Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 October 2015

’n Oproep tot heiligheid

Anointing Aaron

Om heilig te wees beteken primêr om afgesonder te wees. Oor die afgelope paar jaar egter, het die Kerk in Suid-Afrika alles in haar vermoë gedoen om nié anders te wees as die wêreld nie, maar om die wêreld te akkomodeer.  In Eksodus 29 doen God ‘n ernstige beroep op gelowiges om heilig te wees.  “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:16).

 

Heilige klere (v.4-9, 29-30)

Toe ek op hoërskool was, het ek in die kadetorkes gespeel. Op SA’s het ons lugmag uniform gedra.  Voor inspeksie moes ons ons klere stryk, nie ons arms buig nie (sodat die gestrykte klere nie voue kry nie), ons skoensole poleer, rekke om ons kouse sit sodat dit nie afsak nie, opskeer, almal dieselfde spuitgoed gebruik, ons tande borsel, ons instrumente poleer, en almal ons hare dieselfde sny.  As ons só moes reg kry vir die inspekteur, hoeveel te meer moes Aäron en sy seuns nie voorberei vir diens aan ‘n heilige God nie?

 

Moses moes vir Aäron en sy seuns na die tent se ingang toe bring (v.4, die tabernakel was nog nie gebou nie). Daar moes hy hulle met rein water was.  Hulle moes skoon wees vir diens in God se tent (v.4).  Later kon hulle net hulle hande en voete was (30:19).  Nadat hulle gewas is, moes Moses hulle klere aantrek.  Hy moes vir Aäron die wit onderkleed, blou bo-kleed, skouerkleed met die borstas, gordel vir die skouerkleed, tulband, en goue kroon aantrek (v.5-6).  Daarna moes hy hom met olie op sy kop salf om hoëpriester te wees (v.7).  Die olie was gemaak van 5.5 kg mirre, 2.5 kg soetkaneel, 2.5 kg kalmoes (‘n geurige riet), 5.5. kg kassie (van Cinnamomum cassia se bas), en 3.5 liter olyfolie (30:23-24). Die olie het teen Aäron se baard afgeloop tot op die kraag van sy skouerkleed (Psalm 133:2).  So is sy priesterlike klere geheilig of afgesonder.  Alles sou lekker geruik het.  Die salwing het gewys dat God hom afsonder en met die Gees vul vir spesiale diens.

 

Moses het wit klere aangetrek vir Aäron se seuns (v.8). Hy het hulle gordels en hoofbedekings vasgebind (v.9).  Hoekom het hulle nie self aangetrek nie?  God wou wys dat hulle nie self die amp gekies het nie, maar dat Hý hulle afgesonder het as priesters (Hebreërs 5:4-5).  Hulle sou vir ewig priesters wees (v.9).  Moses het alles gedoen soos wat God gesê het (v.9).  Ná Aäron se dood sou sy nageslag sý klere kry en vir sewe dae gesalf en ingewy word (v.29, 35).  Hierdie klere was net vir sý nageslag wat in die Allerheiligste moes inkom (v.29).

 

Wat is die lesse uit hierdie verse? Wees rein en heilig vir Jesus.  Hoe doen ‘n mens dit?

 

[1] Word gewas in die bad van weergeboorte (Titus 3:5), die Woord (Efesiërs 5:26), en die doop (Hebreërs 10:22). As jy gered is, hoef jy nie weer te bad nie want jy is reeds skoon.  Tog maak sonde nog jou voete vuil.  Was jouself deur gereeld jou sonde te bely (Johannes 13:8-10, 1 Johannes 1:9).

 

[2] Soos Aäron, is Jesus met die olie van die Gees gesalf en ruik Hy soet (Psalm 45:8-9, Matteus 3:16). Hy is die Messias of Christus – die Gesalfde.  Wees naby Hom, sodat die geurige olie van die Gees op jou drup (1 Johannes 2:20).  So kan ook jý ‘n heilige priester wees vir Jesus.  In die Ou Testament was net party mense priesters.  In die Nuwe Testament is elke gelowige ‘n priester (1 Petrus 2:9).

 

In die Middeleeue kon net priesters die nagmaalwyn drink, vir ander bid, en die Skrif uitlê. Ons glo nie dat die dominee of enige ander geestelike leier hoër is as die res nie.  In Christus kan almal die nagmaal gebruik, die Skrif lees, hulle sonde bely, geestelike offers bring (1 Petrus 2:5, Hebreërs 13:15-16, Romeine 12:1), en bid.

 

[3] Ons moet die evangelie aan die volgende geslag oordra (v.28-29, Genesis 18:19, Deuteronomium 6:7, 1 Korintiërs 7:14, 1 Timoteus 2:15, Psalm 78:4-7, Efesiërs 6:4). Die skuld van Suid-Afrika se onheilige jongmense lê aan die voete van onbetrokke pa’s wat nie vir hulle kinders die evangelie leer nie; aan die voete van ouers wat self onheilig is en ‘n slegte voorbeeld stel.  Ons moet verseker ‘n beter taak hierin doen.  As ons en ons kinders onheilig is, sal ons nie die Here sien nie (Hebreërs 12:14).

 

Heilige offers (v.1-3, 10-28, 31-34, 38-42)

‘n Rabbi se seun het vir hom gevra hoe versoening gemaak word vir sondaars. Die Rabbi het gesê:  ‘Deur bloed’ (Levitikus 17:11).  Die seun het gesê:  ‘Hoekom is daar geen bloed-offers in ons sinagoges nie?’  Die Rabbi het geantwoord:  ‘Want geen offer kan buite Jerusalem se tempel gebring word nie, en daardie tempel is verwoes.’  Die seun het sê:  ‘Dan het ons nie versoening nie.’[1]  Sonder bloed kan daar nie versoening en vergifnis wees nie (Hebreërs 9:22).  Daarom was daar offers nodig.  Uiteindelik is die offers in Jesus se kruisdood vervul.

 

Om die priesters af te sonder (28:41) moes Moses ‘n bul en twee ramme sonder gebrek vat (v.1). Moses het spesifieke instruksies van ‘n spesifieke God af ontvang.  Hy moes ongesuurde brode, koeke, en platbrode maak van fyn meel, en dit as ‘n graanoffer bring (v.2).  Hy moes die koeke met olyfolie meng, en die platbrode met olie smeer (v.2).  Die brode het seker soos ongesuurde vetkoek of braaibroodjies geproe.  Hy moes die brode en koeke in ‘n mandjie sit, en dit nader bring saam met die lewende bul en twee ramme (v.3).

 

Nadat Moses die priesters gesalf en geklee het, moes hy die bul na die tent se ingang toe bring (v.10). Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit (v.10).  Daardeur het hulle gesimboliseer dat hulle sonde op die dier oorgedra word (Levitikus 16:21-22).  Die dier het gesterf, sodat hulle nie sou nie.  Moses het dan die bul voor die Here geslag by die tent se ingang (v.11).  Die bul se bloed is op die horings van die altaar gesmeer, en die res is aan die voet van die altaar gegooi (v.12).  Die horings het gewys dat God sterk is om te red en sonde te vergewe (vgl. 1 Konings 1:50).

 

Die vet wat oor die ingewande was, die lap aan die lewer, die niere en sy vet, is as ‘n geurige offer op die altaar gebrand (v.13). Die ingewande moes verbrand word, omdat die heidene dit soms gebruik het om die toekoms te voorspel (Esegiël 21:21).  God wou nie hê sy volk moes soos die heidene wees nie.  Die bul se vleis, vel, en pensmis moes as sonde offer buite die kamp verbrand word (v.14).

 

Volgende moes hulle hul hande op die eerste ram se kop lê (v.15, 10). Daarna het Moses die ram geslag, en sy bloed teen die kante van die altaar gegooi (v.16).  Hy moes die ram in verskillende snitte slag (v.17).  Hy het die bene en binnegoed gewas (v.17, seker soos wat ‘n mens afval skoon skrop).  Saam met die kop het hy dit op die rooster as ‘n brandoffer verbrand (v.17-18).  Hierdie was ‘n geurige voedseloffer vir die Here (v.18, Genesis 8:20-22).

 

Die priesters het ook hulle hande op die tweede ram se kop gesit (v.19). Die ram is geslag, en sy bloed is op die priesters se regter oorlobbe, duime, en groottone gesmeer (v.20).  Die res is aan die kant van die altaar uitgegooi (v.20).  Hoekom die regterkant?  Regs is simbolies van sterkte (15:6).  Hoekom die oor, duim, en groottoon?  Die oor het gewys dat hulle gereed was om vir God te luister (21:6).  Die duim het gewys hulle sou God se wil doen, en die groottoon het gewys hulle sou in God se weg wandel.  Iemand sonder duime en groottone was magteloos (Rigters 1:6).  Die priesters het dus gewys dat hulle God met hulle hele krag sou dien.

 

Moses het bloed en salfolie op die priester en sy klere gesprinkel. So het hy gewys dat die priester vergewe en afsonder is (v.21).  Moses moes die tweede ram se vet, vet stert, vet oor die ingewande, lap oor die lewer, niere en die vet daarvan, regterboud, en brode vat (v.22-23).  Hy het dit op die priesters se handpalms gesit (v.24).  Hulle handpalms was seker oop om te wys hulle is arm en behoeftig (v.24).  Hulle moes dit as ‘n beweegoffer voor die Here waai (v.24).  Moses het dit dan bo-op die vorige offer gebrand.  Weereens was daar die aangename geur van braaivleis en vars roosterkoeke (v.25).

 

Moses het die tweede ram se bors voor die Here gewaai, dit geheilig, en dit geëet (v.26-27). Die dy van enige vrede offer was vir die priesters (v.28).  Hulle het die res van die tweede ram se vleis in ‘n heilige plek gekook en geëet (v.31).  Hulle het die skaapvleis en brood voor die tent se ingang as ‘n verbondsete geëet (v.32).  Geen buitestaander kon dit eet nie, en die oorskiet moes verbrand word (v.33-34).

 

Daar moes elke dag twee jaar-oue lammers op die altaar geoffer word: een in die môre en een in die aand (v.38-39).  Saam met die lamsvleis moes hulle 730 ml fynmeel, 875 ml geparste olie, en 875 ml wyn offer (v.40-41).  Lamsvleis met olyfolie en rooiwyn klink darem maar lekker, né?  ‘n Bietjie meel sou dit soos ‘n schnitzel laat smaak het.  Hierdie reël het vir al hulle geslagte gegeld.

 

Wat is die les uit hierdie verse? Kom na die kruis toe vir regverdigmaking en heiligmaking.  Hoe doen ‘n mens dit?  Party mense sê as jy net misties oor die kruis nadink sal jy heilig word.  Dit is onbybels, want jy moet ‘n aktiewe rol speel in jou heiligmaking (Efesiërs 4:22-24).  Dis nie wat ek bedoel met ‘kom na die kruis toe vir heiligmaking’ nie.

 

Ander leef asof God onbetrokke is in ons heiligmaking; asof jy deur jou eie pogings (soos Bybellees en bid) heilig word. Dit is ook verkeerd, want deur sy kruisdood het Jesus selfs die goeie werke wat jy doen, betaal (Efesiërs 2:10).  Vir God om jou goeie werke te aanvaar, moet Jesus dit in sy bloed was (v.20).  Voor God is selfs jou goeie werke walglik (Jesaja 64:4).  Net Jesus se kruisoffer is vir God ‘n lieflike geur (v.18, Efesiërs 5:2, Filippense 3:7-9).

 

Moenie jou lewe bring as ‘n sondeoffer om God se guns te wen nie.  Bring dit as ‘n dankoffer deur die lieflike offer van Jesus se kruisdood (Romeine 12:1). Dit is wat ek bedoel met ‘kom na die kruis toe vir heiligmaking’.  Besef dat Jesus se een goeie werk (die kruis) al jou goeie werke – al is dit ook hoe onvolmaak en swak – aanneemlik maak by God.

 

Jy kan egter nie jou goeie werke in sy bloed was as jy nie eers deur sy kruis-offer geregverdig is nie. Anders is jy soos ‘n Katoliek wat dink genade beteken God stel jou instaat om goed te doen, sodat jy jouself kan red.

 

Om die sondaar te regverdig, plaas God sy sonde op Jesus, die Lam van God (v.10, 1 Petrus 2:24, 2 Korintiërs 5:21). Die sondaar moet buite God se teenwoordigheid in die kamp gestraf word (v.14, Openbaring 22:15).  Jesus sterf egter namens ons buite die kamp (v.14, Hebreërs 13:12, Markus 15:20).  Jesus het die môre en aand offer vervul (v.39), toe Hy om 09:00 gekruisig is, en om 15:00 sy laaste asem uitgeblaas het (Markus 15:25, 34, 37).

 

Vertrou op Jesus en sy kruisdood. Net Hy en sy offer kan God tevrede stel.  Die hoëpriester kon nie sonder ‘n lam in die Allerheiligste inkom nie.  En dink jy jy sal voor God kom sonder die Lam van God in die arms van geloof?  Eet van Hom deur die geloof (v.28, Johannes 6:52-56, 35).  Geniet ook gemeenskap met Hom deur die nagmaalbrood en wyn (v.28, 32, Openbaring 3:20); deur ‘n daaglikse toewyding in die Woord en gebed (v.39).

 

Heilige altaar (v.35-37)

Ek hou nie van bloed nie. Ek word nie flou nie, maar voel ‘n bietjie duislig as ek dit sien.  Ek sal nooit ‘n dokter of paramedic kan wees nie.  Hoe walglik moes dit wees om emmers vol bloed langs, teen, en op die altaar te sien?  Dit moes erger gewees het om dit aan die kruis te sien:  oral oor Jesus se rug, gesig, hande, voete, sy, kop, en liggaam.  Dit is presies die idee wat God wil oordra, want dit is hoe walglik sonde is.  En omdat sonde so erg is, moes selfs die altaar geheilig word.

 

Moses het v.1-34 volgens God se bevel gedoen (v.35). Die hele proses van inwyding en afsondering het oor sewe dae gestrek (v.35).  Moses het elke dag ‘n bul vir versoening geoffer, en daardeur ook die altaar gereinig (v.36).  Om dit te heilig het hy dit ook gesalf (v.36).  Die altaar moes rein en heilig wees vir God om die offers te aanvaar (v.36).  Enigiemand wat aan die altaar geraak het, het heilig geword (v.37, Matteus 23:19).

 

Leer hierdie les uit die altaar: Hoewel die offer op die altaar gebring is, was dit nie die altaar wat die sonde vergewe het nie.  Net so is dit nie die kruis wat sonde vergewe nie, maar Jesus aan die kruis.  Soek ‘n heilige lewe en vergifnis in Jesus – nie in ‘n prent van die kruis in ‘n kerk, of in ‘n goue kruis om jou nek nie.  ‘We preach the cross – we don’t stick it up in our churches.’ (Stuart Olyott).  Die krag vir ‘n heilige lewe lê in Jesus self, en nie in die simbool van ‘n kruis nie.

 

Heilige God (v.43-46)

Ons heiligheid is die sonstrale en stormwolke wat sy onstaan het in God – die Son en Oseaan van heiligheid. Die laaste verse van Eksodus 29 leer vir ons hierdie belangrike deel van heiligheid.

 

God sou sy volk by die tent se ingang ontmoet (v.43). God sou die tent deur sy heerlikheid heilig of afsonder (v.43, 40:34).  Hy het ook die priesters, hulle klere, en die altaar geheilig (v.44).  Eers nadat God alles geheilig het, kon Hy onder sy volk woon (v.45).  Deur sy teenwoordigheid sou die volk geweet het Hý is die Here wat hulle uit Egipte gered het, juis vir hiérdie doel (v.46).  Hy het sy volk liefgehad en wou by hulle wees (v.46).

 

Kom in God se heilige teenwoordigheid in. God het na óns toe gekom, sodat ons na Hóm toe kan kom.  Hy reinig ons harte en woon in ons (v.45, 2 Korintiërs 6:16).  Hy maak die gemeente sy tempel (1 Korintiërs 3:16) en wil hê jy moet deel wees van sy kerk.  Hy red jou juis, omdat Hy bý jou wil wees, en nie omdat Hy mense nodig het om Hom te dien nie (v.45-46, Openbaring 21:3, Handelinge 17:25).  Leef naby Hom deur die Wood en gebed.

 

Christene wat die meeste vir God bereik het in die geskiedenis was heilig. Om bruikbaar te wees moet jy Jesus vurig liefhê en ‘n diep haat hê vir sonde.  Wyle Martin Holdt het eenkeer in ‘n onderdele winkel gestaan toe ‘n kliënt vir die kassier ‘n vuil grap vertel.  Martin het na die man toe gedraai en hard uitgeroep:  ‘Bly stil!  Dis vieslik!’  Daardie Sondag was beide mans se vroue in die kerk.  ‘n Ruk later het die mans saamgekom.  Deur Martin se heilige voorbeeld het twee gesinne na die Here toe gekom.  Mag die Here weer vir ons sulke tye gee.

[1] John Currid, Evangelical Press Study Commentary: Exodus, vol.2, p.239

Kategorieë