Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 March 2015

Pasop vir Paasfees

Egg with questionmark

[youtube=http://youtu.be/JTPwePFMJG8]

Ek het eenkeer in my lewe redenaars gedoen.  Ek was in die laerskool en moes ‘n toespraak lewer oor die onderwerp:  ‘Alles wat te is...’  Daar het ek geleer dat iets wat aanvaarbaar is, sonde kan wees as jy dit oordoen of ‘n verkeerde klem daarop lê.  Om Halloween te vier het te veel okkultiese konnotasies en is daarom sleg.  Maar om Paasfees te vier is goed.  As jy egter ‘n verkeerde klem daarop lê, is dit sleg.  Die beginsels in Eksodus 12:43-13:16 sal vir jou wys wat ek daarmee bedoel.

 

Reëls vir die Pasga (12:43-50)

In 2010 het Kersdag op Saterdag geval.  Omdat dit so naby aan Sondag was, het ‘n kerk in Alberton besluit om nie ‘n Kersdagdiens te hou nie, maar eerder hulle gewone dienste te hou op die Sondag.  Wat dink jy daarvan?  Die leraar het gesê dat Sondag die Here se Dag is en dat ‘n Kersdagdiens nie in die Bybel beveel word nie.  ‘As ek moet kies tussen Sondag en Kersdag, kies ek Sondag,’ het hy gesê.  Hy was reg.  Om Paasfees en Kersfees te vier is goed.  Maar dit word nie in die Bybel beveel nie.  Moet daarom nie ‘n wet daarvan maak of dit belangriker ag as die dinge wat in die Skrif beveel word nie.  Jesus het gesê:

 

“So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.  Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:

Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matteus 15:6-9).

 

Geen vreemdeling of slaaf mag van die Pasga geëet het nie (v.43, 45, 38).  God het egter toegelaat dat hulle kon nader kom (Efesiërs 2:13) om saam te eet as hulle besny was (v.44, 48-49).  Reeds in Genesis 17 was dit God se opdrag aan Abraham:

 

“die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond.  En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek...

 

...Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het... en al die manne van sy huis—die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.” (v.13-14, 23, 27).

 

Die Israeliete moes die lam in die huis geëet het.  Soos wat die volk ‘n eenheid was, moes die lam heel gebly het (v.46-47).  Hulle mag dit nie verdeel het of ‘n been gebreek het om dit uit die huis uit te vat nie (v.46, 22-23).  Die volmaakte en heel lam is vervul in Christus.  Om dié Skrif te vervul het die soldate nie Jesus se bene gebreek nie (Johannes 19:33-36, Psalm 34:21, kontrasteer Psalm 51:10).

 

Wat die eet van die lam betref het dieselfde reëls gegeld vir Jode en heidene (v.49).  So is dit in die Nuwe Testament:  “aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.” (Romeine 3:30).

 

Die volk het toe gedoen wat God deur Moses gesê het (v.50-51).

 

God wil hê ons moet ons redding onthou op die manier wat Hý voorskryf.  Hoe is dit?  Nie deur die Joodse Pasga te vier nie.  As jy vir interessantheid die Pasga wil hou soos die Jode dit gevier het, kan jy dit doen.  Maar vier dit soos jy jou verjaarsdag vier.  Moenie soos die Hebrew Roots Movement maak asof dit ‘n wet is nie (Galasiërs 4:10, Kolossense 2:16-17).

 

Maar moet ook nie selfregverdig voel omdat jy nie wetties is soos hulle nie.  Maak jy meer van ‘n tradisie soos Paasfees, as wat jy maak van ‘n opdrag soos die nagmaal?  Jy sal nie Paasfees mis nie, maar jy sal maklik ‘n nagmaaldiens mis.  Soos Israel die Pasga moes hou, beveel God dat ons die nagmaal moet hou.

 

Net dié wat besny is kon die Pasga eet (v.43-45), en net dié wat in hulle harte besny (weergebore) is en dit uitbeeld in die doop, kan die nagmaal gebruik (Deuteronomium 30:6, Kolossense 2:11-12, Handelinge 2:41-42).  ‘Do you want to come to the Lord’s Table and you haven’t been baptized?  That’s just flatly disobedient.’ (John MacArthur).

 

Soos ‘n heel lam die volk se eenheid uitgebeeld het (v.46-47), is een brood die toonbeeld van eenheid in die gemeente:  “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.” (1 Korintiërs 10:17).  Juis daarom moet ons nie die nagmaal uit die samekoms uitvat om dit saam met ons gesinne te vier nie (vgl. v.46).

 

Hoekom moet ons ons redding op dié manier onthou?  Want as ons dit doen soos wat óns wil, oortree ons die tweede gebod.  Ons moet God aanbid op die manier wat Hý voorskryf, en nie op die manier wat óns wil nie.  Jesus het gesê ons moet God in waarheid aanbid (Johannes 4:24).  Moenie dink dat die Here jou sal beloon as jy jou eie kop in dié verband volg nie.  Jy dínk jy is besig om Hom te eer, maar as Hy kom sal Hy vir jou sê:  ‘Wie het vir jou gesê om dít te doen?’

 

Reëls vir die ongesuurde brode (13:3-10)

Het jy al ooit iets verleer?  Dalk het jy Zoeloe geleer en dit vir tien jaar nie gepraat nie.  Dit werk dieselfde as jy vir lank nie jou musiekinstrument speel of die verse wat jy gememoriseer het hersien nie.  Eintlik werk dit so met alles wat jy nie gereeld hersien of gebruik nie.  Selfs die bewustheid dat Jesus jou gered het sal verroes as jy nie gedurig daaraan herinner word nie.

 

Die volk moes onthou dat hulle slawe in Egipte was en dat God hulle gered het.  God het hulle met ‘n sterk hand deur die tien plae gered (v.3).  Indien hulle dit vergeet het, sou hulle gou wegdraai om vals gode te dien.  Die fees van die ongesuurde brode sou hulle aan dié verlossing herinner (v.3, 6-7).  God sê in Deuteronomium 16:3:  “Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit Egipteland uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland in gedagtenis kan hou.”

 

Ook in die land van melk en heuning moes hulle dié verlossing herdenk.  As dit met ons goed gaan vergeet ons soms van die Here.  Hulle moes dit nie doen nie (v.5).  Deur hierdie fees moes die volk hulleself en hulle kinders aan God se verlossing herinner.  Hulle moes gedurig daaroor praat en dit in hulle denke en dade onthou (v.8-10).  Dit is wat in v.9 bedoel word met die teken tussen hulle oë en op hulle hande.  Later het die volk letterlik sulke boksies gedra (Matteus 23:5), maar hier is dit waarskynlik beeldspraak (Spreuke 3:3, 6:21, Deuteronomium 6:8, 11:18).

 

Ons moet gedurig aan ons verlossing dink.  Moenie tevrede wees om een uit vier of vyf nagmaal dienste by te woon nie.  Kom soveel as wat jy kan.  As jy Jesus se kruisdood net jaarliks by die Paasfees vier, sal jy vergeet.  Jy moet veral versigtig wees as dit geestelik of materieel voorspoedig gaan, want dan kan jy maklik vergeet dat jy op ‘n tyd verlore was (v.5, melk en heuning).

 

Voordat jy die nagmaal eet, moet jy jou sonde bely en so van die suurdeeg van sonde ontslae raak (v.7, 1 Korintiërs 5:8).  Herinner jouself aan hoe erg jou sonde was.  As jy dít doen sal jy die Here meer dank vir jou redding en nie so maklik na jou sonde toe terugkeer nie.

 

Moenie stilbly as jou kinders dink dat Paasfees oor die Paashaas gaan nie.  Vertel vir hulle die waarheid:  Paasfees gaan oor Jesus se kruisdood.  Herinner hulle gedurig aan die verlossing wat Jesus gebring het.  So sal jy dit self beter onthou (v.8-9).  As jy nie gereeld jou redding in die nagmaal herdenk nie, sal jy vergeet om gedurig die Here te dank en jou sonde te bely.

 

Reëls vir die eersgeborenes (13:1-2, 11-16)

Jan en Marike is 35 jaar getroud.  Vir hulle huweliksherdenking koop Jan vir sy vrou 35 rooi rose, haar gunsteling sjokolade, en vat hy haar uit vir ete na ‘n vyfster hotel toe.  Marike is nie beïndruk nie.  Hoekom nie?  Deur die res van die jaar hanteer hy haar soos gemors.  Marike soek nie Jan se geskenke nie; sy soek hóm.

 

Op dieselfde manier kan ons ons verlossing as ‘n reël herdenk met ‘n koue hart.  In die verlede het mense ernstige voorbereiding getref vir die nagmaal en hulle Sondag-beste gedra, maar tog was baie van hierdie kerkmense se harte dood.  God soek ‘n hart van toewyding wat Hom liefhet, en nie bloot godsdienstigheid nie.

 

God sou vir Israel die land gee wat Hy met ‘n eed aan hulle vaders beloof het (v.11, Genesis 15:18, 17:8, 28:13).  Die Psalmdigter sê:  “Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.  En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.  En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem, dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar.  Halleluja!” (Psalm 105:42-45).

 

Die eersgebore seuns en vee moes afgesonder word vir die Here (v.1-2, 12).  God het later die Leviete in hulle plek geneem.  Die Here het deur Moses gesê:  “Want al die eersgeborenes onder die kinders van Israel is myne, van mense en van diere; op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek hulle vir My geheilig.  En Ek het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel geneem” (Numeri 8:17-18).  Weer:  “Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou kleinvee aankom, moet jy aan die HERE jou God heilig; jy mag nie werk met die eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.” (Deuteronomium 15:19).  In die Nuwe Testament het Jesus dié vereiste vervul.  Hy is as eersgeborene aan God geoffer, sodat ons aanneemlik kan wees voor die Here (Lukas 2:7, 22-23).

 

Die rein diere onder die eersgeborenes is aan die Here geoffer.  ‘n Donkie is ‘n onrein dier en moes met ‘n lam losgekoop word.  Indien jy nie die donkie aan die Here wou gee nie, kon jy dit ook nie hou nie, maar moes jy sy nek breek (v.13).  Hoekom moes jy sy nek breek en nie met ‘n mes slag nie?  Want sodra jy dit met ‘n mes geslag het, sou dit ‘n slagoffer wees.  Die Here soek nie onrein diere as slagoffers nie.

 

Jou seun moes jy met ‘n lam loskoop (Genesis 22:13).  Dit is weereens vervul in Jesus wat as die Lam van God in ons plek gesterf het.  Israel moes hulle seuns loskoop en nie offer soos wat die Kanaäniete gedoen het nie (2 Konings 16:3).  Hulle moes ook ‘n bedrag geld betaal om hulle seuns los te koop (Numeri 3:46-47, 18:15-16).  Die volk moes dan ook vir hulle kinders die betekenis hiervan leer:  toe God Egipte se eersgeborenes getref het, het Hy Israel s’n gespaar (v.14-16).

 

Soos Israel haar eersgeborenes vir die Here gegee het (v.1), moet jy jouself en jou beste gee:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).  Hoe kan jy jouself gee?  Vir party mense is Paasfees bloot ‘n jaarlikse tradisie.  Op dieselfde wyse kan ons Sondae onderhou, die nagmaal herdenk, lofsange sing, bid, en ‘n bydrae gee met ‘n koue hart.  Jy kan selfs huisgodsdiens en stiltetyd hou met ‘n koue hart.

 

Dit gebeur gewoonlik as jy nie jouself en jou hart gee nie; as jy dit bloot as ‘n tradisie onderhou, of dié dinge doen maar in sonde leef.  Dawid sê:  “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19).  Jy kan die Here eer met jou lippe sonder dat jou hart daarin is (Jesaja 29:13).  Moenie jou verhouding met die Here beperk tot ‘n Sondag of tot jou stiltetyd nie.  Dink die hele week en dag na oor wat jy in die preek of jou stiltetyd gehoor en gelees het.  Doen wat God vir jou geleer het.

 

Hoekom moet jy jouself gee?  Jy behoort aan God en nie aan die wêreld nie.  God het jou gekoop om syne te wees.  Hy wil nie hê jy moet ‘n verdeelde hart hê nie (Jakobus 4:4-5, 8, 1 Korintiërs 6:19-20).  God het sy Seun vir jou gegee en wil hê jy moet jouself vir Hom gee (Johannes 3:16).

 

Nick se vrou koop vir hom ‘n vliegtuig vir sy verjaarsdag.  Na ‘n paar weke sien sy vrou hom nie meer nie.  In die oggende is hy vroeg op die vliegveld.  Oor naweke vlieg hy.  Hy gebruik elke moontlike minuut om sy nuwe stokperdjie te geniet.  Net so is dit in ons verhouding met Jesus nie altyd slegte dinge wat ons aandag van Hom weglei nie.  Soms is dit goeie dinge soos Paasfees wat ‘n koue tradisie raak en ons aandag weglei van die opdrag om sy dood gedurig te herdenk in die nagmaal.  Dis wat ek bedoel as ek sê ‘Pasop vir Paasfees’.

Kategorieë