Lukas 16:27-31
’n Ou teoloog het gesê: ‘Hell is nothing more than truth known too late.’1 Die ryk man in Lukas 16 was so: hy het te laat vir homself en sy ongeredde familie op aarde gepleit. Die volledige gelykenis lees as volg:
19 “Daar was ’n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. 20 Voor die ingang van sy huis het ’n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, 21 en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. 22 Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. 23 En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors. 24 Hy het geroep, ‘Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.’ 25 Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. 26 En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie.’ 27 Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, 28 want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ 29 Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ 30 ‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ 31 Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.’ ”
1. Die ryk man se versoek (v.27-28)
Die ryk man wou hê Abraham moet Lasarus aarde toe stuur om sy vyf broers te waarsku (v.27). Hy het geweet sy broers is sleg en op pad hel toe. As hulle moes weet wat hy weet, sou hulle alles in hulle vermoë doen om uit die hel te bly. As ongelowiges net vir vyf minute ’n voorsmaak van die hel kan hê, sal hulle nie sê: ‘Ek gee nie om as ek hel toe gaan nie; ek is nie bang nie.’ Die ryk man kon die hel se pyn aan sy siel voel. Daar was vir hom geen verligting nie (v.24-26), dus het hy dit vir sy broers gesoek (v.27-28). Hulle sonde het hulle soos afkophoenders na die afgrond gestuur. As hulle so sou sterf, was daar geen terugkeer nie. Wie deur die poorte van die hel stap, is vir ewig sonder hoop. As ons iets van die hel se smarte verstaan, sal ons mense nie met ’n koue hart waarsku nie: “Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig.” (2Kor. 5:11).2 Na ’n preek van D.A. Carson oor die hel was ek diep geraak. Toe ek twee ongelowiges oor die hel waarsku, kon hulle sien ek is bloedernstig. Hulle het aandagtig geluister. Laat ons mense nie met ’n vat-dit-of-los-dit gesindheid waarsku nie. Ek wens ongelowiges wil besef ons haat hulle nie as ons hulle teen die hel waarsku nie. Ons oordeel hulle nie, maar is lief vir hulle. Sal jy tevrede wees as ’n dokter weet jy is terminaal siek en die oplossing by hom het maar stilbly, omdat hy nie jou gevoelens wil seermaak nie? ‘They do not love you that do not warn you, poor hell-deserving sinners. O! remember that love warns.’ (Robert Murray McCheyne).3
Meer as vyftien jaar gelede het een van my vriende in ’n preek gesê: ‘We need evangelists who have seen the other world!’ As Lasarus kon, sou hy almal op aarde van die gruwelike hel oorkant die hemelse kloof vertel het. Hy sou hulle waarsku om nie net oor bekering te dink nie, maar om dit gou te doen voordat hulle sterf: ‘Many now in hell purposed to repent, but death surprised them.’ (Thomas Watson).4
As Lasarus kon, sou hy almal van die hemel se vreugdes vertel. Hy sou sê dit is nie ’n helder wit lig soos baie mense dink nie. Daar is nie vet gerubs met goue harpe op wolkies nie. In die hemel swem jy in die oseaan van God se heerlike liefde, rykdom, skoonheid, goedheid, wysheid, sterkte en meer. Jy vergeet van jouself en bewonder Hom. Hoe langer jy in sy teenwoordigheid is hoe hoër, wyer en dieper strek jou lofprysing en liefde. Daar verstaan jy jou skeppingsdoel, naamlik om God te ken, lief te hê en te bewonder. Jou gunsteling vakansie, natuurtoneel, geselligheid en ete op aarde is ’n skadu van die hemel se heerlikheid. Dit is hartseer dat mense dit mis. Hulle verkies ’n druppel van die wêreld se heuning bo die ewige vreugdes van God en die hemel: ‘What fools are they, who, for a drop of pleasure, drink a sea of wrath!’ (Thomas Watson).5
2. Abraham se antwoord (v.29-31)
Abraham het die ryk man se versoek nie toegestaan nie, maar gesê: “Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.” (v.29). Moses en die Profete verwys na die Gees-geïnspireerde Ou Testament (2Pet. 1:20-21). Die Jode was bevoorreg om God se Woord te hê (Ps. 147:19-20, Rom. 3:2, 9:4). Selfs sonder die Nuwe Testament kon die Ou Testament hulle die evangelie leer (Gen. 3:15, Psalm 2, 16, 22, 110, Jesaja 53, Gen. 15:6, Hab. 2:4, Eseg. 18:30, 32). Dit kon hulle van die finale oordeel en die hel leer (Job 19:29, Ps. 9:18, 11:6, 96:13, Pred. 11:9, 12:14, Jes. 2:10-21, 14:9, 15, 30:33, 66:24, Dan. 12:2, Joël 3:2, Judas 7). Ons het die Nuwe Testament by en kan nie sê: ‘Ek het nie geweet nie.’ Selfs die mense met geen Bybel nie weet God bestaan, hulle het teen Hom gesondig en gaan geoordeel word (Rom. 1:19-21, 32, 2:14-15). Ek en jy het nie ’n verskoning nie en sal swaarder geoordeel word as ons ons nie bekeer nie (11:9-15).
Wat doen jy met die Bybel? Dit is nie genoeg dat jy dit het nie. Die Jode het ’n Ou Testament vol Messiaanse beloftes gehad, maar nie in Hom geglo toe Hy aarde toe kom nie. Wat van jou? Jy het ’n volledige Bybel; waarskynlik meer as een. Tog sal nie eers ’n honderd Bybels jou help, tensy jy dit lees nie. Baie mense gaan verlore met ’n Bybel onder die arm. ‘There is dust enough on some of your Bibles to write “damnation” with your fingers.’ (Charles Spurgeon).6 ‘The saddest road to hell is that which runs under the pulpit, past the Bible, and through the midst of warnings and invitations.’ (J.C. Ryle).7
Om egter net die Bybel te lees, is nie genoeg nie. Jy moet dit gehoorsaam (Jak. 1:22). Die Here vereis ’n volmaakte gehoorsaamheid, anders is jy vervloek (Gal. 3:10). Christus alleen het die Woord volmaak gehoorsaam (1Pet. 2:22). Dit het Hy in ons plek gedoen waarna Hy namens ons aan die kruis vervloek is (Gal. 3:13). Wie in Hom glo, spring die vloek vry deur die Vader wat Christus se gehoorsaamheid aan ons toereken en ons sonde aan Hom (Kol. 2:14, 2Kor. 5:21). Jou plig is om jou te bekeer, jou sonde te bely, in Christus te glo en Hom as jou persoonlike Verlosser te ontvang (Fil. 3:7-9, Sag. 13:1, Jes. 1:18, Joh. 1:12). Bly daarna in die Woord en gebed (Ps. 1:2, Joh. 15:7). Vra die Gees se hulp om goeie vrugte te dra en gehoorsaam te lewe (Gal. 5:22-25, Fil. 2:12-13). Bely jou sonde en bekeer jou as jy val; staan weer op en doen reg (1Joh. 1:9, Spr. 24:16, Op. 2:4-5).
Die ryk man het nie gedink die Ou Testament kan ’n mens hierdie dinge leer nie (kontra 2Tim. 3:14-17). Hy het gedink sy broers moet ’n wonderwerk sien om gered te word (v.30). Maar al sou ’n dooie mens voor ’n ateïs se oë opstaan, sal hy nie glo nie. Al sou ons bose samelewing sien hoe Christus siek mense genees en demone uitdryf, sal hulle nie glo nie. Sonder God wat geloof en bekering skenk, sal niemand glo nie (Ef. 2:8-9, 2Tim. 2:25-26). Hulle sal sê: ‘Die man was nie regtig dood nie... Die evolusie van die mens se gene laat siek mense gesond word... Die langtermyn effek van medikasie het die sieke genees... Dit was geen wonderwerk nie, maar oëverblindery en towery... Dit was die duiwel se werk (11:14-15)... Die Nylrivier het nie regtig in bloed verander nie; dit was rooi alge... Klimaatsverandering of die energie van die heelal lei tot sogenaamde wonderwerke.’
Die Jode het soortgelyke verskonings vir Jesus se wonderwerke gehad (Joh. 5:36, 40): ‘Hy het nie uit die dood opgestaan nie; die dissipels het sy liggaam gesteel (Matt. 28:11-15)... God het nie regtig uit die hemel met Hom gepraat nie; dit was donderweer of moontlik ’n engel (Joh. 12:28-29).’ Waar hulle ’n wonderwerk nie kon ontken nie—soos Lasarus se opstanding uit die dood!—het hulle dit eenvoudig geïgnoreer (v.31, Joh. 11:43-44, 46-50). In dieselfde asem wou hulle meer wonderwerke sien voor hulle bereid was om te glo (Matt. 12:38-39, 1Kor. 1:22). Maar wonderwerke skep nie geloof nie (Eksodus 7-12). Dit verg ’n bonatuurlike werk van die Heilige Gees voor mense die waarheid sal glo (Hand. 16:14, Rom. 1:16). Tot dit gebeur, sal wetenskaplike mense die bonatuurlike verwerp (soos die big bang?), en net glo in wat hulle sintuie kan waarneem (soos evolusie?). Ongelowiges wat wel in die bonatuurlike glo, sal vir enigiets val wat na ’n wonderwerk lyk. Die Bybel se wonderwerke is onvoldoende om hulle te oortuig, al was daar duisende ooggetuies betrokke. Hulle ignoreer die wonderwerk van weergeboorte; van slegte mense rondom hulle wat radikaal verander word (2Kor. 5:17). Hulle sien dit, maar ontken die waarheid van die evangelie. Die probleem is nie onvoldoende bewyse dat Jesus die Seun van God is nie. Die probleem is liewer dat mense geestelik verblind en in die mag van die duiwel is (2Kor. 4:4, Ef. 2:1-3, 1Joh. 5:19). Daarom is die oplossing vir die probleem nie polities, opvoedkundig of godsdienstig van aard nie. Sogenaamde oplossings het ’n power ‘track’ rekord. Selfs wonderwerke sal nie die probleem oplos nie. Die oplossing lê by die Woord van God wat deur die krag van die Heilige Gees verkondig word (v.31, Rom. 10:5-17, 2Kor. 4:5-6). Ek sê dit nie as ’n cliché nie. Baie predikers praat van die Heilige Gees se krag, maar hulle lewe nie so nie. Hulle preek met vertroue op hulle teologiese kennis, eksegetiese vaardigheid, filosofiese argumente en vlotheid van spraak. Goeie eksegese en ’n suiwer teologie is nodig. Ek ontken dit nie. Die Heilige Gees seën tog nie sentimentele sedelesse of vals preke nie. Hy seën sy Woord en open blinde oë om Christus in die Woord te sien. Maar die Heilige Gees vra meer as dit. Hy soek predikers wat Hom en sy Woord eerder as hulle knap aanbieding vertrou (Hand. 4:31, 1Kor. 2:1-5). Selfs dan sal party mense nie luister nie. Ek bedoel nie die Gees kan hulle nie red nie. Maar as hulle aanhoudend teen Hom sondig en hulle harte verhard, sal Hy hulle oorgee aan wat hulle wil hê. Hy sal sy invloed onttrek en hulle verhard (Matt. 11:25, 13:10-15, Joh. 12:39-40, Rom. 9:18).
Moenie met die evangelie speel of die Heilige Gees ignoreer as Hy praat nie. Moenie soos die ryk man wag totdat jy sterf nie. Jy het net een lewe. Wy dit ten volle aan Christus en beïnvloed ander mense vir Hom.
Only one life,
’Twill soon be past;
Only what’s done
for Christ will last.
—C.T. Studd (1860-1931)
Wag tot op jou sterfbed as jy my nie glo nie. Die dood sal jou van alles stroop: jou geld, besittings, status, sukses, familie, lewe, alles. Dan is dit jy en God (Heb. 9:27). Moenie soos die ryk man wees nie. Spyt kom te laat. Vlug na Jesus toe; die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Vertel jou familie, vriende, kollegas, bure en vreemdelinge van Jesus se liefde vir sondaars. In hemel kan jy nie evangeliseer nie (v.26, 27-31). Maak jou mond oop terwyl jy kan, al gee jy net vir iemand ’n traktaatjie. Baie mense wil dit nie hê nie, maar die realiteit van die hemel en die hel vereis dit.
1 Aangehaal in J.C. Ryle, Luke: Vol. 2—Expository Thoughts on the Gospels (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2012, 1986 [1858]), 161
2 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne (London: The Banner of Truth Trust, 1961), 168
4 Thomas Watson, The Lord’s Prayer (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 1965 [1692, 1890]), 279
5 Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 44
6 Charles Haddon Spurgeon, New Park Street Pulpit Volume 1, The Bible: Hosea viii.12 (18 March 1885). Verkry by https://www.spurgeon.org/resource-library/sermons/the-bible-2/#flipbook/
7 J.C. Ryle, Home Truths (Ipswich, England: William Hunt, 1860), 14