Genesis 24:63a
In November 2023 het iemand my gevra hoekom ek ’n geestelike joernaal hou. My antwoord was dat ’n terugblik op God se getrouheid in die verlede my hoop vir die hede en die toekoms gee. Wat God in die verlede gedoen het, kan Hy weer doen: “Op Hom wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het, en sal red, is ons hoop gevestig dat Hy ons weer sal uitred... Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid.” (2Kor. 1:10, Heb. 13:8). Isak se lewe illustreer dit.
1. Isak se omstandighede
Isak is gebore toe sy ouers—Abraham en Sara—100 en 90 jaar oud was. God het ’n groot nageslag aan Abraham belowe en hiervan was die geboorte van Isak ’n deposito. In Genesis 23 is Isak se ma oorlede. Drie jaar later het Abraham sy slaaf na Haran in noord-Sirië gestuur om vir Isak ’n vrou te kry (Genesis 24).
Gedurende die tyd het Isak in die Negev woestyn rondgetrek. In v.62 het hy van Beër-Lagai-Roï af teruggekeer. Dit is die naam van ’n put waar die Here met Sara se slavin Hagar gepraat het. Dit het op die regte tyd gebeur. Hagar was hartseer en bang, daarom het God se woorde vir haar die wêreld beteken. Die put waar die Here haar ontmoet het, het sy Beër-Lagai-Roï genoem. Dit beteken ‘put van die Lewende God wat my sien (16:7-14). Het Isak gehoop die Here sal sy hartseer en eensame nood raaksien, en hom daar ontmoet?
Na sy besoek aan Beër-Lagai-Roï het Isak na Berseba in die noordelike Negev woestyn toe teruggekeer (v.62, 22:19, 21:25-33). As gevolg van die woestyn se hitte het hy teen sononder in die veld gaan stap (v.63). Die Hebreeus (suach) verwys na meer as stap. Dit wys hy het gepeins en was diep in gedagte; hy het gaan stap om iets te oordink.1
Die teks sê nie hy het in die woestyn gaan stap nie, maar in die veld. Die noordelike Negev by Berseba is minder dor as die res van die woestyn. Nogtans bly dit ’n woestyn. Tog veroorsaak een stortbui “stroombeddings in die Negev” (Ps. 126:4) en verander dit die lewelose woestyn in ’n blommeparadys.2 Geen wonder v.63a sê Isak het in die veld gaan stap eerder as in die woestyn nie.
In die natuur het hy God se goedheid en heerlikheid gesien: pragtige blomme, skoon lug, die reuk van nat grond na die reën, goue sonstrale teen die kaal rotse. Sekerlik het hy gewonder: ‘Kan God wat die woestyn se dors les en dit kleurvol aantrek nie my hartseer genees en vir my vrou gee nie (sien v.67)?’
Almal het dit nodig: ’n stil tyd waarin jy God en sy skepping bewonder; waar jy jou lewe oordink en met God praat. Dit is moeilik as jy in die stad bly, maar dit is moontlik. Jesus was baie besig, tog het Hy Hom na eensame plekke toe teruggetrek om te bid (Mark. 1:35, Luk. 5:16). Ry na ’n stil woonbuurt toe waar jy kan stap en met die Here praat. Sit op ’n swaai in ’n skoon parkie; dink oor jou lewe en praat met die Here. Gaan stap op ’n Saterdag in ’n natuurreservaat of botaniese tuin en los jou foon by die huis. Daar is immers ’n direkte verband tussen stil wees en die Here ken: “Wees stil en weet Ek is God!” (Ps. 46:11, Nuwe Lewende Vertaling). Sonder stilte sal jy ’n besige en aktiewe Christen wees, maar nie ’n diep een nie.
Is stilte onmoontlik omdat jy klein kinders of ’n huis vol mense het? Susannah Wesley het 19 kinders gehad. Nege van hulle het as babas gesterf, maar 11 kinders is nog steeds ’n handvol. Hoe kon sy alleen stil word? Aan die kombuistafel het sy met haar voorskoot oor haar kop gesit, die Bybel gelees en gebid.3 Haar kinders het geweet as hulle haar pla, is daar moeilikheid.
Wie die Here met sy hele hart begeer, sal ’n manier vind om voor Hom stil te raak. Alleentyd met die Here sal help dat jy nie oor jou probleme top nie, maar jou las op Hom werp, want Hy sorg vir jou (Ps. 55:23, 1Pet. 5:7). Toe Isak so bid, het die Here hom geantwoord, terwyl hy besig was (v.63b-67). “Die dag toe ek geroep het, het U my geantwoord. U maak my innerlik sterker.” (Ps. 138:3). “Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord; hulle sal nog besig wees om te praat, dan verhoor Ek hulle al.” (Jes. 65:24).
Dalk doen die Here dit nie so vir jou nie. Tog is jou stiltetyd op sigself goed en gee dit jou nuwe moed om aan te gaan.
2. Isak se verlede
Die teks sê nie waaroor Isak gepeins het nie, maar sy verlede gee ons ’n goeie leidraad. Van kleins af het Isak se pa hom van God geleer (18:19). Derhalwe het hy geweet die afgode wat sy pa voorheen gedien het, is vals (Jos. 24:2). Enige sigbare god—dit maak nie saak hoe groot nie—begin en eindig êrens, daarom is hy beperk (Ps. 115:4-8). yhwh is die onsigbare en oneindige Skepper van hemel en aarde (Genesis 1). Isak kon sy handewerk in die veld sien. Die woestyn se rotslae en canyons het hom aan Noag se vloed laat dink. Noag se seun Sem het nog gelewe om die storie te vertel (vgl. Genesis 11). Die bewyse van die vloed het Isak daaraan herinner dat God sonde haat. Dit het Hy in die tuin van Eden bekend gemaak. Die oomblik toe Adam en Eva sondig, het God se vervloeking, die dood, swaarkry, lyding en pyn in die wêreld gekom. Die dood van Isak se ma het hierdie realiteit bewys. Net so het die Negev dorsland bewys dat die sondeval van Genesis 3 geen mite is nie, maar die waarheid.
Isak sou egter ook God se belofte onthou: eendag sou Eva se nageslag die slang se kop vermorsel (Gen. 3:15). Later het Henog se lewe bewys God kan die dood teëwerk, terughou of omkeer (5:21-24). Dit kan nie keer dat God se kinders na die dood in die hemel bly voortlewe nie. So sou dit later met Abraham en Isak gebeur (Matt. 22:32, Luk. 16:22-25). Die belofte is nie vir almal nie, maar vir dié wat God red. Uit 12:1, Neh. 9:7, Rom. 9:7-9 weet ons Hy het vir Abraham en Isak gekies en geroep. Nou, oor die bestek van 40 jaar (25:20), het Isak God se getrouheid in sy lewe gesien. Sy geboorte was die vervulling van God se belofte aan Abraham en ’n bewys van sy getrouheid (21:1-7).
’n Hele klompie jare later het God Abraham beveel om sy seun Isak as ’n brandoffer aan die Here te offer. Abraham was gewillig, maar voor hy hom kon slag, het die Here ingegryp en gesê: ‘Moet Hom nie offer nie! Dit was ’n toets. Ek wou sien of jy My bo jou seun liefhet. Agter jou is ’n ram wat met sy horings in ’n bos vassit. Offer dit in Isak se plek. Ek weet dat jy My liefhet en sal vir jou ’n groot nageslag gee.’ (sien 22:1-14). Weereens het die Here gewys Hy is getrou.
Toe Sara oorlede is, het Abraham ’n stuk grond in Kanaän gekoop om haar te begrawe (23:16-18). Dit was ’n deposito van die land wat God aan Abraham en sy nageslag belowe het.
yhwh is die God van die verbond en Hy hou sy beloftes (Heb. 6:13-18). Aan Abraham het Hy ’n land en nasate soveel soos die sand en die sterre belowe. Deur Abraham se nageslag sou Hy al die volke van die aarde seën (hfst. 15, 17, 12:1-3). Al vat die Here lank om sy beloftes te vervul, breek Hy nooit ’n belofte nie. Toe Abraham 75 was, het God hom ’n nageslag belowe (12:2, 4). Presies 25 jaar later is Isak gebore (21:5). Vir sy nageslag om te groei, moes Isak ’n vrou kry. Dit het gebeur toe hy 40 jaar oud was (25:20-21). Na 20 jaar het sy vrou swanger geraak, en is Jakob en Esau gebore (25:26). Deur die eeue het Abraham se nageslag vermeerder. Meer as 2000 jaar later is Jesus gebore is, sodat die nasies van die aarde deur Hom geseën kon word (Gal. 3:7-9, 14, 16, 29). So het God sy belofte aan Abraham bewaarheid.
Voel dit vir jou of God lank vat om sy beloftes te vervul? Waar is die belofte van Jesus se wederkoms, waardeur Hy boosheid en korrupsie tot ’n einde sal bring? Wanneer sal God die Jode tot bekering bring? Bid jy al vir maande dat die Here jou red, maar nog niks het gebeur nie? Bid jy vir jou kinders en kleinkinders se redding, maar sien geen vrug nie? Wanneer sal die Here beloftes soos Jes. 59:21 vervul?
“Wat My betref, dit is my verbond met hulle,”
sê die Here:
“My Gees wat op jou rus
en my woorde wat Ek
in jou mond gelê het,
sal nie uit jou mond wyk,
of uit die mond
van jou nageslag,
of uit die mond
van jou nageslag se nageslagte nie,
van nou af en vir altyd,” sê die Here.
Bid jy met groot erns oor ’n saak, maar die Here antwoord nie? Wat het van sy belofte geword: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7-8)?
Soms vat die Here lank, maar jy kan Hom vertrou, “want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou.” (Heb. 10:23). Moet jouself nie uithelp nie. Toe Abraham en Sara dit probeer, het dit in ’n gemors geeïndig (leer gerus Genesis 16!). Doen liewer v.63a en Jes. 62:6-7, terwyl jy die Here vertrou en op Hom wag: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld... o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ’n lof op aarde!” (Ou Vertaling).
Op die regte tyd sal God sy Woord vervul: “Ek, die Here, sal dit op die regte tyd vinnig laat gebeur... As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie... Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied.” (Jes. 60:22, Hab. 2:3, Luk. 18:7-8).
Het die Here jou gebede verhoor? Sit dit op rekord. As daar weer donker tye kom, sal die herinnering aan God se getrouheid jou deurhelp. Jy sal die Here seën en weet Hy het jou nie vergeet nie.
Wat as jou geheue heeltemal ingee en jy jou geliefdes of jou eie naam vergeet? Jy sal die Here onthou. Toe my oupa dimensie ontwikkel het, het hy baie dinge vergeet, maar hy het die Here onthou: “In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie... Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak.” (Ps. 119:16, 93).
Al beland jy in ’n ongelukkig, is breindood en onthou niks nie sal die Here jou onthou (Jes. 49:15-16, 44:21). Hy vergeet nie sy verbond nie (Ps. 105:8, Luk. 1:72, vgl. Heb. 10:17). As jy die dag sterf en in die hemel is, sal jy die Here prys wat jou veilig deur water en vuur tot by ’n plek van oorvloed gebring het (Ps. 66:12). Jy sal Hom prys wat jou van jou sondes verlos het (Op. 5:9).
Ook in die hel sal mense die Here onthou. Hulle sal Hom haat en sy Naam vloek (Op. 16:10-11). Vir ewig sal hulle sondes en die realiteit van God voor hulle bly: “Die sonde van Juda is opgeteken met ’n ysterpen, met ’n diamantpunt; dit is ingegraveer op die tafels van hulle harte... Die Here het gesweer by die trots van Jakob: ‘Ek sal al hulle dade in ewigheid nie vergeet nie.” (Jer. 17:1, Amos 8:7).
Wat sê jou gewete en geheue (die polisieman en bibliotekaris van jou siel) van jou lewe?4 Sal hulle op jou sterfbed en die oordeelsdag teen jou getuig? Moet jou lewe nie weggooi nie. Laai jou sonde op Jesus en aanvaar Hom as die getroue Seun van God (Heb. 3:6, Op. 1:5, 19:11). God sal jou sonde vergewe en Christus se getrouheid aan jou toereken (Ef. 1:7, 2Kor. 5:21). Hoe weet jy Hy sal? Want vir meer as 2000 jaar staan sy Woord vas.
Ek kan persoonlik daarvan getuig. Van Augustus tot Desember 2023 het ek deur ’n beproewing gegaan. Gedurende die tyd het ek soos Asaf in Ps. 77:8-10 gevoel: “Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie? Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe van geslag tot geslag tot ’n einde gekom? Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef?”
Terwyl ek in Desember met vakansie was, het die Here my opgetel en van sy belofte verseker: “God is nie ’n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ’n mensekind, dat Hy van plan sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand doen nie?” (Num. 23:19). “Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.” (1Tess. 5:24).
Sedertdien het ek Augustus tot Desember se joernaalinskrywings gelees. Ek kon sien die Here was elke tree van die pad met my. Hoekom het ek dit nie vroeër raaksien nie; was ek blind? Wat ek wel kan sê is dit het my hoop gegee vir die toekoms. Ek hoop dit doen dieselfde vir jou.
1 Benjamin Davidson, Analytical Hebrew and Chaldee Lexicon of the Old Testament (Florida: Mac Donald Publishing Company, n.d.), DCCV en https://biblehub.com/hebrew/7742.htm (toegang verkry op 29 Desember 2023).
2 Derek Kidner, Tyndale Old Testament Commentaries: Psalms 73-150 (London: Inter-Varsity Press, 1975), 439-40.
3 Donald S. Whitney, Spiritual Disciplines for the Christian Life (Colorado Springs, Colorado: NAVPRESS, 1991), 198.
4 Maurice Roberts, Great God of Wonders (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2003), 44.