Related image

1Tessalonisense 4:1-8

Ek het hierdie week gehoor dat die NG Kerk binnekort gaan besluit of saambly sonde is, of nie. Louis van der Riet—die NG Kerk se eerste openlike gay leraar—het gesê:

‘Dit is beduidend dat daar uiteindelik oor die huwelik en seksualiteit gepraat kan word en dat die huwelik nie die enigste plek is vir seksuele verhoudings nie. Ruimtes moet groter gemaak word vir saamblyverhoudings en selfdegeslagverhoudings. Daar is geen teologiese gronde dat slegs die huwelik heilig en Godgegewe is nie.’ [http://www.glodiebybel.co.za/ngk-kyk-nou-na-saambly/].

Dit is duidelik dat Van der Riet nie die Bybel se lering oor seks en die huwelik verstaan nie. Wat erger is, is dat sy siening algemeen aanvaarbaar is in baie kerke.

Dalk frons jy omdat hy so vermetel is om God se definisie van seks en die huwelik te herskryf, maar hoe vaar jý as dit by seksuele reinheid kom? Dit help nie jou teologie is reg as jou lewe in die praktyk ‘n gemors is nie. Om jou te help, het die Here 1Tess. 4:1-8 in die Bybel gesit. Dit is sy wekroep of ‘wake up call’ tot seksuele reinheid en is geskryf om te keer dat die wêreld jou met hulle leuens oor seks bedwelm en aan die slaap sus.

 

  1. Hoekom moet jy rein wees?

Mense in die postmoderne samelewing sê: ‘Hou op om my te oordeel. As die Bybel, die evangelie en Christenskap vir jou werk, is ek bly. Maar dit is nie vir my nie. Jy kan nie jóú geloof op ander wil afdwing nie.’

Jy hoef nie ‘n brein chirurg te wees om te hoor dat daar volgens hierdie mense nie absolute waardes is nie. Elke mens besluit vir homself wat reg is. As jy dus kies om saam met iemand te bly voor jy getroud is, is dit jou keuse. As jy met iemand van dieselfde geslag wil trou, is dit ook goed: ‘#liefdeisliefde’!

Volgens die Bybel is daar egter iets soos absolute waardes. Dit beteken dat seks voor- of buite die huwelik altyd sonde is. ‘Sê wie?’ wil iemand weet. Sê die Here. Paulus het nie 1Tess. 4:1-8 uit sy duim gesuig soos wat jy lemoensap uit ‘n lemoen suig nie. Die apostel se woorde kom van die Here af. Hy het dit onder die inspirasie van die Heilige Gees en met die gesag van Jesus Christus die Here geskryf (v.1-2, 8, 15). Wat hy hier skryf, is nie die woorde van mense nie, maar die Woord van God (2:13). Gód se wil is dat jy seksueel rein moet wees (v.3).

Iemand wat homself dus oortuig dat hy ‘n Christen is, terwyl hy in seksuele sonde lewe, het rede om die egtheid van sy redding te betwyfel. Ek probeer nie sê dat Christene nie seksueel kan sondig nie (2Sam. 11), maar eerder dat iemand vir wie seksuele sonde ’n leefstyl is, nie gered is nie.

Hoe kan jy Jesus jou Here noem en nie doen wat Hy sê nie (Matt. 7:21, Luk. 6:46)? Hoe is Hy jou God as jy Hom en sy Woord verwerp (v.8)? Hoe bely jy dat jy ‘n Christen is, terwyl jy onrein lewe? Die Here het jou nie uit die wêreld geroep om seksueel onrein te wees nie, maar om heilig te wees (v.7, 3, 3:13). “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1Pet. 1:15-16).

Dalk oortuig jy jouself dat jy voor- of buite die huwelik seks kan hê en nog steeds hemel toe kan gaan. Jy is soos iemand wat water in die woestyn sien en nooit daarby uitkom nie, omdat dit nie ‘n oase is nie maar ‘n mirage. Jy bedrieg jouself om te dink dat jy op pad hemel toe is. Mense wat seksueel losbandig is, sal nie hemel toe gaan nie, maar hel toe (v.6, Matt. 5:28-29, 1Kor. 6:9-10, Ef. 5:5-6, Heb. 13:4, Op. 21:8).

‘Maar ek is lief vir die Here en lewe elke dag vir Hom,’ sê jy. Volgens wie se definisie? Volgens die Bybel beteken liefde vir God dat jy sy gebooie gehoorsaam (Joh. 14:15). Doen jy dit, of ignoreer jy tekste soos 1Tess. 4:1-8? As dit die geval is, is jy nie lief vir die Here nie, maar vir die afgod wat jy in jou verbeelding opgemaak het. Die Here van die Bybel is nie tevrede dat jy seksueel losbandig lewe nie. Moet dan nie sê dat jy die Here liefhet as jy 1Tess. 4:1-8 verwerp nie.

‘Ek verwerp dit nie,’ sê iemand. ‘Ek stem eerder saam met Louis van der Riet dat daar nie teologiese gronde is om te sê dat seks tot die huwelik beperk is nie. Waar sê die Bybel buitendien dat seks voor die huwelik sonde is?’

‘n Man het dit eenkeer vir my gesê. Hy het my probeer oortuig dat twee mense wat saam slaap in God se oë getroud is. ‘Seks is die huwelik,’ is basies wat hy gesê het. Maar as seks huwelik is, wat is egskeiding dan? Is ‘n man en ‘n vrou geskei, omdat hulle seksuele probleme ervaar? Is hulle geskei as die man vir ‘n jaar in die buiteland veg, of vir die evangelie in die tronk beland en nie met sy vrou kan slaap nie? En as seks die huwelik is, dan bestaan daar ook nie so iets soos seks vóór die huwelik nie.

Kan jy sien hoe belaglik dit is? Die Bybel is duidelik dat seks voor die huwelik sonde is. Eks. 22:16-17 en Deut. 22:28-29 lê bv. ‘n boete op as ‘n ongetroude jong man en sy meisie saam slaap. Jesus het vir die Samaritaanse vrou gesê dat sy vyf mans gehad het, en dat die een by wie sy nou bly nie haar man is nie (Joh. 4:18).

Volgens 1Kor. 7:9 moet ‘n man en vrou wat nie hulle seksuele drange kan beheer nie, nie by mekaar intrek nie, maar trou. Volgens Heb. 13:4 sal God nie net getroude mense wat seksueel losbandig is (egbrekers) straf nie, maar ook ongetroude mense (hoereerders). Moet dan nie die NG Kerk se onsin glo as hulle jou probeer oortuig dat jy seks voor die huwelik kan geniet en nog steeds ‘n Christen kan wees nie.

’n Gay paartjie sal reageer: ‘Ons is darem getroud en is daarom nie losbandig nie.’ Maar dit is soos om te sê dat jy met drie vroue of met ’n kangaroo getroud is, en daarom nie losbandig is nie. Jy kan nie God se definisie van die huwelik verwerp, dit met jou eie definisie vervang en dan dink dat jy rein is, omdat jy gebly het by die reëls wat jy vir jouself opgestel het nie. Seksuele losbandigheid sluit enige seksuele aktiwiteit buite die huwelik in soos wat God dit in die Bybel definieer:

Die huwelik is ‘n lewenslange verbond tussen een natuurlike man en een natuurlike vrou wat voor God en menslike getuies gemaak word (Gen. 1:27-28, 2:18, 24, Spr. 2:17, Eseg. 16:8, Mal. 2:14, Matt. 19:4-6, Rom. 13:1).

Gebruik hierdie definisie om te toets of jy seksueel losbandig is, of nie. Wat moet jy doen as jy losbandig is of was? Moenie ‘n dag langer uitstel nie, maar kom vandag na die Here toe om dinge reg te maak (Jes. 1:18). Hoe moet jy dit doen?

 

  1. Hoe moet jy rein wees?

Ek het by ‘n seminaar gehoor hoe ‘n Christen sê: ‘Ek is ‘n alkoholis wat al vir 20 jaar droog is.’ Hy was verkeerd om homself as ’n alkoholis te oormerk, want as Jesus jou gered het, is sonde nie meer jou identiteit nie—Hý is (1Kor. 6:11, 9-10).

Maar dit is meer as ‘n identiteit ding. Dit is ‘n realiteit dat jy met die Here se hulp ‘nee’ kan sê vir sonde. Hoe doen jy dit? Moenie net sleg voel oor jou gewete wat jou pla, of jammer wees oor die gevolge van jou sonde nie. Wees eerder uit jou hart uit jammer oor wat jy gedoen het. Sê vir die Here dat jy geen verskoning vir jou sonde het nie. Bely dat jy sy straf verdien. Los jou sonde en vra die Here om jou te se vergewe. Vra ook sy hulp, sodat jy nie weer na jou sonde toe terugkeer soos ‘n hond wat sy eie uitbraaksel eet nie.

Glo dat Jesus nie net aan die kruis gesterf het om jou sonde te vergewe nie, maar om te verseker dat jy met die Heilige Gees se hulp jou sonde kan oorwin (v.8, Eseg. 36:25-27, 1Kor. 6:11). Die Gees is die Een wat maak dat ‘n daaglikse lewe van gehoorsaamheid vir jou so normaal word soos om te loop (v.1, Gal. 5:16, 25). Hy help jou om nie meer vir jouself te lewe nie, maar om die Here in alles te behaag (v.1, 2Kor. 5:9, 15). Hy help jou om die Woord te ken, sodat jy ook m.b.t. seksuele reinheid kan weet hoe die Here wil hê jy moet lewe (v.2).

Hy is die Heilige Gees wat jou in die pad van heiligmaking lei (v.3, 8). Wat presies is heiligmaking en hoe werk dit? Heiligmaking is nie ‘n eenmalige gebeurtenis soos wedergeboorte of regverdigmaking nie. Dit is eerder ‘n proses waardeur die Heilige Gees jou help om minder en minder soos die wêreld te wees en meer en meer soos Jesus (v.1, 10, Fil. 3:12-14, Kol. 1:10). Die dag wanneer Jesus weer kom, sal jy volmaak heilig wees soos Hy (2Kor. 3:18, Heb. 12:23, 1Joh. 3:2). Streef dan daarna om rein te wees soos Hy (1Joh. 3:3). Hoe doen jy dit?

Weet wat die Bybel oor seksuele reinheid sê en onthou jou van enige vorm van seksuele sonde (v.2-3). Moenie dom wees en sê: ‘Ons het nie die huweliksdaad gedoen nie en daarom was dit nie seks nie.’ Buiten vir jou gewete wat jou aankla, sal enige getroude persoon vir jou sê dat die dinge waarmee jy besig is, deel is van seks. Bely jou losbandigheid. Moenie kyk na hoe naby jy aan sonde kan kom nie, maar vra eerder hoe ver jy daarvan kan wegbly (v.3, 5:22, Spr. 5:8).

Om seksuele sonde te oorkom, moet jy jouself ook ken (v.4). Volgens die Ou Vertaling moet elkeen weet hoe om sy eie vrou te verkry (v.4). Dit is ’n moontlike vertaling uit die Grieks (vgl. 1Pet. 3:7), maar hoekom sal Paulus sy opdrag tot die mans beperk? Die teks beteken meer waarskynlik dat jy jouself moet beheer, sodat jy heilig kan wees en die Here in jou liggaam kan verheerlik (1Sam. 21:5, 1Kor. 6:20, 2Tim. 2:21-22).

As ‘n drukkie of soen jou versoek om verder te wil gaan of in jou gedagtes te sondig, moet jy dit nie doen. As jy binne ‘n maand na jou verlowing moet trou, doen dit. As jy nie vir langer as twee weke in die huwelik kan gaan sonder om intiem te wees nie, moet jy jouself nie toets nie. Moet jouself ook nie bedrieg en sê: ‘Ek is sterk en sal myself beheer nie.’ 1Kor. 10:12 sê: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”

Nog ‘n teenvoeter vir seksuele sonde is om dit in jou gedagtes, jou emosies en jou begeertes te oorkom. Stry met alles in jou teen seksuele wellus (v.5, Matt. 5:27-28, Rom. 1:27). Sê ‘nee’ vir die onrein gedagtes wat in jou kop inkom. Vervang dit met rein gedagtes uit die Woord. Bid teen slegte drome. Vermy pornografie soos die pes.

Fokus ook op ‘n positiewe verhouding met die Here. Beywer jou om Hom beter te ken (2Pet. 3:18). Die wêreld (heidene) is losbandig, omdat hulle Hom nie ken nie (v.5). Iemand wat die Here ken, sal nie soos die wêreld dink: ‘Niemand weet wat ek doen nie. Daar sal nie gevolge vir my sonde wees nie. Dit maak nie saak of ek trou en of ek by die persoon intrek nie; die huwelik is in elk geval maar net ‘n stuk papier’ nie.

Dink laastens aan die gevolge van jou sonde. Om seksueel onrein te wees benadeel nie net jouself nie, maar ander (v.6). Jy steel die ander persoon se reinheid. Jy sondig teen sy of haar lewensmaat, breek hulle kinders se harte, sondig teen die kerk, maak die duiwel bly, beskadig jou gewete, gooi jou Christelike getuienis weg, sleep God se Naam deur die modder, gee vir die wêreld ’n geleentheid om met die Here te spot.

En moet die Here maar net terugsit en kyk hoe jy die afgod van seksuele onreinheid aanbid, terwyl jy jouself en die mense rondom jou verwoes en sy heilige Naam soos ‘n sakdoek of ‘n stuk toiletpapier gebruik? Sekerlik nie. Om dan sy toorn te vermy, moet jy ag gee op wat ek vanaand gesê het.

Doen wat die kerkvader Augustinus (354-430 n.C.) gedoen het [John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 45-50]. Voor sy bekering het hy ‘n wellustige en losbandige lewe gelei. Hy het een of twee halfhartige pogings aangewend om sy sonde te los, maar dit het nie gewerk nie. Toe kom die verandering in 386 n.C. toe hy 32 was. Hy het onder ‘n vyeboom gaan sit en sy hart uitgehuil. ‘Hoe lank sal ek aanhou sê: “Môre, môre”? Hoekom nie nóú nie? Hoekom nie op hierdie oomblik ’n einde maak aan my lelike sondes nie?’

Skielik het hy ‘n kind in die huis langsaan hoor speel: ‘Vat dit en lees, vat dit en lees.’ Hy het sy Bybel oopgemaak en eerste woorde gelees waarop sy oë geval het. Dit was Rom. 13:13-14: “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”

Die Here het hom daar en dan gered. Dit was ook die einde van sy wellus en seksuele losbandigheid. En kan die Here nie dieselfde vir jou doen nie?