Coram Deo Cover Image

Coming soon...

12 March 2016

’n Waarskuwing aan die kerk

Jesus cleansing temple

Gestel President Jacob Zuma kom vanaand tot bekering. Binne die volgende week kondig hy in die parlement aan dat ons ‘n drastiese reformasie en verandering in ons land nodig het.  Wat sou jý sê:  hoe en waar moet dit begin?  Sou jy saamstem dat hy eers sy eie huis moet skoonmaak, voordat hy die land wil verander?  Hy moet die geld wat hy misbruik het terugbetaal.  Hy moet van die korrupte leiers en polisie-beamptes ontslae raak.  Eers dan kan hy begin om op grondvlak die gemors op te ruim.  Dit is hoe God in die wêreld werk.  Voordat Hy in Openbaring 6-20 die wêreld oordeel, sê Hy in Openbaring 2-3 dat Hy die kerk gaan oordeel (vgl. Jeremia 25:29, Esegiël 9:6).  In 1 Petrus 4:17 lees ons:  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.”  In Johannes 2:13-25 het ons ‘n illustrasie hiervan.

 

Geldgierigheid (v.13-17)

In 1515 het Pous Leo X aflaatbriewe verkoop. In Katolieke-teologie is die heiliges (‘saints’) in die hemel se meriete oorgedra aan die sondaar wat so ‘n brief koop.  Vir iemand wat ‘n brief koop sou die Pous sorg dat God tydelike strawwe soos kertug en die vagevuur verminder.  Die Pous kon ook meriete aan die persoon se geliefdes in die vagevuur oordra, sodat hulle gouer in die hemel kon kom.  Die geld is gebruik om St. Peter’s Katedraal in Rome te bou.  Uit die hele wêreld sou mense kom om die Katedraal te besoek.  En saam met ‘toeriste’ kom geld, sodat die Pous nóg ryker kon word.

 

Tetzel was die Pous se agent. In Duitsland het hy belowe dat kopers se geliefdes dadelik uit die vagevuur na die hemel sou oorgaan.  Sy rympie was:  ‘As soon as the coin in the money-box rings, the soul from purgatory springs!’  Hy het ook belowe dat die mense wat so ‘n brief koop se sonde onmiddellik vergewe sou word.  Die Kerk self het nie sover soos Tetzel gegaan nie.  Nietemin was die sisteem korrup en was dit nodig vir ‘n radikale hervorming.[1]

 

Vandag is prosperity predikers die geldwolwe.  Hulle is die godsdienstige eweknie van Suid-Afrika se geldgierige ministers.  Hulle belowe vir die arm weduwee dat sy binne die volgende twee dae honderdvoudig sal ontvang, as sy haar laaste pensioengeld vir húlle gee (Lukas 20:47-21:4).  Net soos Simon die Towenaar weet hulle hoe om die Skrif en godsdiens te misbruik om ryk te word (Handelinge 8:18-19).  As die massas vir hulle byeenkomste opdaag, vryf hulle hul hande saam en is daar $-tekens in hulle oë (2 Petrus 2:14-15, 1 Timoteus 6:5, 9-10, Lukas 16:14).  Juis om hierdie rede het Jesus aan die begin en einde van sy bediening mense met ‘n sweep uit die tempel weggejaag.

 

Soos wat die wet vereis het, het Jesus Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees (v.13, Deuteronomium 16:16, Lukas 2:41). In die tempel het Hy die geldwisselaars en veehandelaars gesien (v.14).  Jode het van oral af vir die Paasfees gekom, en kon nie met buitelandse geld vee koop of tempelbelasting betaal nie (Eksodus 30:13-14, Matteus 17:24-27).  Hulle moes van hulle eie beeste, skape, bokke, ens. offer en ook met die Leviete, weeskinders, armes, en weduwees deel (Numeri 28:16-25, Deuteronomium 14:22-29).  As die vee te veel was om met jou saam te dra, kon jy die geldwaarde daarvan tempel toe bring, en by die tempel se veehandelaars nuwes koop (Deuteronomium 14:22-26).

 

Hoekom het Jesus hulle dan uitgedryf (v.15)? Hulle het die wisselkoers en veepryse so opgejaag, dat jy na ‘n ruiling te min gehad het vir die belasting en offers.  Sodoende het die Leviete nie die volle tiende gekry nie.  ‘n Direkte gevolg was ook dat die armes, weeskinders, en weduwees honger gely het (Deuteronomium 14:27-29).  Vir die halfblinde weduwee het hulle gelieg en gesê dat haar twee silwer muntstukke te min is vir ‘n lam.  Hulle het vir haar ‘n duif met ‘n pêrel-oog en ‘n gebreklike voet gegee (Maleagi 1:8).  Die veehandelaars en geldwisselaars het die swakkes onderdruk en soos TBN-predikers godsdiens misbruik om ryk te word.

 

Jesus het nie sy humeur verloor nie, maar het tyd geneem om ‘n riempiesweep te vleg (v.15). Hy het ‘n heilige toorn gehad, omdat hulle sy Vader se eer aangetas het.  Hy het die hele korrupte spul en hulle offers uit die tempel uit gedryf.  Hy het die tafels vol van gesteelde geld omgegooi, sodat dit op die tempel se klipvloer geklingel het (v.15).  Jesus wou veral ‘n verrotte appel met die duiwehandelaars skil, omdat hulle die armes uitgebuit het (v.16, Levitikus 12:8).  Hulle het sy Vader se huis van gebed in ‘n rowersnes verander (v.16, Matteus 21:13).  Die dissipels het Jesus se blitsende oë gesien en dadelik Psalm 69:10 onthou:  “Die ywer vir u huis het my verteer” (v.17).  As gevolg van sy ywer vir die tempel, het Dawid se vyande hom gespot en vervolg.  So sou hulle met Jesus doen (v.17).  Jesus het hulle vormgodsdiens gehaat en gebrand met ywer vir sy Vader se huis en eer (v.17).

 

Pasop vir geldgierigheid in die kerk, “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Timoteus 6:10). Volg die prediker wat bekend is vir sy heilige karakter en ’n liefde vir die waarheid; een wat gasvry is en graag met ander deel (1 Timoteus 3:1-7).  Pasop vir die prediker wat geld jaag en luuks lewe (1 Timoteus 3:3, Titus 1:7, 1 Petrus 5:2), wat gedurig oor geld preek, wat altyd meer en beter soek, wat ver bo die skape se geldelike vermoëns leef, wat net ryk vriende het en saam met hulle uithang, wat arm mense vermy, wat mense skuldig laat voel of boelie om te gee, wat ryk individue met beloftes van seën manupileer om te gee (‘God sal hierdie week vir jou ‘n wonderwerk doen as jy gee’), wat baie praat en beplan oor hoe om meer geld te maak of gou ryk te word, wat meer geld spandeer op nuwe ‘gadgets’ as op hulpmiddels om mense vir Here te wen, wat die kerk se geldsake van die gemeente af weerhou, wat geld laat ‘wegraak’ en skielik ryk word, maar wat soos ons land se ministers en munsipaliteite nie rekenskap daarvoor kan gee nie.

 

Pasop om nie hierdie dinge net in predikante te veroordeel nie, maar kyk met die flits van die Woord in die donker hoeke van jou eie hart. Moenie vir ‘n oomblik dink dat mense wat nuwe BMW’s ry versoek word tot materialisme, terwyl mense wat gewone karre ry nie in dieselfde strik kan trap nie.  Is dit dalk nodig dat Jesus geldgierigheid uit die tempel van jóú hart moet reinig?  Bely dit, bid vir hulp, dank die Here opreg vir wat jy het, wees mededeelsaam, laat Jesus jou versadig en sê vir jouself dat die hol geklingel van geld en besittings nooit die leemte in jou hart kan vul nie.  Soos wat koning Josia en Jesus die tempel gereinig het, moet jy vir God vra om die tempel van jou hart te reinig (1 Johannes 1:9, Jakobus 4:8, 2 Korintiërs 7:1).

 

Ongeloof (v.18-22)

In sy boek, Evangelicalism in England, vertel E.J. Poole-Connor van ‘n gesprek tussen ‘n liberale ds. en die redakteur van ‘n ateïstiese tydskrif.  Die redakteur het vir die ds. gesê dat hulle, ten spyte van hulle verskillende beroepe, baie in gemeen het.  ‘Ek glo nie in die Bybel nie, en jy ook nie,’ het die ateïs gesê.  ‘Ek glo nie in die skeppingsverhaal nie, en jy ook nie.  Ek glo nie in die Godheid van Christus, sy opstanding of sy hemelvaart nie.  Ek glo nie in enige van hierdie dinge nie, en jy ook nie.  Ek is soveel van ‘n Christen soos wat jy is, en jy is so ongelowig soos ek!’[2]

 

Dit is erg genoeg as ateïste die Bybel ontken. Maar dit is baie erg as mense wat dit behoort te verkondig, dit ontken.  In v.18 e.v. sien ons hoe God se volk die skuld van hulleself afskuif en vir tekens vra.  Maar toe Jesus ‘n teken gee – die teken van sy opstanding – het hulle ‘n blinde oog gegooi.  Hulle het geweier om die teken te glo.  Nadat Jesus die handelaars uitgedryf het, het hulle (soos reeds gesê) nie hulle skuld erken nie, maar Hom bevraagteken:  ‘Doen ‘n teken om te bewys dat U die reg het om die tempel te reinig (v.18, 4:48, 6:30, Matteus 12:38-39, 1 Korintiërs 1:22).  Maar was Jesus se reiniging van die tempel nie juis die bewys dat Hy die Messias is nie (Maleagi 3:1-3, Sagaria 14:21)!?

 

Die opstanding is die teken wat Hy sou gee (v.19, Matteus 12:39-40). Die Jode sou die tempel afbreek, en Hy sou dit binne drie dae weer oprig (v.19, 10:18).  Hulle het nie verstaan dat Hy van geestelike dinge praat nie, en het gedink Hy is mal (v.20, hfst.3-4, 1 Korintiërs 2:14).  Dit het hulle 46 jaar gevat om die tempel te bou, en hulle sou dit eers in 64 n.C. klaar bou.  Hoe kon Jesus dit dan binne drie dae bou (v.20)?  Hulle het sy woorde verdraai en gesê dat Hy die tempel wat hulle met hande gebou het, afbreek, en dat Hy binne drie dae een sou bou wat nie met hande gemaak is nie (Markus 14:58).  Toe Jesus aan die kruis was het hulle gesê:  “Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou” (Markus 15:29).  As hulle maar net geweet het:  die tempel was besig om afgebreek te word, en Hy sou dit op die derde dag uit die graf oprig.  Jesus het nie na die kliptempel verwys nie, maar het gepraat van die tempel van sy liggaam; die ware tempel waar God woon (v.21, Kolossense 1:19, 2:9, vgl. 1 Korintiërs 6:19).  Die dissipels het sy woorde onthou toe God Hom uit die dood uit opgewek het (v.22).  Hulle het besef dat sy woorde ooreenstem met die Ou Testament profete s’n toe hulle oor die herboude tempel gepraat het (v.22).

 

Saam met hoogmoed, is ongeloof die moeder van alle sondes (Johannes 16:9). Waak daarvoor.  Mense herinterpreteer terme.  Jy kan hulle dus nie outomaties as broers aanvaar, net omdat hulle praat van God, Jesus, die evangelie, Jesus se kruisdood en opstanding, verlossing en die Bybel nie.  Wát verstaan hulle onder hierdie terme?  Is die opstanding vir hulle ‘n warm gevoel in jou hart, of beskou hulle dit as ’n geskiedkundige opwekking van Jesus uit die graf?  Is die Bybel vir hulle die foutlose en onfeilbare Woord van God, of is dit ‘n versameling van mense se opinies?  Bevraagteken hulle die Bybel (v.20)?

 

Dit bekommer my dat Suid-Afrikaanse Baptiste kolleges oor die afgelope 20+ jaar toegelaat het dat dosente aan die betroubaarheid van die Skrif karring. Dit is nie dat al die dosente dit openlik ontken nie, maar in my tyd reeds het hulle gemaak of Genesis 1-2 poësie is en dat die evolusie-teorie ‘n kredietwaardige alternatief is.  In die klas het ons geleer dat Moses miskien nie die eerste vyf boeke geskryf het nie, en dat die Ou Testament nie eintlik van Jesus praat nie.  En in 2016 is dít die onkruid wat in toekomstige predikers se koppe geplant word.  Hoekom is die meeste lidmate en kerkleiers nie hiervan bewus nie?  Dalk dink jy dit is ‘n klein afwyking, maar is dít nie waar liberale fakulteite soos UNISA en Tukkies 40 jaar gelede was nie?  ‘n Vliegtuig wat London toe vlieg en net 2° van koers af is, sal in Reykjavik eindig.

 

Skynheiligheid (v.23-25)

Het jy al ooit by ‘n begrafnis ‘n tertjie met sjokolade in gehap, net om agter te kom dat dit Marmite is? Of ‘n pers druiwe korrel gevat, en skielik besef dis ‘n bitter olyf?  Net so kan jy ‘n vals gelowige vir die ware Jakob misgis.  Die Bybel noem dit skynheiligheid:  dit lyk soos ‘n Christen, maar is nie een nie.  Omdat Jesus almal se harte ken, word Hy nie daardeur geflous nie.  Dit is wat v.23-25 vir ons leer.

 

Tydens die Paasfees (v.23, 13) het Jesus baie tekens gedoen, sodat die mense kon glo Hy is die Een (20:30-31, 21:25). Baie van die Jode het sy tekens geglo (v.23).  Maar Jesus is God en ken die mens se hart (v.24-25, 1:43, 48-50, 5:42, 6:61, 64, 70-71, 16:30, 21:17, Matteus 9:4, Handelinge 1:24, 15:8, Psalm 139:1-6).  Hy het geweet dat die Jode nie opreg was en die Messias soek nie, maar dat hulle tekens gesoek het (v.24-25, 18, Psalm 78:34-37).  Hy het geweet dat dieselfde skare wat nou in Hom glo, Hom oor twee Paasfese sou kruisig.  Hy het geweet dat ware geloof nie is om sekere feite oor Hom te glo nie, maar om in ‘n verhouding met Hom te leef.  Hy het geweet dat die Jode se geloof soos die duiwel s’n is (Jakobus 2:19).

 

Pasop vir skynheiligheid in die kerk. Moet dit nie heel eerste by ander soek nie, maar waak daarteen in jou eie hart.  Moenie sonde in jou hart koester, terwyl jy voor ander mense godsdienstig is nie.  Bely jou skynheiligheid, wees voor ander mense wat jy by die huis is voor jou gesin, en by die werk is voor jou kollegas.  Wees voor ander wat jy op jou knieë is voor God.  Voel ‘n veer vir wat mense van jou dink, en lewe om God te behaag.  Bid gedurig tot God en stort jou hart voor Hom uit.  Dit beteken nie jy moet alles met almal deel nie, maar dit beteken dat jy oop en eerlik moet lewe, en dat jy nie twee lewens kan leef wat mekaar weerspreek nie.  Wie en wat jy regtig is, sal uiteindelik uitkom (Lukas 12:1-3).

 

Voordat ‘n groot aardbewing ‘n stad verwoes, is daar voorskokke. Voordat ‘n tornado ‘n dorp verpletter, is daar voorwinde.  Voordat ‘n tsunami ‘n eiland platvee, trek die water terug en lyk die see kalm.  Voordat God in 70 n.C. die tempel verwoes het, het Jesus dit in Johannes 2, asook aan die einde van sy bediening gereinig.  Is daar miskien ‘n waarskuwing van God se oordeel in die kerk?  “Deur ongeloof is [Israel] afgebreek, maar jy staan deur die geloof.  Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.  Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie... [jy sal] ook afgekap word.” (Romeine 11:20-22).  Laat ons onsself voor die Here verneder, ons sonde laat staan, en doen wat reg is in sy oë, sodat Hy nie “kom en die land heeltemal vernietig nie.” (Maleagi 4:6, NAV).

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, pp,74-75, 568-569

[2] Arnold Dallimore, Spurgeon: A New Biography, p.214

Kategorieë