Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 July 2021

Om Jesus meer lief te hê

Lukas 7:36-8:3

’n Sekere mnr. Welch van Suffolk in Engeland het by ’n tafel gesit en huil. Toe iemand vra hoekom hy huil, toe sê hy: ‘Want ek kan Jesus nie meer liefhê nie.’1 Hy het sy beperking as ’n sondaar besef en tog was dit sy begeerte om Jesus meer lief te hê. Wil jý Jesus meer liefhê? Luk. 7:36-8:3 sê vir ons hoe.

 

1. Oorvloedige liefde (7:36-50)

J.I. Packer het eenkeer gesê dat hedendaagse predikante oor teologie praat wanneer hulle bymekaar kom. Die Puriteine daarenteen het oor Jesus se soete liefde en hulle wonderlike gemeenskap met Hom gepraat.

Dit was ook die verskil tussen die Fariseër en die vrou in hierdie teks. Die Fariseër was teologies konserwatief (Hand. 23:8), maar het hulle tradisies by die Skrif gevoeg (Mark. 7:1-13). Hulle het in redding deur wetsonderhouding geglo (Matt. 23, Luk. 18:9-14, Fil. 3:4-6). Een so Fariseër het Jesus vir ete genooi (7:36). Toe Jesus sy plek by die tafel inneem, was dit nie soos as ons aansit vir ’n ete nie. Leonardo da Vinci se kunswerk van die laaste Paasmaal is verkeerd; Jesus en sy dissipels het nie op stoele gaan sit nie. Eerste eeuse Jode het op die linker elmboog by ’n lae tafel aangelê en met die regterhand geëet. Hulle voete het skuins na agter gewys. Terwyl Jesus by die tafel aanlê, toe kom daar ’n vrou in (7:37). Dit was nie ongewoon vir toeskouers om in te kom waar vername mense geëet het nie. Dit was egter ’n skok dat ’n slegte vrou of prostituut die vertrek binnegekom het (7:34, 37, Matt. 21:32). Sy het nie omgegee wat mense van haar dink nie; as sy net by die vriend van sondaars kon uitkom (7:34, 37).

Jesus is nog steeds die vriend van sondaars. Maar dan moet jy jou sonde bely. Vergeet van jou skaamte en vra dat Hy jou vergewe. Dit is wat die sondige vrou gedoen het. Soos Marta se suster Maria in Matt. 26:7 en Joh. 12:1-3, het hierdie vrou duur reukolie in ’n duur albasterfles gebring (7:37). Dit was omtrent ’n jaar se salaris vir ’n arbeider (vgl. Joh. 12:3, 5). Die vrou het geglo dat Jesus die Messias is soos Hy in 7:20-22 gesê het. Daarom wou sy haar beste vir Hom gee. Voor sy egter die kans gekry het om haar liefdesdaad te verrig, het sy begin huil. Sy het oor haar sonde getreur. Dit was trane van dankbaarheid vir wie Jesus is en wat Hy kom doen het. Haar baie trane het Jesus se voete nat gemaak (7:38). Sy het nie ’n handdoek gehad nie en het Jesus se voete met haar hare afgedroog, al was dit ook skandelik vir ’n vrou om haar hare in die openbaar los te maak (7:38).2 Soos ’n onderdaan die koning sal soen (Ps. 2:12), het hierdie vrou Jesus se voete aanhoudend gesoen (7:38, 45, Gk. kataphileō). Daardeur het sy haar lojaliteit aan Jesus bewys. Sy het erken dat sy laag is en dat Hy verhewe en waardig is.

Sy het Jesus se voete met reukolie gesalf (7:38). Sy wou wys dat Jesus se voete lieflik is, omdat Hy daarmee die goeie nuus van verlossing gebring het (8:1, Jes. 52:7). Deur Hom te salf het sy ook erken—bewustelik of onbewustelik—dat Hy die Gesalfde of Messias is.

Dit is waar ek op my gesig wil val en huil, omdat ek Jesus nie so liefhet nie. Wanneer laas het ek oor my sonde gehuil? Wanneer laas het ek emosioneel gevoel oor wie Jesus is en oor wat Hy vir my gedoen het? Ons huil in films; oor dinge wat nie werklik is nie. Maar ons sit met droë oë by die nagmaal. Ons besef nie hoe groot ons sonde is nie. Ons besef nie dat dit daardie sonde is wat die spykers deur sy hande en voete gedryf het; wat die dorings in sy skedel gedruk het; wat die spies deur sy long in sy hart gesteek het nie. Ons verstaan nie hoe groot die liefde is wat gemaak het dat Hy vir ons sonde soos ’n dier geslag is en vir ses ure hel deurgemaak het aan ’n kruis sodat ons nie hoef nie. Ten spyte hiervan pink ons nie ’n traan nie. O, my harde hart, my gevoellose hart, my onsensitiewe hart, my ondankbare hart, my liefdelose hart! Hoe kan ek koud wees teenoor Hom wat sy lewe vir my afgelê het?

Dalk sê jy dat jy Hom liefhet, maar is jy bitter teen ’n broer? Dan het jy Hom nie lief nie: “As iemand sê, ‘Ek het God lief’, en sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie.” (1Joh. 4:20).3 Sê jy jy het die Here lief, terwyl jy ongehoorsaam is en sonde in jou lewe koester? Dan het jy Hom nie lief nie: “As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou.” (Joh. 14:15). Laat ons ons liefdeloosheid as die grootste sonde bely, omdat ons daardeur die grootste gebod oortree (Matt. 22:36-38).

Wil jy die Here meer liefhê? Bid vir oop oë om sy liefde te verstaan. As jy Jesus se liefde verstaan, sal jy Hom meer liefhê: “Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” (1Joh. 4:19). Vra Hom om sy liefde opnuut in jou hart uit te stort (Rom. 5:5). Bid vir ’n hart wat gedurig aan Hom en sy liefde dink (2Tess. 3:5, 1Pet. 1:8). Sê saam met Dawid: “Ek het U hartlik lief, Here” en bedoel dit (Ps. 18:2, Ou Vertaling).

As jy dit doen, sal die Vader jou liefhê en jou seën (Joh. 14:23, Ef. 6:24). As jy Hom nie liefhet nie, is jy vervloek (1Kor. 16:22): vervloek in jou werk, besigheid, geldsake, huis, besittings, gesondheid, verstand, gesin, as jy gaan slaap, as jy opstaan—in jou hele lewe (Deut. 28). Jy sal ’n vervloekte dood sterf en vir altyd in die hel vervloek wees (Matt. 25:41).

Die Fariseër het dit nie besef nie. Hy het gedink dat Jesus onrein is, omdat Hy toegelaat het dat ’n sondige vrou aan Hom vat. Hy het gedink Jesus weet nie sy is ’n sondaar nie en dat Hy daarom nie ’n profeet kan wees nie (7:39). Deur die vrou te oordeel, het die Fariseër sy eie sonde ontken.

Is ons nie maar dieselfde nie? Ons sien die plunderaars en ander sondaars as mense wat God se straf verdien en nie as mense wat Jesus nodig het nie. Ons vergeet dat ons dieselfde straf verdien en dat die Here ons uit genade alleen gered het (Ef. 2:8-9). Dit is omdat ons dit vergeet dat ons Jesus min liefhet. Dit is wat Jesus in 7:40 e.v. vir die Fariseër wou leer. Hy het die Fariseër se gedagtes geken en ook geweet wie die vrou is. So het Hy bewys dat Hy ’n profeet en die Seun van God is.

Jesus het ’n gelykenis vertel van twee mans wat geld geleen het. Die een het 50 denarius geleen en die ander een 500 (7:41). Een denarius is ’n dagloon vir ’n arbeider. In vandag se terme het die mans onderskeidelik R8500 en R85 000 geleen. Toe hulle nie kon betaal nie, het die skuldeiser hulle skuld afgeskryf (7:42). ‘Watter man sal die skuldeiser meer liefhê?’ het Jesus gevra (7:42). Simon het reg geraai: ‘Die een wat die meeste geskuld het’ (7:43).

Jesus het die gelykenis op Simon en die vrou van toepassing gemaak. Die vrou het besef dat haar sonde groot is. Simon het gedink hy is nie so sleg nie (7:39). Daarom het die vrou Jesus baie liefgehad en haar beste vir Hom gegee. Simon het nie. Hy het nie Jesus se voete gewas nie, terwyl die vrou Jesus se voete met haar trane gewas en met haar hare afdroog het (7:44, Gen. 18:4, Rigt. 19:21). Simon het Jesus nie met ’n soen verwelkom nie, terwyl die vrou Jesus se voete gesoen het (7:45, Gen. 29:13). Simon het Jesus nie met gewone olyfolie gesalf nie, terwyl die vrou sy voete met duur parfuum gesalf het (7:46, Ps. 23:5).

Hoekom het die vrou Jesus baie liefgehad? Omdat sy baie vergewe is (7:47, 41-43). Dit beteken nie dat sy meer sonde as Simon gehad het nie, maar dat sy haar sonde raakgesien het, terwyl Simon blind was vir syne. Dit is hoekom hy nie sy beste vir Jesus gegee het nie.

Gee jy jou beste? Het jy Hom baie lief? Indien nie, moet jy vra dat Hy jou hart sal blootlê en jou sal ontmasker, sodat jy jouself in die spieël van Bybel sien. Jy sal skrik en bedroef wees. Maar as jy na Jesus toe hardloop en om vergifnis vra, sal Hy jou vergewe en sal jy Hom baie liefhê. Ek onthou dit van ’n man met wie ek ’n pad gestap het. Hy het ernstig teen die Here gesondig. Hy het hom bekeer en ware berou gehad. Die Here het hom vergewe. Vandag het hy die Here baie lief.

Moenie Bybelverse, kerke of preke wat jou gewete aanspreek, vermy nie. Moenie wegbly, omdat jy skuldig voel nie. Verwelkom hierdie dinge as die Here se tugtiging en laat toe dat Hy jou met die swaard van sy Woord wond. Dit is seer, maar as Hy die sonde uitsny en jou wonde genees, sal jy Hom baie liefhê. Jy sal soos ’n skaap wees wat afgedwaal het. Die herder breek daardie skaap se been en dra hom vir ses weke op sy skouers. Die skaap raak so geheg aan die herder, dat hy nie weer sal afdwaal nie. Hy het die herder baie lief en bly naby hom.

Is jy verlore? Het jy van die Herder af weggedwaal? Voel jy hartseer, verleë en skaam oor wat jy gedoen het? Bely dit aan die Here en laat die trane vrylik vloei. Hy sal vir jou sê: “Jou sondes is vergewe.” (7:48). Toe Jesus dit vir die vrou sê, toe mor die Fariseërs: ‘Wie is Hy om sonde te vergewe (7:49)?’ Hy is die Seun van God en daarom kan Hy sonde vergewe (5:21, 24). Hy kan vergewe, omdat Hy ons sondeskuld aan die kruis afgeskryf het (Ef. 1:7, Kol. 1:14, 2:14).

Wat is jou sonde? Is dit seksuele sonde soos die vrou s’n? Is dit iets anders? Wanneer sal jy Jesus se deurboorde voete met jou trane was? As jy berou het, sal Hy jou vergewe al is jou sonde baie diep (15:11-24, 1Joh. 1:7-10). Toe Dawid sy egbreuk en moord bely het, het die Here hom vergewe. Manasse was die slegste koning wat daar ooit in Israel of Juda was. Nogtans het die Here hom vergewe toe hy berou gehad het (2Kron. 33). Petrus het Jesus drie maal verloën. Die Here het sy trane raakgesien en hom vergewe. Die dief aan die kruis kon niks doen om Jesus se vergifnis te verdien nie, maar toe hy vra, het die Here hom vergewe. Vandag is hy in die hemel. Paulus het Christene vervolg. Hy het Jesus gehaat. Tog het Jesus hom gered en hom vergewe.

John Newton (1725-1807) was ’n slawehandelaar. Hy het losbandig gelewe en ’n vuil mond gehad. Die Here het hom gered. Mincaye het ’n sendeling met sy spies deurboor. Toe Mincaye tot bekering kom, het hy en die sendeling se seun saam die evangelie gepreek. ’n Terroris genaamd Musa het in destydse Rhodesië tot bekering gekom. Hy het in ’n tentdiens ingestap en beplan om ’n handgranaat tussen die mense in te gooi. Voordat hy sy plan kon uitvoer, toe lees die prediker Open. 21:8 uit die King James Version. Die ou Engels praat van seksuele losbandiges as whoremongers. Musa het dit as ‘warmongers’ gehoor en geweet die Here praat van hom. Hy het onder sonde oortuiging gekom, sy sonde bely en tot bekering gekom.

Omtrent tien jaar gelede het ’n vrou ons gemeente besoek. Voor haar bekering was sy ’n heroïenverslaafde. Sy het R1000 dag aan dwelms spandeer. Sy het as ’n prostituut gewerk om geld in die hande te kry. Die Here het haar gered. Vandag dien sy en haar man die Here en deel hulle die evangelie met ander.

Toe die vrou in Lukas 7 in Jesus glo en na Hom toe kom, toe red Hy haar van die mag van Satan, sonde en die hel (7:50). Hy sal dieselfde vir jou doen as jy Hom vertrou. Glo jy dit? Waarvoor wag jy dan? Kom dadelik na Hom toe, bely jou sonde en vra Hom om jou te red. As jy dit doen, is Luk. 7:50 op jou van toepassing: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Hou op om weg te hardloop. Die Here is nie meer kwaad vir jou nie. Jesus het God se woede aan die kruis geabsorbeer (Rom. 3:25, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Deur Jesus is daar nou vrede met God. God is nie meer die Regter wat jou gaan straf nie, maar ’n liefdevolle Vader wat jou vergewe (7:50, 8:48, Rom. 5:1). Rus in Hom.

 

2. Lojale liefde (8:1-3)

Rabbi Eliëser het gesê dat as ’n man sy dogter die wet leer, hy haar losbandigheid leer (Sotah 3:4).4 Dit is hoe die Jode vroue beskou het. In die sinagoge het hulle ’n michetza of afskorting gehad wat die mans en vroue van mekaar geskei het. Vroue mag ook nie in die sinagoge gesing het nie.5

Onder die Grieke het vroue die sosiale status van ’n slaaf gehad. ’n Man kon van sy vrou geskei het, maar geen vrou kon van haar man skei nie. Sy is as ’n kluisenaar in haar huis toegesluit en kon slegs die huis verlaat as ’n manlike slaaf haar vergesel het. Vroue mag nie geleer het om te lees en te skryf nie. Hulle kon nie in die openbaar praat nie.6

Onder die Romeine was dit nog erger. ’n Man het die volle reg gehad om sy vrou te tugtig of selfs om haar dood te maak.7

Jesus het dit kom verander. Hy het die goeie nuus met mans, sowel as vroue gedeel (7:36-50, 8:1-3, 10:39, Joh. 4). Mans, sowel as vroue het sy dissipels geword. Lukas verwys in hfst. 8 na die twaalf apostels (8:1, 6:13-16), maar hy fokus op vroue, omdat hulle vir eeue lank deur mans onderdruk is (8:2-3, Gen. 3:16). Waar die evangelie inbraak maak, kom daar vryheid vir vroue (Gal. 3:28, 1Pet. 3:7). Ek bedoel nie die soort vryheid wat feministe soek waar daar geen rolverdeling tussen mans en vroue is nie. Ek praat nie van LGBTQ+ se verkeerde idees nie. Ek verwys na die Bybelse idee van vryheid waar mans en vroue mekaar aanvul en komplementeer (Gen. 1:27, 2:18).

In Lukas 8 het ons ’n lys van vroue wat deur Jesus genees en gered is (soos die vrou in 7:36-50). Hierdie vroue het Jesus en sy apostels op hulle preektoere vergesel en hulle finansieel gehelp (8:2-3). Die eerste vrou op die lys is Maria Magdalena of Maria van Magdala; ’n dorpie aan die westelike oewer van die See van Galilea. Buiten vir Jesus se ma Maria is Maria Magdalena die bekendste van die ses Maria’s in die Nuwe Testament. Jesus het sewe demone uit haar gedryf (8:2). Dit verduidelik hoekom sy so lojaal aan Jesus was en hoekom sy Hom baie liefgehad het (7:47). Toe die mans gevlug het, was Maria saam met die ander vroue by die kruis (Joh. 19:25). Sy was by Jesus se graf toe Hy begrawe is (Matt. 27:61). Sy was by die leë graf en het die opgestane Jesus eerste gesien (Joh. 20:1, 11-18).

Johanna die vrou van Gusa was een van Jesus se dissipels (8:3). Sy was saam met die ander vroue by die leë graf (24:10). Haar man was ’n bestuurder in Herodes se paleis (8:3). Sy was welgesteld en het Jesus en sy dissipels ondersteun.

Susanna was een van die dissipels (8:3). Ons lees nêrens anders in die Bybel van haar nie. Tog is sy op die lys, omdat die Here haar belangrik geag het. Daar was ook ’n klomp ander vroue wat Hom gevolg het (8:3). Is jy soos hulle: nie ’n bekende vrou wat boeke skryf of by vroue konferensies praat nie? Maar jy is lief vir Jesus. Jy doen wat jy kan om sy koninkryk te bevorder: deur jou gebede, jou finansiële bydrae, jou bemoedig aan predikante en sendelinge. Lukas 8 sê jy is goud werd vir die koninkryk. Moenie ophou om te doen wat jy doen nie.

Dit geld vir mans ook: laat ons die Here met alles in ons liefhê en ons beste vir Hom gee (nie dat ons ooit kan opmaak vir wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het nie). Laat ons Hom met ons hele wese liefhê, omdat Hy waardig is. Laat ons veral onthou hoe groot ons sonde was, sodat ons Hom meer kan liefhê as ons sien hoe groot sy genade is. Dit is wat John Newton gedoen het. Toe hy op ’n dag ’n brief van iemand in Bath ontvang, toe vra hy William Jay oor die man, omdat mnr. Jay in Bath bedien het. ‘Hy is ’n aaklige karakter,’ het Jay gesê. ‘Hy is betrokke in allerhande boosheid.’ ‘Wel, hier skryf hy soos iemand wat tot bekering gekom het,’ het Newton geantwoord. ‘Ek hoop dit is waar,’ het Jay gesê. ‘As dit waar is, sal ek nooit weer wanhopig wees oor enigiemand se bekering nie.’ ‘O, sedert die Here my gered het, het ek nog nooit getwyfel dat Hy enige sondaar kan red nie,’ het Newton geantwoord.8

As jy jouself so beskou, sal jy nie anders kan as om die Here baie lief te hê nie. Jy sal saam met John Newton sing:

Amazing Grace, how sweet the sound
that saved a wretch like me.
I once was lost, but now am found;
was blind but now I see.


1  Thomas Brooks, Heaven on Earth (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1961 [1654]), 243

2  Robert H. Stein, The New American Commentary: Luke (Nashville, Tennessee: B&H Publishing Group, 1992), 236

3  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

4  https://www.sefaria.org/Mishnah_Sotah.3.4?lang=bi

5  Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 102

6  Ibid., 98-9

7  Ibid., 100-1

8  The Autobiography of William Jay (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1854]), 271

Kategorieë