Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 October 2020

Paulus: ’n model leier

Handelinge 20:17-35

Aan die begin van my bediening in Kemptonpark, het ek gereeld in ons agterplaas op die grasperk geloop en bid. Op daardie stadium was my jongste dogter omtrent drie. Met hande agter die rug en ’n geboë hoof het sy op en af langs my geloop en prewel. Net soos wat sy en ander klein kinders hulle ouers se voorbeeld volg, moet ons dié volg wat Jesus se voorbeeld volg (1Kor. 4:16, 11:1, Fil. 3:17).

1. Sy konstante lewe (v.17-18)

Cliff Young is ’n Australiese aartappelboer wat op 61-jarige ouderdom met gum boots ’n ultramaraton van 875 km gewen het. Terwyl die ander atlete geslaap het, het hy gehardloop. Hy was nie vinnig nie, maar het ’n konstante pas gehandhaaf. Hy het vir 5 dae aanneen gehardloop sonder om ’n oog toe te maak.1

Paulus se lewe was so: konstant. Hy wou dit wat Here hóm geleer het met die Efesiër-ouderlinge deel, sodat hulle die gemeente kon lei. Daarom het hy hulle na hom toe laat roep waar hy in Suid-Wes Turkye in Milete was (v.17). Elke ouer Christen (veral geestelike leiers) moet dieselfde doen: leer jong gelowiges wat die Here jóú geleer het. En as jy ’n jong, of nuwe Christen is: spandeer tyd met jou leiers en ander volwasse gelowiges, sodat jy by hulle kan leer.

Dit is hoe die Efesiër-ouderlinge by Paulus geleer het: hy was baie by hulle en hulle by hom, sodat hulle vir drie jaar sy konstante voorbeeld gesien het en sy lering gehoor het (v.18, 25, 31, 1Tess. 1:5). As ons dieselfde wil doen, moet ons mekaar gereeld sien. Dit is reg dat leiers baie ure afstaan om die Bybel te bestudeer. Maar ons moet ook by die mense wees. Om hierdie rede het ons gemeente besoekspanne, doen ek berading, doen ons een tot een dissipelskap, is daar bidure, en kuier ons bymekaar se huise.

2. Sy nederige diens (v.19)

In die gemeente waar ek groot geword het, het ons predikant se buurvrou eenkeer in ’n erediens opgestaan en gesê: ‘Ek bly langs ons leraar en sien hoe hy lewe. Ek wil vir hierdie gemeente sê dat ons leraar ’n nederige man is.’ Omtrent 5 jaar gelede het een van my kollegas hierdie leraar ontmoet en dieselfde observasie gemaak. ‘Hy is ’n nederige man,’ het hy gesê.

Paulus was so. Hy het die Here met ’n nederige hart gedien (v.19, Ef. 4:2). Hy het besef dat Jesus se woorde waar is en dat geestelike leiers nie konings is nie, maar slawe: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.” (Matt. 20:25-28).

Paulus het ’n sagte hart gehad wat omgegee het vir mense. Hy het hulle met trane bedien om sodoende te wys dat hy besorg was oor hulle geestelike welstand (v.19, 31). Hy het gehuil oor dié wat verlore was, asook oor dié wat afgedwaal het en vals lering verkondig het (Rom. 9:2, 12:15, 2Kor. 2:4, Fil. 3:18). Dalk het hy ook getreur, omdat die Jode hom vervolg het (v.19, 21, 19:8-9, 33-34, 13:45, 50, 14:2, 19, 17:5, 13, 18:5-6, 12, 20:3, 21:27-31, 23:12, 24:9, 25:2-3, 7, 1Tess. 2:14-16). Ten spyte hiervan, het hy egter die Here gedien.

Dien ons die Here soos Paulus: as ’n nederige slaaf? Of verhef ons onsself as gevolg van ons Bybelkennis en ons amp? Dien ons die Here ten spyte van vervolging, of vlug ons wanneer mense ons teëgaan? Dien ons die Here met trane? Is ons hartseer oor die afgedwaaldes en verlorenes, of veroordeel ons hulle? Ek besef dat my eie hart hard is in hierdie verband. Soos Paulus moet ek meer van Jesus se trane hê (Luk. 19:41).

3. Sy lering (v.20-21, 25-27)

Ek het John MacArthur hoor sê hoe sy pa deur verskillende boeke van die Bybel gepreek het, en dat hy sy pa se voorbeeld volg. Op dieselfde manier moet geestelike leiers Paulus se voorbeeld volg. Ten spyte daarvan dat die Jode hom vervolg het, het Paulus die Woord vreesloos en met vrymoedigheid verkondig (v.19-20, 27).

Hy het nie enige lering terughou uit vrees dat dit aanstoot sou gee nie. Hy het die volle raadsplan van God se verlossing in Christus verkondig: van uitverkiesing af tot by die verheerliking van ons liggame wanneer Jesus weer kom (v.27, Rom. 8:29-30, Ef. 1:3-14). Dit het hy gedoen, omdat dit nuttig was vir die gelowiges (v.20).

Net so moet ons vandag die volle Woord van God aan mense verkondig eerder as om motiverende toesprakies vol sielkunde en menslike wysheid vir hulle te gee (v.20, Kol. 2:8, 2Tim. 4:2). Paulus het God se Woord in die publiek en in huiskerke verkondig (v.20, Hand. 19:8-10, 1Kor. 16:8, 19). Beide is nodig. Deur prediking bereik ons baie mense op een slag. Deur een-tot-een, of in klein groepe in mense se huise te ontmoet, kan ons individue se vrae beantwoord.

Wat is die boodskap wat ons aan hulle verkondig? Paulus het bekering tot God en geloof in Jesus die Verlosser verkondig (v.21, Hand. 2:38, Ef. 1:15). Hy het nie net vir party mense gepreek nie, maar vir almal: vir Jode (Paulus se vervolgers!), sowel as nie-Jode (v.21). Ons moet dieselfde doen. Daarom dat ons die evangelie in die strate verkondig, maar ook in die kerkgebou. Ons boodskap vir beide groepe is dieselfde: bekeer jou en glo die evangelie (Mark. 1:15). Laat staan jou lewe van sonde en selfgeregtigheid. Glo in die Here Jesus Christus wat vir jou sonde aan die kruis gesterf het en wend jou tot Hom.

Hoekom wil jy altyd uitstel? Hoekom wil jy more dinge regmaak? Hoekom nie nou nie? Baie van julle weet van die 36-jarige man met wie ek ’n maand gelede die evangelie gedeel het. Hy het gesê hy wil weergebore word. Toe die belangrikheid daarvan beklemtoon, toe sê hy: ‘Ek sal dit more by die kerk doen.’ ‘Nee!’ het ek hom geantwoord. ‘Hoekom wil jy more dinge regmaak? Wat as jy vanaand doodgaan? Roep vandag nog die Here aan!’ Ek het die evangelie met hom gedeel en gesê dat hy êrens alleen moet kom om die Here te vra om hom te red. Drie dae later het hy aan ’n hartaanval gesterf. Laat ons dan 2Kor. 6:2 ter harte neem: “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.”

Indien jy dit nie ernstig opneem nie, wil ek saam met Paulus vir jou sê: ‘Ek is rein van die bloed van julle almal’ (v.26). Jou bloed is op jou eie hoof as jy hel toe gaan (v.26, 18:6, Eseg. 3:16-21). Jy kan nie meer sê jy het nie geweet nie. Ek het jou immers gewaarsku, jou na Jesus toe geroep en by jou gepleit. Ek het dit dikwels gedoen. Kom na Jesus toe! Reageer op sy roepstem: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28).

Hoekom sal jy wegdraai van so ’n liefdevolle Verlosser; van so ’n groot verlossing? Moenie dwaas wees en jou lewe weggooi vir die tydelike plesiere van sonde nie. Kom na Jesus toe! Kom na Jesus toe! Kom na Jesus toe! Jy sal nooit weer dieselfde wees nie.

Hoekom is ek so dringend? Hoekom was Paulus so dringend? Hy het besef dat hy waarskynlik nie weer die Efesiërs sou sien nie (v.25). Ek weet ook nie hoeveel tyd ék oor het nie. Beide David Brainerd en Robert Murray McCheyne het gesterf toe hulle 29 was. Daarom wil ek soos Richard Baxter sê:

I preach’d, as never sure to preach again,

And as a dying man to dying men!2

As ’n sterwende mens verkondig ek die Koning se boodskap aan jou (v.26). As jy Hom as Koning erken, die knie voor Hom buig, Hom soen en lojaliteit aan Hom sweer, dan is jy veilig. As jy Hom egter verwerp en in opstand teen Hom lewe, sal Hy jou verpletter (sien Ps. 2:10-12). ”...kies dan vir julle vandag wie julle wil dien... maar ek en my huis, ons sal die Here dien.” (Jos. 24:15).

4. Sy doelgerigtheid (v.22-24)

Ek weet niks van Rick Warren se Purpose-Driven Life nie. Baie mense is positief daaroor, terwyl ander negatief is. Maar al ken ek nie die boek nie, weet ek dat die titel goed is.

Dit is ook hoe Paulus se lewe was: doelgerig. Hy wou in Jerusalem uitkom (v.22, 16). Dit is asof die Gees hom gedryf het en hy nie anders kon nie (v.22). Hy het nie presies geweet wat in Jerusalem sou gebeur nie (v.22). Wat hy wel geweet het, is dat die Heilige Gees hom in elke stad gewaarsku het: ‘In Jerusalem sal die Jode jou vervolg en in die tronk gooi’ (v.23, Hand. 21:4, 11-12).

Dit het presies so gebeur (Hand. 21:27-36, 22:22-23:22). En tog het dit hom nie gepla nie, omdat hy bereid was om in Jerusalem vir Jesus se Naam te sterf as dit daarop moes neerkom (Hand. 21:13). Sy hoogste prioriteit was nie om te lewe nie, maar om getrou te wees aan Jesus, om die wedloop te voltooi, en om die bediening te vervul wat Jesus hom gegee, naamlik om die evangelie van redding uit genade aan verlorenes te verkondig (v.24, Luk. 9:23-24, 14:26, Op. 12:11, 2Tim. 4:7).

Wat is jóú doel in die lewe? Is dit om geld te maak, ryk af te tree, ’n suksesvolle besigheid te hê, ’n gelukkige gesin te hê, die wêreld te toer, ’n doktorsgraad te verwerf, te trou en kinders te hê, of wat? Selfs al is jy nie ‘n prediker nie: as Jesus en die evangelie nie die middelpunt van jou lewensdoel is nie, dan lewe jy tevergeefs, omdat jou doel op niks sal uitloop as jy die dag sterf nie.

Maak daarom Paulus se doel jóúne (v.24). Ek bedoel nie dat almal van ons predikers moet wees nie. Vra egter vir jouself hoe die Here jou begaaf het, waar Hy jou geplant het, en wat Hy van jou wil hê. As jy dit met jou hele hart doen, sal jy Hom verheerlik en vervulling beleef, selfs al moet jy vloere poleer. Dit is wat Spurgeon blykbaar vir ’n vrou gesê het.3 Toe hy onverwags by haar huis opdaag, was sy besig om die vloere te poleer. ‘Sorry pastor, I know that I should be reading my Bible and praying instead of polishing my floors.’ ‘No!’ het hy haar geantwoord. ‘You keep polishing your floors; that is what God has called you to at the moment.’

5. Sy waaksaamheid (v.28-31)

Spurgeon was ook waaksaam. Hy het gesien hoe die Baptist Union in Engeland op die afdraende pad was. Hulle het liberale teologie begin glo wat die bonatuurlike dele van die Bybel ontken. Die Union het Spurgeon se vrese afgemaak as niks, maar hy was reg. Op die einde het die Baptist Union liberaal geword.4

’n Getroue herder preek nie net die positiewe waarhede van die Bybel nie, maar hy sien ook die gevare raak, sodat hy die gemeente waarsku. Paulus was so. Vir drie jaar het hy oor hulle gewaak en elkeen van hulle dag en nag met trane vermaan, omdat hy geweet het die wolwe kom (v.31, 29-30). Hy het die ouderlinge gevra om dieselfde te doen. Hulle moes in die eerste plek oor hulle eie verhoudings met die Here waak deur te sorg dat hulle ’n rein hart, ’n goeie gewete, ’n heilige lewe, en suiwer lering het (v.28, Spr. 4:23, Hand. 23:1, 24:16, Heb. 13:18, 1Tim. 1:19, 4:16, 2Tim. 1:3, 2:15). Daarna moes hulle oor die hele kudde waak eerer as net oor party van die skape (v.28, Heb. 13:17). Soos ’n ouer leraar my eenkeer gesê het: ‘Love all your people; I mean all your people.’

Om dit reg te kry, moet ons weet wie deel van die kudde is en wie nie. As ons eers die skape uitken, moet ons oor hulle waak deur hulle te onderrig, vir hulle te bid, hulle te tugtig, hulle te troos, en hulle teen die wolwe te beskerm (v.29). Die Heilige Gees het ons geroep om as ouderlinge, opsieners, herders, en pastors oor die kudde te waak (v.28, 17, Ef. 4:11, 1Pet. 5:1-2). Hoe weet jy of Hy jou regtig hiervoor geroep het, veral as daar so baie vals herders is (v.29-30)?

  • Het jy ’n begeerte om ’n ouderling te wees (1Tim. 3:1)?
  • Het jy die gawe van lering (1Kor. 12:11, 1Tim. 3:2, Tit. 1:9)?
  • Is jy ’n man (1Tim. 2:11-12)?
  • Het jy ’n Godvresende karakter (1Tim. 3:2-3)?
  • Het jy ’n goeie huwelik en gesinslewe (1Tim. 3:4-5)?
  • Stap jy al ’n lang pad met die Here (1Tim. 3:6)?
  • Het jy ’n goeie getuienis van ongelowiges, of sê hulle: ‘As dit is hoe ’n Christen lewe, dan wil ek nie een wees nie’ (1Tim. 3:7)?
  • Erken die ander ouderlinge jou gawe (1Tim. 4:14)?

Laasgenoemde is belangrik. Predikers (veral in Baptistekringe) moet die gemeente heroplei en leer dat daar nie net ’n enkel leier is nie, maar dat die Here ’n groep ouderlinge vir elke gemeente gee (v.28, 17, Hand. 14:23, 15:22, Fil. 1:1, 1Tim. 4:14, Tit. 1:5, Heb. 13:17, Jak. 5:14). Dus moet daar nie net een herder wees wat oor die kudde waak en vir hulle sorg nie, maar ’n paar. Alhoewel een van hulle die spreekbuis is namens die res (Op. 2:1), moet hulle nog steeds as ’n groep saamwerk.

Omdat hierdie dinge so is, moet jy asseblief nie na die leraar en sy vrou verwys as die herderspaar, of dink dat die leraar op sy eie die herder van die gemeente is nie. Praat eerder van die ouderlingspan (soos v.17, 28). Húlle moet die kudde teen wolwe beskerm: van binne en van buite (v.29-30, Matt. 7:15-20). Paulus het geweet dat die wolwe sal kom om die Bybel te verdraai en die kudde te mislei (v.29-30, 2Pet. 3:16). Dit is presies wat gebeur het (1Tim. 1:3-7, 19-20, 6:20-21, Op. 2:1-2).

Ons moet dieselfde verwag en nie bang wees om die ketters aan te spreek nie. Ons moet die kudde beskerm deurdat ons hulle die volle raad van God leer (v.27). Ons moet dit verder doen deur gereeld vir hulle te bid. Daardeur erken ons dat die gemeente nie aan ons behoort nie, maar aan die Here. Hý het hulle met sy bloed gekoop, terwyl die Gees ons geroep het om sý kudde op te pas (v.28, Joh. 10:11, 21:15-17, Ef. 5:25). Moet dan nie van mý gemeente praat, of my die hoof van ons gemeente noem nie. Daar is net een Hoof van die gemeente en dit is Jesus Christus (Kol. 1:18). Omdat Hy die groot Herder van die kudde is, voel elke getroue herder gerus om God se skape deur die Woord en gebed aan sy sorg oor te laat (v.32). As ouderlinge moet ons nie ons eie belangrikheid in die gemeente oorskat nie. Ja, ons moet oor die kudde waak. Maar uiteindelik is dit die Here se skape en sal Hý hulle deur die Woord laat groei en hulle veilig tot in die hemel bring (v.32, Joh. 17:17, 1Tess. 2:13).

6. Sy werketiek (v.33-35)

Bushiri, of Major 1 is ’n bekende Prosperity prediker in Suid-Afrika. Toe die grendelstaat begin het, toe vra hy dadelik vir sy mense om hulle bydraes elektronies in te betaal.5 Hy het selfs ’n App (Major 1 Connect) laat skryf, sodat mense sy preke teen ’n fooi van R80 per maand op hulle selfone kon kyk.6

’n Ware herder is nie soos Bushiri nie (2Pet. 2:3, 14-15), maar is soos Paulus wat hard gewerk het, sodat hy met ander kon deel eerder as om soveel as moontlik vir homself te gryp (v.33-35, 1Sam. 12:3-4, Hand. 18:3, 2Kor. 7:2, 11:9, 12:17, Ef. 4:28, 1Tess. 2:5, 2Tess. 3:7-9). Enige toegewyde leier en gelowige besef dat dit meer geseënd is om te gee as om te ontvang (v.35). Om te gee bring groot vreugde en help ons om te volg in die voetspore van Jesus wat sy lewe vir ons gegee het (Gal. 2:20, Tit. 2:14). Eintlik is Hý die ware Model leier. Paulus, Augustinus, Calvyn, Spurgeon, John MacArthur en ander geestelike leiers is maar net ’n prentjie van die Switserse Alpe. Jesus is die Alpe. Hy is die Model Leier.


1  https://elitefeet.com/the-legend-of-cliff-young/

2  Richard Baxter, Poetical Fragments (London: T. Snowden, 1681), 40, lines 7-8. Verkry by https://quod.lib.umich.edu/e/eebo/A26987.0001.001/1:3?rgn=div1;view=fulltext

3  Ek is nie seker waar hierdie storie vandaan kom nie. Ek kon tot op hede nie die bron opspoor nie.

4  Iain Murray, The Forgotten Spurgeon (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1966)

5  https://www.capetalk.co.za/articles/380140/watch-self-proclaimed-prophet-bushiri-asks-for-money-during-lockdown

6  https://citizen.co.za/news/south-africa/general/2272384/more-than-10000-download-bushiris-r80-online-church-app/

Kategorieë