Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 July 2022

Persoonlike Probleme: Armoede

Verskeie Tekste

Armoede is relatief. Omtrent twaalf jaar gelede het ’n vrou by haar leraar gekla dat sy net R5000 per maand verdien. Toe ’n sekuriteitswag dit hoor, toe sê hy: ‘Ek wens om R5000 per maand te verdien!’

Wat is ’n Bybelse definisie vir armoede? Volgens die Bybel is dit genoeg as jy kos en klere het (1Tim. 6:8). Enigiemand wat minder as dit het, is arm (Job 24:5-11). Omtrent 9.2% of 689 miljoen van die wêreld se bevolking leef so.1 Hulle verdien minder as R30 per dag, het nie genoeg kos nie, het nie skoon drinkwater of toegang tot mediese dienste nie.

Ek ken niemand wat so arm is nie. Die armste mense in ons gemeente het ’n slimfoon, kos en plek om te bly. Sommige het selfs ’n TV en ’n kar. Tog sukkel party van ons mense om kop bo water te hou. Wat is die rede hiervoor en wat is die oplossing?

 

1. Die oorsake van armoede

[a] God se soewereine besluit

Miljoene mense in kerke glo dit is God se wil dat almal van ons altyd ryk moet wees. ‘Armoede kom nie van God af nie,’ is hoe hulle redeneer. Volgens die Bybel maak God ’n mens arm of ryk (1Sam. 2:7-8, Spr. 10:22, 22:2, Pred. 9:11, Eks. 3:21-22, 12:36). Om arm te wees maak jou nie minder geestelik nie. Inteendeel, Jesus was arm (2Kor. 8:9, Fil. 2:7). Hy het nie geld of ’n huis gehad nie, moes alles leen en toe Hy gesterf het, het Hy nie eers klere gehad nie (Matt. 17:27, 21:2-3, 22:19, 27:57-60, Luk. 5:3, 9:58, 22:11, Joh. 19:23-24). Job was ryk en het binne een dag arm geword (Job 1). Paulus het by tye oorvloed beleef, maar het ook geweet wat dit is om gebrek te ly (2Kor. 11:27, Fil. 4:12). Die meeste gelowiges is so. Baie min van ons is skatryk (1Kor. 1:26-29). Party is brandarm, nie omdat hulle nie genoeg geloof het nie, maar juis omdat hulle geloof het (Heb. 10:34, 11:37).

God se soewereine wysheid maak mense ryk of arm vir ’n rede. Thomas Watson sê: ‘The poor need the rich man’s money, and the rich need the poor man’s labour. God makes one trade depend upon another, that one may be helpful to another, and that mutual love may be preserved.’2 Dit beteken nie jy moet in jou ellende of luuksheid agteroor sit en sê: ‘Dit is wat dit is’ nie. Dit is God se wil dat jy hard moet werk en met ander deel (Eks. 20:9, Pred. 9:10, Ef. 4:28, Kol. 3:23).

God se soewereine besluit oor armoede sluit die dood van geliefdes, pessiektes en natuurrampe in (Deuteronomium 28, Rut 1). ’n Predikant in Pretoria het ons van hulle betrokkenheid in ’n plakkerskamp vertel; van tienjariges wat hulle twee boeties en sussies oppas, omdat albei hulle ouers afgesterf het. Wat is die oplossing in sulke gevalle? Waar natuurrampe mense arm los, moet hulle die Here aanroep en hulle bekeer (2Kron. 7:13-14). Gelowiges moet weet dat God in sulke tye vir sy kinders sal sorg (Gen. 47:11-12, Ps. 33:19, 37:19). Ons moet na mekaar en ongelowiges toe uitreik en deel waar ons kan (Gal. 6:10).

 

[b] Vals godsdiens

Voor die advent van Christenskap, was daar byna nie ’n middelklas nie. Die rykes was ryk, omdat hulle aan ’n elite klas behoort het. Die res van die bevolking was arm. Christenskap leer ons dat harde werk eerbaar is (1Tess. 4:11-12, 2Tess. 3:7-12). As gevolg van hierdie lering het gewone mense ryk geword en het die middelklas ontstaan.3

Die middelklas ontbreek waar vals godsdiens regeer. Hoe lyk die lande waar Hindoeïsme, Islam, Kommunisme, die Afrika godsdiens en ander tradisionele godsdienste regeer? Hulle is arm. Die probleem is nie dat minerale en ander bronne van rykdom ontbreek nie, maar dat die rykes alles vir hulleself gryp, sodat die res arm bly. Dink byvoorbeeld aan die Roomse Kerk. Die Vatikaanstad, kardinale en biskoppe is ryk, terwyl Katolieke lande in Noord-, Sentraal- en Suid-Amerika arm is. Hoë klas hindoes is ryk, terwyl die massas van Indië arm is. Moslem Sheikhs is ryk, terwyl die meeste Moslem lande oorlog geteister, bouvallig en arm is. Kim Jong-un van Noord-Korea is ryk, maar die bevolking is arm. Cecil John Rhodes & kie het ons land se goud en diamante vir hulleself gegryp, terwyl die groter bevolking arm gebly het.

Waar daar ’n middelklas onder ongelowiges bestaan, is ’n Christelike werketiek die oorsaak. Japan het ’n ryk middelklas, omdat hulle ’n Christelike werketiek aangeneem het. Dubai se ryk middelklas het deur Europeërs met ’n Christelike werketiek ontstaan. Ek bedoel nie dat die middelklas Christene is nie, maar sedert die hervorming het hulle ’n Christelike werketiek aangeneem. Deur Christene se sout en lig het gewone mense geleer om hard te werk en ryk te word (Matt. 5:13-16).

 

[c] Gierigheid en verdrukking

Toe die pelgrimvaders van Amerika in 1620 in Plymouth aankom, het hulle besluit om hulle rykdom met mekaar te deel. Hulle wou ’n sosialistiese utopia daarstel en alles gelykop deel. Dit het op ’n ramp afgestuur. Sterk jong manne en vroue het luilekker teruggesit en wag dat die goewerneur en sy regering vir hulle sorg. In 1623 het die goewerneur vir elke burger ’n stuk grond gegee om te bewerk. ‘As jy die grond bewerk, is dit joune,’ het hy gesê. ‘As jy nie werk nie, kry jy niks.’ Skielik het die mense begin om hard te werk.4

Kommunisme het nog nooit gewerk nie. Dit kan nie werk nie, omdat mense se harte sleg is. ’n Kommunistiese regering is soos Judas: hulle maak of hulle vir die armes omgee, maar hulle soek alles vir hulleself (Joh. 12:4-6). Hulle belowe om alles gelykop te verdeel, maar hulle is gierig en wil alles besit. “Oorvloedige kos is op die braakland van armes, maar dit word weggedra deur onreg.” (Spr. 13:23). So ’n regering belas mense swaar op krag, kos en brandstof. Hulle is min gepla of mense in die proses skade ly: “Daar is ’n geslag waarvan die tande swaarde is, en die kake messe om mee te verteer—die magteloses van die aarde af, en die behoeftiges onder die mense uit.” (Spr. 30:14).

’n Man het my van hulle uitreik na Zimbabwe vertel. Hulle het tien groot sakke meel in ’n dorpie gaan aflaai. Die hoofman het drie sakke vir homself gevat. Die res van die dorp moes die oorblywende sakke tussen hulle verdeel. “’n Man wat arm is en armes uitbuit, is soos reën wat verspoel—dan is daar geen brood nie.” (Spr. 28:3). Robert Mugabe het dieselfde gedoen en homself verryk, terwyl die res van Zimbabwe in ellende kripeer het: “’n Leeu wat grom, en ‘n beer wat aangestorm kom, so is ’n goddelose wat heers oor ’n arm volk.” (Spr. 28:15).

In Suid-Afrika het apartheid baie mense arm gelaat. Slegs witmense kon hoë amptenare van die regering wees, terwyl nie-blankes glad nie vir sulke poste oorweeg is nie.5 Vandag is dit omgekeer, maar volgens die Bybel moet die regering die arm man se regte beskerm (Ps. 82:3-4, Spr. 31:8-9). Tog moet ons nie apartheid die skuld gee as jy na 30 jaar om 11:00 op die sypaadjie lê en slaap nie. Moenie BEE vir jou armoede blameer as jy deur die dag op die bank lê en Xbox speel nie.

***

Gierigheid, verdrukking en die gevolglike armoede gebeur ook in die privaatsektor en in die kerk. Predikers manipuleer die armes en vat hulle geld (Luk. 20:47-21:4). Besigheidsmanne aanvaar omkoopgeld, bedryf skelm besigheid en hou mense se salarisse terug (Eks. 23:3, 6, Lev. 19:15, Amos 8:4-6, Deut. 24:14-15, Jak. 5:4). Hulle sê daar is nie geld nie, maar hulle lieg, omdat hulle nog steeds duur karre ry, in groot huise bly en luukse vakansies hou.

Moenie dat dit jou onderkry nie. Om eerlik en arm te wees is beter as om oneerlik en ryk te wees (Spr. 19:1, 22, 22:1, 28:6). Buitendien sal die Here die ryk man se geld vat en dit vir die armes gee (Spr. 22:16, 28:8).

 

[d] Hoogmoed en luiheid

Ek ken ’n man wat baie hoog gekwalifiseer is. Hy woon op straat, omdat hy nie bereid is om vir ’n klein salaris te werk nie. Hy dink dit is benede hom. Iemand anders was vir jare werkloos, omdat hy met R30 000 of R40 000 per maand wou begin. Sulke mense dink hulle is belangrik, sodat hulle in effek sê: ‘Ons sal nie so laag daal nie.’ (vgl. Neh. 3:5). Hulle moet Rom. 12:3 leer: “Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie...” Hulle moet leer om met hulle eie hande te werk eerder as om op ander te teer (Hand. 20:33-34). Solank as wat jy so iemand finansieel ondersteun, sal hy nie werk nie. Sonder dat jy dit bedoel, hou jy hom lui en arm (Spr. 20:13, 24:30-34). Moenie vir hom iets gee nie. As hy lui is, moet hy honger bly (Spr. 19:15, 2Tess. 3:10). En as hy honger is, sal hy werk: “Die eetlus van ’n werker laat hom hard werk; ja, sy mond spoor hom aan.” (Spr. 16:26).

Doen dit ook met jou kinders: moenie haastige, swak werk beloon nie, maar sê vir hulle dit sal tot armoede lei: “’n Trae hand maak arm, maar die hand van vlytiges maak ryk.” (Spr. 10:4). “Die planne van ’n vlytige strek net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, ervaar net gebrek.” (Spr. 21:5). Moenie alles vir jou kinders doen of vir hulle baie geld gee nie. Jy maak hulle lui en leer vir hulle dat geld aan bome groei. As hulle eendag groot is, sal hulle in ’n hoë pos wil begin en ’n groot salaris vir min werk wil verdien. Hulle sal harde werk verag en deur kits skemas en slim planne wil ryk word. Die Bybel waarsku hierteen: 

“Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood, maar wie nietighede najaag, is sonder verstand.” (Spr. 12:11). 

“Besittings wat moeiteloos verkry word, sal verminder, maar wie met die hand bymekaarmaak, vermeerder dit.” (Spr. 13:11).

“In alle harde werk is daar voordeel, maar ’n blote gepraat lei net tot gebrek.” (Spr. 14:23).

“Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood; maar wie nietighede najaag, sal hom versadig eet aan armoede. ’n Betroubare man ervaar baie seëninge; maar wie vinnig ryk wil word, sal nie ongestraf bly nie.” (Spr. 28:19-20).

[e] Luuksheid en skuld

Ek ken iemand wat arm was, maar in ’n ryk deel van Randburg wou bly. Die persoon kon dit nie bekostig nie, maar sou eerder sukkel as om in ’n arm woonbuurt te bly. Sommige arm mense wil soos ryk mense leef: “Wie gering geag word, maar tog ’n slaaf het, is beter as iemand wat hom belangrik voordoen, maar ’n gebrek aan brood het.” (Spr. 12:9). “Daar is iemand wat hom ryk voordoen, maar heeltemal niks het nie, en iemand wat hom arm voordoen, maar baie besittings het.” (Spr. 13:7). Sulke mense se liefde vir luuksheid hou hulle arm: “Wie van plesier hou, se voorland is gebrek; wie van wyn en salfolie hou, sal nie ryk word nie.” (Spr. 21:17).

Ek het al sulke mense ontmoet. Een van hulle het in ’n modderhut gewoon en nie ’n stoel gehad nie. Tog het hy ’n satelietskottel en TV gehad. ’n Ander een sukkel om uit die skuld te kom, maar hy besit ’n luukse kar en ’n duur motorfiets. Soos baie ander mense sal hy eerder op skuld lewe as om af te skaal. Gevolglik bly hy arm: “’n Ryke heers oor armes, en wie leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.” (Spr. 22:7). Die hartseer is dat hierdie mense se kinders onder hulle ouers se dom besluite moet ly.

 

[f] Losbandigheid

’n Boemelaar het vir my gesê dat almal wat hy op straat ken, deur drank of dwelms daar is. Sekerlik is daar mense op straat wat doodeenvoudig net arm is, maar dit was sy observasie.

’n Ryk man het ons vertel dat hy arm en in ’n plakkerskamp groot geword het. Albei sy ouers was alkoholiste.

Die punt is dat baie mense in Suid-Afrika en die res van die wêreld arm is, omdat hulle losbandig lewe: “Moet jou nie met die wynvlieë ophou nie, met dié wat hulle aan vleis ooreet nie. Want ’n dronklap en ’n vraat sal verarm, en lomerigheid laat mens vodde dra.” (Spr. 23:20-21). “Iemand wat wysheid liefhet, verheug sy vader; maar wie met prostitute deurmekaar raak, vernietig rykdom.” (Spr. 29:3, vgl. Luk. 15:13-14, 30).

Seksuele losbandigheid lei tot aborsie. Daardeur bly mense arm, want wanneer hulle oud is, het hulle geen kinders om vir hulle te sorg nie (1Tim. 5:3-8).6 Dit het hulle oor hulleself gebring toe hulle die ongebore babas vermoor het.

 

2. Die oplossing vir armoede

Volgens die Verenigde Nasies is onderrig, skoon water, toegang tot mediese hulp, die beskerming en aanplant van bome, en die bemagtiging van vroue die oplossing vir armoede.7 Bogenoemde oorsake van armoede wys dat die probleem dieper as onkunde en onhigiëniese toestande is. Die probleem lê by die sondeval en die hart van die mens (Genesis 3, Matt. 15:19).

Wat is die oplossing? Die oplossing lê nie hoofsaaklik by mededeelsaamheid of harde werk nie. As jy net vir die armes uitdeel, leer jy hulle ’n jy-skuld-my-mentaliteit. Om bloot hard te werk, beteken dat jy en jou gesin ryk word, terwyl die mense rondom jou arm bly. Die regte oplossing is dat mense gered moet word. Sodra hulle gered is en nuwe harte het, sal hulle hard werk, ryk word en met die armes deel (Ef. 4:28, Lev. 19:9-10, 23:22, 25:25, 35, Rut 1-4, Job 31:16-22, Spr. 31:20, Hand. 2:45, 4:34-35, 6:1-6, 20:35, Gal. 2:10). En onthou: as jy met ’n arm gelowige deel, deel jy met Jesus (Matt. 25:35-40).

Wat van bedelaars? Hier benodig jy onderskeid (1Kor. 12:10).8 In 9 uit 10 gevalle sal jy agterkom dat die bedelaar nie wil werk nie, of dat hy ’n verslawing koester. Ek het dit al baie gesien. In een geval het ’n vrou berading gesoek. Toe sy egter vir my sê dat sy by ’n sekere gemeente was, toe onthou ek haar naam. Sy het een na die ander gemeente besoek en gesê dat sy nie geld vir medisyne het nie. Die waarheid is dat sy aan pille verslaaf was. Sy het ’n meester manipuleerder geword en op mense se gevoelens gespeel om geld uit hulle te kry. Wees op jou hoede. Uit beginsel gee ek kos, maar nie geld nie.

Indien iemand hardwerkend maar arm is, moet jy met ’n oop hand en ’n ruim hart bydra. Hiervoor sal die Here jou seën (Deut. 15:7-11, Ps. 41:1-3, 112:5, 9, Spr. 14:21, 19:17, 22:9, Jes. 58:7-8, Jer. 22:16). Sorg net dat jy met die regte motief gee, naamlik omdat jy God en die persoon liefhet en nie om gesien te word nie (Matt. 6:2-4). Baie mense gee verkeerd. As hulle vir ’n kinderhuis bydra, is hulle foto met ’n groot tjek in die koerant. Moenie so bydra nie, maar gee waar net jy en die Here sien. As jy jou ore vir die armes toedruk, sal die Here sy ore vir jou toe hou (Spr. 21:13, Sag. 7:8-13).

Vrees jy dat jy te min vir jouself sal hê as jy die armes help? Die teendeel is waar: “Daar is iemand wat uitdeel, en hy verkry steeds meer, en een wat meer as wat nodig is, terughou—net om gebrek te ly. ’n Gulhartige persoon geniet oorvloed, en wie ’n ander se dors les, kry self ook genoeg te drinke.” (Spr. 11:24-25). “’n Gierigaard is oorywerig om ryk te word, en hy weet nie dat gebrek vir hom voorlê nie... Wie aan ’n arme gee, ly geen gebrek nie; maar wie sy oë sluit, word baie vervloek.” (Spr. 28:22, 27). “Die punt is: Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes.” (2Kor. 9:6).

Help die arme deur vriende te maak—moet hom nie uitskuif nie, maar verwelkom hom (Job 19:13-19, Spr. 14:20, 19:4, 7, Luk. 14:13-14, Jak. 2:1-4). Liefde vir die armes is ’n bewys van weergeboorte (1Joh. 3:16-18, Luk. 19:8-10). Ek probeer nie sê ons moet sop en komberse gee en dit ’n evanglisasie uitreik noem nie. ’n Vol maag en warm lyf red niemand nie. Mense het die evangelie nodig. Hulle moet hoor dat Jesus gekom het om die ware rykdom van vergifnis, verlossing en die ewige lewe te gee (2Kor. 8:9, Jes. 61:1, Matt. 5:3, 1Kor. 3:21-23, 2Kor. 6:10, Jak. 1:9, 2:5, Op. 2:9).

Sodra hulle hierdie rykdom deur bekering en geloof ontvang het, moet hulle leer om tevrede te lewe en die Here vir sy voorsiening te dank (Fil. 4:11-13). Hulle (en ons) moet Spr. 30:7-9 bid: “Twee dinge vra ek van U—moet dit nie van my terughou voordat ek sterf nie: Valsheid en leuentaal, hou dit ver van my. Moet my nie armoede of rykdom gee nie; breek my porsie brood vir my af, sodat ek nie oorversadig raak en U misken en sê, ‘Wie is die Here?’ nie, of verarm en steel, en die naam van my God geweld aandoen nie.”

Moet jou nie oor geld bekommer nie. Soek God se koninkryk, leef opreg, werk hard en vertrou die Here om vir jou te sorg (Matt. 6:25-34). Hy sal in jou behoeftes voorsien en jou nooit in die steek laat nie (Fil. 4:19, Heb. 13:5). ’n Arm man wat God se liefde, vrede, geregtigheid en die ewige lewe het, is beter af as ’n ryk man daarsonder (Spr. 15:16-18, 16:8, 17:1, Luk. 16:19-31). Allen Gardiner (1794-1851) is ’n voorbeeld hiervan.9 Gardiner was ’n Britse sendeling na Argentinië. Toe hy en sy span gestrand raak, het hulle binne ’n paar maande hulle voorraad opgebruik. Voor hulle was die see en agter hulle ’n gevreesde Indiaan-stam. Hulle kon nêrens gaan om kos te soek nie en niemand het verbygevaar om hulle te help nie. Een vir een het Gardiner en sy span van die honger en dors omgekom. Gardiner se laaste brief was skaars leesbaar. Dié wat hom dood gevind het, kon die volgende woorde ontsyfer: ‘...Yet a little while...the Almighty to sing the praises...throne. I neither hunger nor thirst, though...days without water...Marvellous kindness to me...sinner.’ Nie armoede, honger of dors kon Gardiner van God se liefde skei nie:

“Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?... Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” (Rom. 8:35, 37-39).

Toe Gardiner gesterf het, is hy hemel toe waar niemand honger of dors het nie, maar waar almal vir ewig ryk is (Op. 7:17, Ef. 2:7).


1  https://www.worldvision.org/sponsorship-news-stories/global-poverty-facts

2  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 72

3  Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 198-9

4  Ibid., 211-2

5  https://www.sahistory.org.za/article/apartheid-legislation-1850s-1970s

6  https://betweentwocultures.com/2017/10/07/14-reasons-for-poverty-in-rural-south-africa/

7  https://www.worldvision.ca/stories/advocacy/solutions-to-poverty

8  Sien D. Martyn Lloyd-Jones, Romans: Exposition of Chapter 12—Christian Conduct (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2000), 420-1

9  Faith Cook, Singing in the Fire (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995), 149-62

Kategorieë