Spreuke 30:1-4
As jou sleutels wegraak, soek jy tot jy dit vind. Daarna hou jy op soek.
Met God werk dit anders. Jy soek Hom tot jy Hom vind. Daarna soek jy verder. In Spreuke 30 wys Agur hoekom ons dit so doen.
1. God is onpylbaar (v.1-4d)
Wie was Agur? Hy was ’n nie-Jood. Ons sien dit onder andere daarin dat hy soos Job die Arabiese woord vir God gebruik: Eloah (v.5) eerder as Elohim.
As ’n profeet dra en deel Agur die swaar las van God se uitspraak (Heb. massa’).1 Volgens v.1 in die Nuwe Vertaling en Hebreeus onderrig Agur vir Itiël en Ukal, waarskynlik twee van sy studente (vgl. Neh. 11:7). Itiël beteken God is met my; daar is ’n God.2 Ukal beteken opgeëet of verteer.3 Agur sinspeel op hulle name en sê basies: ‘Daar is ’n God en Hy is met my, maar ek voel verteer.’ Hy bedoel hy kan God nie uitwerk nie; dit eet hom op. Dit is ook die gedagte agter v.1-3 in die 2020- en soortgelyke vertalings:
“Dit is die uitspraak van die man: Ek is moeg, o God, ek is moeg, o God, en gedaan. Want ek is dommer as enigiemand; ek het nie die verstand van ’n mens nie. Ek het nie wysheid geleer nie, en kennis van die Heilige het ek nie.”4
Die feit dat God onpylbaar is, dryf party mense om te sê daar is geen God nie. Ek het dit uit ’n Fransman se mond gehoor. Hy het langs my op ’n vliegtuig gesit. Toe ek die evangelie met hom deel, toe sê hy die Bybel en Christenskap is ’n filosofie. Hy was onseker of daar ’n God is. Tydens die laaste 20 minute van ons vlug, het hy God se weë uitgedaag en bevraagteken: ‘Hoekom laat God lyding toe? Hoekom doen Hy nie iets omtrent die saak nie?’ Daar en dan het hy sy deuntjie verander en erken God bestaan.
Party mense glo God bestaan, maar sê ons kan Hom nie ken nie. Voor sy bekering het een van my vriende dit gesê. Sy lewe was ’n gemors. Toe sy aanstaande verloofde hom oor God uitvra, toe sê hy: ‘Daar is ’n God, maar ons kan Hom nie ken nie.’ Die Here se genade oor hom was groot en hy het op sy troudag tot bekering gekom. Vandag ken hy die Here en sê vir ander hulle kan Hom ken.
Agur het Hom geken en ’n verhouding met Hom gehad (v.1, 5-7, 9b). Sy probleem was hy kon God se Wese nie pyl nie (v.3, 4e). Hy was soos Augustinus (354-430) by die see. Augustinus was hard besig om ’n boek oor die drie-Eenheid te skryf. Toe hy ’n sekere deel daarvan nie kon verstaan nie, het hy opgestaan en langs die see gaan loop. ’n Seuntjie het ’n gat in die sand gegrawe en dit met water uit die see probeer vul.
‘Wat doen jy?’ het Augustinus gevra.
‘Ek gaan die see leegmaak en die gat vol maak.’
‘Maar dit is onmoontlik.’
‘Ek sal dit makliker regkry as wat jy met jou klein verstand die drie-Eenheid sal begryp.’5
Dit is deel van God se heerlikheid dat ons Hom nie kan uitwerk nie: “Dit is die eer van God om ’n saak te verberg” (25:2, Nuwe Vertaling). God is die Heilige (v.3). Hy is bo alles en almal verhewe. Hy is uniek, een-van-’n-soort, in ’n klas van sy eie—niks en niemand is soos Hy nie.
Dit vang party mense as God buite hulle boksie werk; as Hy nie binne die perke van hulle teologiese raamwerk bly nie. Dit het Job gevang: “Kyk, gaan ek oos, is Hy nie daar nie, en wes, dan gewaar ek Hom nie. In die noorde, terwyl Hy werk, merk ek Hom nie op nie; verhul Hy Hom in die suide, sien ek Hom nie raak nie.” (Job 23:8-9, vgl. Psalm 73).
God se onpylbaarheid het Johannes die Doper laat twyfel of Jesus die Messias is: ‘Hoekom is ek in die tronk as die Messias gekom het om vrylating aan die gevangenes te verkondig? Is Jesus regtig die een of moet ons iemand anders verwag?’ (sien Matt. 11:2-3).
Ons redeneer dieselfde en sê: ’n sekere aksie aan my kant vereis ’n sekere reaksie aan God se kant. As dit nie so werk nie, voel ons depressief, ontmoedig, benoud, gefrustreerd of kwaad.
Voel jy so: jy soek God, maar vind Hom nie? Vra jy hoekom sekere dinge met jou moes gebeur? Het jy al ooit gewonder: ‘Hoekom moes dit nié met my gebeur het nie’? Jy verdien immers erger as dit, naamlik om hel toe te gaan. Wens jy jou teëspoed oor iemand anders? Jy vra dan: ‘Hoekom ek?’
Moet God nie uitdaag nie. Moenie soos Job vir Hom sê: “Roep maar! Ek sal myself verdedig. Of, ek sal praat, en antwoord U my.” (Job 13:22). Sê liewer: “Ek is moeg, o God, ek is moeg, o God, en gedaan. Want ek is dommer as enigiemand; ek het nie die verstand van ’n mens nie. Ek het nie wysheid geleer nie, en kennis van die Heilige het ek nie.” (v.1-3).
Sê saam met Dawid in Ps. 131:1: “Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie. Ek hou my nie besig met groot dade of wat te wonderbaar is vir my nie.” Daar is te veel dinge van God wat ons nie verstaan nie: “Wat verborge is, is die Here, ons God, se saak” (Deut. 29:29).
Beteken sy verhewenheid Hy is op ’n afstand? Nee. Hy is persoonlik in die skepping en jou lewe betrokke. Dit is Hy wat na ons toe neerdaal en weer opvaar (v.4a, Gen. 3:8, 17:1, 22, 18:1, 33, Rigt. 6, 13, Joh. 3:13). Hy hou die wind in sy vuiste (v.4b). Volgens sy wil gooi Hy dit op die land of see en trek dit na Hom toe terug (Eks. 10:13, 19, Ps. 148:8, Jona 1:4, Mark. 4:39). Hy hou die oseane in die holte van sy hand en heers oor die see (v.4c, Job 26:8, 38:8-11, Jes. 40:12a, Mark. 4:39). Hy het die grense van die aarde vasgestel en dit afgespit soos jy ’n bedding afspit (v.4d, 8:29, Job 38:4-6).
Toe God klaar geskep het, het Hy Hom nie onttrek nie. Hy sorg vir die skepping en onderhou alles deur sy magtige Woord (Psalm 104, 147, Matt. 10:29, Heb. 1:2-3). Hy is intiem in jou lewe betrokke, soveel so dat Hy die hare op elke mens se kop nommer (Matt. 10:30, Gk. arithmeō). In D.A. Carson se woorde is Hy ‘the God who is there’.6 Hy is soos Aslan in C.S. Lewis se Chronicles of Narnia.
Aslan is ’n groot leeu. ’n Sekere seun genaamd Shasta het sonder sy ouers grootgeword. Een nag het ’n visserman hom in ’n bootjie gevind. Die boot het tot by die visserman se huis gedryf toe hy die baba binnekant sien. Hy het die seuntjie opgetel en as sy eie grootgemaak. Hy was baie streng; te streng, sodat die seun in sy tienerjare weggehardloop het.
Tydens Shasta se reise het hy ’n meisiekind ontmoet. Saam moes hulle op ’n bepaalde tyd by ’n sekere koning Lune uitkom. Een nag moes hulle tussen ’n klomp grafte geslaap. Daar was geen ander skuilplek nie. Terwyl Shasta daar lê, toe kom ’n kat na hom toe. Die kat het teen hom kom lê. Dit het hom geweldig vertroos, veral toe hy jakkalse hoor huil. Die jakkalse het al hoe nader gekom en hy was bang. Skielik het Shasta ’n leeu gehoor brul. Die het die jakkalse laat vlug. Shasta het vir ’n rukkie beter gevoel, maar vrees het hom oorweldig toe hy die leeu sien nader kom. Toe hy mooi kyk, toe sien hy dit is net die kat. Daarna kon hy rustig slaap.
Na aan die einde van sy reis, het ’n leeu hom en die meisie op hulle perde gejaag. Genadiglik het die leeus uit asem geraak, sodat hulle kon wegkom. Hulle het ook die koning betyds bereik.
Na hierdie gebeure het Shasta deur ’n donker wou gery. Sy perd moes stadig loop, sodat hulle nie in die donker sou struikel nie. Skielik het iets of iemand teen Shasta se hand asem gehaal. Hy het hom yskoud geskrik.
‘Wie is daar?’ het hy gevra.
‘Is jy ’n reus?’
‘Is jy dood?’
‘Wie is jy?’
‘Ek is Myself,’ het stem geantwoord.
Na nog ’n paar vrae het Shasta gerus gevoel. Hy en die Stem het begin gesels.
‘Hoekom moes alles in my lewe skeefloop?’ wou Shasta weet.
‘Hoekom moes ek sonder ouers grootword?’
‘Hoekom het die visserman my so streng grootgemaak?’
‘Hoekom moes ek deur ’n wildernis reis en tussen die grafte slaap?’
‘Hoekom moes twee leeus ons in die nag jaag?’
‘Daar was net een leeu,’ het die Stem gesê.
‘Ek het nou-net vir jou gesê daar was twee.’
‘Daar was net een.’
‘Hoe weet jy?’
‘Want ek was die leeu. Ek was die hele tyd met jou. Toe jy as ’n baba in die visserbootjie beland het, het ek die boot tot voor die visserman se huisie gestoot, sodat iemand jou kon grootmaak. Ek was die kat wat jou tussen die grafte geselskap gehou het en die jakkalse verdryf het. Ek het jou en jou vriendin gejaag, sodat julle moeë perde betyds by die koning kon uitkom.’
Skielik het ’n goue lig die duisternis verdryf. Die lig het van die leeu af gekom. Aslan was groter as Shasta se perd. Shasta het hom tegelykertyd oor die leeu verbly en hom gevrees. Hy kon nie anders as om van sy perd af te klim en voor die leeu se voete te val nie. Maar toe hy opkyk, was die leeu weg. Hy het net groen bome gesien en die voëls het gesing.7
As Jesus eendag jou storie vertel, sal jy weet Hy was elke tree van die pad met jou en het jou nooit verlaat nie: “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie” (Heb. 13:5). Laat hierdie gedagte jou kragte vernuwe en met nuwe moed vul. Jesaja 40 sê:
26 Kyk boontoe en sien!
Wie het hierdie dinge geskep?
Dit is Hy wat die hemelse leër
een vir een uitlei,
hulle almal op die naam roep.
Deur die toedoen van Hom
wat groot vermoëns
en geweldige krag het,
ontbreek nie een nie.
27 Waarom sê jy dan, Jakob,
en beweer jy, Israel:
“My lewenspad is verborge
vir die Here,
my reg gaan by my God verby”?
28 Weet jy dit nie?
Het jy dit nie gehoor nie?
’n Ewige God is die Here,
Skepper van die eindes
van die aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie—
ondeurgrondelik is sy insig.
29 Dit is Hy wat vermoeides krag gee,
wat lewenskrag vermeerder
vir dié wat geen vermoëns het nie.
30 Jong seuns word moeg
en raak afgemat;
jong manne struikel en val.
31 Maar wie op die Here wag,
herwin hulle krag;
hulle kry nuwe vere soos arende.
Hulle hardloop,
maar raak nie afgemat nie,
hulle loop,
maar word nie moeg nie.
2. God openbaar Homself (v.4e-f)
’n Paar honderd jaar voor Agur het die storie van Moses by die brandende bos in sy tuisland Arabië plaasgevind (Eks. 3:1, Gal. 4:25). Vir seker moes hy die storie deur mondelinge oorlewering hoor, maar hy het dit ook op skrif gehad (v.5-6, 8-9).
In die brandende bos het God Homself as yhwh: ek is wat ek is aan Moses bekend gemaak (Eks. 3:14-15). So het Agur God leer ken (v.9). ek is beteken Hy het nie ’n verlede of ’n toekoms nie; Hy is die ewige nou. Hy sal altyd ek is bly wat beteken Hy verander nie. Ons benodig suurstof, kos, water, slaap en God om te lewe. God het niks nodig nie, maar bestaan in Homself. Hy is die absolute realiteit: ek is.8
Eks. 3:2, 6 beskryf ek is as die Engel van die Here, die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is tegelykertyd die Here en die Engel van die Here. Dit beteken nie daar is twee Here’s nie. Twee kan nie ewig en die absolute realiteit wees nie. Een sal die ander een en uitstoot, sodat een van hulle God is en die ander een nie. Agur het geweet God en sy Seun is een Skepper met dieselfde Naam (v.4, Matt. 28:19, Joh. 10:30).
Moderne Jode stem nie saam nie. Hulle dink die seun van God in v.4 verwys na Israel of Salomo.9 Dit is waar dat die Bybel Israel en Salomo God se seun noem (Eks. 4:22, 1Kron. 28:6). Maar nie in dieselfde sin as Jesus nie. Vir Agur is God se Seun die onpylbare Skepper en daarom God se gelyke (v.4, vgl. Joh. 1:1-3, 5:17-18, Kol. 1:15-16). Dit beteken die hele internet en al ons kennis van wetenskap, sielkunde, die geskiedenis, ekonomie, regte, kuns, tale en meer is soos 1+1 in vergelyking met die kennis van God en sy Seun. Niemand ken Hom ten volle nie (v.1-4). Ps. 145:3 sê “sy grootheid is ondeurgrondelik.” Ons kennis van God kan altyd toeneem (2Pet. 3:18).
Streef daarna om Hom te ken. Die kennis van God begin by ontsag vir sy Naam (9:10). Wees nederig, dan sal Hy jou leer (Ps. 25:9, 14, esv). Ken Hom deur sy Seun, Jesus Christus (Joh. 1:18). Jesus en die Gees sal God in sy Woord aan jou openbaar (Matt. 11:25, 27, 16:17, Luk. 24:45, 1Kor. 2:10). Kry ’n Bybelleesplan op die internet. Party mense is al vir 20 jaar Christene, maar het nog nooit die Bybel deurgelees nie. Probeer dit hierdie jaar en skryf neer wat jy van God leer. Dink na oor sy karakter en bewonder Hom. Probeer een van die volgende boeke oor God lees:
Knowing God deur J.I. Packer.
Knowing Christ deur Mark Jones.
Delighting in the Trinity deur Michael Reeves.
The Holiness of God deur R.C. Sproul.
The Holy Spirit of Communion with God deur John Owen.
Die kennis van God sal jou lewe verander. Sit Hom in die senter van jou denke. Jy sal sien hoe dit jou huwelik, ouerskap, emosies, gewoontes, woordeskat, vriendskappe, werk, vermaak, ensomeer transformeer.
Jy is soos ’n vissie wat die see soek, maar ophou soek toe hy besef hy is in die see. Tog het hy nie opgehou soek nie. Toe hy hoor die see is ’n triljoen keer groter as hy, het hy dit onmiddellik begin verken.
En God is oneindig keer groter as die see.
1 https://biblehub.com/hebrew/4853.htm (toegang verkry 7 November 2023). Massa’ is moontlik ook ’n pleknaam in Arabië wat wys dat Agur uit Ismael se nageslag afstam (Gen. 25:14).
2 Benjamin Davidson, Analytical Hebrew and Chaldee Lexicon of the Old Testament (Florida: Mac Donald Publishing Company, n.d.), XXIII אִיתִיאֵל en https://biblehub.com/hebrew/384.htm (toegang verkry 7 November 2023).
3 Davidson, ibid., XXIV, אֻכָל en https://biblehub.com/hebrew/401.htm (toegang verkry 7 November 2023).
4 ’n Effense ander uitspraak van v.1 in die Hebreeus lewer hierdie betekenis. Ou Hebreeus het nie vokale nie, wat maak dat v.1 meer as een betekenis kan hê.
5 Jacobus de Voragine (c. 1230-98), The Golden Legend (Cambridge: University Press, 1914), 105-6. William Caxton (c. 1422-91) het die boek uit Latyn in Engels vertaal. Blykbaar is die legende van Augustinus op die strand nie eie aan De Voragine nie; Caxton het dit bygevoeg.
6 https://www.thegospelcoalition.org/course/the-god-who-is-there/ (toegang verkry op 28 Desember 2023).
7 C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and His Boy (New York: NY, HarperCollins Publishers, 1954), 280-2.
8 Sien John Piper, Providence (Wheaton, Illinois: Crossway, 2020), 90-2 vir ’n uitstekende verduideliking van God se Naam in Eks. 3:14-15.
9 https://jewsforjudaism.org/knowledge/articles/is-jesus-the-son-that-is-referred-to-in-proverbs-304 (toegang verkry 28 Desember 2023).