
'n Getuienis van seksuele wellus deur Ivor Jefferies
In die laat 1990’s het ek ’n prediker hoor sê: “Jesus is all you need, but you won’t realize He’s all you need, until He’s all you got. And when He’s all you got, you’ll realize; He’s all you need.”
Alhoewel ek hierdie waarheid lankal geken het, het dit in Desember 2020 vir my nuwe betekenis gekry. ’n Bietjie agtergrond sal jou help om te begryp wat ek bedoel.
Toe ek 13 jaar oud was, het ’n onderwyser in lewensoriëntering die seuns eenkant toe gevat en gesê dat seksuele wellus nie verkeerd is nie. “Jy moet dit net nie oordoen nie,” het hy gesê. Toe ek 15 was, het ’n ander onderwyser dieselfde gesê. Ek het hulle geglo. Ek het ook vriende gehad wat baie oor seks en meisies gepraat het en my ouers het niks hiervan geweet nie. Toe ek 17 was, maak ek ’n deur oop vir wellustige gedagtes. Ek het lelike dinge in my gedagtes begin koester. Ek het nie in die minste skuldig gevoel nie, omdat my onderwysers gesê het dit is nie verkeerd nie. Ek het nooit pornografiese materiaal gekoop nie en daar was ook nie internet toe ek op skool was nie. Tog het ek, as die geleentheid hom voordoen, lelike films gekyk.
Toe ek in my vroeë 20’s was, het ek erns begin maak met die Bybel. Daar het ek gesien dat wellus inderdaad sonde is (Matt. 5:27-30). Skielik het die wellustige gedagtes my begin pla. Vir die eerste keer in my lewe het ek daarteen gestry. Ek het verse gememoriseer en gebid om nie wellustig te wees nie. Nogtans het dit gevoel of ek die stryd verloor. Op ’n stadium was ek so moedeloos, dat ek gedink het ek kan nie gered wees nie, want hoe kan ’n Christen sulke dinge dink.
Toe ek op 24 trou het ek gedink my probleme is verby, maar dit was nie. Ek moes aanhoudend in my gedagtes teen sondige beelde stry. Die beelde wat ek in my tienerjare gesien het, het gedurig teruggekom. Ek het my stryd met my vrou gedeel. Sy was geduldig en het aanhoudend vir my gebid. Nog steeds het ek nie pornografiese materiaal gekoop, of dit op die internet gekyk nie. Ek het ook sulke films vermy, maar die gedagtes was daar; die lelike beelde in my kop. Ek het daarteen geveg en na heiligmaking gestreef, maar ek kon nie die vieslike goed uit my kop kry nie.
Op 29 het ek ingeskryf vir ’n beradingskursus. Ek het geweldig baie geleer en geestelik gegroei. Ek het aangehou stry om heilig te wees. Ek was nie meer versoek om na ’n lelike advertensiebord te staar nie, maar sekere dinge kon ek nie keer nie, soos om in die mall verby ’n vrou te loop wat lelik aangetrek is.
Soos die jare aangestap het, het dit al hoe makliker geword om weg te kyk as daar ’n lelike prent in die winkelvenster was. My vrou het my ook gehelp deur te sê: “Moenie daardie kant toe kyk nie.” Sy het dit veral gedoen as ons by ’n vakansie-oord swem. Namate ek geestelik gegroei het, het ek dit gehaat om by ’n publieke swembad te wees. Ek onthou toe ons in 2016 by Pilanesberg vakansie gehou het. My kinders wou by Sun City se waterpark gaan swem. Ek wou nie, maar het ingestem om hulle te vat. Dit was ’n nagmerrie. Ek kon nêrens kyk sonder om versoek te word nie. Ek het later weggestap om op ’n afgeleë plek te gaan bid. Toe ons daardie aand by die kampplek kom, sê ek vir my vrou: “Moet my nooit weer vra om saam te gaan na so ’n plek toe nie.” Ek het my sonde aan die Here bely en moeite gedoen om in sy Woord gegroei.
Mettertyd het stryd makliker geraak, maar die gedagtes wou nie wyk nie. Soms moes ek tot 15 keer per dag daarteen stry. Deur die genade van die Here kan ek sê dat ek vir die grootste deel nie hierdie gedagtes gekoester het nie, maark ek het dit dadelik bestry en daarteen gebid. Op ’n dag in 2020 besluit ek: “Ek gaan met alles in my bid en stry om hierdie sonde vir eens en vir altyd in my lewe te breek.” Selfs as ek nie versoek was nie, het ek hard teen wellus gebid.
Gedurende ons see-vakansie in November 2020 het ek elke dag aangehou om teen hierdie sonde te bid. Gedurende die laaste week van die vakansie vat ons die kinders Ushaka Marine World toe. Dit was ’n weeksdag buite seisoen en daarom het ek geweet daar sal nie baie mense wees nie. Voor ons gery het, het ek in die geheim vir reën gebid, sodat ons nie kan gaan nie. Toe ek die oggend wakker word toe reën dit saggies. My hart was bly, maar my vrou sê toe: “Dit reën saggies, daarom kan ons nog steeds gaan. En omdat dit reën, sal daar juis nie baie mense wees nie.”
Ek het ingestem dat ons die kinders kan vat en het geweet wat ek moet doen: kyk af as ons by die swemplek kom. Ek het dit gedoen, maar omdat ek nou en dan moes opkyk om te sien waar my vrou en kinders is, het ek vroue in hulle swemklere gesien. Ek het myself bestraf toe ek daardie aand by die vakansie woonstel kom. “Hoe vra jy die Here om wellus in jou lewe te breek, maar dan plaas jy jouself in ’n posisie waar jy weet jy sal versoek word?” Ek het die Here om vergifnis gevra.
Terug in Kempton het ek aangehou om daagliks teen hierdie sonde te bid. Op ’n stadium begin ek wonder of ek nie miskien verkeerd bid nie, want hoe kan ek die Here vra om my vry te maak as Jesus my reeds vrygemaak het toe ek gered is? Op 7 Desember 2020 kom daar ’n ouer gelowige na my huis toe. Hy het oor iets anders kom praat, maar om een of ander rede vra ek sy raad oor hierdie kwessie. Ek het hom my agtergrond vertel en toe gesê: “Dink jy ek bid verkeerd?”
Die raad wat hy gegee het, het my lewe verander. Ek het gevoel soos iemand wat baie van perskes weet. Ek het al baie boeke daaroor gelees, het skilderye van perskes in my sitkamer, het perske T-hemde, was al by perske-konferensies, en het selfs al seminare hieroor aangebied. Maar ek het nog nooit ’n perske gesien, geruik, gepluk, of geproe nie. Daardie dag het ek vir die eerste keer in my lewe ’n perske gepluk en geëet.
Ek het gevoel soos die vrou in Lukas 13 wat vir 18 jaar vooroor gebuk was. Jesus het haar in ’n oomblik genees. Net so het Hy my na 24 jaar regop gehelp. Soos die vrou in Lukas 13 geweet het Jesus het haar genees, het ek daardie dag geweet die Here die kettings van wellus in my lewe gebreek. Alhoewel ek nog nie in die hemel is nie en daar nog versoekings sou wees, het ek vir die eerste keer in my lewe geleer hoe om die probleem aan te spreek. Laat ek jou vertel wat die man vir my gesê het.
Hy het my onder andere van ’n vrou vertel wat met ’n ander sonde gesukkel het. Sy het ook sonder ophou teen die probleem gebid en probeer vrykom. Op ’n dag toe wys die Here haar: “Jy fokus op die probleem en nie op My nie.” Daarna het sy begin bid: “Meer van U Here; gee my meer van U.” Toe die man my hierdie storie vertel, toe dink ek aan iets wat ek in Martyn Lloyd-Jones se biografie gelees het. ’n Gelowige het lasterlike gedagtes gekry. Die persoon was so moedeloos, dat hy oorweeg het om sy lewe te neem. In sy desperaatheid, het hy verskeie predikante vir raad gevra. Almal van hulle het dieselfde gesê: “Hou aan om die Here te vertrou en oor die saak te bid.” Die persoon het dit probeer, maar dit het hom net dieper in ’n gat laat beland. Uiteindelik het hy by Martyn Lloyd-Jones uitgekom. Nadat Lloyd-Jones die persoon deeglik ondervra het om seker te maak hy is ’n Christen, het hy vir hom gesê om nooit weer oor die probleem te dink, of daaroor te bid nie. “Eintlik bid jy nie oor die probleem nie; jy herinner jouself net daaraan,” het Lloyd-Jones gesê.
Die persoon het weggegaan en Lloyd-Jones se raad gevolg. Hy het die volgende week teruggekeer om te sê dat dinge nou ’n honderd keer erger is! “Dit is presies wat ek gedink het sal gebeur,” het Lloyd-Jones gesê. “Dit bevestig my vermoede dat Satan agter die ding sit.” Hy het die persoon aangeraai om aan te hou om sy raad te volg. Die probleem het uiteindelik verdwyn, sodat die persoon kon getuig: “I thank God that the Doctor (Lloyd-Jones) gave me that advice—the best pastoral advice I ever had. Satan was crushed under my feet—and remains so after all these years.”1
Met hierdie storie in gedagte toe dink ek: “Ek is besig om dieselfde te doen. Ek herinner myself voortdurend aan die probleem. Ek fokus op my sonde en nie op Jesus nie.” My ouer vriend het my gehelp om anders te begin bid: “Meer van U, Here; meer van U.” Verder het die Here vir my gewys: “Jesus is genoeg. Niks in die skepping kan die leemte in jou siel vul nie.” Dit sou wees soos om die Grand Canyon van 446 km x 29 km x 1.8 km met ’n emmer water te probeer vul: dit kan nie gedoen word nie. Net so sal niks in die skepping my uiteindelik versadig nie: nie Facebook, ’n mooi liggaam, geld, besittings, mense se aanvaarding, beroemdheid, kos, seks, drank, dwelms, of enigiets anders nie. Die mense wat hierdie dinge kry, soek net nog meer, omdat dit nie versadig nie (Spr. 27:20, 30:16, Pred. 1:8, Jer. 2:13, Joh. 4:18). God het my so ontwerp dat net Hy die leemte in my siel kan vul (Joh. 4:14).
C.S. Lewis sê: “We are half-hearted creatures, fooling about with drink and sex and ambition when infinite joy is offered us, like an ignorant child who wants to go on making mud pies in a slum because he cannot imagine what is meant by the offer of a holiday at the sea. We are far too easily pleased.”2 Elders sê hy: “If I find in myself a desire which no experience in this world can satisfy, the most probable explanation is that I was made for another world. If none of my earthly pleasures satisfy it, that does not prove that the universe is a fraud. Probably earthly pleasures were never meant to satisfy it, but only to arouse it, to suggest the real thing.”3
Sedert daardie dag in 2020 is die stryd in ’n sekere sin baie makliker; dinge wat my voorheen gepla het, versoek my nie meer nie. Nogtans is die stryd in ’n ander opsig moeiliker. 1 Kor. 10:13 sê immers dat God nie sal toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie en hoe meer jy geestelik groei, hoe groter word jou kragte. Dit beteken jy kan meer hanteer, sodat die versoekings meer subtiel, meer intens en sterker word.
Boonop het ek gevind dat bose of onrein geeste onrein gedagtes by my insinueer. Hoe weet ek dit is onrein geeste en nie my eie gedagtes nie? As die gedagtes uit die bloute by jou opkom, as dit jou met geweld oorval en as jy dit onmiddellik verafsku, is dit die duiwel se gedagtes en nie jou eie nie. Dit is slegs jou eie gedagtes as jy dit verwelkom en koester. Jou plig is eenvoudig om die Here daagliks te vra om jou van die Bose te beskerm: “En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” (Matt. 6:13).
Wat as jy aan die versoeking toegee? Moenie God se guns deur goeie werke probeer terugwen nie, maar doen wat die verlore seun gedoen het: “Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ Maar sy vader het sy slawe opdrag gegee, ‘Bring gou ’n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom ’n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. Bring vir ons die vetgemaakte kalf, slag dit en laat ons eet en feesvier, want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword, hy was verlore en is weer gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.” (Luk. 15:20-24).
Weet jy nie waar om te begin nie? Vra dat die Here jou kom haal en jy sal binnekort vind dat jy nie ’n honger mens is wat Brood soek nie, maar die Brood soek na jou wat honger is. Dit is in elke opsig waar. Jy is nie die verlore skaap wat na die Herder soek nie, maar Jesus is die Herder wat die verlore skaap soek.
Hy is die Deur wat soek na die wat buite staan, die Lig wat soek na die wat in die donker sit, die Opstanding en die Lewe wat soek na die wat dood is.
Hy is die Weg en soek na die wat afgedwaal het, die Waarheid wat na die misleides soek, die Ware Wingerd wat na die vrugteloses soek.
Hy is die Krag van God wat die swakkes soek, die Wysheid van God wat soek na die wat dwaas is, die Woord wat soek na die wat geestelik ongeletterd is.
Hy is die Wonderbare Raadsman wat na die verwardes soek, die Vredevors wat die benoudes en beangstes soek, ons Vrede wat na sy vyande soek.
Hy is die Ewige Vader wat na sy kinders soek, die Verlosser wat na die gevangenes soek, die Offerlam wat na die oortreders soek om hulle te vergewe.
Hy is Bruidegom wat na sy ontroue bruid soek, die Doper met Gees wat na die ongewastes en vuiles soek, die Vertrooster van Israel wat soek na die wat hartseer is.
Hy is ons Hoop wat na die wanhopiges soek, ons Rykdom wat na die armes soek, ons Middelaar wat soek na die wat ver van God af is, ons Rus wat soek na die wat uitgeput is, ons Geneesheer wat na die siekes soek.
Ek glo jy kan sien dat Jesus genoeg is, en dat Hy elke begeerte in ons vervul? Jy het nie hierdie ander goed nodig nie.
1 Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 409
2 C. S. Lewis, The Weight of Glory (San Francisco: HarperCollins, 2001), 25-6
3 C.S. Lewis, Mere Christianity (New York: HarperCollinsPublishers, 2002 [1942]), 136-7

