Coram Deo Cover Image

Coming soon...

15 July 2022

Pas op vir geldgierigheid

Lukas 12:13-21

Min mense kan ryk wees sonder dat dit na hulle kop toe gaan: ‘...it is hard to carry a full cup without spilling, and a full estate without sinning.’ (Thomas Watson).1 Laat ons teen geldgierigheid waak.

 

1. ’n Man en sy broer (v.13-15)

‘Die sussies baklei oor die erfdeel,’ het iemand gesê nadat sy skoonma onlangs oorlede is. Dit het ook in v.13 gebeur: “Iemand uit die skare het vir Hom gesê: ‘Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.’” Volgens Deut. 21:17 sou die oudste broer twee derdes erf en die jonger een ’n derde. Wat presies in Lukas 12 gebeur het, is onseker. Wat ons weet, is dat albei broers gierig was en in ’n familie geskil gewikkel was.

Jy kan vir jouself sê dat jy nie so is nie, maar wag totdat jy baie geld erf. Dan draai rykdom soos toue om jou enkels; soos ivy wat ’n muur omtrek. Voor jy weet is daar versuurde verhoudings en verdeeldheid in die familie (v.13). Gelgierigheid is ’n wortel van baie ander sondes (1Tim. 6:10). Dit trek maklik ’n mens se aandag van Jesus en die Bybel af. Die man in v.13 het Jesus se lering gemis, omdat hy oor geld gedagdroom het.

Mis jy wat die Here wil sê, omdat jy onder die prediking oor rykdom, beleggings, erfgeld of ’n bevordering dagdroom? “Die saad wat tussen die dorings val, is diegene wat die woord hoor; maar hulle word deur bekommernisse en rykdom en die plesiere van hierdie lewe verstik, en lewer geen oes nie.” (8:14).

Beskou jy Jesus as ’n genie wat jou begeerte na rykdom kan vervul? Die man in v.13 het so gedink. Hy het Jesus beveel om vir sy broer te sê om die erfgoed met hom te deel. Vandag doen mense dieselfde. Hulle dink hulle kan Jesus beveel deur rykdom te spreek. Jesus is net goed as hulle rykdom en gesondheid wil hê. Hulle buig nie voor Hom as Here nie, maar beskou Hom as ’n kosmiese Kersvader wat hulle wense vervul. ‘Jesus bestaan vir my eerder as ek vir Hom.’

Jesus sal dit nie aanvaar nie, maar het in v.14 gesê: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel?” Jesus het nie aarde toe gekom om mense se tydelike geldsake op te los of om oor dispute te beslis nie. Daarvoor het die Here advokate en regters aangestel (Deut. 17:8-13). Jesus het gekom om mense van hulle sonde te verlos (Joh. 3:17, 12:47); eendag sal Hy weer kom om die wêreld te oordeel (Joh. 5:22, 27, Hand. 10:42, 17:31).

Kan ek dan nie oor my geldsake bid nie? Natuurlik kan jy (Matt. 6:8, 11). As jy egter bid om ryk te word, is die antwoord nee: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring.” (Jak. 4:3). Jesus is nie ’n persoonlike prokureur wat jy vir eie gewin kan huur nie. Jy moet by Hom inval; Hy gaan nie by jou inval nie (Matt. 6:10).

Het jy Jesus al vir rykdom probeer misbruik? Het jy gebid om die LOTTO te wen of die Here gevra om jou kits-rykdom skema te seën? “...wie vinnig ryk wil word, sal nie ongestraf bly nie.” (Spr. 28:20). Was 2Kor. 9:6 al jou motief eerder as ’n gevolg wanneer jy vir die Here se werk bydra: “Die punt is: Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes.”? Het jy die beginsels in Spreuke vir jou besigheid begin volg, nie omdat jy die Here wil verheerlik nie, maar sodat jou kliënte mense van jou eerlike, vriendelike en deeglike besigheid vertel, sodat jy meer geld kan maak? “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid” (v.15). Onthou hoe Lot se vrou met verlange na die wêreld teruggekyk en in ’n soutpilaar verander het (17:32). Onthou hoe Judas sy siel vir 30 stukke silwer verkoop het (Matt. 26:15). Onthou hoe Demas die hemel vir die wêreld verruil het (2Tim. 4:10). Onthou hoe die vals leraars Jesus vir geld verloën het (2Pet. 2:3). Onthou hoe Bileam se lus vir geld hom gedryf het om teen die Here te sondig (2Pet. 2:14-16). Onthou die leraars wat geval het, omdat hulle hulle vingers in ’n gemeente se bankrekening wou kry. Onthou die lidmate wat deur kerkdissipline van ’n gemeente afgesny is, omdat hulle geldgierig was en bedrog gepleeg het.

Sê jy jy sal dit nie doen nie? Onthou Paulus se waarskuwing: “Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!” (1Kor. 10:12). Die versoeking is oral om jou: materialistiese skoliere en kollegas, duur karre, advertensies in die mall en op sosiale media. ‘Hoe meer geld jy het, hoe groter die blydskap,’ is wat hulle sê. Pas op (v.15). Die wêreld wil deur jou sintuie by jou hart uitkom. Daarom moet jy jou hart bewaar (Spr. 4:23). Vra die Here vir ’n nuwe hart en nuwe begeertes; vir ’n begeerte en verlange na Hom (Eseg. 36:26-27, Ps. 37:4, 42:2-3).

Waak teen elke vorm van gierigheid (v.15). Die tiende gebod beskryf verskillende vorme van gierigheid: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie sy slawe en slavinne, sy beeste en donkies nie—enigiets wat aan jou naaste behoort nie.” Jesus maak dit op geld van toepassing. Wat is die probleem met geldgierigheid? Spr. 30:15-16 het die antwoord: “Die bloedsuier het twee dogters: Gee! Gee! Daar is drie dinge wat nie versadig raak nie,

vier wat nie sê “Genoeg!” nie: die doderyk, ’n geslote moederskoot, grond wat nie versadig raak van water nie, en vuur wat nie sê, ‘Genoeg!’ nie.” Iemand wat R5 miljoen het, soek 10, 50, 500, ’n miljard. As jy ’n duur kar het, soek jy ’n duurder een. Jy is nie tevrede met jou huis nie, maar wil gedurig uitbou of dit oor doen. Met klere is dit dieselfde. Jy wil tred hou met die tyd.

Gierigheid is van kleins af in ons harte. Nog voor my kinders in die skool was, wou hulle alles hê as ons in die winkel is: ‘As ek weer verjaar wil ek dit hê... As ek geld kry, gaan ek dit koop...’ Soos jy ouer word, verander die speletjie: ‘Jy wen nou R50 miljoen—wat sal jy daarmee doen?’ Ons soek die beste werk, hoogste posisie en meeste geld vir ons kinders. Waar ouers en grootouers by mense kuier, roem hulle oor hoeveel geld hulle kinders verdien. Hulle kry die verwagte reaksie: ‘Sjoe, maar jou kind doen goed vir homself!’ So het die Bybel dit voorspel: “Hulle moet jou prys, want jy doen goed vir jouself” (Ps. 49:19). Ons besef nie die gevaar waarin ons en ons kinders verkeer nie: “...Geen...gierigaard—so iemand is ’n afgodedienaar—het ’n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (Ef. 5:5). Die gierige mens oortree al Tien Gebooie:2

#1: Hy maak ’n afgod van geld en besittings. “...gierigheid, wat afgodediens is.” (Kol. 3:5).

#2: Hy aanbid God op ’n vals manier deurdat hy Hom net vir voorspoed, geld en gesondheid soek.

#3: Hy belaster God se heilige Naam deurdat hy Hom as ’n vendingmasjien beskou.

#4: Talle mense versaak die samekoms van die gelowiges, omdat hulle besig is om geld te maak (Neh. 13:15-21, Amos 8:5).

#5: Baie kinders soek hulle ouers net as hulle geld nodig het (Luk. 15:12). Ander laat na om hulle bejaarde ouers te ondersteun, maar steek die geld in hulle sak (Mark. 7:10-12).

#6: Koning Agab se gierigheid het gemaak dat hy Nabot vermoor om sy wingerd te kry (1Konings 21).

#7: ’n Prostituut verkoop haar liggaam om geld te kry (Deut. 23:18).

#8: Agan se gierigheid het daartoe gelei dat hy steel (Jos. 7:21).

#9: Party prokureurs sal in die hof lieg as jy hulle genoeg geld aanbied (Eks. 23:8).

#10: Natuurlik oortree die gierigaard die tiende gebod wat gierigheid verbied.

Hoe lyk geldgierigheid in die praktyk? Jy dagdroom oor hoe jy iemand se lewensmaat of kar kry as hy sterf. Jy is bitter en jaloers op iemand anders se geld en besittings. Jy pleeg bedrog om iemand anders se goed te kry. Jy maak skuld om te kry wat jy wil hê: ‘As die Here dit nie vir my gee nie; die bank sal!’ (Spr. 22:7, Rom. 13:8). Die oplossing vir gierigheid is nie om skuld te maak nie, maar om hard en eerlik te werk, sodat jy vir jouself kan sorg en genoeg het om met die behoeftiges te deel (Ef. 4:28). Die oplossing is om tevrede te wees met wat jy het (Fil. 4:11-13).

Rykdom maak nie van jou ’n beter mens nie: “...want ’n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” (v.15). Om geld te hê help nie op die oordeelsdag nie. Jy kan die Here nie met geld omkoop nie: “Rykdom baat niks in ’n tyd van gramskap nie” (Spr. 11:4). Hoekom waardeer ons mense dan volgens hoeveel geld hulle verdien? Dit is ongeskik om iemand direk oor sy salaris te vra en daarom vra ons: ‘Wat doen jy vir ’n lewe?’ Ons is beïndruk as die persoon ’n hoë pos, duur kar en ontwerpersklere het, maar ons kyk skaars vir die bedelaar by die verkeerslig.

Dit laat my aan ’n storie dink wat een van my dosente ons vertel het. Toe hy die leraar van ’n sekere gemeente was, toe vra hy ’n kollega om hom soos ’n boemelaar te vermom en by ’n gemeente ete op te daag. Die lidmate het hom skeef aangekyk en draaie om hom geloop. Min het hulle geweet dat hy gereeld in hulle gemeente preek!

Ons behandel onsself ook so: jy voel soos ’n mislukking as jy nie werk kry nie. Of jy voel minderwaardig, omdat jy ’n klein salaris verdien. Sonder dat jy dit besef, glo jy die lewe gaan oor hoeveel geld iemand verdien (kontra v.15). Baie ryk mense is so en vind hulle sekuriteit, geluk en identiteit in geld en besittings: “Die besittings van ’n ryke is sy sterk stad; soos ’n ontoeganklike stadsmuur is dit in sy verbeelding.” (Spr. 18:11). Die geldgierige man se emosies fluktueer saam met die ekonomie: die goudprys en inflasie, die wisselkoers en die olieprys. Dit oorheers sy gedagtes, planne en gesprekke. Geld of ‘the almighty dollar’ is die god voor wie hy hom neerbuig. Hy vergeet dat rykdom maklik verdwyn: “Moet jou nie afsloof om ryk te word nie, jy behoort van beter te weet—hou op daarmee! Sou jy jou oë net daarop rig? Dit is reeds weg! Want dit kry beslis vlerke; soos ’n arend vlieg dit weg in die lug.” (Spr. 23:4-5). Hoe gou het super ryk Amerika nie arm geword nie toe die Wall Street Aandelebeurs in 1929 in duie stort en dit die groot depressie tot gevolg gehad het?3 Laat ons teen gierigheid waak (v.15).

 

2. ’n Boer en sy God (v.16-21)

’n Ryk boer se lande het ’n groot oes opgelewer (v.16). Dit op sigself is nie ’n probleem nie, aangesien rykdom ’n gawe van God is (Deut. 8:18, 1Kron. 29:12, Spr. 10:22, 1Tim. 6:17, Jak. 1:17). Die probleem is dat die boer dit nie erken het nie. God en sy naaste was nie in sy gedagtes nie (Matt. 22:37-39), maar hy wou alles vir homself opgaar (v.17). Indien so iemand ander mense help, is dit vir belastingvoordele. Of hy gee om mense te beïndruk (Matt. 6:2). Vir hom gaan dit nie oor God en sy naaste nie, maar oor homself.

Is jy soos die ryk boer? Gaar jy goed in jou hangkas, buitekamer, garage en gangkas op; goed wat jy al vir ’n jaar of meer nie gebruik nie; goed wat jy kamtig vir eendag hou? Die Bybel waarsku ons om nie skatte op die aarde te versamel nie. Vismotte en roes gaan dit vernietig; diewe gaan dit steel (Matt. 6:19, Jak. 5:2-3). Maak vir jou skatte in die hemel bymekaar (Matt. 6:20).

Hoe doen ’n mens dit? Gee vir die armes en dra by vir sending; gebruik jou rykdom om goed te doen (v.33, Fil. 4:17, 1Tim. 6:18-19). Dit is nie verkeerd om te spaar nie (Gen. 41:49, Spr. 13:22, Pred. 11:1-2). Die probleem is as jy op jou oorskot vertrou: “Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar.” (v.18). Jy is soos die kleingelowige Israeliete wat nie wou glo die Here sal elke dag vir hulle voorsien nie (Eks. 16:19-29). So was die ryk boer. Hy het vir homself gesê: “Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.” (v.19). Baie mense in ons samelewing doen dieselfde en werk hulleself oor ’n mik, sodat hulle genoeg sal hê om teen 65 of vroeër gerieflik af te tree (v.19). Daar is niks fout met aftrede om iets anders produktief te doen nie (Num. 8:23-26). Maar aftrede om vakansie te hou tot jy die dag doodgaan, is ’n onbybelse konsep. Paulus, Petrus en elke gelowige in die Bybel het getrou vir die Here gearbei totdat hulle dood is (2Tim. 4:6-7, 13, 2Pet. 1:12-15).

Om vir 40 of 45 jaar te stres en geld te jaag, maak nie eers sin nie. Toe ek ’n student was, het ek ’n artikel uit Time Magazine gelees. Die titel was: Healthy, Wealthy, and Unhappy. ’n Ryk sakeman van New York het ’n dorpie in Meksiko besoek en ’n visserman in ’n sy bootjie op die rivier gesien. Toe die visserman aan wal kom, toe vra die sakeman wat hy doen.

‘Ek vang vis vir my gesin om te eet.’

‘Hoekom vang jy nie meer vis nie?’

‘Ek het nie soveel vis nodig nie.’

‘Ja, maar as jy meer vang, kan jy ’n besigheid begin.’

‘En dan?’

‘Dan neem jy nog mense in diens. Verkoop die vis en maak geld.’

‘En dan?’

‘Later het jy ’n groot besigheid. Jy kan skatryk word en jou besigheid op Wall Street registreer.’

‘En dan? Dan word ek so ryk soos jy. As ek genoeg geld het, kan ek aftree en op ’n vissersbootjie op die rivier sit en visvang.’

Die gierige mens is dwaas: “Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’” (v.20). Die gierigaard dink net aan geld en vergeet van die Here, die dood en die ewigheid. Dalk dink jy jy is nie so nie, omdat jy in die kerk sit. Waar is jou hart en gedagtes? Waar rondom sentreer jou lewe? Gaan die lewe vir jou oor geld (v.13)? Of deurweek God se Woord jou gedagtes (Ps. 1:2); is die lewe vir jou Christus (Fil. 1:21)?

Indien jou lewe om geld draai, onthou: jy verloor alles wanneer jy sterf (v.20, 1Tim. 6:7). En wat help jou rykdom jou dan? “Wat baat dit ’n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor?” (Mark. 8:36).

Iemand sal sê: ‘Ten minste het ek my rykdom hier op aarde geniet.’ Het jy? Mense met baie geld het meer om oor te stres; rykdom versadig hulle nie (Pred. 5:9-15). Die super rykes van hierdie wêreld is misrabel.4 Jy sal soos die jong seun in Engeland wees. Hy was altyd misrabel. Op ’n dag toe sê hy vir sy vriend: ‘One day when I grow up I want to be rich. At least I can then be miserable in comfort!’ Selfs al kon rykdom jou bly maak, is jy dwaas om dit vir ewige blydskap te verruil (16:25).

Kies wie jy wil dien en wie jou Meester sal wees: geld of God (Matt. 6:24, 19:16-22). Waar lê jou rykdom: op aarde of in die hemel (v.21, Ef. 1:7, 2:7, 3:8)? Hoe kry ’n mens hemelse rykdom as jy dit nie het nie? Bely jou verlorenheid. Glo in Jesus wat vir ons sonde aan die kruis gesterf het. Bekeer jou tot Hom, bely jou sonde en vra dat Hy jou red. Vertrou en ontvang Hom as jou persoonlike Verlosser en Here. As jy Jesus het, het jy alles (Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23, Jak. 2:5). Wie Jesus nie het nie, is brandarm al is hy ook die rykste man op aarde (Op. 3:17). Moenie aan aardse skatte vasklou soos iemand wat op ’n sinkende skip sy goud vasgryp en dit nie wil los nie. Hy sal sy goud en sy lewe verloor. Verloor eerder alles vir Jesus, sodat jy hemelse rykdom en die ewige lewe in Hom kan vind (Mark. 8:35).


1  Thomas Watson, The Ten Commandments (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1959, 1965 [1692, 1890]), 183

2  Ibid., 177-8

3  https://www.history.com/topics/great-depression/1929-stock-market-crash

4  Randy Alcorn, The Treasure Principle (Colorado Springs, CO: Multnomah Books, 2001), 52-3

Kategorieë