2Tessalonisense 3:6-18
Ek sien gereeld lui mense wat op die sypaadjie sit (of slaap) en wag dat werk uit die lug moet val. Ek kry ook te doen met boemelaars wat die hele dag rondgaan en niks doen nie, maar kwaad raak as jy nie vir hulle geld gee nie. Ongelukkig gebeur dit nie net in die wêreld nie, maar in die kerk. Dit is hoekom Paulus 2Tess. 3:6-18 geskryf het.
- Vermy lui mense (v.6)
Baie mense oortuig hulleself dat hulle beste vriende kan wees met iemand wat in sonde lewe en dat dit hulle nie negatief sal beïnvloed nie. Maar volgens die Bybel sal hulle sonde ‘n effek op jou hê (Spr. 13:20, 22:24-25, 1Kor. 15:33). Daarom moet jy hulle liewer vermy.
Ek praat nie hier van ongelowiges nie, aangesien jy ‘n verhouding met hulle moet bou om hulle vir die Here te wen. Ek verwys eerder na mense wat bekend staan as Christene, maar wat in sonde lewe (1Kor. 5:9-11). In die konteks van 2Tess. 3 gaan dit oor lui mense (v.6). Dit gaan hier oor ‘n ongedissiplineerde leeglêer. Hy is soos ‘n soldaat wat nie in pas is met die res van die peleton nie [Gk. atakōs]. As almal links draai, draai hy regs. Hy doen dit ook nie net één keer nie—dit is sy lewenswandel (v.6).
Die rede hoekom hy vir jare nie werk kry nie, is omdat hy nie werk soek nie. Hy het ‘n honderd slim verskonings vir hoekom hy nie werk het nie (Spr. 26:13). As jy hom wil reghelp, weet hy van beter (Spr. 26:16). Selfs as hy werk kry, verloor hy dit gou, omdat hy ‘n slegte werker is (Spr. 10:26). Hy is té lief vir slaap (Spr. 6:9, 26:14). Hy lewe vir die oomblik en dink nie aan die toekoms nie (Spr. 6:6-8, 20:4). Hy bly by ander mense en verwag dat húlle vir hom moet sorg. Iemand moet nog sy bed opmaak en vir hom kos aandra. Hy wil letterlik alles op ‘n skinkbord hê en is nie bereid om daarvoor te werk nie (Spr. 13:4). Dikwels kan jy aan iemand se vuil en deurmekaar voorkoms, huis, tuin, kar, ens. sien dat hy lui is (Spr. 24:30-34).
Volgens Paulus moet jy hierdie persoon vermy (v.6). Dit is nie net Paulus se opinie nie, maar Jesus se mondelinge lering en oorlewering deur hom (v.6, 4, 10, 2:15, 1Tess. 2:13, 4:8, 15). Jesus het sy dissipels geleer om die tyd uit te koop en hard te werk (Joh. 9:4, vgl. Ef. 5:16). Hy het deur sy voorbeeld vir hulle gewys hoe (Mark. 1:32, 35, 3:20, 6:31).
‘n Gelowige wat dus lui is, is nie soos Jesus nie. Vermy hom, omdat hy ‘n slegte getuienis is vir die evangelie en omdat hy jou sleg sal beïnvloed. As jy hom nie vermy nie, sal hy die idee kry dat sy luiheid aanvaarbaar is.
- Leer by hardwerkende mense (v.7-9)
Iemand wat ‘n slegte voorbeeld is, sal jou negatief beïnvloed. Net so kan toegewyde Christene se voorbeeld jou positief beïnvloed. Om tussen sulke mense te wees, is soos om in ‘n spesery-winkel te wees totdat jy na speserye ruik.
Paulus en sy span het vir die Tessalonisense ‘n voorbeeld gestel van hoe om hard te werk (v.7, 9). Hulle was nie bedelaars wat verwag het ander moet kos in hulle monde sit nie (v.8). Hulle het hard gewerk en lang ure ingesit (v.8, vgl. Neh. 4:21). Dit het inspanning geverg om dag en nag te werk (v.8, Hand. 20:31, 34-35, 1Tess. 2:9, 3:10). Paulus het na-ure tente gemaak vir ‘n inkomste, omdat hy nie ‘n las vir die gemeente wou wees nie (v.8, Hand. 18:3, 2Kor. 11:7-9). Hy kon geld gevra het as hy wou. Dit is immers God se wil dat die gemeente hulle leraar en sendelinge moet ondersteun (v.9, Luk. 10:7, 1Kor. 9:6-14, 1Tim. 5:17-18). Paulus wou egter vir die gemeente ‘n voorbeeld stel van hoe om hard te werk en nie te verwag dat ander ons moet onderhou nie (v.9, Gen. 1:28, 2:15, Eks. 20:6, 1Tess. 4:12).
Die les is dat leiers hard moet werk en nie lui moet wees nie. Hulle moenie net die gemeente van die kansel af leer nie, maar ook deur hulle voorbeeld (v.7, 9, 1Kor. 4:16, 11:1, Fil. 3:17, 4:9, 1Tess. 1:6, 2Tim. 3:10, Heb. 13:7, 1Pet. 5:3, kontra Matt. 23:2-3). Hulle moet dus nie tot 10:00 in hulle nagklere wees, of elke dag gholf speel, terwyl die res van die lidmate werk nie. Alhoewel hulle nie werkslawe moet wees nie, moet hulle van die oggend tot die aand werk soos die res. Hulle kan tog nie vir die lidmate sê: ‘Jy moet hard werk,’ terwyl hulle self lui is nie.
- Moenie lui mense help nie (v.10)
‘n Paar jaar gelede was daar ‘n ariktel in die koerant van ‘n ryk man wat ‘n Lamborghini gekoop het vir ‘n boemelaar. Maar om ‘n lui man te help, sterk hom in sy kwaad. Dit leer hom dat hy niks hoef te doen nie, omdat iemand anders dit vír hom sal doen.
Juis om hierdie rede moes Paulus die gemeente leer om nie lui mense te help nie (v.10). Hy het dit al vir hulle geleer toe hy nog by hulle was (v.10). Die feit dat hy die les moes herhaal, wys dat hulle dit nie ter harte geneem het nie. Was hulle luiheid miskien ‘n verkeerde reaksie op Paulus se lering oor die wederkoms? Het hulle gedink: ‘Omdat Jesus enige oomblik weer kan kom, moet ek my werk bedank en wag dat Hy ons kom haal’? Wat die rede ook al was, Paulus moes hulle luiheid aanspreek (v.10). Ons moenie anders doen nie. As iemand lui is, moet ons hom nie help nie. Ons geld is immers nie ons eie nie, maar die Here s’n.
Die lui persoon in v.10 verwys nie net na iemand wat laat slaap en vir die res van die dag op die bank lê en TV kyk nie. Party lui mense is baie besig, maar nie om werk te soek nie. Hulle hou hulle op met allerhande skemas om gou ryk te word. Gevolglik gryp hulle nie die geleentheid aan as iemand vir hulle werk aanbied nie. Hulle sal eerder nié ‘n werk hê nie, as om (bloot!) R7000 per maand te verdien. Dus verwag hulle eintlik dat iemand anders elke maand R7000 moet uithaal om vir hulle te sorg. Hulle wil die geld gratis hê eerder as om daarvoor te moet werk.
Hulle oortuig hulleself dat hulle in groot aanvraag is en dat iemand nog net die diamant in hulle moet raaksien. Paulus se opdrag aan sulke mense is duidelik: hou op rondsit en kry vir jou ‘n werk.
As die persoon dit nie wil doen, moet ons hulle nie met brandstofgeld, blyplek, kos, of iets anders help nie (v.10). Moet ook nie vir hulle sê dat die Here hulle sal help nie, want Hy sal nie (v.10). Hulle moet werk. Indien die persoon hard werk en nog steeds sukkel, moet die gemeente hom help (Matt. 25:37, 40, Gal. 2:10, 6:10, Jak. 2:15-16, 1Joh. 3:17).
- Bepaal jou by jou eie sake (v.11-12)
As iemand alles van almal weet, is dit omdat hy niks het om te doen nie en tyd het om uit te vis. In plaas daarvan dat hy werk en hom met sy eie sake ophou, bemoei hy hom met ander s’n (v.11, 1Pet. 4:15). Dit is presies wat in Tessalonika gebeur het en daarom moes Paulus party van hulle aanspreek (v.11-12, 1Tess. 4:11-12). Sy opdrag geld ook vir ons. Wees besig met jou werk. Dit geld of jy nou ‘n werkende persoon, ‘n skolier, ‘n huisvrou, of afgetree is. God het jou geroep om te werk, al is dit om te studeer, wasgoed op te hang, blomme te plant, of vir sendelinge te bid en vir hulle briewe te skryf.
Dit is omdat party mense dit nié doen nie, dat hulle tyd kry om van huis tot huis tee te drink en te skinder (1Tim. 5:13). Juis om hierdie rede beveel en vermaan Paulus die leeglêers om hulle by hulle eie sake te bepaal, om hard te werk en om ‘n salaris te verdien, eerder as om op ander mense se nekke te lê (v.12).
- Dissiplineer lui mense (v.13-15)
‘n Vriend van my moes onlangs hulle kerk aanboord kry om ‘n lui man uit die gemeente te verwyder. Uiteindelik is dit wat moet gebeur as hierdie mense hulle nie wil bekeer nie. Ons moet egter eers ‘n pad met hulle stap (1Tess. 5:14). Terwyl ons dit doen, moet ons nie toelaat dat hulle al ons tyd, energie en vreugde tap, sodat ons niks oor het om goed te doen aan ander nie (v.13, vgl. 1Kor. 15:58, Gal. 6:9).
Om regtig die lui persoon te help, moet ons hom dissiplineer. As hy nie ag gee op wat Paulus in hierdie verse sê nie, moet ons vir die gemeente sê wie hy is en hom vermy (v.14, 6, Matt. 18:17a, Rom. 16:17, 2Tim. 3:5, Tit. 3:10). Sodoende keer ons dat sy invloed verder versprei en sal die res van die gemeente ook bang wees om dieselfde pad te stap (1Kor. 5:6, 1Tim. 5:20). Die lui persoon sal ook skaam voel, sodat hy hopelik tot sy sinne kom en hom bekeer (v.14).
Volgens Paulus doen ons dit nie omdat ons hom as ‘n vyand beskou nie, maar omdat ons hom as ‘n broer wil waarsku (v.15). Dit klink streng en is ook. As ons ligter stappe neem, sal die persoon dink dat sy sonde nie so ernstig is nie en sal hy daarmee aanhou. En as hy lank genoeg aanhou, sal sy sonde van luiheid na ander sondes toe lei. As ons nie ‘n stok voor sy luiheid steek nie, sal hy met mense begin baklei omdat hulle hom nie wil help nie. Hy sal die bietjie geld wat hy het uitdobbel. As die persoon desperaat genoeg is, sal hy selfs bedrog pleeg, steel, of moord pleeg om geld te kry. Verstaan jy nou hoekom ons drastiese stappe moet neem om die persoon te help?
- Wees in die Woord en gebed (v.16-18)
Het jy al ooit Matt. 18:19-20 in ‘n biduur gebruik: “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”?
Ek het al. Natuurlik ís die Here met sy kinders en antwoord Hy ons as twee of drie van ons oor ‘n saak bid. Maar Hy doen dit ook as daar net een is wat bid. Eintlik gaan Matt. 18 oor kerktug. Die punt is dat Jesus die twee of drie getuies in ‘n tugsaak sal help as hulle sy hulp vra. Hy wat die Here van vrede is, sal aan hulle sy vrede gee (v.16). Omdat hulle sy kinders is, sal Hy hulle altyd en in alle omstandighede sy vrede gee (v.16, Joh. 14:27, Rom. 5:1, 15:13, Gal. 5:22). Hy stuur nie net sy vrede nie, maar is self by hulle teenwoordig (v.16).
Wat v.16 en Matt. 18 dus vir ons wil leer, is dat die Here is mét ons is, selfs wanneer ons moeilike dissipline sake moet hanteer.
Iemand wat lui is, of in enige ander sonde leef, kan nie hierdie vrede, of die Here se teenwoordigheid ten volle geniet nie. Ek sê nie dat die persoon noodwendig ongered is nie, maar as jy ongehoorsaam lewe, kan jy nie ‘n oop verhouding met die Here hê nie.
Bekeer jou dus van jou luiheid en van elke ander sonde. Vra die Vader om jou op grond van sy Seun se kruisdood te vergewe. Lees dan die Bybel om te sien wat die Here van jou verwag t.o.v. van harde werk en ander areas van jou lewe. Spreuke is ‘n goeie plek om te begin.
Terwyl die Bybel lees, hoef jy nie te twyfel of dit waar is nie. Dit is waar, selfs al sê party mense dat Paulus nie regtig die briewe geskryf het wat sy naam dra nie (vgl. 2:2). Hulle praat onsin. Paulus het nou wel ‘n sekretaris gehad aan wie hy voorgesê het (Rom. 16:22), maar hy het sy briewe persoonlik onderteken om te wys dat dit van hom af kom (v.17, 1Kor. 16:21, Gal. 6:11, Kol. 4:18). Die punt is dat jy jou Bybel kan vertrou. Lees dit en glo wat daarin staan. Laat die Bybel jou ook help om te besef dat gewoontes soos luiheid sonde is en dat dit vir die Here saakmaak hoe jy jou werk doen.
Vir die Here is dit dus nie net belangrik dat jy jou Bybel lees en gereeld by die kerk is nie, maar dat jy jou huiswerk goed doen; dat jy jou baas eerbiedig; dat jy eerlik, noukeurig en hard werk; dat jy die beste sekretaresse, rekenmeester, prokureur, onderwyser, ingenieur, of programmeerder is wat jy kan wees.
Dit is o.a. hoekom Jesus gekom het, nie waar nie: sodat jy die Here met jou hele lewe kan verheerlik (1Kor. 10:31)? Jy kan dit nie in jou eie krag regkry nie; jy het die Here se genade nodig (v.18, 2Kor. 13:13). As jy Hom vra, sal Hy dit vir jou gee. Hy het dit vir wyle Martin Holdt gedoen. Voor sy bekering was Martin Holdt lui, maar na sy bekering het die Here hom verander. Hy het hard begin werk. Hy het gewerk met die registrasie van besighede en het vir die kliënte gesê dat die registrasie binne 'n dag afgehandel sou wees. Hulle kon dit nie glo nie, omdat dit gewoonlik twee weke geneem het.
Toe sy baas dit agterkom, het hy hom ingeroep en gesê: ‘Holdt, jy het verander. Wat het met jou gebeur?’ Martin het vertel dat hy tot bekering gekom het. Die baas het hom gevra om dadelik op te hou om die registrasies vinniger af te handel, omdat die kliënte dit dan van almal sou verwag. Martin het bedank, maar ten minste het sy ongelowige baas gesien dat hy hom van sy luiheid bekeer het en dat hy ‘n ander mens is. Kan ongelowiges aan jóú toewyding, eerlikheid en harde werk sien dat jy Christen is?