Toe ek 9 jaar oud was het my juffrou ‘n formule op die bord geskryf (te ingewikkeld vir my jong brein!) om te wys dat Nelson Mandela die 666 is. Toe hy in die tronk was, was sy nommer 46664 (mense vergeet egter dat sy nommer nie 666 was nie, maar 46664).
Deur die eeue het mense gedink dat die 666 die Pous, Adolf Hitler, Henry Kissinger, Martin Luther, of iemand anders is. My jeugleier het gedink dat dit VISA bankkaarte is. Ander dink dat dit ‘bar codes’ is.
Maar as ons die teks van nader bekyk, sien ons dat die bg. opsies almal die bal mis slaan. Hoe moet ons dan die 666 verstaan? Wie is die Antichris? En wie is die vals profeet wat vir hom gewerk het? Maak asb. jou Bybel oop by Op.13:11-18.
1. Die vals profeet (v.11-15)
[1] Sy beskrywing (v.11)
Hoekom sit ‘n hengelaar wurms of kunsaas aan sy hoek? Hoekom sit jy grondboontjie botter of kaas in die muisvalletjie? Is dit nie om jou ‘prooi’ uit te lok, sodat jy hom kan vang nie? Net so het die dier in v.11 homself as ‘n lam vermom, sodat hy meer slagoffers in sy strik kon vang (vgl. Mt.7:15).
Johannes het gesien dat hy uit die land of aarde [Gk. gē] uit opkom (v.11). Net soos wat die see in Openbaring dikwels na die nasies oorkant die see verwys (17:15, Jes.17:12), verwys die land dikwels na Israel in die Beloofde Land. Die eerste dier in v.1-10 het die Romeinse Ryk met haar keisers voorgestel (vgl. 17:9-12), terwyl die dier uit die land die afvallige Jode en haar geestelike leiers voorgestel het.
Die dier uit die land het twee horings soos ‘n lam gehad en het soos ‘n draak gepraat (v.11). Om mense te mislei het hy die Lam van God na-aap (5:6). Hy het egter die draak of duiwel verteenwoordig en het namens hom gepraat (12:9). So was dit met die Judaïstiese vals leraars en die vals messiasse wat gemaak het of hulle vir die Here werk, terwyl hulle eintlik aan die duiwel behoort het (Mt.24:24, 2 Kor.11:14, Galasiërs).
Dít is dan die tweede dier of vals profeet (16:13, 19:20, 20:10) van wie Johannes in v.11 gepraat het: die Joodse leiers. Uiterlik het dit gelyk of die Jode en haar leiers aan die Here behoort het, maar innerlik was hulle kinders van die duiwel wat die Messias en sy dissipels vervolg het (Rm.2:28-29, Jh.8:44).
[2] Sy gesag (v.12)
In die 1500’s het Kardinaal Wolsey namens die Pous in Engeland regeer. Hy was ‘n diktator wat talle gelowiges laat doodmaak het. Net so het die tweede dier in Op.13 namens die eerste een regeer en die gelowiges vervolg.
Hy het sy gesag by hom gekry, en het namens hom en in sy teenwoordigheid regeer (v.12). Wat beteken dit? Die Joodse leiers het met die Romeine se gesag en in hulle teenwoordigheid teen Jesus en sy volgelinge gewerk (Jh.18-19, Mt.27:62-66, Hd.21-28, 4:27, 14:19, 17:5, 18:12-17). Hulle het die bewoners van die Beloofde Land aangehits om die keiser bo die Messias te kies (Mt.27:20, Jh.19:15). So het Israel haar trou aan Rome gesweer (v.12, 4).[1]
[3] Sy werke (v.13-15)
Die tweede dier het groot tekens gedoen. Voor die volk het hy vuur uit die hemel laat neerdaal en baie ander tekens gedoen (v.13). So het hy hulle mislei om te dink dat hy ‘n profeet van God is (11:5, 1 Kon.18:38, 2 Kon.1:10, 12). Soos die towenaars van Egipte was hy besig met vals tekens en oëverblindery om mense van die Here af weg te draai (Hd.8:9-11, 13:6-8, 19:13, 2 Ts.2:9, vgl. Eks.7:11, 22, 8:7).
Josefus, die Joodse geskiedkundige wat in die eerste eeu geleef het, vertel van sulke vals profete en messiasse wat opgetree het voordat die tempel in 70 n.C. deur die Romeine verwoes is.[2] Hy sê dat die Joodse onderdrukkers talle vals profete omgekoop het om vir die volk te sê dat God hulle uit die hand van die Romeine gaan verlos.[3]
Hy vertel van een vals profeet wat ‘deur ‘n opdrag van die Here’ vir die volk gesê het om op die tempel te klim. Omtrent 6000 mense het hom gevolg en in die vertrekke van die buitehof gaan skuil. ‘Die Here sal vir ons ‘n wonderteken gee om te wys dat Hy ons van die Romeine gaan verlos,’ het hy gesê. Die Romeinse soldate het die tempel aan die brand gesteek, sodat almal wat binne was gesterf het.[4]
Jesus het die dissipels teen sulke vals profete en hulle nagemaakte wonderwerke gewaarsku (Mt.24:24). Hy het toegelaat dat die duiwel die vals profete aangehits het om met hulle sg. wonderwerke dié te mislei wat die Messias en sy evangelie gehaat en verwerp het (v.14, 12:9, 2 Ts.2:11-12, Dt.13:1-3). Hy het toegelaat dat die tweede dier ‘n beeld van die eerste dier maak en asem daaraan gee, sodat dit namens die eerste dier gepraat het (v.14-15). Wat beteken dit?
Ek dink nie Johannes praat hier van ‘n beeld wat van klip of yster gemaak is nie. God het sy asem in die mens ingeblaas en hom na sy beeld gemaak (Gn.1:26-27, 2:7). So het die tweede dier (die Joodse leiers) die volk beïnvloed om ‘n beeld van die goddelose wêreld (die eerste dier of die Romeinse Ryk) te wees (v.14). Deur die invloed van haar leiers het die Jode soos die duiwel en die wêreld – die eerste dier en die draak – gepraat (v.15, 11). Israel was ‘n handpop van hierdie Sataniese buikspreker, ‘n beeld of inkarnasie van goddelose Rome.
Dié wat nie die dier se beeld aanbid het en soos die wêreld gelewe het nie, is doodgemaak (v.15, Dn.3, kontr. Op.14:10-11). Die Jode het talle van die Here se kinders aan die Romeine oorgegee (v.15, 20:4, 16:2, 6, vgl. Jh.18-19, Hd.21-28).
2. Die Antichris (v.16-18)
[1] Die merk van die dier (v.16-17)
Aan die einde van my laerskool loopbaan het mense gesê dat die merk van die dier reeds in Alberton in mense se hande ingeplant word. Maar is dit regtig wat Johannes en die eerste lesers in gedagte gehad het?
Volgens v.16-17 moes elke mens die eerste dier se naam en nommer op sy regterhand of voorkop gekry het: groot en klein, ryk en arm, slaaf en vryman. Hierin het hy die Here na-aap wat in 14:1 en 7:3 sý kinders op hulle voorkoppe verseël het. Soos wat ‘n boer sy beeste brandmerk, het mense in Johannes se tyd hulle slawe gebrandmerk. Die merk in v.16 wys dan dat hierdie mense aan die draak en die dier – Satan en die bose wêreldsisteem – behoort het (Jh.8:44, 1 Jh.5:19, kontr. Jes.44:5).
Die rede hoekom hulle op die regterhand en voorkop gemerk moes word, was om te wys dat al hulle gedagtes en dade deur die duiwel en die wêreld beïnvloed is (kontr. Dt.6:8). Ja, die Jode het soos die goddelose Romeine begin dink en doen. Dié wat nie saam met die stroom gegaan het nie, is ekonomies benadeel (v.17). Christene het hulle werke en geleenthede om handel te dryf verloor (v.17, 2:9). Omdat hulle nie die (ken)merk van ‘n ongelowige gehad het en soos die wêreld geleef het nie, het die Jode hulle uit die sinagoges verban en het die samelewing hulle uitgeskuif (Jh.15:18-20, 16:2).
[2] Die getal van die dier (v.18)
In Johannes se tyd was daar nie nommers nie. In Grieks, Hebreeus en Latyn het elke letter van die alfabet ‘n getalwaarde gehad.[5] ‘n Antieke boodskap teen ‘n muur in Pompeii lees bv.: ‘I love her whose number is 545.’[6] Baie van ons weet hoe hierdie getalwaarde in Latyn werk: I is 1, V is 5, X is 10, L is 50, C is 100, D is 500, en M is 1000.
In Hebreeus is die getalwaarde van keiser Nero se naam 666. Die Jode spel sy naam Nrwn Qsr (in Hebreeus is daar nie vokale nie). Die waarde van elke letter lyk soos volg: N = 50, R = 200, W = 6, N = 50, Q = 100, S = 60, en R = 200. Die totale getalwaarde is dan 666.[7]
Baie van die vroegste kommentators op Openbaring het gedink dat Nero die dier van Op.13 is.[8] In Latyn is die getalwaarde van sy naam 616. Is dit toevallig dat sommige ou manuskripte die getal so weergee (sien bv. die voetnota in die English Standard Version)?
Let asb. op dat die persoon wat wysheid gehad het, die dier se getal kon uitwerk (v.18). Johannes het nie gesê dat hulle die dier se naam moes uitwerk nie. Die implikasie is dat die eerste lesers sy naam geken het, en dat hulle met ‘n paar somme kon verstaan het hoekom Johannes vir hom die nommer 666 gegee het. Sy getal het uit drie sesse bestaan om te wys dat hy nooit by die Here se volmaakte sewe kon uitkom nie. Hy het gedink dat hy God is (v.1, 5-6, 2 Ts.2:4), maar eintlik was hy net ‘n mens in die persoon van keiser Nero (v.18).
Nero is die dier wat, volgens Apollinus van Tyana (4 v.C. – 96 n.C.), erger was as enige wilde dier.[9] Hy het mans en vroue verkrag, sy eie familie vermoor, sy swanger vrou dood geskop, en mense gedwing om voor hom selfmoord te pleeg.[10] Is dit enige wonder dat Johannes hom as ‘n dier of monster beskryf het?
‘Maar hoekom sou Johannes die Hebreeuse getalwaarde gegee het as hy Openbaring in Grieks geskryf het?’ wonder iemand. Johannes het op meer as een plek in Openbaring Hebreeuse name gebruik (9:11, 16:16). Die rede hoekom hy dit in dié vers gedoen het, was om die eerste lesers in die sewe gemeentes te beskerm. As Johannes die dier se getal in Grieks of Latyn gegee het, kon die Romeinse soldaat wat hom op die eiland opgepas het en die brief afgelewer het (1:9), maklik uitgewerk het dat dit Nero was. Dit sou die gelowiges se lewens in gevaar gestel het, en daarom het Johannes die Hebreeuse getalwaarde van Nero se naam gebruik.
Hoe moet ons prakties op hierdie hoofstuk reageer? Ek ontken nie dat die bose wêreld ons sal vervolg, ons ekonomies sal benadeel, en sal probeer om ons van die Here af weg te rokkel nie (v.15-17). Ek ontken ook nie dat die duiwel vals profete sal stuur om mense met nagemaakte wonderwerke te mislei nie (v.13-14). Dink maar aan die vals wonderwerke onder die Prosperity-, Pinkster- en Charismatiese bewegings, toordokters in die Afrika tradisie, en die Rooms-Katoliekekerk wat die bygelowige massas hiermee mislei.
En tog dink ek nie dat ons hierdie dinge as ‘n direkte vervulling van Op.13 moet sien nie. Ons hoef nie in vrees te lewe asof die Antichris – die 666 – êrens in die toekoms op die toneel gaan verskyn nie. Volgens Johannes het hy reeds in die eerste eeu in die persoon van keiser Nero verskyn (1:1, 3, vgl. 1 Jh.2:18). Die eerste lesers het immers sy naam geken, sodat hulle sy getal kon uitwerk (v.18).
Wanneer dit by Openbaring kom, is ek bevrees dat daar meer sensasie-gedrewe koerant-teoloë is as Bybelse teoloë. Baie mense lees Openbaring deur die bril van wêreldgebeure, eerder as om wêreldgebeure deur die bril van die Bybel te lees; hulle interpreteer die Bybel in die lig van wat in die wêreld aangaan, eerder as om wêreldgebeure in die lig van die Skrif te interpreteer. En dit terwyl ons eintlik by die Bybel moet begin, en nie by die nuus nie.
Wees daarom versigtig om nie na predikers, teoloë, kerke, outeurs, film-makers en boeke te luister wat dit verkeerd om het nie. Hoe kan jy weet of hulle Op.13 en ander leringe oor die eindtyd volgens die nuus interpreteer, en nie volgens die Bybel nie? Jy sal dit dadelik agterkom, omdat hulle preke en seminare meer fotos, statistiek, aanhalings en videos bevat, as ‘n vers vir vers uitleg van toepaslike Bybeltekste.
Hulle siening oor die eindtyd word gebasseer op dit wat die Verenigde Nasies en die Vrymesselaars doen, op die Illuminati en Amerika se politiek, en op dit wat in die Midde-Ooste gebeur (alles dinge wat hulle in Tim LaHaye en Jerry B. Jenkins se Left Behind boeke gelees het). Sou dit nie beter gewees het as hulle hulle eskatologie (siening oor die eindtyd) op ‘n deeglike eksegese van die Bybel gebasseer het nie? Wêreldgebeure verander tog, maar die Woord van God staan vir ewig vas.
Jy weet ook dat iemand Openbaring verkeerd interpreteer as die persoon maak of dit net vir ons tyd bedoel is, en hy nie die eerste lesers in ag neem nie. Een kommentator sê bv. dat die pratende beeld in v.15 na ‘n robot in die toekoms verwys.[11] Populêre boeke en films het ons oortuig dat die Antichris in die toekoms mikroskyfies in ons hande en voorkoppe gaan inplant. Maar het Johannes ‘n boek oor mikroskyfies en robotte geskryf, iets waarvan die eerste lesers in die sewe gemeentes (1:11, 22:16) nie ‘cookin’ clue’ gehad het nie? Ek twyfel sterk.
Dalk sê iemand: ‘Goed, ek gee toe dat die 666 keiser Nero is. Maar Op.13:11-18 sal homself in die toekoms herhaal. Ons weet tog uit Dn.2 dat daar in die toekoms ‘n herleefde Romeinse Ryk sal wees.’
‘I beg to differ.’ Volgens Dn.2:37-38 was Babilon die eerste ryk in Nebukadnesar se droom. Die Meders en die Perse het ná hom gekom, en daarna die Grieke. Na die Grieke was Rome die laaste ryk in Nebukadnesar se droom. Christus se Koninkryk het die standbeeld van hierdie wêreldryke getref en hulle verpletter. Christus se Ryk het as ‘n klein rots begin toe Hy op die aarde was, en sal tot by die wederkoms groei, sodat dit ‘n berg word wat die hele aarde vul. Volgens Dn.2:44 sal daar nie ‘n koninkryk wees wat op syne volg nie, ook nie ‘n herleefde Romeinse Ryk in die vorm van die Rooms-Katoliekekerk nie.
Dalk het ek jou nie van my siening oortuig nie. Ek het ook nie gedink dit gaan maklik wees nie, veral omdat die meeste mense al vir soveel jare geglo het dat die 666 in ons leeftyd gaan kom. As jy dit nogsteeds glo, wil ek ten minste vir jou sê om nie in vrees te lewe nie, “omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Jh.4:8).
As jy nie gered is nie, wil ek jou waarsku van Iemand wat gevaarliker is as die 666. Sy Naam is Jesus Christus. As jy jou van jou sonde bekeer en in Hom glo, sal Hy jou vergewe. Hy het ‘n baie groot liefde sondaars, en is bereid om die dood wat Hy op Golgota gesterf het te aanvaar asof jy die straf vir jou eie sonde gedra het. As jy egter besluit om met jou sonde aan te hou, sal jy na ‘n verskriklike plek toe gaan. Die bangmaak-stories wat jy oor die 666 gehoor het kan nie naastenby daarmee vergelyk word nie.
_________________________
[1] Sien my preek, Christene, keiser Nero, en die ANC vir ‘n verduideliking van die eerste dier se dodelike wond wat genees is.
[2] The Wars of the Jews: Book II, 13:5
[3] Ibid, Book VI, 5:2
[4] Ibid
[5] Die tegniese naam hiervoor is gematria.
[6] George Eldon Ladd, A Commentary on the Revelation of John, p.186
[7] Kenneth Gentry, Perilous Times, pp.127-128
[8] David Chilton, The Days of Vengeance, p.145
[9] Gentry, Ibid, pp.129-130
[10] http://brackenhurstbaptist.co.za/the-beasts-of-revelation/
[11] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, pp.356-357