Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 May 2022

Noodlottige sondes

Lukas 11:14-26

Noodlottig beteken dodelik (Eng. mortal, lethal, deadly, fatal). Om te sê iemand is noodlottig gewond, beteken hy is dodelik gewond en gaan waarskynlik nie oorleef nie. Noodlottige sondes beteken dit is dodelik. Die Katoliekekerk praat van ‘mortal’ teenoor ‘venial’ sonde. Iemand wat ‘mortal’ sonde pleeg, sondig opsetlik of pleeg ernstige sonde. So iemand verbeur God se genade en verloor sy redding. Hy sal in die hel boet. Iemand wat ‘venial’ sonde pleeg, sondig onwetend en kan vergewe word. Hy kan in die vagevuur (Eng. purgatory) van sy sonde gereinig word en hemel toe gaan.

Hierdie lering is onwaar, omdat elke sonde die dood verdien (Rom. 6:23, Jak. 2:10). Tog bestaan daar so iets soos groot en klein sonde (Joh. 19:11). Party sondes word meer as ander gestraf (20:47). Daar is opsetlike en onwetende sondes (Num. 15:30-31). Daar is ’n sonde wat nie vergewe kan word nie; ’n sonde wat tot die dood lei (Mark. 3:29, 1Joh. 5:16). Wat is hierdie sonde en hoe vermy ’n mens dit?

 

1. Ongeloof (v.14-23)

Daar is mense wat Joh. 10:10 op enige siekte van toepassing maak: “’n Dief kom net steel en slag en uitroei...” Volgens hulle is die duiwel die dief wat mense blind, stom en siek maak. Wat dan van Eks. 4:11 waar die Here mense blind en siende, doof en horende, stom en pratend maak? Wat van Gen. 19:11 waar die engele die manne van Sodom met blindheid slaan? Wat van 2Kon. 6:18 en Hand. 13:11 waar die Here mense blind maak? Wat van Eseg. 3:26 en Luk. 1:20 waar die Here selfs gelowiges stom maak? Laat ons dan nie sê dat die Here nooit iemand blind of stom maak nie.

Maar ons moet ook nie sê dat die duiwel nooit ’n vinger in die pastei het nie. Volgens v.14 en Matt. 12:22 het ’n demoon iemand blind en stom gemaak. Daar is nie ’n mediese of sielkundige verduideliking vir alles nie. Lukas wys duidelik dat die man se toestand nie medies of sielkundig was nie. Toe Jesus die demoon uitdryf, kon die man sien en praat (v.14, Matt. 12:22). Die mense was verbaas oor Jesus se mag oor die bose. ‘Is Hy die Messias uit die huis van Dawid?’ het hulle gewonder (v.14, Matt. 12:23). Jesaja het tog geprofeteer dat die Messias blindes en stommes sal genees (Jes. 35:5-6).

Toe die nuus van Jesus se wonderwerk by die Fariseërs uitkom, toe probeer hulle dit wegpraat (v.15, Matt. 12:24). Vandag nog is daar sulke leiers wat dink hulle weet beter as die Bybel. Net ’n paar jaar gelede het die NG Sinode ruimte gemaak vir mense wat die bestaan van ’n persoonlike duiwel en demone ontken. Soos die Fariseërs is hulle blinde leiers wat die siendes wil wysmaak dat daar nie so iets soos lig of kleur is nie. Sonder dat hulle dit besef, verblind die ‘fiktiewe’ duiwel hulle.

Darem was die Fariseërs nie so dom nie. Hulle het geweet demone bestaan (Hand. 23:8). Hulle het selfs erken dat Jesus die demone uitdryf. Die probleem was dat hulle gesê het Hy doen dit deur die krag van die duiwel (v.15). Hulle benaming vir Satan was Beëlsebul wat ‘here of god van die vlieë of mishoop’ beteken (2Kon. 1:2). Beëlsebul was die prins van demone (v.15, Ef. 2:2). Volgens party Jode was Jesus deur Beëlsebul of ’n ander demoon beset (Mark. 3:22, Joh. 7:20, 8:48, 52, 10:20)!

Om so te sê is lastering in die ergste graad. Dit is nie ’n geval van iemand wat Jesus bloot as ’n mens beskou en teen Hom gelaster het nie (1Tim. 1:13). Dit is ’n geval van iemand wat Jesus se wonderwerke en antwoorde op gebed gesien het; wat die krag van die evangelie in mense se veranderde lewens gesien het en dit as die duiwel se werk verwerp. Dit gaan oor iemand wat homself teen die duidelike getuienis van die Heilige Gees verset. Die bewyse dat Jesus die Messias en die Seun van God is, kan nie weerspreek word nie. Ten spyte hiervan, draai die persoon sy rug op die Here.

As jy jouself so verhard, is daar vir jou geen vergifnis nie. Jy het die onvergeeflike sonde gepleeg (12:10). Hoe kan jy vergewe word as jy die enigste bron van vergifnis finaal en volkome verwerp? “...hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot verlossing verontagsaam?” (Heb. 2:3). “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand nie.” (Heb. 3:15).

Glo die Bybel se getuienis aangaande Jesus. Moet Hom nie toets en vir tekens vra nie (v.16). Jare gelede het ek so iemand in Nelspruit ontmoet. Die man het nie in die Here belanggestel nie, maar wou wonderwerke sien. ‘As jy van sulke byeenkomste weet, moet jy my laat weet,’ het hy gesê. Maar geen wonderwerk sou hom van sy sonde oortuig en sy hart reinig nie (16:31, Ps. 78:32). So iemand sal die wonderwerk ontken as hy dit sien. As die Here met ’n hoorbare stem uit die hemel praat, sal hy sê dit was donderweer (Joh. 12:28-29). As iemand deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees in ander tale praat, sal hy sê die persoon is dronk (Hand. 2:13).

As jy jou oë lank genoeg vir die waarheid toemaak, sal die Here jou verblind (Hand. 28:26-27). Dan begin jy soos die liberales absurde stellings maak, sodat ’n kind deur jou argument kan sien. Een liberale kommentator het gesê dat Jesus nie op water geloop het nie, maar op ’n sandbank. Ek vind dit is interessant dat Petrus op dieselfde sandbank gesink het!

Ons benodig nie tekens om te glo dat Jesus die Seun van God is nie. Daar is genoeg bewyse vir sy wonderwerke en liggaamlike opstanding; dit is goed gedokumenteer. Verder is daar honderde ooggetuies. Selfs Jesus se vyande kon sy wonderwerke nie ontken nie. Ons veranderde lewens getuig ook dat Jesus lewe. Kan ’n dooie Jesus iemand se lewe so radikaal verander? Al hou die wêreld nie daarvan nie, kan hulle nie ontken dat jy handomkeer verander het toe jy die opgestane Christus ontmoet het nie. Die Fariseërs moes die bonatuurlike krag van Jesus erken. Hy het immers hulle gedagtes geken (v.17, Joh. 2:24-25). Maar ten spyte daarvan het hulle nie geglo nie!

Hulle ongeloof het hulle onlogies gemaak. Jesus wys dit vir hulle: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en ’n huis wat verdeeld is, kom tot ’n val. As ook Satan teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk dan staande bly? Tog beweer julle dat Ek deur Beëlsebul demone uitdryf.” (v.17-18). Die duiwel is boos, maar hy is nie dom nie. Hy weet hy sal sy koninkryk vernietig as hy teen homself stry.

En wat van v.19: “As Ek wel deur Beëlsebul demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle dan uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees.” Die Fariseërs sou sê dat die Here hulle dissipels help om demone uit te dryf, terwyl Jesus dit deur die duiwel doen. Werk God en die duiwel dan in dieselfde span? Was Jesus suksesvol deur die duiwel (v.14), terwyl die Fariseërs se dissipels minder suksesvol was deur die krag van God? Is die duiwel sterker as God?

Die blinde en stom man het gesien en gepraat! Het die duiwel Jesus gehelp om hom te genees? Van wanneer af wil die duiwel mense help en aan hulle goed doen? Die Fariseërs se dissipels moes eenvoudig erken dat Jesus van God af kom. “Daarom sal hulle regters oor julle wees.” (v.19).

Jesus se wonderwerke het deur die vinger van God plaasgevind (v.20, vgl. Eks. 8:19, Ps. 8:4). Lukas se verwysing na die vinger van God beteken dat Jesus die duiwel maklik verdryf het; dat dit vir Hom kinderspeletjies was. Sy wonderwerke en mag oor die duiwel wys dat Hy die Koning is. Hy het gekom om die duiwel se koninryk af te breek en sy eie te vestig (v.20). Christus se Koninkryk het by sy eerste koms begin en sal by die wederkoms vervul word (v.20, 17:21, Matt. 16:28). By Jesus se eerste koms het Hy die duiwel deur sy uitdrywing, kruisdood en opstanding oorwin (v.20-22, Matt. 12:29, Rom. 8:33-34, Ef. 4:8, Kol. 2:14-15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8). Jesus het mense uit die duiwel se mag kom red (v.22, Jes. 53:12, 2Kor. 4:4-6). Ons moet as instrumente beskikbaar wees “om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God” (Hand. 26:18).

Moenie vir jouself sê: ‘Ek volg die Here nou wel nie met my hele hart nie, maar darem is ek nie teen Hom nie.’ Jesus het gesê: “Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My” (v.23). Ek is diep besorg oor mense wat die Here Jesus bely, maar geestelik ontrou en traag is. Jesus het die kerk met sy bloed gekoop (Hand. 20:28), maar hulle het nie tyd vir die kerk nie. Hulle dink hulle is vir Jesus, maar volgens v.23 is hulle teen Hom (v.23). As jy die Here nie met alles dien nie, is jy niks beter as ’n Fariseër wat Hom openlik opponeer nie (v.23). En as jy jou eie siel verwaarloos, sal jy beswaarlik vir jou kinders en ander mense se siele omgee: “...wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.” (v.23). “Want julle sluit die mense uit die koninkryk van die hemele uit. Self gaan julle nie in nie, en boonop laat julle die mense wat probeer ingaan, nie toe om in te gaan nie.” (Matt. 23:13).

As jy nalaat om mense deur jou gebede en getuienis na die Here te lei, is jy so goed soos iemand wat hulle van die Here af wegdryf (v.23).

 

2. Moraliteit (v.24-26)

Gedurende ’n Christelike radioprogram was daar ’n vraag oor demone. ’n Luisteraar het die radiostasie gekontak en gesê dat demone in die see bly, aangesien die demoon-besete varke in Markus 5 in die see verdrink het. Iemand anders het gesê dat die varke in die see gespring het, omdat demone bang is vir water.

Is dit miskien hoekom die demoon in v.24 in die woestyn (waterlose plekke) ingegaan het? Nee. Die waarheid is eerder dat daar min lewe en verskeie onrein diere in die woestyn woon (Jes. 13:21-22, 34:11, 13-15). Dit is waar demone tuis voel; waar dit leweloos en onrein is: “Geval, geval het Babilon die Grote! Sy het ’n woonplek vir demone geword, ’n skuilplek vir elke onrein gees, ’n skuilplek vir elke onrein voël, en ’n skuilplek vir elke onrein en veragtelike dier” (Op. 18:2).

Tog kan demone nie rus tensy hulle ’n mens kan versoek nie (v.24). Die demoon in v.24 wou na sy ou huis of mens toe terugkeer (v.24). Hy het gehoop om die demoon-vrye man ongered te vind; dat die man moreel geword het, maar nie weergebore nie. Dit was inderdaad so. Die man se hart en lewe was soos ’n huis wat netjies uitgevee is, maar sonder nuwe intrekkers (v.25). Jesus het die demoon uitgedryf, maar die Heilige Gees het nie ingetrek nie. Om moreel te wees maar ongered, is gevaarliker as om immoreel te wees. Jesus het gesê:

“Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien.’ Die tollenaar het egter op ’n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.” (18:10-14).

Ten minste weet die immorele mens hy is verlore. Die morele mens dink alles tussen hom en die Here is reg. Gevolglik is die ongeredde moralis of kerkmens slegter af as die dwelmslaaf of transgender persoon! Die vraag is nie of jy godsdienstig en moreel is nie, maar of jy weergebore is. Is jy ’n nuwe mens met ’n nuwe natuur? Hoe word jy so? Nie deurdat jy jou morele sokkies optrek, harder probeer, gedoop word, lidmaat van ’n gemeente is, ’n geestelike ervaring het soos om in tale te spreek, tiendes vir die kerk gee of by ’n gemeente betrokke raak nie. Paulus verduidelik:

“Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos—nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming—by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.” (Tit. 3:3-7).

Moraliteit sonder ’n nuwe hart is dodelik. Jy staan die gevaar van v.26: “Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin.” So iemand sal nooit weer die geleentheid hê om hom of haar te bekeer nie: “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak.” (Heb. 6:4-6).

Hierdie mens benadeel nie net homself nie, maar hy skaad die Christelike getuienis, skud die jong Christen se geloof, bedroef die ou gelowige en haal God se toorn oor homself. Hy stel homself oop vir demone wat hom soos ’n trop honger leeus sal beetpak (v.26). Hy is erger af as voorheen (v.26, 2Pet. 2:20-22).

Dit geld vir die individu (v.26), asook vir die samelewing wat evangelie gehad het en daarvan wegdraai: “Dan gaan hy en neem sewe ander geeste saam met hom, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. So sal dit ook gaan met hierdie bose geslag.” (Matt. 12:45, eie beklemtoning). Dit het in die eerste eeu met Israel gebeur. Jesus het demone uitgedryf en die mense het sy wonders gesien. Nogtans het hulle Hom verwerp (v.19, Hand. 2:22-23, 3:14-15). In 70 n.C. het die demone met wraak teruggekeer. Dinge was sewe keer erger as voorheen. Josefus (37-100 n.C.) beskryf wat gebeur het. Jerusalem se inwoners was duiwelbesete en mal. Bendes het mekaar aangeval. Mense was mislei, sodat hulle absurde dwalinge gevolg het. Soos diere het hulle agter kos aangehardloop. Hulle het massamoorde en selfmoord gepleeg. Pa’s het hulle eie gesinne uitgewis; ma’s het hulle kinders geëet. Joodse ekstremiste (die selote) het ryk mense beroof, mekaar vermoor, vroue verkrag, bloed gedrink, vroue klere, -grimering en -parfuum gedra, homoseksuele dade beoefen en verbygangers met die swaard deurboor.1

Ons Westerse samelewing is op dieselfde pad. Ons het die Protestantse hervorming en evangeliese herlewings beleef, maar ons rug daarop gedraai. Vandag keer die demone terug soos ’n swerm vlermuise. Die VSA, Kanada, Engeland, Europa, Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland is byna a-moreel: daar is nie meer morele waardes nie. Elkeen doen wat hy goeddink. Ons is meer goddeloos as ooit tevore. Waar sal dit eindig? Wie kan keer dat die skip sink? Is dit moontlik te laat vir ons samelewing, omdat die Here ons reeds aan ons eie verdraaide opvattings oorgelewer het (Rom. 1:28)? Net die Here kan ons red en die morele verval omkeer (Rom. 1:16).

Die tragieste van alles is dat gelowiges ingetrek word. Ons is soos die spreekwoordelike padda in lou water: ons is gewoond aan en gemaklik met die verval. “En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel.” (Matt. 24:12). Ek verwys nie net na afvallige lidmate nie—ek bedoel ons! Hoe gereeld bid ons teen die verval? Hoe gereeld bid ons vir ’n herlewing? Hoe dikwels vra ons die Here om in te gryp? Hoe getrou doen ons Matt. 5:13-16?

“Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word. Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder ’n maatemmer nie, maar op ’n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis. Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

Laat ons nie die duiwel se mag onderskat nie. Gebruik die wapens van 2Kor. 10:4-5 en Ef. 6:10-20 om die duisternis terug te dryf. Dit het in John Paton se tyd gebeur. Sonder uitsondering het die hele Aniwa (’n eiland) tot bekering gekom. Kannibale het aanbidders van die ware God geword. Die vrug van bekering was in elke mens se lewe sigbaar.2 En kan die Here dit nie weer doen nie?


1  David Chilton, The Days of Vengeance (Ft. Worth, Texas: Dominion Press, 1987), 105 en Flavius Josephus, Complete Works: The Wars of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 4:9:10

2  John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 354-9

Kategorieë