Coram Deo Cover Image

Coming soon...

27 June 2013

'n Waarskuwing aan rebelse kinders

Rebellious teen

15:5 Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys. 17:21 Hy wat ‘n dwaas verwek, vir hom sal dit ‘n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie.  17:25 ‘n Dwase seun is ‘n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.  19:13 ‘n Dwase seun is ‘n ramp vir sy vader...  20:20 Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood.  28:7 Wie die wet bewaar, is ‘n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande. 28:24 Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê: Dit is geen oortreding nie! —hy is ‘n bondgenoot van ‘n man wat verderflik handel. 29:3 ‘n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan, bring die goed deur.  30:11 Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie 30:17 ‘n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” (Spreuke).

Rebelse kinders vertoon dwaasheid

In sy kort autobiografie het 'n prediker vertel van hoe lui hy was in sy jongdae.  Hy kon glad nie verstaan hoekom hy skooltoe moes gaan om te leer nie.  Ná skool het hy gehoop om vir die regering te werk:  hy wou soveel as moontlik geld verdien vir so min as moontlik werk.  Volgens Spreuke was hierdie ongeredde optrede 'n vertoon van sy dwaasheid:  “Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.” (15:5).  Enigiemand wat dissipline en lering verag of uitdaag, wys daardeur dat hy 'n dwaas is.  Dalk word die kind se rebellie eers sigbaar in sy tienerjare, maar dit het al begin toe hy vier jaar oud was; toe hy jou gedurig uitgedaag het met:  ‘Maar hoekom moet ek?’, en jy niks daaraan gedoen het nie.  Kinders moet leer om die korttermyn pyn van tug te verdra, want dit sal oor die langtermyn vreugde verseker.

Rebelse kinders bedroef ouers

Toe sy seuns gedoop is het Charles Spurgeon gesê dat hy en sy vrou meer vreugde het oor hulle kinders se wedergeboorte, as wat hulle gehad het by hulle geboorte.  Met ouers van rebelse kinders is dit andersom:  toe die kind gebore is was daar groot vreugde, maar nóú is daardie selfde ouers bitter bedroef:  “Hy wat ‘n dwaas verwek, vir hom sal dit ‘n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie...‘n Dwase seun is ‘n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.” (17:21, 25).  'n Rebelse kind is selfsugtig in die kern van sy wese.  Hy soek net die dinge wat hóm bly maak en gee nie om as hy sy ouers en ander mense se harte breek nie.  Alles begin eintlik by rebellie teen God; by ‘n hart wat sý raad verwerp (Psalm 107:11).  Hierdie kind het 'n nuwe hart nodig wat God en sy naaste sal liefhê; 'n hart wat nie vir homself lewe nie:  “omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” (2 Korintiërs 5:15).

Rebelse kinders sterf jonk

Hofni en Pinehas was rebels en het nie vir hulle pa geluister nie (1 Samuel 2:12-36).  Die Here het hulle doodgemaak (1 Samuel 4:11).  Die rebel is soos hierdie twee seuns.  Hy vloek sy ouers.  Soms doen hy dit nie met woorde nie, maar met sy oë.  God sal so ‘n kind se lewe soos ‘n lamp uitdoof; hy sal ‘n onmenslike dood sterf en nie begrawe word nie.  Die kraaie in die veld sal sy oë uitpik en die arende sal sy vleis afskeur en vir hulle kleintjies voer:  “Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood...Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie...‘n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” (20:20, 30:11, 17).  Die gewone manier waarop so 'n kind se lewe beïndig is, was deur steniging:  “En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word...En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.” (Eksodus 21:15, 17).  In Deuteronomium 21:18-21 lees ons:

“As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê:  Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard.  Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe.  So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.”

Volgens die Bybel is dit ’n skande om nié begrawe te word nie.  Mense wat deur die Here vervloek word, word deur die voëls en wilde diere opgegeëet:  “Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit gespreek.  Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.  En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ‘n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.” (1 Konings 14:11-13).  “Aan dodelike siektes sal hulle sterwe, hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.” (Jeremia 16:4).  Die rebel in Spreuke 30:17 is duidelik 'n vervloeking en 'n skande.

Ons kan God dank vir Jesus wat namens rebelle soos ons in die duisternis gesterf het; sy lewenslamp is namens ons uitgedoof (vergelyk 20:20 met Matteus 27:45-46).  Indien jy rebels is en jou nié wil bekeer nie, moet jy dink aan hoeveel kinders wat saam met jou op skool was, dood is; aan hoeveel van hulle kort ná skool oorlede is (ek kan aan meer as 'n dosyn dink wat saam met my op skool was).  Pasop rebel – dalk is jý volgende.

Rebelse kinders beskaam ouers

In Bybelse tye moes die rebel wat terugkeer, vir 'n paar dae in die straat gesit het, terwyl almal (ook kinders) hom gespot het.  Indien sy pa besluit het om hom te vergewe moes hy eers sy pa se voete soen, en is hy in die openbaar gegesel.  Sy pa het die terme van restitusie uitgespel.  Hy moes teen 'n dagloner se betaling die geld wat hy sy pa gekos het, verdien en terugbetaal.  En indien hy die terme nagekom het sou sy pa hom miskien vergewe het (inligting verkry uit 'n preek van John MacArthur oor die verlore seun in Lukas 15).

Hoekom die groot ‘fuss’?  Want rebelse kinders is 'n skande vir hulle ouers se reputasie, die familienaam, en veel meer.  En baie dikwels is dit 'n verkeerde vriendegroep wat dinge vererger:  “Wie die wet bewaar, is ‘n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande.” (28:7).  “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.  Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.” (23:20-21, cf. 1 Korintiërs 15:33).  Die kind wat met verkeerde vriende eet, drink en partytjie hou, steek sy ouers in die skande.  'n Ouer wat toelaat dat klein kinders hulle eie vriende kies is dwaas.  Jy moet hulle help en leer watse tipe vriende om te kies.  Sorg dat jy die ouers en kinders baie goed ken.  Leer vir jou kinders die ware wysheid van Jesus en sy Woord, sodat hulle dít kan doen en reg kan optree (28:7a, 1 Korintiërs 1:30).  As jy dit doen, sal jy die kanse dat hulle rebelleer aansienlik verminder.

Rebelse kinders ruïneer ouers

Die verlore seun het sy pa se geld gemors op partytjies en alles wat daarmee saamgaan:  drank en slegte vroue (Lukas 15:13, 30).  Die rebel ruïneer sy ouers op elke gebied:  hulle reputasie, finansies, die familienaam, die huishouding en meer:  “‘n Dwase seun is ‘n ramp vir sy vader...” (19:13a).  Die pa se geld word gemors op slegte vroue, drank en dwelms.  En omdat die jongmens dít gedoen het eerder as om te studeer, druip hy sy jaar en moet sy pa vir nóg ‘n jaar studiegelde betaal:  “‘n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan [veral die tempel-prostitute van Kanaän] bring die goed deur.” (29:3).  Hierdie kind is ‘n verlies vir sy ouers.  Omdat hy dronk bestuur en die kar stamp, kos dit hulle duisende rande.  Hulle moet betaal vir hofsake en moet hom keer op keer uit die tronk uit ‘koop’.  Hulle spandeer tienduisende rande op sielkundiges en psigiaters om hom te probeer help.  Hý is die rede dat hulle mediese bronne uitgeput raak, omdat hy gedurig in die hospitaal beland deur karongelukke of vuisgevegte in die kroeg.  Hy steel sy ouers se besittings en verpand dit om geld te kry vir dwelms.  En wanneer hy ouer word sorg hy nie finansieel vir sy bejaarde ouers nie.

Deur al hierdie dinge te doen is hy niks anders as iemand wat sy ouers se lewens ruïneer en verwoes nie:  “Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê:  Dit is geen oortreding nie! —hy is ‘n bondgenoot van ‘n man wat verderflik handel.” (28:24).  Indien jy 'n jong kind is wat jou ouers se geld steel of lekkers uit die kas steel, sê die Here vir jou:  Stop nóú!  As jy nie ophou nie sal dit erger word.  Binnekort sal jy nie net lekkers steel nie, maar karre.  En die dag gaan kom wanneer jou ouers jou nie meer kan ‘uit bail’ nie.

Kategorieë