Coram Deo Cover Image

Coming soon...

16 August 2014

Paulus se evangelisasie-metodes

Fish lure

‘n Hengelaar weet hy moet verskillende soorte aas gebruik:  platannas werk vir babers, pap vir karp, wurms vir kurpers, kunsmatige aas vir swartbaars.  ‘n Goeie visser van mense doen dieselfde:  hy gebruik altyd dieselfde evangelie (hoek), maar het verskillende soorte aas.  Dit is wat Paulus in Handelinge 17 gedoen het.

 

As mense die Bybel ken (v.1-15)

 

1 Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was. 2 En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte 3 en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê:  Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus. 4 En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue. 5 Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur ‘n volksoploop te bewerk.  En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring. 6 Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en ‘n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu:  Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom, 7 en Jason het hulle ontvang.  En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus. 8 En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het. 9 Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.”

 

10 Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur.  En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. 11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. 12 Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne. 13 Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep. 14 Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly. 15 En die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.”

 

Die Via Egnatia was ‘n hoofweg wat die oostelike en westelike dele van die Romeinse wêreld verbind het.  Paulus en sy span het op dié hoofweg gereis.  Hulle het uit Filippi vertrek, en Tessalonika toe gereis deur Amfipolis en Apollonië (v.1).  Dit was maar ‘n dag gelede wat hulle geslaan is (16:23).  Nou moes hulle 160 km reis.  Daar aangekom het hulle in die sinagoge ingegaan en vir drie Saterdae gepreek (v.2).  Volgens v.2-3 het hulle boodskap so iets geklink (natuurlik baie meer volledig):

 

Stelling A:  Tekste soos Jesaja 53 en Psalm 22 sê dat die Messias vir die volk se sondes sou ly.  Sy hande en voete sou deurboor word en sy klere verdeel word.  Hy sou tussen rowers gekruisig word.  In Psalm 16 sê Dawid dat die Messias se liggaam nie in die graf sou vergaan nie; God sou Hom uit die dood uit opwek.

 

Stelling B:  Jesus het vir die volk se sondes gely.  Hulle het sy hande en voete deurboor, sy klere verdeel, en Hom tussen rowers gekruisig.  Sy liggaam het nie in die graf vergaan nie, maar God het Hom uit die dood uit opgewek.

 

Stelling C:  Dus is Jesus die Messias.

 

Paulus het die Jode probeer oortuig deur noukeurige redenasie, Skrifuitleg, bewyse, en kragtige prediking (v.2-3).  ‘n Aantal Jode en Grieke het geglo en tot bekering gekom (v.4).  Baie van die Jode wat nié tot bekering gekom het nie was jaloers.  Hulle het ‘n klomp leeglêers opgesweep om onrus te veroorsaak.  Hulle het gedink Paulus en sy span was by Jason se huis, maar toe hulle hom nie kon kry nie het hulle vir Jason en ‘n paar broers na die owerhede toe gesleep.  Hulle klagte was dat Paulus en sy span opstande veroorsaak; dat hulle sê daar is ‘n ander koning:  Jesus (v.5-7).  Volgens die Romeinse wet was beide oortredinge baie ernstig.  Oortreders kon die doodstraf kry.  Barabbas het byvoorbeeld opstande veroorsaak (Markus 15:7), en die klagte teen Jesus was dat Hy gesê het Hy is ‘n koning (Johannes 19:19).  Toe die owerhede die klagtes gehoor het, was hulle ontstook.  Hulle het vir Jason en die broers gedreig.  Jason moes ‘n groot boete betaal.  As Jason weer vir Paulus in sy huis ontvang het, sou hy gestraf word.  Paulus-hulle moes die stad verlaat (v.8-9, 1 Tessalonisense 2:17).  Die gelowiges het vir Paulus in die donker weggestuur.  Sodoende sou hulle hom nie maklik kon vang nie.

 

Hy het in Berea gekom en singoge toe gegaan.  Die Jode in Berea was opgevoed en ywerig om die Skrif te ontvang.  Hulle het Paulus se noukeurige redenasies aan die Skrif gemeet en daagliks die Skrif bestudeer.  Uiteindelik het hulle gesien dat Paulus reg was oor Jesus.  God het hulle harte deur die Woord verander (v.10-12, Jakobus 1:18, 21).  Die Jode uit Tessalonika het gehoor dat Paulus in Berea gepreek het.  Hulle het soontoe gekom om moles te maak.  Timoteus en Silas het agtergebly om die nuwe gelowiges te leer en te bemoedig, maar Paulus is weggeneem Atene toe (v.13-15).

 

Wyle Martin Holdt het eenkeer gesê:  ‘Baptiste is Bybels ongeletterd.’  Die persoon vir wie hy dit gesê het was baie kwaad.  Maar hy was reg:  ons mense ken nie hulle Bybels nie.  Dit is ‘n skande dat die Jehova’s Getuies hulle Bybels beter as ons ken.  ‘n Kollega het my vertel van ‘n ateïs wat die Bybel beter ken as baie Christene.  ‘n Vrou het my vertel van haar seun wat nie die Here dien nie, maar die Bybel verskriklik goed ken.  Hoe sal jy ongelowiges se strikvrae beantwoord as jy nie die Bybel goed ken nie?  Petrus sê:  “wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is” (1 Petrus 3:15).  Die godsdienstige leiers in Jesus se dag het die Bybel goed geken.  Maar daar was tekste wat hulle nié geken óf verstaan het nie.  Daarom kon Jesus vir hulle sê:  “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie” (Matteus 22:29).  Wat kan jy doen om die Bybel beter te ken?

 

  • Het jy al ooit die Bybel deurgelees? Doen dit.
  • Bestudeer die Bybel. Gebruik goeie kommentare en studie-Bybels om jou te help (verkrygbaar by Augustine Bookroom in Pretoria).
  • Memoriseer en oordink Bybelverse.
  • Pas die Bybel toe. Gehoorsaam wat jy daarin leer.
  • Lees goeie Christelike boeke. Kyk op Augustine Bookroom se webwerf.
  • Luister preke van John MacArthur, John Piper, Steve Lawson en ander eksposerende predikers. Hulle preke is gratis op die internet beskikbaar.
  • Skryf in vir konferensies en kursusse by Grace Fellowship in Pretoria (Google ‘Grace Fellowship Pretoria’).

 

Sommige ongelowiges sal met vrae kom en jou boodskap aan die Skrif toets (v.11).  Moenie bang wees as jy nie dadelik hulle vrae kan beantwoord nie.  Sê vir hulle jy sal uitvind.  Vat dan die Bybel en soek die antwoord.  ‘Master the Bible and be mastered by it.’ (John Piper).  Leer vir jou die kinders die Bybel.  Rus hulle toe sodat hulle die waarheid kan deel en nie so maklik deur valsheid ingetrek word nie.

 

As mense nie die Bybel ken nie (v.16-34)

 

16 En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. 17 Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. 18 En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê:  Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?  Ander weer:  Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het. 19 En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê:  Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? 20 Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore.  Ons wil dan weet wat dit tog kan wees. 21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

 

22 Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê:  Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. 23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is:  Aan ‘n onbekende God.  Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. 24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. 25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. 26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;

 

28  want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons,

 

soos sommige van julle digters ook gesê het:

 

Want ons is ook sy geslag.

 

29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. 30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

 

32 Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê:  Ons sal u weer hieromtrent hoor. 33 En so het Paulus van hulle weggegaan. 34 Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en ‘n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.”

 

Paulus was omgeroer oor al die afgode in Atene.  Dit het hom gedryf om die ware God en sy evangelie te verkondig (v.16-17).  Hy het met Jode en Grieke gepraat; met almal wat wou luister.  Toe die Epikureërs en Stoïsyne hom hoor, het hulle met hom gestry.

 

[1] Die Epikureërs het geglo dat die wêreld ontstaan het toe atome teen mekaar gebots het.  Dit klink amper soos die moderne Big Bang teorie.  Vir hulle was die hoogste doel om ‘n pynvrye bestaan te hê (byna soos Buddhisme en Hinduïsme se Nirvana).  Hulle het geglo dat die liggaam en siel sterf wanneer ‘n mens doodgaan.  Volgens hulle was die gode onbetrokke in die wêreld en het hulle geen invloed op die gehad mens nie.

 

[2] Die Stoïsyne het geglo dat die wêreld ontstaan het toe aktiewe en passiewe materie vermeng het.  Vir hulle was aktiewe materie god, Zeus, logos.  Hulle het dus geglo dat god in elke deel van die skepping was (panteïsme) en dat alles dus aanbid kon word.  Vir hulle was die hoogste doel om ‘n plek te bereik waar jy heeltemal selfstandig was, sodat jy apaties was teenoor plesier of pyn.  Hulle het geglo dat die siel ‘n kort tydjie na die liggaam doodgaan.

 

Dit was waarskynlik die Epikureërs wat gesê het Paulus is ‘n praatjiesmaker (v.18).  Volgens die Griekse teks het hulle hom ‘n saadpikker genoem – soos ‘n mossie wat stukkies brood en pap in die straat oppik, of ‘n boemelaar wat in die mark rondhang om kos op te tel wat mense laat val het.  Volgens hulle het Paulus sy lering opgemaak uit stukkies wat hy hier en daar gekry het.  Die Stoïsyne het gesê dat Jesus en die Opstanding twee vreemde gode was (v.18).  Die inwoners van Atene het hulleself besig gehou met allerhande praatjies oor nuwe gode.  Hulle wou meer oor Paulus se ‘teorieë’ leer en het hom genooi om in die Areopagus te kom praat (v.19-21).  Areopagus beteken ‘heuwel van Ares’.  Ares was die Griekse god van donderweer en oorlog.  Sy Romeinse naam was Mars.  Volgens Griekse mitologie het Mars Neptunus se seun vermoor, en is hy op hiérdie heuwel verhoor.

 

In v.16 het Paulus al hulle afgode gesien.  Om hulle aandag te kry het hy sy preek met dié woorde begin:  “Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.” (v.22).  Hy het verwys na ‘n altaar wat hy in die stad gesien het.  Onderaan die altaar was daar ‘n inskripsie:  aan ‘n onbekende god.  Paulus het gesê dat Hy dié God se boodskap verkondig het.  Sommige meen hieruit dat mense uit ander godsdienste die ware God aanbid sonder dat hulle dit weet.  Hulle sê dit om die lering te regverdig dat opregte Hindus, Moslems en ateïste ook hemel toe gaan.  Maar dit is nie wat Paulus bedoel nie.  Hy bedoel eerder dat hulle nie die ware God ken nie, en dat hý Hom aan hulle verkondig (v.23).

 

Sy preek begin by die skepping.  God het die wêreld en alles daarin gemaak (v.24).  Die wêreld het nie ontstaan toe atome met mekaar gebots het nie (Epikureërs).  Paulus se God was die Here van hemel en aarde (v.24).  Hy kon duidelik van die skepping onderskei word, en daarom moes mense nie die skepping aanbid het nie (Stoïsyne).  God was nie soos die Griekse gode wat in tempels gewoon het nie.  Hy het ook nie die wêreld gemaak omdat Hy eensaam was nie.  Ons het Hóm nodig en nie Hy vir óns nie (v.24-25).  Hy het vir Moses gesê:  ‘EK IS wat EK IS’ (Eksodus 3:14).  Die vuur in die brandende bos het nie hout nodig gehad om te brand nie.  Net so het God nie sy skepping nodig om te bestaan nie.  God is onafhanklik en selfstanding.  Die mens is nie (Stoïsyne).  Die Grieke het geglo dat hulle beter as die res van die wêreld is.  ‘Barbare’ was hulle naam vir almal wat nie Grieke was nie.  Paulus het gesê dat geen nasie beter as ‘n ander is nie:  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (v.26).  Alle mense kom van Adam af (Genesis 1-2).  Al die nasies het uit Noag en sy seuns versprei (Genesis 10-11).  God, nie toeval nie, het bepaal waar die nasies moet bly en hoe lank hulle sal bestaan (v.26, Epikureërs).  God het sy goedheid, krag en wysheid in die skepping geopenbaar, sodat die mens Hom sou soek en aanbid (v.27).  Maar sonde het gemaak dat niemand God soek nie (Romeine 3:11).  Daarom het God sy Seun aarde toe gestuur om te soek en te red wat verlore is (Lukas 19:10).

 

Niemand kan egter die verskoning gebruik dat hulle nie van God geweet het nie, “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (v.28).  Ons lewe is in en deur God; God is nie in alle skepsels sodat ons húlle moet aanbid nie (Stoïsyne).  God het die mens na sy beeld gemaak (v.28, Genesis 1:26); daarom moet ons nie ‘n god na ons beeld probeer maak nie (v.29).  Vir 4000 jaar was God geduldig met die heidene en het Hy hulle nie summier uitgewis oor hulle afgodery nie.  Hy het Homself nét aan Israel geopenbaar en nie aan al die nasies nie (Psalm 147:19-20).  Maar in Paulus se tyd het die evangelie die heidene bereik.  Nou was God se opdrag aan hulle:  ‘Bekeer julle, want die oordeelsdag is oppad!  Indien julle nie glo daar ís ‘n oordeelsdag nie:  God het ‘n oordeelsdag vasgestel en bewys daarvan gelewer deur ‘n man uit die dood uit op te wek.  Jesus wat God en mens is, sal jou Regter wees.’ (v.30-31).  In Johannes 5:22-24, 27 sê Jesus:

 

“Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe... En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.”

 

Die Epikureërs het gehoor hoe Paulus oor die opstanding preek en het hom gespot.  Die Stoïsyne het gevra hulle wou nog hoor.  Sommige van Paulus se hoorders het geglo.  Dionisius was een van die regters van die Areopagus.  Hy het besef dat daar ‘n Regter bo hóm is, en het die evangelie geglo.  Damaris, ‘n belangrike Griekse vrou, het die evangelie geglo (v.32-34).

 

Selfs as mense nié die Bybel ken nie, moet jy die Skrif gebruik om hulle van die waarheid te oortuig.  ‘Maar wat as hulle sê:  Ek glo nie die Bybel nie?’ vra iemand.  Dan gebruik jy nogsteeds die Bybel.  God se woorde is lewend en kragtig.  Joune is nie.  Jy hoef nie ‘n leeu te verdedig nie; hy sal homself verdedig.  En jy hoef nie die Bybel te verdedig nie; die Skrif sal homself verdedig.  ‘n Ateïs het teen ‘n Christen gedebatteer en gesê:  ‘Bewys God se bestaan sonder om die Bybel te gebruik.’  Die Christen het geantwoord:  ‘Romeine 1 sê...’  Die ateïs het dadelik gereageer:  ‘Ek het gesê sonder om die Bybel te gebruik.’  Weer het die Christen gesê:  ‘Romeine 1 sê...’  Weer het die ateïs ingespring:  ‘Jy luister nie wat ek sê nie.  Ek het gesê jy moet God se bestaan bewys sonder om die Bybel te gebruik.’  Die Christen het gesê:  ‘Goed.  Romeine 1 sê...’  Die ateïs het kwaad geword:  ‘Sonder om die Bybel te gebruik.’  Die Christen het gesê:  ‘Die Bybel is my hoogste bron van gesag.  Jou eie denke is jóú hoogste gesag.  Wat sal jy doen as ek jóú vra:  bewys jou punt sonder om jou denke gebruik?’

 

Wanneer jy die evangelie deel met mense wat nie die Bybel ken nie:

 

  • Wys vir hulle wat die Bybel leer oor die wese van God: Hy is Gees en pas nie in by mense se vreemde idees oor Hom nie (Johannes 4:24).
  • Maak duidelik dat God die Skepper van alle dinge is. Die skepping bewys God se bestaan (Romeine 1:19-21). Hoe anders kan daar harmonie en orde wees in die skepping? Creation.com sal jou baie help.
  • Leer vir hulle dat Adam die eerste mens was. Hierdie lering druis direk in teen evolusie. Daar is geen soliede bewyse vir die evolusie van die mens nie. Net soos ons glo Adam is die eerste mens, glo hulle in evolusie. God se Woord is meer betroubaar as mense se teorieë.
  • Sê vir hulle dat die mens se gewete bewys hy is ‘n sondaar (Romeine 2:14-15). Gebruik God se wet om ‘n sondebesef in hulle wakker te maak.
  • Preek die boodskap van Jesus se kruisdood en opstanding.
  • Sê vir hulle dat God geloof en bekering vereis.
  • Waarsku hulle dat daar ‘n oordeelsdag oppad is; dat daar ‘n ewige hemel en ewige hel is.

 

Hoe staan die saak met jou en God?  Is ander dinge vir jou belangriker as die God wat jou en die wêreld gemaak het; wat vir jou asem gegee het?  Dalk is jy godsdienstig, maar jy lewe in sonde soos die res van die wêreld.  Jy het God nie gedank vir sy voorsiening in jou lewe nie.  God het Homself in die skepping geopenbaar en vir jou ‘n geleentheid gegee om Hom te soek.  Maar jy was liewer vir jou sonde as vir Hom, en het Hom nie gesoek nie.  Hy is geduldig en het jou nog nie gestraf nie.  Hy beveel jou om jou te bekeer en na Jesus toe te draai.  Jesus het die straf vir sonde betaal en uit die dood uit opgestaan.  Glo in Hom.  As jy dit doen Hy jou vergewe en jou nie oordeel nie (Romeine 8:1).  As jy jou nie bekeer nie sal jy geoordeel word vir alles wat jy gesê, gedink, begeer, gevoel, gedoen het.  Jy sal geoordeel word vir jou sondige natuur.  Óf jy bekeer jou en word vergewe, of jy hou aan in jou sonde en gaan hel toe.  Daar is nie ‘n derde opsie nie.  Kies wat jy wil doen.

Kategorieë