Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 June 2022

Persoonlike Probleme: Eensaamheid

Psalm 142

In Mei 2020 is ’n vyftigjarige man dood in sy huis aangetref. Die ergste is dat hy al vir drie jaar daar gelê het!1 Hoekom het niemand dit geweet nie? Hoekom het niemand omgegee nie? Duidelik was die man baie eensaam.

Ons samelewing bevorder eensaamheid. Deur die sosiale media het ons meer vriende as ooit, maar minder diep vriendskappe as ooit. Ons kan vinnig met mense kommunikeer, maar ons is alleen wanneer ons dit doen. Facebook en ander sosiale media platvorms help eensaamheid aan. Jy sien ander mense se fotos—hoe hulle braai, uiteet, ’n troue bywoon. Almal lyk so gelukkig, terwyl jy eensaam en alleen is. Maar wat weet jy van hulle huweliksmoles of familieprobleme? Ek het al ’n foto gesien waar ’n man sy vrou vashou en glimlag net om uit te vind dat hulle jare se huweliksprobleme het. Fotos kan misleidend wees.

Romantiese komedies, -boeke en -musiek gee nie ’n akkurate beeld van liefde nie. Dit is kunsmatig en skep die idee dat ware liefde in mense gevind kan word: ‘As ek net ’n meisie het, sal ek nie so eensaam wees nie. Maar nou is ek mnr. Lonely.’ Selfs al het jy ’n meisie of ’n goeie vriend, bly die oplossing tydelik. Mense trek weg, beweeg aan of sterf. Die ware oplossing vir eensaamheid lê by die Here.

 

1. Dawid se omstandighede (v.1a)

’n Jong leraar het my ’n paar weke gelede kom sien. Hy het probleme in die gemeente ondervind en wou met iemand gesels. Daar is nie ouderlinge met wie hy sy hart kan deel nie. ‘Ek het niemand om mee te gesels nie, oom,’ het hy gesê.

Toe Saul vir Dawid gejag het, het hy dieselfde ervaar. Hy het alleen in ’n donker grot gaan wegkruip en eensaam gevoel (v.1a, 57:1, 1Sam. 22:1). Onthou dat Dawid ’n man na God se hart was (Hand. 13:22). Die les is dat toegewyde gelowiges by tye eensaam voel (v.5). Ons sien dit by Paulus. Toe hy aan die einde van sy lewe in die tronk was, het almal hom verlaat—net Lukas was by hom (2Tim. 1:15, 4:9-15). Tydens sy eerste verhoor voor die keiser, het niemand hom bygestaan nie (2Tim. 4:16). Gedurende sy laaste ure op aarde het Jesus dieselfde gevoel. Judas het Hom verraai, sy dissipels het weggehardloop, Petrus het Hom verloën en sy Vader het Hom verlaat (Matt. 26:36-56, 69-75, 27:46).

Die feit dat baie gelowiges al eensaam was, moet jou help—jy is nie alleen nie (1Kor. 10:13). Die feit dat Jesus eensaam was, moet jou help—Hy het medelye met jou swakheid (Heb. 4:15).

 

2. Dawid se gebed (v.1b-3)

Dudley beskou sy berader as ’n verlosser van eensaamheid. Natuurlik kan ’n berader jou help, maar hy is nie jou verlosser nie. Die Here was Dawid se verlosser van eensaamheid en daarom het hy tot Hom gebid: “...’n Gebed. Na die Here roep ek hardop om hulp; by die Here pleit ek hardop om genade. Ek stort voor Hom my klag uit; voor Hom maak ek my nood bekend.” (v.1b-3). “Draai U na my en wees my genadig, want ek is eensaam en magteloos.” (25:16).

Om jou eensaamheid en emosies binne te hou, lei tot depressie. Daarom het Dawid sy hart voor die Here uitgestort en hardop uitgeroep (v.2-3). Doen jy dieselfde en stort jou hart voor die Here uit; bid oor alles en werp jou sorge op Hom (62:9, 55:23, Fil. 4:6, 1Pet. 5:7). Bid met vrymoedigheid, omdat ons deur Jesus vrye toegang tot die Vader het; Hy het die weg gebaan en tree as Hoëpriester vir ons in (Ef. 3:12, Heb. 4:14, 16, 10:21-22).

 

3. Dawid se depressie (v.4-5)

Gedurende een van my beradingklasse het ons na ’n regte beradingsessie gekyk. Die berader het die mense se toestemming gevra of hy dit kan opneem om ander beraders te help. In die eerste sessie het ’n predikant en sy vrou hulle probleme met die berader gedeel. Die vrou was erg depressief. Die rede vir haar depressie was eensaamheid. Haar man was die hele tyd besig met die bediening en het nie aandag aan haar gegee nie.

Dit is ook die rede vir Dawid se depressie: hy was eensaam en alleen. “Wanneer my gees in my begin weifel, is dit U wat my pad ken. Op die pad wat ek moet loop, het hulle in die geheim ’n vangnet vir my gespan. As ek regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie. ’n Skuilplek is vir my verlore; niemand is begaan oor my lewe nie.” (v.4-5). Let op die woord ‘weifel’ in v.4. Volgens die Hebreeuse verbuiging (hitpael) het dit gevoel of sy gees heen en weer gaan. Hy was rigtingloos en het gevoel of sy gees wegkwyn. Om so te voel kan ’n bose kringloop vorm: jy voel depressief en daarom wil jy alleen wees. Dan voel jy meer eensaam en die depressie vererger. In jou depressie onttrek jy jou en gevolglik voel jy al hoe meer eensaam. Dit is ’n afwaartse spiraal.

Hoe breek mens uit dit uit? Jy onthou die Here. Hy weet wanneer mense jou vervolg (v.4). Hy sien as jy in die aand alleen wakker lê: “’n Gebed. Van ’n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die Here uitstort... Ek is soos ’n bontkraai in die woestyn; ek het geword soos ’n naguiltjie op puinhope. Ek lê wakker; ek het geword soos ’n eensame voël op ’n dak.” (102:1, 7-8).

Pasop dat jy jouself nie bejammer nie. Moenie dink jy sal nooit weer gelukkig wees nie. Jy is nie alleen nie en waarskynlik is almal nie teen jou nie. Elia was verkeerd toe hy gesê het hy is die enigste een wat die Here dien. Daar was seweduisend ander wat getrou gebly het (1Kon. 19:14, 18). Die Here het jou nie vergeet nie (Jes. 44:21, 49:15). Hy is elke dag by jou en woon in jou deur sy Gees (Matt. 28:20, Joh. 14:23). Hy sal jou nie verlaat of in die steek laat nie (Heb. 13:5). Hy sal ander gelowiges opwek om vir jou te bid en jou te bemoedig: “Mag die Here barmhartigheid bewys aan Onesiforus se huisgesin, want hy het my dikwels opgebeur en hom nie vir my boeie geskaam nie; trouens, toe hy in Rome was, het hy ywerig na my gesoek en my gevind. Mag die Here gee dat hy op daardie dag barmhartigheid by Hom vind. Jy weet tog baie goed hoeveel diens hy in Efese aan my bewys het.” (2Tim. 1:16-18).

Dawid kon geen hulp naby sien nie: “As ek regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie. ’n Skuilplek is vir my verlore; niemand is begaan oor my lewe nie.” (v.5). Wat leer hierdie ervaring ons? Moenie die eensames vergeet nie. Daar is van hulle in elke gemeente. Groet hulle, besoek hulle en gesels met hulle. Kyk uit vir mekaar. Dit geld ook vir die eensames. Jy weet hoe dit voel om eensaam te wees. Moenie in jou naeltjie vaskyk nie, maar reik uit en bemoedig ander (Matt. 7:12, 2Kor. 1:4). Moenie soos Dawid dink dat daar vir jou geen toevlug is nie (v.5). Onthou dat die Here jou toevlug is (v.6). As dit vir jou voel of almal jou vergeet het en niemand vir jou siel omgee nie (v.5), moet jy 94:19 onthou: “Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op.”

Hoe maklik vergeet ons mekaar nie. Dink aan ’n bejaarde ma wie se besige kinders haar êrens in ’n kamer vergeet. Hulle moet haar besoek, maar dit is nie genoeg nie. Hulle moet haar eensame se siel versterk (v.5). Lees die Bybel en bid vir so iemand. Toe Joel Beeke eenkeer ’n onbekende vrou in die hospitaal gaan besoek, toe sê sy: ‘You know; my pastor came too. He didn’t even bother to read the Bible or to pray with me. He never asked me how I am doing in my soul.’

Laat ons vir mekaar bid en mekaar uit die Woord bemoedig (Ef. 6:18, 1Tess. 4:18, 5:11). Doen Hand. 2:42 vir jou eie siel: “Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.” Is jy miskien eensaam, omdat jy dit afskeep en die gemeente se samekomste versaak (Heb. 10:24-25)? Moenie soos die tannie wees wat my gebel het nie. Sy het gevra dat ek haar besoek. Sy het gesê dat sy eensaam is en dat elke predikante wat sy bel haar net eenkeer besoek. Sy was gesond genoeg om kerk toe te kom. Ek het voorgestel dat sy op Sondae saam met een van ons lidmate kerk toe ry. Sy wou nie en het gesê sy soek net ’n predikant om haar gereeld te besoek. Dit is feitlik onmoontlik om so iemand te help. Hulle is eensaam, omdat hulle nie by ’n gemeente inskakel nie.

Is jy eensaam, omdat jy jouself eenkant hou (Spr. 18:1)? Mense nooi jou om by hulle te kuier, maar elke keer het jy ’n verskoning. Jy het jouself onttrek. Moenie verbaas wees as mense ophou om jou te nooi nie. Jy het dit oor jouself gebring.

Is jy eensaam as gevolg van jou karakter: jy kla oor alles, praat alewig oor jouself, is morbied, nors, ongeskik, bitter, onvergewensgesind en het ’n kort humeur? Is dit enige wonder dat mense jou vermy en jy eensaam is? Bely jou sonde en vra die Here om jou te verander. Bid Kol. 3:12-15 oor jouself en vra vir hulp om dit toe te pas: “Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.”

 

4. Dawid se skuilplek (v.6-7)

Lorette is uiters eensaam en wil selfmoord pleeg. Alhoewel dit na ’n uitweg lyk, sal dit net die probleem vererger: “...soos dit bestem is vir mense om slegs een maal te sterf, en daarna kom die oordeel” (Heb. 9:27). As Lorette hel toe gaan, gaan sy eers eensaam wees. Die hemel is ’n plek van samesyn en blydskap (Op. 7:9). In die hel is dit die teenoorgestelde.

Dit is beter dat Lorette hier en nou voor die Here huil en haar hart voor Hom uitstort (v.6). As sy dit doen, sal sy nie in die hel hoef te huil nie (Matt. 25:30); sy sal by die Here wees waar Hy haar trane afdroog (Op. 7:17, 21:4). Dit kan net gebeur as sy by die Here skuil en Hy haar erfdeel is (v.6, 16:5, Spr. 18:10). Om die Here as erfdeel te verkry help nie net vir die lewe hierna nie, maar ook as jy niemand op aarde het nie: “U is...my deel in die land van die lewendes.” (v.6). “Wie is daar vir my in die hemel? As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie. My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd.” (73:25-26).

Wie die Here as erfdeel verkry, is sy kind en sy vriend (Joh. 1:12-13, 15:13-15, Spr. 18:24). Omdat jy dit so is, sal die wêreld jou vervolg (Joh. 15:19). Dit kan maklik eensaamheid en depressie veroorsaak (v.7). Roep tot die Here as die vervolgers vir jou te sterk is (v.7). Skep moed en wag tot Hy jou uithelp (27:14).

 

5. Dawid se danksegging (v.8)

Almal van ons onthou die eerste grendelstaat. Vir die eerste drie weke was mense opgewonde en vol afwagting. Maar toe hulle die grendelstaat nog twee keer verleng, toe raak dit lank. Mense se huise het soos ’n tronk gevoel. Net so het die grot vir Dawid soos ’n tronk gevoel en daarom het hy vir uitkoms gebid (v.1, 8).

Die grot was nie die enigste tronk nie. Dawid se eensaamheid en depressie het soos ’n tronk gevoel. As dit vir jou so voel, moet jy v.8 bid: “Lei my uit gevangenskap...” Die Here sal jou antwoord soos Hy vir Dawid gedoen het: “Dawid is toe daar weg en het ontvlug na die grot van Adullam. Toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom toe. Elkeen wat in die moeilikheid was, wat geld geskuld het, of verbitterd was, het by hom aangesluit, en hy het hulle aanvoerder geword. Daar was ongeveer vierhonderd man by hom.” (1Sam. 22:1-2).

Moenie nalaat om die Here te dank as Hy jou gehelp het nie: “Lei my uit gevangenskap, sodat ek u Naam kan prys...” (v.8). Jy hoef nie tot dan te wag voordat jy dit doen nie. Sien nou al sy goedheid raak. Hy het jou verlos en jy is syne (Ef. 1:3-14). Dalk het jy geliefdes om jou, al is dit net een persoon. Naomi het dit misgekyk. Toe sy wanhopig en depressief was, het sy gedink die Here is teen haar: “Met ’n vol lewe is ek hier weg, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die Here my teenstander geword het en die Almagtige my kwaad aangedoen het?” (Rut 1:21). Hoe het Naomi van haar lojale skoondogter langs haar vergeet (Rut 1:19, 22)? Doen ons nie maar dieselfde nie?

Omring jou met opregte mense. Bid vir sulke vriende indien jy die enigste Christen in jou familie, skool of werkplek is (v.8). Eendag sal jy in die hemel deur sulke mense omring word (v.8). Daar sal geen goddeloses meer wees nie (1:5). Tog lê die finale oplossing by die Here en nie by mense nie. Selfs met mense rondom jou kan jy eensaam voel. Dink maar aan ’n vrou wie se man lang ure werk. As hy by die huis aankom, slaap sy al. Hulle bly onder dieselfde dak, maar leef verby mekaar.

Is jy eensaam, omdat jy ’n slegte huwelik het? Jou man sit elke aand voor die TV, terwyl jy die kinders met hulle huiswerk help. Moontlik het jy ’n goeie huwelik, maar jy is steeds eensaam, omdat jy vriende soek. Ongelukkig is almal besig by die werk en met hulle eie lewens. Het jy baie vriende, maar dit vul nie die leemte nie? Is jy eensaam, omdat jy ’n weduwee, enkellopende, geskeide persoon of weeskind is? Die huwelik, vriende en ’n goeie gemeente is alles deel van die Here se oplossing (Gen. 2:18, Ps. 68:6-7, Pred. 4:9-12, 1Kor. 12:26-27, 1Tim. 3:15, 5:1-2), maar uiteindelik is Jesus die oplossing (v.8, 27:10).

Jy benodig nie beter omstandighede nie, maar die regte perspektief. Dawid moes besef dat die Here aan hom sal goed doen: Saul sou hom nie doodmaak nie, maar hy sou as koning op die troon sit (v.8). Net so moet jy glo dat die Here aan jou sal goed doen (v.8). Hoe weet jy Hy sal? Want Hy het belowe en God kan nie lieg nie (Num. 23:19, Jos. 21:45, Heb. 6:18, Tit. 1:2). Net soos die Here vir Noag, Hagar, die Israeliete in Egipte, Hanna en die hartseer dissipels onthou het, sal Hy jou onthou (Gen. 8:1, 16:6-13, Eks. 2:24, 1Sam. 1:19, Joh. 14:17-18). Dit is deel van sy karakter: ‘God is well-known for remembering forgotten people...’ (Amanda Martin).2 Al wat die Here van jou vra, is dat jy Hom onthou as Hy jou uithelp: “Roep My aan in ’n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.” (Ps. 50:15).


1  https://www.ccef.org/fear-of-being-alone/

2  Catherine J. Stewart (Ed.), Surviving the Fishbowl: Letters to Pastors’ Kids (Grand Rapids, Michigan: Reformation Heritage Books, 2021), 78

Kategorieë