hulle soos slawe sou laat werk. Hulle het egter volgehou dat hulle ’n koning wil hê. Daarop het Samuel hulle geantwoord: “En in dié dag sal julle roep vanweë jul koning wat julle vir jul verkies het, en die Here sal julle in dié dag nie verhoor nie.” (1Sam. 8:18).

Dwarsdeur sy koningskap het Saul God se Woord verwerp (1Sam. 13:13, 15:11, 19, 22-23, 26, 22:18). Toe hy dus die Here in ’n tyd van krisis soek, toe antwoord Hy hom nie (1Sam. 14:37, 28:6). Spreuke 1 praat van sulke mense. Hulle ignoreer God se stem (Spr. 1:24-25) en daarom sê Hy vir hulle: “Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.” (Spr. 1:28).

Spr. 28:9 sê: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel.” Israel was so. Sag. 7:12-13 sê: “Ook het hulle hul hart soos ’n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie en die woorde wat die Here van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete gestuur het nie. So het daar dan van die Here van die leërskare 'n groot toorn gekom. Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie—so sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie, het die Here van die leërskare gesê.”

Volgens 1Joh. 5:16 help dit nie dat jy vir sulke mense bid nie: “Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.” Hier gaan dit nie oor ’n enkele oortreding nie, of oor iemand wat teen ’n gewoonte-sonde stry en dit haat nie. Dit gaan oor iemand wat aanhoudend God se Woord hoor, maar homself daarteen verhard en nie wil luister nie. Vir só iemand sal die Here sy hart sluit. God se geduld is groot, maar nêrens sê die Bybel dit is oneindig nie.

9. Jy bid buite God se wil

Natalie is ’n Christen. Sy bid dat James haar sal vra om te trou. Die Here antwoord nie haar versoek nie, omdat James ’n ongelowige is. Vir Natalie om met James te trou, is buite God se wil (1Kor. 7:39, 2Kor. 6:14). Volgens 1Joh. 5:14-15 antwoord die Here net gebede wat binne sy wil is. Bid daarom die Bybel, omdat God sy wil daardeur openbaar (vgl. Hand. 4:24-26). Dit het implikasies:

[a] Moenie bid vir dinge wat duidelik buite die wil van God is nie. Douglas Kelly vertel van sy 3-jarige seun wat gebid het dat die Here vir almal in die wêreld ’n glyplank sal gee.2 Ten spyte daarvan dat dit kinderlik opreg is, gaan die Here dit nie doen nie. Hy sal jóú ook nie antwoord as jy Hom vra om ’n irriterende persoon se lewe te beeïndig nie. Hy het Moses se versoek nie toegestaan toe hy gesmeek het om die Beloofde Land in te gaan nie (Deut. 3:23-26).

As iets buite die Here se wil is, kan jy ophou om daarvoor te bid. Dit sal tot jou nadeel wees as die Here ‘ja’ moet sê. Ek dink byvoorbeeld aan ’n gelowige meisie wat met ’n ongelowige wou trou. Hulle het baie baklei. Sy het die Here gevra om dinge vir hulle uit te werk. Die Here het ‘nee’ gesê. Hy het eerder haar hart verander, sodat sy begin bid het om uit die verhouding te kom. Vandag is sy gelukkig getroud met iemand anders. Sy is dankbaar dat die Here ‘nee’ gesê het en dat die vorige verhouding nie uitgewerk het nie.

[b] As iets binne God se wil is (soos om wysheid te hê), moet jy nie sê: ‘As dit U wil is’ nie. Dit ís sy wil (sien Jak. 1:5). Vra daarom met vrymoedigheid.

[c] As jy vir iets bid wat nie sonde is nie, maar wat God nie in die Bybel belowe nie (byvoorbeeld vir die genesing van ’n spesifieke persoon), moet jy soos Jesus sê: “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39). Leer om te aanvaar wanneer die Here ‘nee’ sê (2Sam. 12:15-23). Hy weet die beste al voel dit nie op die oomblik so nie.

“Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.” (Ps. 84:12).

“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Rom. 8:26-28).

“En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2Kor. 12:7-9).

10. Jy dien afgode

Ek het nooit gedink dat ek afgode dien nie, totdat ek die Here gevra het om my te wys wat dit beteken. Hy het my geantwoord. My beradingsdosent het ’n hele klas aangebied om te wys hoe mense vandag afgode dien. ’n Afgod is iets waarvoor jy ’n brandende lus het, sodat jy sonde sal doen om dit te kry (Kol. 3:5). Dit oorheers jou gedagtes, planne, begroting, tyd, en gesprekke. As jy tussen jou afgod en die Here moet kies, dan verloor die Here. Jy sal maklik jou afgod koester eerder as om kerk toe te gaan, jou Bybel te lees, te bid, die Here te gehoorsaam, of mense te help.

Maar as jy afgode dien, kan jy nie die Here dien nie: “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:24). Die Here sal jou nie verhoor as jy afgode dien nie: “Want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Juda! En volgens die getal van die strate in Jerusalem het julle altare opgerig vir die skandegod, altare om vir Baäl rook te laat opgaan. En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie, want Ek hoor nie in die tyd as hulle My aanroep vanweë hulle onheil nie.” (Jer. 11:13-14). Dit is in dieselfde konteks wat die profeet Esegiël sê: “Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor my ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie.” (Eseg. 8:18).

Los daarom die afgode wat tussen jou en die Here staan, sodat Hy jou kan antwoord. Rigt. 10:10-16 sê: “Toe roep die kinders van Israel die Here aan en sê: Ons het teen U gesondig, want ons het onse God verlaat en die Baäls gedien. Maar die Here het aan die kinders van Israel gesê: Het Ek julle nie van die Egiptenaars en van die Amoriete, van die kinders van Ammon en van die Filistyne—en toe die Sidoniërs en Amalekiete en Maoniete julle verdruk en julle My aangeroep het—julle uit hulle hand verlos nie? Maar julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer verlos nie. Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos in die tyd van julle benoudheid. Toe sê die kinders van Israel aan die Here: Ons het gesondig; maak met ons net soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag. En hulle het die vreemde gode uit hulle midde verwyder en die Here gedien; toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel.”

11. Jy is skynheilig

Jacques geniet die bidure. Hy bid passievol dat die Here hom sal help om heilig te wees. En tog antwoord die Here hom nie, omdat Hy skynheilig is. Hy weet dat Jacques nie heilig wil wees nie, maar dat hy mense se applous soek: ‘Sjoe, Jacques is passievol oor ’n heilige lewe!’ (Matt. 6:5). Moenie soos Jacques wees nie. Soek die Here se guns, vra dat Hy jou beloon, en weet dat Hy jou sal antwoord (Matt. 6:6, Heb. 11:6).

12. Jou gebede is vaag

Het jy al mense gehoor bid vir al die mense langs die paaie en al die siekes in die hospitale? Hoe sal jy weet as die Here jou gebede beantwoord het? Is dit dan nie beter dat jy vir ’n spesifieke sieke, of arme bid nie, sodat jy kan weet as die Here jou gebede beantwoord het nie?

13. Jy gee te gou op

Ek gee gou op as ek iets nie regkry nie. My vrou daarenteen, sal aanhou totdat sy dit regkry. Wanneer dit by gebed kom, wil ek jou aanmoedig om soos my vrou te wees: “En Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie” (Luk. 18:1). As jy weet dat iets God se wil is en dat jou hart is reg, moet jy vra totdat die Here antwoord, soek totdat jy vind, en klop totdat Hy vir jou die deur oopmaak (Luk. 11:9). Indien Hy langer vat as wat jy gedink het, moet jy nie ophou en dink dat Hy jou nie hoor nie. Hy hoor jou (Eks. 2:23-25). Soms toets Hy jou net om te sien of jy ernstig is: “Maar Hy het haar nie ’n woord geantwoord nie... Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.” (Matt. 15:23, 28).

Onthou dit ook by die bidure. Moenie eenkeer vir iets bid en dan ophou nie. Partykeer mis ons die Here se antwoord, omdat ons te gou opgee. Laat ons daarom soos Daniël in die gebed volhard (Dan. 10:2-3, 12-13). “Bid sonder ophou.” (1Tess. 5:17).

14. Jy is ongered

’n Diaken in Engeland het tot die skokkende besef gekom dat hy nog nooit ’n antwoord op gebed gehad het nie. Dit het hom verder laat besef dat hy nie gered is nie. Natuurlik kan die Here ongeredde mense se gebede beantwoord (sien 1Kon. 21:27-29). Dit is egter nie sy patroon nie. Verskeie tekste wys dat God nie ongelowiges se gebede beantwoord nie (Ps. 18:41-42, Spr. 15:8, 29, Joh. 9:31, 1Pet. 3:12, 1Joh. 3:22-23).

Is jy ongered? Die enigste gebed wat jy moet bid, is dat die Here jou sal red (Rom. 10:13). As jy die Here met jou hele hart soek, sal jy Hom vind (Deut. 4:29, Jer. 29:13). Moenie net bid, omdat jy die gevolge van jou sonde wil vryspring nie, of omdat jy sekere voordele by die Here soek nie (byvoorbeeld dat jou kind nie meer rebels sal wees nie, of dat jy en jou huweliksmaat nie sal skei nie). Nee, maar soek die Here.

15. God is soewerein

’n Man het vir John MacArthur gevra hoekom die Here hom nie antwoord nie. ‘Ek weet nie,’ het MacArthur gesê. Hy het enkele redes gegee vir hoekom die Here partykeer ‘nee’ sê. ‘Uiteindelik moet ons egter besef dat die Here soewerein is en dat ons nie altyd sal weet hoekom Hy nee gesê het nie,’ het MacArthur geantwoord.

Dalk val jou situasie nie onder die eerste veertien redes nie. Job was so: hy het nie verstaan hoekom die Here hom nie antwoord nie (Job 23). Op die einde hét die Here hom geantwoord. Hy het egter nooit ’n verduideliking gekry vir hoekom hy so swaar beproef is nie. Dit mag ook wees dat jý nooit sal uitvind hoekom die Here ‘nee’ gesê het vir ’n spesifieke versoek nie (Deut. 29:29). Berus jou by God se soewereiniteit en weet dat jy eendag sal verstaan hoekom hy ‘nee’ gesê het. Vir al wat jy weet, mag die Here jou dalk verbaas en wys dat sy antwoord eintlik ’n baie groter ‘ja’ was. In Richard Baxter se woorde: ‘There are millions of prayers that will all be found answered at death and judgment, which we knew not to be answered any way but by believing it.’3


1  Andrew Murray, With Christ in the School of Prayer (New Kensington, PA: Whitaker House, 1981), 39

2  Douglas Kelly, If God Already Knows—Why Pray? (Geanies House, Fearn: Christian Focus Publications, 1995), 66-7

3  Richard Baxter, The Practical Works of Richard Baxter: Vol. 1 (Morgan, PA: Soli Deo Gloria, 2000), 490

Kategorieë