Wanneer laas het jy goeie nuus op die TV en radio gehoor, of dit in die koerant gelees? Daar is nie veel om oor hoopvol te wees as jy na Suid-Afrika en die wêreld kyk nie. Maar as burgers van die hemel het ons meer as genoeg rede om fees te vier. Dit is waaroor Jes. 52:1-12 gaan.
- Voorbereiding (v.1-2)
‘n Kind word ‘lekker’ wakker as sy pa hom 4 uur in die oggend wakker maak, met sy kombers kar toe dra, en sê: ‘Ons ry nou see toe en gaan 08:00 by ‘n restaurant stop om ontbyt te eet.’
Net so het Jerusalem ‘lekker’ wakker geword toe die Here hulle vir ‘n tweede keer wakker maak (vgl. 51:17) en sê: ‘Word wakker en trek julle pragtige priester-klere aan om die fees van verlossing te vier.’ (v.1, Eks. 28:2, 19:6, Op. 1:6).
Ons moet ook ons mooiste en beste klere aantrek vir die hemelse fees. Hoe moet jy hierdie klere aantrek? Word wakker; moenie geestelik slaap nie (v.1, Ef. 5:14). Laat Jesus jou deur die evangelie in die bad van sy bloed was (Ef. 5:26-27, Op. 7:14, 22:14). Trek Hom aan deur in Hom te glo en gedoop te word (Rom. 13:14, Gal. 3:26-27). Trek die vuil klere van jou sonde uit deur bekering; trek skoon klere aan deur gehoorsaam te wees (Ef. 4:22-24, Op. 19:8).
Net as jy op hierdie manier heilig is, in jou hart besny is en rein is, sal jy deel in die fees van die Nuwe Jerusalem (v.2). Dié wat onrein, onheilig en onbesnede van hart is, mag nie in die hemelse stad inkom nie (v.2, Matt. 5:8, Heb. 12:14, Op. 21:27, 22:15). Hoe sal dit wees as Satan, keiser Nero, Adolf Hitler, Saddam Hussein en ander bose mense daar is? En hoe sal dit wees as jy met die vuil klere van jou onheilige lewe daar is? God sal jou nie daar toelaat nie. Jy sal sy Naam swart smeer en sy kinders met jou sonde besmet, teister, besoedel, bedroef.
Is dit dan nie die belangrikste ding in die wêreld om jouself te ondersoek om te sien of jy Jesus liefhet en jou sonde haat nie? Moet jy jouself nie toets om te sien of jy regtig gered is nie? Moenie maar net aanneem jy is gered, omdat jy woorde en frases soos Jesus, geloof, bekering, kerk, kruisdood, opstanding en Joh. 3:16 ken nie
A.g.v. die vyand wat haar vertrap het, het Jesaja vir Jerusalem gesê om op te staan uit die stof (v.2, 51:23). God het die slawejuk van haar nek afgehaal en haar bevorder van die stof tot die troon (v.2). Net so sal daar vir ons groot vreugde wees wanneer Jesus op die laaste dag die stof van beproewing, versoeking, die oorblyfsels van sonde, vervolging, hartseer, ‘n swak liggaam vol siekte, pyn, swakheid en dood van jou afskud, en jou op die troon langs Hom laat sit (v.2, Op. 3:21).
Laat die gedagte hieraan jou help om te volhard wanneer jy in die stof lê en daar ‘n swaar juk op jou is. Eintlik sit jy reeds saam met Jesus op die troon (Ef. 2:6), maar eendag sal jy die volle omvang daarvan geniet en verstaan.
- Verlossing (v.3-6)
Die losprys-teorie sê dat Jesus in sy kruisdood die duiwel moes betaal om ons vry te koop. Dit is soos toe Aslan in The Chronicles of Narnia die heks met sy lewe betaal het om ‘n verraaier vry te koop. Maar hierdie teorie is nie Bybels nie. Jesus het die duiwel niks geskuld of betaal om ons los te koop nie.
Egipte, Assirië, Babilon, sonde en Satan het God se volk onderdruk. Hulle het die Here niks betaal om God se volk te koop nie, en daarom sou het Hy hulle vrygemaak sonder om die vyand te betaal (v.3-5, 45:13, 50:1).
Maar al het Hy nie die vyand betaal nie, het dit iets gekos en moes Hy Iemand betaal. Hy het die losprys aan die Vader betaal (Ef. 5:2). Ek en jy het teen God gesondig en moes met ons lewens betaal. Jesus is die ewige Seun van God. Sy lewe het ‘n onskatbare waarde, ‘n groter waarde as almal van ons s’n saamgetel. Daarom kon Hy miljoene mense se sondeskuld betaal. Hy het nie met goud of silwer betaal nie, maar met sy eie bloed (1Pet. 1:18-19).
As Hy dan ons sondeskuld betaal het, is verlossing gratis: kom haal dit net (55:1, Op. 21:6, 22:17). Moenie met agterdog en op ‘n afstand toekyk en dink dat daar ‘n vangplek is, net omdat dit gratis is nie.
Maar hoe kan die Here ons sy verlossing gee as ons sy straf verdien? Israel se leiers het geween toe die Here hulle straf, maar hulle dade het dit verdien (v.5). Hulle sonde het gemaak dat die vyand God se Naam laster (v.5, Ezek. 36:20-22, Rom. 2:24). God het dus nie sy volk verlos en hulle harte verander omdat hulle dit verdien nie, maar sodat die vyand nie meer sy Naam sou belaster nie (48:9, Ps. 79:9, Eseg. 36:23-32).
Dit is wonderlike nuus. As jy moes bid: ‘Vergewe en herstel my, omdat ek nou beter lewe; gee my asb. wat ek verdien,’ sou jy onmiddellik hel toe gaan. Wees dankbaar dat jy kan bid: ‘Vergewe my asb. vir die eer van U Naam... Laat U Naam geheilig word: moenie toelaat dat die kerk ‘n slegte getuienis is en U Naam belaster nie: herstel ons asb., O God!’
Natuurlik kan jy nie so bid as jy nie eers besef hoe groot en heilig die Here se Naam regtig is nie. Soos Israel moet jy sy Naam deur die Messias ken (v.6). Hy is immers die Naam en volle openbaring van wie en wat God is (Joh. 1:18). In Hom praat God direk met ons (‘Hier is Ek!’), en nie net deur ‘n menslike middelaar soos Moses nie (v.6)
Die Here praat nog steeds direk met ons. ‘n Prediker wat die Bybel preek herhaal nie net wat God deur Jesaja, Moses en Paulus gesê het nie, maar die Here sê dit weer!
Wat sê Hy vandag vir jou? ‘Hier is Ek!’ (v.6). Wonder jy hoe om gered te word? ‘Hier is Ek!’ Soek jy troos in beproewing? ‘Hier is Ek!’ Wil jy na die Vader toe terugkeer, maar jy weet nie waar om te begin nie? ‘Hier is Ek!’ Vra jy hulp teen die vyand? ‘Hier is Ek!’ Is jy verward? Kort jy wysheid? Wil jy jou sonde oorwin? Wil jy die Here beter leer ken? Het jy iets nodig? ‘Hier is Ek!’
- Oorwinning (v.7-10)
Toe ek 15 was het een van my arm klasmaats skielik ‘n uitblinker atleet geword. Hy het die 1500 meter ver gewen. Hoe het hy so fiks geword? Hy het op skooldae van buite die dorp af skool toe gehardloop.
Daar was ook baie fikse ‘atlete’ in Israel. Hulle het gehardloop om boodskappe af te lewer (bv. 2Sam. 18:19-32). In Jes. 52:7 het een van hierdie boodskappers oor die berge gehardloop. Hy het goeie nuus gebring. Daarom sê Jesaja dat sy voete lieflik is. Wat was die goeie nuus wat hy gebring het? God het die vyand oorwin; Hy het sy volk van hulle sondes verlos; Hy het vrede gebring tussen Hom en sy volk; Hy het oor sy volk en die nasies regeer (v.7, Ps. 103:19, Op. 19:16).
Die wagte het die boodskapper sien aankom en gejuig (v.8). Hulle blydskap het vermeerder toe hulle agter die boodskapper Iemand anders sien aankom: die Here wat teruggekeer het Jerusalem toe (v.8)! Hy het die stad wat in puin gelê het deur sy vertroosting en verlossing herleef (v.9). Hy het sy moue opgerol en die sterk arm van die Messias voor die nasies ontbloot om hulle te red (v.10, 53:1).
Hoe help hierdie verse ons vandag? Ek het hierdie week vir ‘n eiland genaamd Noord-Sentinel gebid. Dit is in die Andaman en Nicobar eiland groep. Dit lê tussen Tailand en Indië. Toegang tot hierdie eiland is verbode. Die mense dra nie klere nie en is primitief. Hulle het nog nooit die evangelie gehoor nie.
Bid vir lieflike voete om die goeie nuus na hulle en ander onbereikte stamme toe te vat (Rom. 10:13-15). Moenie so vasgevang raak in jou eie lewe dat jy van die wêreld vergeet nie. Wees ‘n wagter wat in gebed uitkyk vir God se verlossing in Suid-Afrika en die nasies, ‘n wagter wat sal bid vir herlewing en die wederkoms (v.8, 62:6-7, Ps. 130:5-6, Luk. 2:38).
Bid dat jou voete vir iemand anders lieflik sal wees, omdat jy die goeie nuus van God se vergifnis en vrede in Jesus met hulle deel (v.7, Ef. 2:17). Bid ook dat Jesus na sy volk toe sal terugkeer. Sien uit na die dag wat jy Hom vierkantig in die oë sal kyk (v.8, 33:17, 1Joh. 3:2, Op. 22:4). Dan sal jy fees vier en sing oor die mag waardeur Hy ons vertroos en herstel het, en waardeur Hy die eindes van aarde verlos het (v.9-10, Ps. 98:3-4, Matt. 28:19-20, Hand. 1:8). God het nie die gebreekte skepping weggegooi nie, maar deur sy Seun herstel (v.9, Kol. 1:20). Hoe kan jy nié fees vier en bly wees wanneer jy dit hoor nie?
- Reiniging (v.11-12)
As jy op kort kennisgewing hoor dat daar gaste oppad is, maak jy gou jou huis skoon. Israel het geweet dat die Messias oppad is (v.7-10) en moes hulleself daarom van hulle sonde reinig (v.11). Hulle moes ook rein wees om die heilige voorwerpe uit Babilon Jerusalem toe dra (v.11, Esra 1:5-11).
Net so moet ons onsself in die lig van die wederkoms reinig (1Joh. 3:2-3, 2Kor. 7:1). Moenie deel hê aan die wêreld se denke oor die huwelik, seks, geld, plesier, ens. nie, maar vlug daarvoor (v.11, Joh. 17:15, Ef. 5:11, Jak. 4:4, 1Joh. 2:15-17, Op. 18:4). As jy nie vlug nie en jou kop in die sand wil steek soos ‘n volstruis, sal jy daaraan gewoond raak, jou siel versondig en in jou liefde vir die Here verflou (Matt. 24:12, 2Pet. 2:7-8).
Los daarom enige vriende, boeke, films en gedagtes wat jou versoek om soos die wêreld te wees. Vra die Here se beskerming in die gierige en perverse omgewing waar jy werk. Moenie aan die versoeking toegee in ‘n werksfeer waar mense oneerlik is, van ander skinder, die baas teëgaan en lui is nie. As jy jouself reinig sal die Here jou verwelkom (2Kor. 6:17, Jak. 4:8).
Koning Kores van Persië het die volk bevry, sodat hulle rustig uit Babilon kon trek en nie haastig was soos toe hulle uit Egipte weg is nie (v.12, Eks. 12:33, 39). God het hulle oppad Jerusalem toe beskerm, net soos wat Hy hulle tydens die uittog uit Egipte deur die wolk- en vuurkolom van voor en agter gelei en beskerm het (v.12, Eks. 13:21-22, 14:19-20, Esra 8:21-23, 31).
Die Here sal jou ook op jou pad hemel toe beskerm en jou veilig daar aanbring (v.12, 58:8, Ps. 139:5, 2Tim. 4:18). Vrees jy dat die sonde, versoeking, die toekoms, die verlede, demone, mense, vervolging, die dood of iets anders jou sal kniehalter? Niks kan jou uit God se hand ruk of van sy liefde skei nie: jy is heeltemal veilig (Joh. 10:28-29, Rom. 8:38-39). Hieroor het jy meer rede om fees te vier en bly te wees as ‘n Arabier in Dubai wat op Nuwejaarsdag partytjie hou en klappers skiet.