Markus 5:1-20
Party mense soek ’n demoon agter alles. Hulle maak selfs ’n beroep hiervan en sê dat hulle professionele bevryders is. Ateïste, liberale teoloë en sielkundiges glo dat daar nie so iets soos demoonbesetenheid is nie, maar dat daar ’n sielkundige verklaring is vir alles. As Christene wat die Bybel glo, weet ons dat demoonbesetenheid ’n werklikheid is. En tog soek ons dit nie om elke hoek en draai soos die mense wat Rebecca Brown se boeke lees nie. Hoe móét ons dan die saak beskou en reageer?
1. Die kenmerke van demoonbesetenheid (v.1-7)
’n Paar jaar gelede het ’n sendeling my gevra om ’n Chinese vrou saam met haar te besoek. Dié vrou het vir ’n paar dae in die bed gebly en nie ’n woord met haar familie gepraat nie. Sy het die hele tyd na die dak gestaar. Die familie was later besorgd dat sy demoonbesete is, maar sy was nie. Sy was bitter en wou nie met hulle praat nie. Deur stil te bly het sy ’n manier gevind om hulle te straf.
Wat is dan die kenmerke van demoonbeseteheid? Markus gee ons ’n paar kenmerke, maar voor ons daarby kom moet ons na die storie luister. Jesus het oor die See van Galilea gevaar. Hy het by ’n heidense gebied aangekom. Ons weet dit, omdat hulle met varke geboer het en geen Jood varke sou aanhou nie (v.11). Die beskikbare Griekse manuskripte verskil oor waar presies hierdie plek was. Party verwys daarna as die streek van die Gadareners, omtrent 8 km Suid-Oos van die See van Galilea. Ander sê dat dit die streek van die Geraseners was, wat omtrent 50 km Suid-Oos van die See was. Maar die varke kon nie by een van hierdie plekke oor ’n steil helling in die see geval het en verdrink het nie. Daarom is die korrekte ligging eerder Gergesa aan die Ooskus van die See van Galilea. Hierdie dorpie was deel van die groter munisipale streek van Gadara.
Toe Jesus en die dissipels daar aangeland het, toe kom daar twee demoonbesete mans uit die grafte na Hom toe aangehardloop (v.6, Matt. 8:28). Markus en Lukas noem net een, omdat hý waarskynlik die spreekbuis was. Hoe het Jesus en die dissipels geweeet dat die mans demoonbesete was? Wat was die kenmerke van hulle besetenheid?
[a] Publieke naaktheid
Ons lei dit af uit v.15 en sien dit ook in Luk. 8:27. Dit is vandag nog so. Let maar op hoe dat Satanisme, heavy metal musiek, en demoonbesetenheid met pornografie en seksuele losbandigheid gepaard gaan. Die teks praat van ’n onrein gees, wat impliseer dat demone onreinheid aanhits (v.2).
[b] ’n Obsessie met die dooies
Ons sien dit in v.3, 5 waar die man tussen die grafte gewoon het. Dié wat hulle met demone ophou, het ’n obsessie met die dooies. Dink byvoorbeeld aan halloween, of aan die heavy metal kultuur wat ’n obsessie het met mummies, zombies, geraamtes, en kopbene.
[c] Afsydigheid
Nie almal wat afsydig is, is demoonbesete nie. Maar demoonbesetenes hou hulleself eenkant, is asosiaal, en pas nie aan in die samelewing nie (v.5, Luk. 8:29).
[d] Bo-menslike krag
Ons sien in v.3-4 hoe die man kettings en ysterboeie gebreek het. In Hand. 19:14, 16 lees ons van ’n demoonbesetene wat sewe mans stukkend geslaan het en hulle klere geskeur het. Die demoonbesetenes van óns teks was gevaarlik en kwaai (sien Matt. 8:28). En tog probeer die Bybelskrywers nie vir ons sê hoe sterk demone is nie, maar hoe sterk Jesus is wat hulle met ’n woord kon uitdryf!
[e] ’n Aanhoudende geskreeu met ’n ander stem
Volgens die Bybel skreeu demoonbesetenes geweldig en aanhoudend (v.5, 7, 1:23, 26, Hand. 8:7). John MacArthur was eenkeer betrokke by so ’n geval. Die persoon het met ’n ander stem vir hom gesê: ‘Oh no! Not him!’
’n Mens hoor dit ook by heavy metal sangers wanneer hulle vir mer as ’n uur met ’n aaklige stem op die verhoog staan en skreeu. Ek dink ook aan ’n Prosperity prediker langs my vriend se huis in Limpopo. Hierdie man kon vir ’n uur, of meer oor ’n luidspreker skreeu. Hoe die man se stem nie seer geraak het nie, weet ek nie. My vriend is oortuig dat dit demonies was.
[f] Selfbesering
Die man het homself met klippe stukkend gekap (v.5). Demone gebruik Satanistiese speletjies, sosiale media, musiek, drank, dwelms, verkeerde vriende, en vals godsdienste om mense tot selfbesering te dryf (vgl. Lev. 19:28, 21:5, 1Kon. 18:28). Hierdie mense beseer hulleself deur hulleself te sny, woorde op hulleself te kerf, hulleself met sigaretaanstekers te brand, hulleself te suig totdat die bloed deurslaan, hulle hare uit te trek, hulle koppe teen die muur te slaan, of krammetjies in hulleself te slaan. Nie almal wat dít doen, is demoonbesete nie. En tog is dit demone wat hierdie goed aanhits.
Party mense beseer hulleself omdat hulle hulle ouers, of die groep se aanvaarding soek. Eintlik is hulle selfbesering ’n noodkreet vir liefde. Ek dink hier aan ’n storie wat John Piper vertel het. ’n Vrou wat oorgewig was, het haar maag oopgesny, sodat sy hospitaal toe moes gaan om steke te kry. Sy het dit drie keer gedoen. Toe hy haar vra hoekom sy dit doen, toe sê sy: ‘Ek hou daarvan as die dokters aan my vat.’ Sy het gesien hoe mense rondom haar vriende het, getroud is, en drukkies kry. Niemand het ooit vir haar ’n drukkie gegee nie. Om aanraking te kry, het sy haarself gesny, sodat die dokters aan haar kon vat.1
As jy soos hierdie vrou is en jouself beseer om mense se aandag te kry, moet jy leer dat God ons deur Jesus Christus aanvaar (Joh. 1:12, Gal. 4:5, Ef. 1:5, 1Joh. 3:1). Dit sal ook help as jy deel word van ’n gemeente waar mense vir mekaar omgee en mekaar liefhet.
Party mense beseer hulleself, omdat hulle dink dat die fisiese pyn hulle van die emosionele pyn van die verlede sal laat vergeet. Hulle beleef ’n tipe sensasie wanneer hulle hulleslf sny en hulle liggame adrenalien vrystel. Maar dit help nie, want later moet jy jouself al hoe meer sny om dieselfde sensasie te kry. Op hierdie manier raak dit ’n verslawing.
Party mense beseer hulleself om net iets te voel, omdat hulle emosioneel hard en dood geraak het as gevolg van dinge wat in die verlede gebeur het. Party mense sê: ‘Ek haat myself. Ek haat hoe ek lyk.’ Dus gee hulle nie om as hulle hulleself beseer en nóg leliker lyk nie. Maar volgens die Bybel is jou liggaam God s’n en moet jy Hom daarmee eer (Rom. 12:1, 1Kor. 6:19-20). God wil ook hê dat jy op innerlike skoonheid en ’n goeie karakter moet fokus, eerder as op uiterlike skoonheid wat sal vergaan (Spr. 31:30, 1Tim. 2:9-10, 1Pet. 3:3-5).
Party mense beseer hulleself, omdat hulle nie so gelukkig is soos die mense wat hulle op Facebook, of op WhatsApp sien nie. Maar onthou asseblief dat jy nie die detail van ander mense se lewens ken nie. Vir al wat jy weet beleef hulle dieselfde innerlike pyn as jy, selfs al glimlag hulle uiterlik (Spr. 14:13). Vat jou probleme na die Here toe. Hy verstaan jou pyn en kan jou diep wonde genees (Matt. 11:28). Bid die volgende verse:
“Wend U tot my en wees my genadig, want ek is eensaam en ellendig. Die benoudhede van my hart is wyd uitgestrek; lei my uit my angste. Aanskou my ellende en my moeite, en vergeef al my sondes.” (Ps. 25:16-18).
“Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof—die verlossing van sy aangesig!” (Ps. 42:6).
“Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ’n toevlug vir ons.” (Ps. 62:9).
“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1Pet. 5:7).
Praat ook met ’n volwasse Christen en vra die persoon om jou te help.
Party mense beseer hulleself as ’n straf vir een of ander persoonlike sonde. ’n Paar maande gelede het ek jong man ontmoet wat op die straat bly. Toe ek met hom daaroor praat en vra hoekom hy nie in die skuiling vir haweloses bly nie, toe sê hy: ‘Ek straf myself vir my sondes.’ ’n Metodiste prediker genaamd William Bramwell (1759-1818) het dit gedoen voor hy tot bekering gekom het. Faith Cook skryf: ‘Tortured by an increasing sense of the inward sinfulness of his heart in God’s sight, William turned, like many before him, to ascetic practices to try and ease his burdened conscience. He knew no better way. Sometimes he would cut his fingers deliberately; at others times he would sprinkle course sand on the floor and kneel for many hours through the night begging forgiveness for his sins.’1
Mense wat dít doen, hoop om God se guns te wen. Hulle hoop Hy sien hoe jammer hulle regtig oor hulle sonde is. Hulle dink dat die sig van bloed hulle beter sal laat voel, omdat hulle sonde gestraf word. Maar geen hoeveelheid selfbesering kan God se guns wen, of iemand se sonde wegvat nie. Net die bloed van Jesus kan (1Joh. 1:7). Vra Hóm dan om jou sondes te vergewe (1Joh. 1:9).
Party mense beseer hulleself, omdat hulle voel dat hulle beheer verloor het. Darem kan hulle hierdie aspek van hulle lewens beheer. Maar volgens v.5 beheer die duiwel jou as jy jouself opsetlik beseer. Vra die Here om jou hiervan te red. Sê vir Hom dat jy onder sý heerskappy wil lewe. Erken dat Hý soewerein is oor alles en dat Hy selfs die slegte dinge wat met jou gebeur het tot jou voordeel kan uitwerk (Rom. 8:28, Gen. 50:20).
Party mense gaan tot die uiterste en neem hulle eie lewens. Dit gebeur as gevolg van demone, of selfs demoonbesetenheid. Dink maar aan koning Saul wat deur ’n demoon geteister is en op die einde sy eie lewe geneem het (1Sam. 16:14, 18:10, 1Sam. 31:4). Dink aan die verse wat sê dat Satan in Judas ingevaar het en dat hy op die einde selfmoord gepleeg het (Joh. 13:2, 27, Matt. 27:5).
2. Die oplossing vir demoonbesetenheid (v.8-20)
Omtrent 16 jaar gelede het ek ’n man ontmoet wat jare tevore by die Vrymesselaas betrokke was. Hy het gedink dat dit net ’n liefdadigheidsorganisasie is, maar ek het vir hom gewys dat dit okkulties en demonies van aard is. Hy het dadelik besef dat hulle vals is en het gesê dat hy nooit weer iets met hulle te doen wil hê nie. Toe ek die storie met iemand deel, toe gee die persoon vir my ’n lys vol Christelike formules. ‘Jy moet hierdie lys vir die man gee, sodat hy daardeur kan bid om die demoniese bindings te breek,’ het die persoon gesê.
Aan die begin van my bediening het iemand vir my ’n DVD van Tian Gildenhuys gewys. Die DVD se titel was, ‘Maak jou huis skoon’. Volgens Gildenhuys moes ’n mens enige Oosterse, of okkultiese prente, of beelde uit jou huis verwyder. Ek stem saam dat ons nie afgode, of Sataniese goed in ons huise moet hê nie. Om egter te dink dat demone in jou huis gaan inkom, omdat jou kinders ’n prent van ’n feetjie, of ’n draak in hulle kamers het, is absurd.
’n Predikant het my eenkeer vertel dat hy ’n bevryder gaan sien het. Volgens hom het dit baie probleme in sy lewe opgelos. Dit was egter maar net ’n front, omdat dit later uitgekom het dat hy seksueel losbandig was, probeer het om sy vrou te vermoor, en op die einde selfmoord gepleeg het.
In die Christelike film War Room is daar ’n toneel waarin die hoofkarakter die duiwel uit haar huis jaag. ‘Get out Satan and go back to hell where you belong!’ het sy gesê. Maar dit is ’n verkeerde teologie, omdat die duiwel volgens Op. 20:10 nog nie in die hel is nie. Christene het ook nie die mag om hom daarheen te stuur nie.
Party Christene bid op hoë plekke om sogenaamde gebiedsgeeste te bind, voordat hulle in ’n area uitreik om evangelisasie te doen. Maar nêrens moedig die Bybel ons aan om bogenoemde dinge te doen om demone uit te dryf nie. Kom ons kyk eerder na wat Jesus gedoen het. Jesus is Here oor die demone en daarom het Hy hulle beveel om uit die man te kom (v.8). Hy het die demoon se naam gevra, nie omdat Hy onkundig was nie, maar omdat Hy die demoon daaraan wou herinner dat hy aanspreeklik is teenoor die Here net soos wat Satan in Job 1-2 aan Hom moes rapporteer.
Een van die demone het namens die res gespreek en gesê dat sy naam Legioen is (v.9). ’n Ligioen is ’n militêre eenheid van 6000 soldate. Daar was met ander woorde sowat 6000 demone in hierdie man! Later het hulle ook in meer as 2000 varke ingevaar (v.13). Demone is geeste en daarom word hulle nie deur spasie beperk nie (Ef. 2:2, 6:12). Die groot getal beklemtoon ook Jesus se mag oor die demone, omdat Hy hulle maklik met ’n woord kon uitdryf. Duidelik kon hulle nie doen wat hulle wou nie en daarom het hulle Hom gesmeek om hulle nie uit die gebied te stuur nie (v.10). Hulle was bang dat Hy hulle hel toe sou stuur en het Hom dus gevra of hulle in die varke kan ingaan (v.11-12, Matt. 8:29, 25:41, Luk. 8:31).
Hoekom het Jesus toestemming gegee as Hy geweet het dat die varke see toe sou hardloop en verdrink (v.13)? Hy wou hê dat die demoonbesete man en ander moes weet dat hy man regtig bevry is. Hy wou óns ook daaraan herinner dat ’n mens se lewe meer waardevol is as baie diere (Matt. 10:31, 12:12). As jy jammer voel vir die varke wil ek vra: sou jy saam met die mense van daardie streek bly gewees het as Jesus die varke gespaar het, terwyl die man besete gebly het (v.17)?
Deur toe te laat dat die demone in varke invaar, het Jesus ook duidelik gemaak dat die man nie ’n sogenaamde sielkundige toestand gehad het nie, maar dat Jesus hom van demone gered het. Die varkwagters het hulle nie hieroor verbly nie, maar het gevlug en oral vertel wat met die varke en die demoonbesete mans gebeur het (v.14, Matt. 8:33). Die mense het uitgekom om te kyk wat gebeur het. Die man wat besete was, was by sy volle positiewe. Hy was regsinnig, het klere gedra, en het as ’n nuwe dissipel aan Jesus se voete gesit (v.14-15, Luk. 8:35, 10:39). Dit het die mense laat vrees net soos wat die demone Jesus gevrees het (v.15). Die dissipels het hulle die ware rede vertel hoekom die man gesond was en hoekom die varke in die see verdrink het (v.16, Luk. 8:36). Ongelukkig was hulle nie bly vir die man nie, maar was hulle ontsteld omdat hulle geld verloor het. Daarom het hulle vir Jesus gevra om te gaan (v.17, Luk. 8:37).
Toe Jesus in die boot klim, wou die eks-besetene saamgaan. Toe die demone en die mense van die streek Jesus gesmeek het, het Hy hulle versoek toegestaan (v.10, 12, 17). Toe die man hom egter gesmeek het om saam te gaan, toe sê Hy ‘nee’ (v.18-19). Hy wou hê dat die man oral moes vertel wat die Here God vir hom gedoen het; hoe Hy barmhartig was om hom van die duiwel te bevry (v.19, Luk. 8:39). Die man het Jesus gehoorsaam en oral in die Dekapolis—’n streek van tien stede Oos van die Jordaan—vertel wat Jesus vir Hom gedoen het (v.20). Sodoende het hy erken dat Jesus die Here en God is wat hom gered het (vgl. Joh. 20:28). Die mense het hulle oor sy getuienis verwonder (v.20).
Daar het jy dan die nommer 1 oplossing vir demoonbesetenheid: die evangelie, of die boodskap van die kruis waar Jesus Christus Satan en sy demone oorwin het (Hand. 8:5-7, 26:18, Ef. 6:15, Kol. 1:13-14, 2:15, 1Joh. 3:8, Op. 12:11). Ek bedoel nie dat jy Jesus se Naam as ’n towerformule moet gebruik nie (Hand. 19:13-16), maar eerder dat jy baie vir die besetene moet bid en die evangelie met hom moet deel (Mark. 9:29, 2Kor. 4:4-6). Vra die Here om die demone uit te dryf met die wete dat hulle Hom vrees, omdat hulle besef dat Hy die Seun van die Allerhoogste God is (v.6-7, 1:24, Jak. 2:19).
Saam met die evangelie en gebed, moet jy die Here se lof besing, omdat Hy die vyand soms op hierdie manier verwar en verdryf (sien 2Kron. 20:22). John Piper het so ’n storie. ’n Groep studente het hom een aand gebel en gesê dat een van hulle medestudente demoonbesete is. ‘Kan jy ons asseblief help?’ het hulle gevra. Hy het in sy kar geklim en na hulle toe gery. Daar was die jong student. Sy het inderdaad soos ’n besetene te kere gegaan. Sy het in ’n ander stem geskreeu, op die grond geval, ’n mes uitgehaal en die ander studente gedreig. Piper het die Bybel vir haar gelees. Sy het aanhoudend geskreeu en hy het aangehou lees. Uiteindelik toe begin hulle lofliede sing. Die oomblik toe hulle dit doen, toe word sy soos ’n mal mens. Sy het op die grond rondgerol en geweldig geskreeu. Hulle het langs haar gekniel en aangehou sing. Uiteindelik het sy tot bedaring gekom en bewusteloos geraak. Hulle het gedink sy is dood. Deur die Here se genade was sy nie dood nie. Toe sy bykom, was haar oë, gesig, en stem heeltemal anders. Sy kon niks onthou van wat gebeur het nie. Daarna het sy begin om kerk toe kom.2
Die heel belangrikste is dan dat die persoon hom moet bekeer, want anders sal die demoon terugkeer en sy makkers saambring (Matt. 12:43-45). Ek weet van so ’n storie. ’n Seun wat demoonbesete was het in die hospitaal beland. Die dokters kon sien dat hy nie mediese hulp nodig het nie, maar dat daar iets anders fout is. ’n Kollega het sy gemeente gevra om vir die jong te vas en te bid. Kort daarna het die ma laat weet dat daar seun genees is! Sy het oorgeloop van blydskap. My kollega het vir haar gesê dat haar seun hom van sy sonde moet bekeer, want as hy dit nie doen nie sal die demoon terugkeer en sal dinge erger raak. Die ma en seun het hulle nie aan die leraar se raad gesteur nie. Sy voorspelling het waar geword en dinge het erger geraak.
Dring dan by die persoon aan om Jesus as sy persoonlike Verlosser en Here te ontvang. As hy dit nie doen nie maar sonde in sy lewe toelaat, na vals lering luister, of met demoniese dinge speel, sal die demone terugkeer (Deut. 18:9-14, Ef. 4:26-27, 1Tim. 4:1). As hy egter tot bekering kom, sy hart met die Woord vul, sonde vermy, met volharding bid, saam met ander gelowiges groei, en heilig lewe, sal die demone wyk (Matt. 6:13, Ef. 6:14-18). Hulle sal dit nie waag om in ’n Christen te woon nie, omdat die Heilige Gees daar bly en ons nie met demone sal deel nie (Joh. 14:16-17, 2Kor. 6:14-16, 1Joh. 4:4, 5:18).
‘Maar wat van koning Saul wat eers die Heilige Gees gehad het en toe later ’n demoon gehad het?’ wil iemand weet. Saul se konstante ongehoorsaamheid wys dat hy ongered was. Dus was die Gees slegs op hom om hom vir sy taak as koning te bekragtig en nie omdat hy gered was nie (vgl. Num. 24:2 waar die Heilige Gees op die vals profeet Bileam gekom het).
Die voorbeeld van koning Saul leer ons dat demone nominale Christene3 se lewens kan beset. John Wesley (1703-1791) vertel van ’n geval waar iemand vir ’n demoon gevra het: ‘How didst thou dare to enter into a Christian?’ Die demoon se antwoord was: ‘She is not a Christian. She is mine.’4 In ’n ander geval het ’n besete vrou in Kingswood aanhoudend geskreeu: ‘I am damned, damned, lost for ever. Six days ago you might have helped me. But it is past. I am the devil’s now. I have given myself to him. His I am. Him I must serve. With him I must go to hell.’ Sy het toe tot die duiwel begin bid, maar deur die Here se genade het Hy haar gered.5 Om Jesus se woorde te gebruik: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:32, 36).
1 Faith Cook, Singing in the Fire: Christians in Adversity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995), 136-7
1 https://www.desiringgod.org/interviews/how-would-you-offer-hope-to-someone-who-is-addicted-to-cutting-himself
2 https://www.youtube.com/watch?v=0SK07TY1uh0&feature=emb_title
3 Mense wat bely dat hulle Christene is, maar dit nie is nie (vgl. Matt. 7:21-23, 1Joh. 2:19).
4 Aangehaal in Frederick S. Leahy, Satan Cast Out: A Study in Biblical Demonology (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975), 121
5 Ibid., 120-1