Coram Deo Cover Image

Coming soon...

4 December 2021

Ons onwankelbare God

Psalm 46

Ek het onlangs by die Stormsriviermond gesit en kyk hoe die branders teen ’n rots slaan. Dit het geklink soos donderweer of een of ander ontploffing. Die water het maklik tien meter in die lug in geskiet. Jaar in en jaar uit slaan die branders teen daardie rots, maar dit beweeg nie. Die rots is onwankelbaar.

God is soos hierdie rots: onwankelbaar. Maar Hy is ook anders as die rots deurdat Hy nie stadig besig is om te erodeer nie. Om dit te weet is ’n troos, veral as die wêreld rondom ons rusteloos is en wankel.

 

1. Hy is ons toevlug (v.1-4)

Na die goeie reën aan die begin van 2021 het die Gariep dam oorgeloop, sodat hulle die sluise moes oopmaak. Net so loop ons emosies oor van lofgesange wanneer God se waarheid ons harte vul (v.1). Ons sien dit in hierdie Psalm. Die Koragiete uit die priesterlike stam van Levi het die Psalm vir sopraanstemme of alamoth geskryf (v.1, 2Kron. 20:19). Hulle sing van God as ’n toevlug, skuilplek of beskutting (v.2, Heb. machaseh). Moontlik gaan dit hier oor koning Sanherib van Assirië wat Jerusalem beleër het (2Kon. 18-19). Hy het gespog dat geen koning, nasie of hulle gode sy weermag kon stuit nie. In sy oë kon nie eers die Here hom nie stuit nie. Hy het dit vir Hiskia, die koning van Juda gesê. Hiskia was benoud en het die Here se Naam aangeroep. Die profeet Jesaja het Hiskia verseker dat Sanherib die stad nie sou binneval nie. Die Here sou met hom klaarspeel. God het sy belofte vervul en die stad gered.

En kan die Here dit nie nog steeds doen nie? Wie of wat omring, manipuleer, dreig, boelie of verskrik jou? “God is vir ons ’n skuilplek” (v.2).1 “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord.” (18:3).

Is jy nog ongered? Jy het geen skuilplek nie. Jy is soos ’n muis in ’n oop veld—die uile gaan jou vang. Of jy is soos ’n man wat in ’n oop stuk veld staan waar daar weerlig is. Jy is in gevaar. Vlug na Jesus toe. “’n Sterk toring is die Naam van die Here; die regverdige hardloop dit binne, en is onbereikbaar.” (Spr. 18:1). Die kruis is ons ligtoring waar die branders van God se toorn teen Jesus geslaan het. As jy deur geloof by Hom skuil, is jy veilig: “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie.” (Rom. 8:1).

Die Here is ook ons sterkte en bron van krag (v.2). Sy krag is onuitputbaar en oneindig (147:5, Jes. 40:28). Wanneer Hy ons van krag voorsien, word sy krag nie minder soos ESKOM s’n nie. Voel jy fisies, emosioneel of geestelik kragteloos? Kry jou krag by die Here; Hy is ons hemelse kragbron (Jes. 40:29, 31, Fil. 4:13). Hoe doen mens dit prakties? Maak gebruik van die rusdag wat die Here jou gee: “Ses dae lank moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy ophou werk, sodat jou beeste en jou donkies kan rus, en jou slavinne se seuns en die vreemdelinge kan asemskep.” (Eks. 23:12).

Sorg ook dat jy genoeg slaap (Ps. 127:2, Jer. 31:26); deur Christen vriende verkwik word (1Sam. 23:16, Rom. 15:32, 1Kor. 16:17-18, 2Tim. 1:16); deur die Woord en gebed in die groen weiding van Christus rus waar jy gemeenskap met Hom kan hê (Ps. 23:1-3, 19:8, 2Kor. 4:16, Ef. 3:16).

Wees rustig; moenie dat iets jou verskrik nie. Die Here staan gereed om jou in jou benoudheid te help (v.2). Die Hebreeuse werkwoord (matsa) beteken gevind of beproef. Dit kan beteken dat die Here altyd te vinde en naby is (vgl. ESV en 2020 Vertaling). Of dit kan beteken dat gelowiges die Here getoets en betroubaar gevind het (Ou Vertaling).

Die Here is inderdaad naby (Fil. 4:5). Uit God se Woord en persoonlike ervaring het Hiskia geweet dat die Here net ’n gebed ver is (2Kon. 19:20). God se kinders weet ook dat Hy beproef en getrou bevind is. Hy was nog nooit ontrou nie: “...in die ramp het hulle moed hulle begewe...al hulle vernuf was waardeloos. Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle uitgelei.” (107:26-28).

Toe Israel by die Rooi See was en daar vir hulle geen uitkoms was nie, het die Here die waters oopgekloof en hulle op droë grond deurgelei (Eks. 14). Toe ’n groot menigte teen koning Josafat opgetrek het, het hy gesê: “...ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, teen te staan nie. Ons self weet nie wat om te doen nie, maar op U is ons oë gerig.” (2Kron. 20:12). Die Here het daarvoor gesorg dat Josafat se vyande mekaar doodmaak.

Omdat die Here ’n betroubare skuiling is, is dit onnodig om te vrees (v.3, 2Kon. 19:6, Jes. 41:10, 13-14, 43:1, Luk. 12:4, 7, 32). Om te vrees wys dat jy ’n lae siening van God het. Het jy vergeet dat Hy groter as alles is? Waarvoor is jy bang? Wat is dit wat ’n beklemming op jou bors veroorsaak? Gaan soek vir jou ’n vers wat sê die Here is groter as dit. Memoriseer dit. Oordink dit. Glo dit en bid daaroor. Al sink die berge weg in die see en al raas die golwe—dit sal as skuim op die stand uitloop (v.4). Net so sal God die dinge wat jy vrees tot niks bring (2Kon. 19:22, 28). Dit geld ook vir die dood (Jes. 25:6-7, 1Kor. 15:54-55, Op. 21:4).

Die golwe swel en dit laat die berge bewe (v.4). Dit laat ’n mens vrees. So het die Assiriërs koning Hiskia en sy amptenare laat vrees (2Kon. 19:1-3). Maar hulle die Here nie laat wankel nie (v.2). “Selah,” sê die Psalmis in v.4. Blykbaar dui dit op ’n pouse in die musiek. ‘Stop en dink na,’ is die gedagte. Ek wil jou aanmoedig om dit te doen. Dink na oor wie God is. Dink aan die dinge wat jy vrees. Wie is groter? Hoekom sal jy dan nog vrees (v.3)?

 

2. Hy is ons rivier (v.5-8)

In die Soutpansberge naby Schoemansdal is daar ’n kristalhelder stroom. Gedurende ’n koorkamp het ons daar gestap en het ek uit die rivier gedrink. Die water was yskoud en soet.

Die Psalmdigter gebruik ’n soortgelyke beeld. In teenstelling met die woeste golwe van v.3-4 is die Here vir Israel soos ’n rivier in die tuin van Eden (Gen. 2:10). “Daar is ’n rivier—sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God” (v.5). “Hulle drink hulle versadig aan die oorvloed van u huis, uit die stroom van u genietinge laat U hulle drink. Ja, by U is die fontein van lewe” (36:9-10).

In Eseg. 47:1-12 lees ons van hierdie rivier. Dit ontspring in die tempel en vloei tot by die Dooie See. Oral waar dit vloei, bring dit lewe. In Op. 22:1-2 is God se troon die bron van die rivier. Dit gee lewe aan die Nuwe Jerusalem. Volgens Joh. 4:14, 7:37-39 is Jesus die waterbron van die rivier. Hy nooi ons om na hartelus by Hom te drink. Om dit te doen, verskaf vir ons groot vreugde (v.5) en dit bedaar ons vrese (v.3-4).

Hoe drink ’n mens uit die rivier om jouself te verkwik en in die Here te verbly? Jy doen dit deur gemeenskap met die Vader en die Seun deur die Heilige Gees (2Kor. 13:13, 1Joh. 1:3); deur die Woord en gebed (Ps. 1:2-3, Joh. 15:7, 16:11, 16:24, 17:13); deur gemeenskap met ander gelowiges (2Joh. 12). Rus in die Here wat in sy volk se midde in die Godstad is (v.5-6, 48:2, 87:3). In die Ou Testament verwys hierdie stad na Jerusalem met sy tempel. In die Nuwe Testament is dit die hemelse Jerusalem en die kerk. Waar gelowiges bymekaar is, is God in ons midde (Matt. 18:20, Op. 1:12-13, 20, 2:1). Ons is sy tempel (1Kor. 3:16).

Met die Here in ons midde, sal ons nie wankel nie (v.6). Soos Sanherib Jerusalem nie kon inneem nie (2Kon. 19:32-34), sal die hel self teen die kerk nie standhou nie (Matt. 16:18). Soos die Here Jerusalem teen dagbreek kom help het (v.6, 2Kon. 19:35), sal Hy toesien dat die son weer vir ons opkom (30:6, 34:20, Eks. 14:20, 27). Dit sal vir ’n laaste keer gebeur wanneer Jesus weer kom; wanneer die Dag aanbreek en die Môrester in ons harte opkom (2Pet. 1:19). Jesus sal kom om ons uit die bose wêreld te red (Heb. 9:28). So sal ons altyd by die Here wees.

***

Sanherib het gedink dat dit hy is wat die koninkryke skud (2Kon. 18:34). Volgens v.7 is dit die Here wat dit doen: “Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel, Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder.” Die stem wat alles gemaak het (33:6), is die stem wat alles verwoes (v.7, 2Pet. 3:10, 12). Sy koninkryk alleen sal bly staan: “Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig:

‘Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel.’ En hierdie uitdrukking ‘nog een keer’ wys op die verandering van die wankelbare dinge—aangesien hulle geskape is—sodat die onwankelbare dinge sal bly. Daarom, terwyl ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ’n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag.” (Heb. 12:26-28).

Die God wat hierdie dinge doen, is die Here van die leërskare of die hemelse weermag (v.8). Wat is Sanherib of China se weermag voor Hom? “Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, ‘Wat het U gedoen?’” (Dan. 4:35).

Hierdie God is met ons (v.8). Hy is vir ons ’n rotsvesting; hoog en buite die bereik van sy vyande (v.8, Heb. misgab). As ons dit net kan onthou, sal dit ons vrese oor Covid, die ‘conspiracyteorieë, bose regerings en baie ander dinge bedaar.

 

3. Hy is ons krygsman (v.9-12)

In C.S. Lewis se Narnia boeke is ’n leeu genaamd Aslan by verskeie oorloë betrokke. ’n Mens kan byna sê dat as Aslan brul, die oorlog verby is. So is dit ook met die God van Israel. Hy is ’n krygsman (Eks. 15:3) wat sy vyande met ’n woord vernietig (v.7, 9-10): “Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder... Kom kyk na die dade van die Here, Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen, wat oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde. Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese; waens verbrand Hy in die vuur.”

Dit het Hy met die Assiriërs gedoen: “Daardie nag het ’n engel van die Here uitgetrek en in die kamp van die Assiriërs honderd vyf-en-tagtigduisend neergevel. Toe die mense van Jerusalem vroeg die oggend opstaan, was hulle morsdood, almal lyke!” (2Kon. 19:35). Eendag sal Hy dit oor die ganse aarde doen (v.9-10). Daar sal ’n tyd van ongekende vrede wees:

“Hy sal regspreek tussen die nasies, die reg handhaaf vir talryke volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie; hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.” (Jes. 2:4).

“Ja, elke stewel wat stamp met ’n gedreun, en elke kledingstuk wat in bloed gerol is, is bestem vir verbranding, is kos vir die vuur. Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal Hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen.” (Jes. 9:4-6).

“’n Wolf sal by ’n lam vertoef, en ’n luiperd sal by ’n boklam gaan lê, ’n kalf, ’n jong leeu en vetgemaakte vee bymekaar—’n klein seuntjie sal hulle lei. ’n Koei en ’n beerwyfie sal saam wei, en hulle kleintjies sal saam gaan lê. ’n Leeu sal soos ’n bees gras eet. ’n Suigeling sal speel by die gat van 'n horingslang, en ’n kleuter sal sy hand uitsteek na die nes van ’n kobra. Mense sal nie kwaad doen of hulle wangedra nie—nêrens op my hele heilige berg nie; want die land sal vol wees van die kennis van die Here, soos water die see bedek.” (Jes. 11:6-9).

Wat moet ons hiervan sê? “Bedaar en erken dat Ek God is” (v.11). Dit geld vir die onseker en vreesagtige gelowige. Kom vind stille berusting in die Here (v.11). Vir die regering, volk en leier wat teen die Here opstaan, sy vuis vir Hom lig en soos die golwe woel (v.4), is v.11 ’n bestraffing: ‘Stilte!’ Dit is ook ’n bestraffing vir dié wat teen die Here lewe; wat Hom uitdaag en kwaad vir Hom is. ‘Stilte!’ sê Hy vir hulle.

Wat is die rede vir die gewoel in ons hart? Ons ken die Here nie soos ons moet nie: “Laat staan en weet dat ek God is...” (v.11, 1933). Ons is ongelowig: “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My.” (Joh. 14:1). Ons vergeet dat die Here verhewe is bo die nasies (v.11); dat Hy aan die regterhand van die Vader sit en oor sy vyande regeer, totdat Hy hulle ’n voetbank maak vir sy voete (110:1). Ons vergeet dat die Here alles wat verhewe is, sal verneder en dat Hy alleen verhewe sal wees in daardie dag (Jes. 2:17). Omdat ons dit vergeet, vrees ons mense en gehoorsaam ons nie verse soos Jes. 2:22, 51:12-13 nie:

“Hou op om julle te bekommer oor die mens; hy is net ’n asem in 'n neus! Ja, waarom moet met hom rekening gehou word? ... Ek, ja, Ek is die Een wat julle troos. Wie is jy dan dat jy bang is vir gewone mense wat sal sterf, vir mensekinders wat bestem is om soos gras te sterf, dat jy die Here wat jou gemaak het, vergeet—Hy wat die hemel oopgespan en die aarde gegrondves het— dat jy voortdurend, daglank, bewe vir die woede van die verdrukker wanneer hy daarop uit is om te verwoes? Waar is die woede van die verdrukker?” 

Het jy vergeet dat Jesus bo Assirië, Suid-Afrika, die VSA, China en elke nasie op aarde is en dat Hy oor hulle sal regeer (v.11, 2:8, 22:28-29, 72:11, 86:9-10, Jes. 45:22-23, Mal. 1:11)? Hoekom vrees ons as die onwankelbare God óns God is; as Hy Immanuel is, God met ons (v.12, 8, Matt. 1:23, 28:20)? Wanneer sal Rom. 8:31 ons belydenis wees: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?”?

Wanneer sal Psalm 46 ons belydenis wees soos wat dit vir Martin Luther was toe die Katoliekekerk haar tande vir hom gewys het? 

A mighty fortress is our God,

a bulwark never failing;
Our helper He,

amid the flood of mortal ills prevailing:
For still our ancient foe

doth seek to work us woe;
His craft and power are great,

and, armed with cruel hate,
On earth is not his equal.

 

Did we in our own strength confide,

our striving would be losing;
Were not the right Man on our side,

the Man of God’s own choosing:
Dost ask who that may be?

Christ Jesus, it is He;
Lord Sabaoth, His Name,

from age to age the same,
And He must win the battle.

 

And though this world, with devils filled,

should threaten to undo us,
We will not fear, for God hath willed

His truth to triumph through us:
The Prince of Darkness grim,

we tremble not for him;
His rage we can endure,

for lo, his doom is sure,
One little word shall fell him.

That word above all earthly powers,

no thanks to them, abideth;
The Spirit and the gifts are ours

through Him Who with us sideth:
Let goods and kindred go,

this mortal life also;
The body they may kill:

God’s truth abideth still,
His kingdom is forever.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

Kategorieë