Enige regdenkende gelowige weet dat die Prosperity Gospel voorspoed en vrede verafgod. Ons moet egter versigtig wees dat die pendelum nie te ver na die anderkant toe swaai nie. Tekste soos Jes. 54 wys duidelik dat daar ‘n teologie van voorspoed en vrede in die Bybel is. Wat is hierdie teologie en hoe lyk dit in die praktyk?
- Die onvrugbare vrou (v.1-3)
Ons samelewing kyk neer op mense wat baie kinders het. My graad 6 onderwyser het gesê dat die wêreld oorbevolk is en dat enigiets meer as drie kinders per gesin te veel is. Ons was vier kinders. Toe my broer jonk was, het hy skaam gekry daaroor. As ons in die dorp was, het hy plat gelê in die kar. Hy het selfs op ‘n stadium oorkant die pad geloop, sodat mense nie sou sien ons is vier kinders nie. Vandag het hy vyf kinders met ‘n sesde een op pad. Volgens die Bybel is dit ‘n seën om baie kinders te hê (Gen. 1:28, 15:5, Deut. 28:4, Ps. 107:41, 127:3-5, 128:3).
A.g.v. die ballingskap was Jerusalem soos ‘n onvrugbare vrou (v.1, 49:21). Die Nuwe Jerusalem sal egter vrugbaar wees en baie kinders hê (v.1). In die Nuwe Testament sal die onvrugbare vrou vrugbaar word: die kerk sal groter as Israel op haar beste wees (Gal. 4:25-27). Dit sal gebeur deur die Messias wat vir miljoene sondaars gesterf het (53:10).
William Carey (1761-1834) was ‘n Baptiste sendeling in die laat 1700’s. Hy het die moderne sending beweging aan die gang gesit. Op 31 Mei 1792 het hy uit Jes. 54:2-3 gepreek en die volgende bekende woorde gesê: ‘Expect great things from God. Attempt great things for God.’ M.b.t. Christus se heerskappy het Carey geglo: ‘He must reign, till Satan has not an inch of territory.’ Deur die krag van die opgestane Christus het Carey die Bybel in 6 tale vertaal, die Nuwe Testament in 23 tale en dele van die Bybel in 34 tale.
A.g.v. die Messias se verlossingswerk in Jes. 53, sal die kerk aanhou groei (v.2-3). Volgens Jes. 54 moet God se volk haar tent se staanplek groter maak, haar tentseile oopspan, plek maak, nie terughou nie, die tent se koorde verleng, die penne goed vasslaan sodat niemand die tent kan skuif soos in die ballingskap nie, en haar tent met die heidene deel (v.2-3, 26:15, 33:20, 49:19-20, Gen. 9:27).
Eintlik is die tent die Messias s’n maak Hy dit oop vir almal (16:5, Amos 9:11, Op. 7:15, 21:3). Hoe kan mense in sy tent inkom? Deur die evangelie (Jes. 55, Matt. 28:19, Hand. 1:8). Dwarsdeur Handelinge sien ons hoe al hoe meer mense die evangelie geglo en in die tent ingekom het (Hand. 2:41, 47, 4:4, 5:14, 6:7, 8:5-8, 12, 9:31, 35, 11:21, 24, 12:24, 13:43-44, 48-49, 14:1, 21, 16:5, 17:4, 12, 18:8, 10, 19:20). Daar is plek vir nog baie mense (Op. 7:9, 22:16).
Tydens die 1860 herlewing het NG Gemeentes hulle kerke groter gebou om plek te maak. My vriend se gemeente in Parys soek ‘n groter gebou, omdat die huidige gebou te klein raak. ‘n Ander vriend moes ‘n tweede oggenddiens begin, omdat die eerste een vol is. Die assosiasie waaraan ek behoort maak op die oomblik planne om kerke te plant. Twee van my vriende het oor die afgelope tien jaar ‘n halfdosyn kerke geplant. Die tent is besig om vol te raak.
Wat doen ons gemeente om die tent vol te kry? Waar is die evangelisasie in ons woonbuurt? Wat doen ons om sendelinge uit te stuur en kerke te plant? Ons kan baie beter doen. Waar moet ons begin? Ons moet bid vir arbeiders en self ook bereid wees om die evangelie met mense te deel (Matt. 9:37-38, 10:5). Ons moet dit nie op ons eie wil doen nie, maar hande vat met ander gemeentes wat dieselfde as ons glo oor die evangelie, die uitbreiding van God se Koninkryk, en die basiese teologie van die Bybel. Twee is beter as een (Pred. 4:9-12).
Die Messias se tent sal na die regter- en linkerkant toe uitbrei, van see tot see (v.3, Gen. 28:14, Ps. 72:8). Islam sal nie vir altyd die 10/40 venster beheer nie. Hindoes sal nie altyd die meerheid wees in Indië nie; Kommuniste nie in Noord-Korea, Rusland en China nie; Buddhiste nie in die Verre-Ooste nie; die Katolieke nie in Suid-Amerika, Meksiko, Italië en Spanje nie; evolusioniste en ateïste nie in die weste nie; animiste nie in Afrika, Suid-Amerika en die eilande nie.
As Jesus klaar sy vyande geoordeel het, sal Hy en die kerk die nasies besit en die herboude stede bewoon (Gen. 12:3, 22:17-18, Ps. 2:8, 110:1, Dan. 7:14, 27, Matt. 5:5, Op. 2:26). Daar is ‘n hoopvolle toekoms van voorspoed en vrede, t.s.v. hoe sleg dinge op die oomblik in Suid-Afrika en die res van die wêreld gaan .
- Die geskeide vrou (v.4-10)
Ek het eenkeer met ‘n ouer predikant oor my verlede gepraat. Ek was mismoedig oor my sondige verlede. Hy het vir my gesê: ‘What has the past got to do with the present?’ Die Here het vir sy volk gesê om nie te vrees, asof hulle in die toekoms oor die sonde van die verlede sou bloos nie (v.4). Die Messias het die volk se sonde weggevat (Jes. 53). Sy sou van die skande van haar jeug in Egipte en die woestyn vergeet, asook van die pyn van haar weduweeskap in Babilon (v.4, 65:16-17, Heb. 10:17).
As Jesus jou gered het en vergewe het, hoef dit jou nie te pla nie. Daar is geen veroordeling vir jou nie (Rom. 8:1). Jou gewete, die duiwel en ander mense kan jou nie meer aankla nie (Rom. 8:33-34). Is daar sonde wat jy nog nie bely en laat staan het nie? Bring dit na die Here toe─Hy sal jou vergewe (1Joh. 1:7, 9). Hy het dit met Israel gedoen. Hy het haar geskep en herskep (v.5, 43:1, Gen. 1:26-27, 2Kor. 5:17). Israel was sy bruid en Hy haar Man (v.5, 62:4-5, Ef. 5:31-32, Op. 21:2, 9). Hy is die Here van die Leërskare wat die volk se vyande oorwin het (v.5). Hy is die Heilige van Israel; uniek en in ‘n klas van sy eie (v.5). Hy het die volk uit Babilon verlos en red ons ook van ons sonde (v.5, hfst. 53, Matt. 1:21). Hy is die God van die hele aarde, die Enigste God (v.5, Gen. 1-2, Ps. 103:19).
Kan hierdie God jou nie maklik red, herstel en vergewe nie? Hy kan. Israel het afgedwaal en was ontrou. Die Here het haar verlaat en sy jong bruid geskei (v.6, Jer. 3:1-8). Maar daarna het Hy haar vergewe en teruggevat (v.6). Hy het haar uit Babilon, haar sonde en die dood geroep om sy bruid te wees (v.6). Na ‘n kort en intense verlating, tugtiging, toorn en verberging van sy aangesig, het Hy haar sy genade, liefde, deernis en die barmhartigheid van sy verbond gewys (v.7-8, 50:1, Eks. 34:6, Ps. 30:6, 103:8-10).
Voel dit dalk of die Here vir jou kwaad is, of Hy sy gesig vir jou wegsteek en jou nie verhoor nie (1Pet. 3:12)? God se genade is groter as sy toorn (Eks. 20:5-6, 34:7, Rom. 5:20). Herinner Hom daaraan dat Hy sy gesig weggedraai het toe Jesus aan die kruis gehang het, en dat dit vir jou was (Matt. 27:45-46). Herinner Hom daaraan dat Hy sy boog of reënboog opgehang het na die vloed, en dat Hy belowe het om nie weer die wêreld met ‘n vloed uit te wis nie (v.9). Net so het Hy sy toorn laat uitwoed op Jesus en is Hy nie meer toornig oor jou nie (v.9, Jes. 53). Herinner Hom daaraan dat sy verbondsliefde en die vrede van die kruis vaster is as die berge en die heuwels (v.8, 10, Eks. 34:6-7, Ps. 103:11-13). Herinner Hom daaraan dat sy Woord vas is en dat Hy nie kan lieg nie (v.10, Tit. 1:2, Heb. 6:17-18). Herinner Hom daaraan dat Hy ‘n God van deernis is (v.7, 8, 10).
Stort jou hart uit voor die Here (Ps. 62:9). Bid so eerlik soos Asaf in Ps. 77:8-11: “Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!” Vra dan dat die Here gunstig sal wees en sy aangesig oor jou sal skyn (Num. 6:25-26, Ps. 80:20, 2Kor. 4:6).
- Die bouvallige stad (v.11-17)
Party mense hou daarvan om ou huise op te koop, dit te herbou en dit in luukse huise te verander. Dit is basies wat die Here in v.11 gedoen het. Hy het die ellendige en storm-verwoeste volk herbou en vertroos (v.11, 40:2). Hy het Jerusalem van die fondasie tot by die toppunt en reg rondom met waardevolle, kleurvolle, duursame, pragtige en koninklike stene herbou (v.11-12, Heb. 11:10, Op. 21:14, 18-21).
Voel jy dat jou lewe ‘n gemors is? Deur Jesus se kruisdood kan die Here iets mooi daarvan maak (v.11-12, 61:3, Ef. 5:25-27, Op. 21:2). Vra die Here om dit in jóú lewe te doen. En as Hy jou gered het, kan jy Hom vra dat sy Gees jou persoonlik deur die Bybel van Jesus sal leer (v.13, Ps. 119:12, 18, 29, 33, Joh. 6:45, 14:26, 16:13-15, Heb. 8:10-11, 2Pet. 3:18).
Namate jy God se Woord leer en dit gehoorsaam, sal jy sy vrede op ‘n dieper en voller vlak ervaar (v.13, 10, Ps. 119:165). Maar sy vrede is nie net vir jou persoonlik nie. Oral in die wêreld sal gelowiges en die burgers van die Nuwe Jerusalem dit ervaar (v.13, 3). God sal wegdoen met verdrukking, onreg en vrees; Hy sal sorg dat geregtigheid seëvier (v.14, 9:5-6). Bid dit vir Suid-Afrika en die wêreld (1Tim. 2:1-2).
Maar selfs met ‘n samelewing vol gelowiges, vrede en geregtigheid, sal nie almal goed wees en die Here dien nie. Party mense sal Hom nog steeds haat en die kerk probeer aanval (v.15). Hierdie aanvalle kom nie van die Here af nie, maar uit die vervolgers se bose harte (v.15).
ISIS, die LGBT gemeenskap, die Kommuniste, ens. kan egter nie doen wat hulle wil nie. God het die mense geskep wat teen die kerk saamspan, bose planne smee en Christene voor die hof daag (v.16-17). Hiervoor sal die Here hulle straf en laat misluk (v.15, 17, Sag. 2:8, Op. 20:7-9). Die kerk sal oorwin en die erfdeel van ‘n Nuwe Jerusalem kry vol voorspoed, vrede, sukses, veiligheid en God se volmaakte geregtigheid deur Jesus se lewe en kruisdood (v.17, 53:11, 2Kor. 5:21, Fil. 3:9).
Ons het dit nog nie ten volle nie. Maar jy kan ook nie sê dat ons nog nie iets daarvan gesien, gehoor en in ons harte ervaar het nie. Mense haal soms 1Kor. 2:9 aan om te sê dat ons nie ‘n idee het van hoe dit in die Nuwe Jerusalem sal wees nie. Maar hulle lees nie die volgende vers nie. Paulus sê: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar...”
As jy deel van die kerk is wat Jesus, die evangelie, die Bybel en gebed liefhet, en wat vol is van die Heilige Gees en gehoorsaam lewe, het jy reeds ‘n stukkie van die hemel ervaar. Maar as dit jou nie aantrek nie, ken jy nie God se voorspoed en vrede nie. T.s.v. die rykdom en sukses wat jy in hierdie lewe het, is jy so arm soos ‘n kerkmuis. Jy sal dit dadelik besef as jy op die oordeelsdag voor Jesus staan.