[youtube=http://youtu.be/afsFahBehFU]
Eddie is 11 jaar oud. Sy droom is om die koning te ontmoet. Maar hy weet dat hy nie net die telefoon kan optel om met die koning te praat nie. Omdat hy ‘n gewone en arm landsburger is, sal hy hom seker nooit ontmoet nie.
Op ‘n dag het Eddie saam met ander kinders sokker gaan speel by ‘n parkie. Daar het hy vir George ontmoet. Vir die res van die skoolvakansie het hy en George saam in die parkie gespeel. Op die laaste dag het George vir Eddie na sy huis toe genooi; hy wou hom aan sy pa voorstel. Eddie kon dit nie glo nie: George was die koning se seun! Wat Eddie nie self kon doen nie het George vir hom gedoen. Hy het deur sy vriend na die koning toe gekom.
Net so kan ons nie self na die Vader toe kom nie. In Jesus het ons egter ‘n Hoëpriester en Middelaar, en is die hemel oop vir sondaars.
Ons Hoëpriester op die aarde
Na die Tweede Wêreldoorlog is Duitsland in twee verdeel. Die hoofstad was in ook in twee verdeel. Kommunistiese Rusland het Oos-Berlyn beheer, terwyl Brittanje, Frankryk, en Amerika in die weste regeer het. Talle Duitsers wou van kommunistiese onderdrukking ontsnap en het na die weste toe gevlug. Tussen 1949-1959 het meer as 2 miljoen mense die ooste verlaat. Die kommuniste het begin bekommerd raak en op 13 Augustus 1961 begin om ‘n beton muur te bou. Die muur was om en by 4 meter hoog en 1.5 meter breed, met ‘n totale lengte van 155 km. Meer as 11 000 soldate het die muur beman. Mense wat na die weste toe wou ontsnap is doodgeskiet. Op 9 en 10 November 1989 het Duitsers begin om die muur plat te slaan. Oos- en Wes-Duitsland is amptelik verenig op 3 Oktober 1990.
Net soos hierdie muur, het ons sonde ‘n muur gebou tussen ons en God (Jesaja 59:2). In die tempel en tabernakel was daar ‘n gordyn tussen God en sy volk. Nadat die hoëpriester offers vir homself en die volk gebring het, kon slegs hý een keer per jaar agter die gordyn ingaan (Hebreërs 9:7). Jesus het gekom om dié skeidsmuur wat sonde gebou het, te verwyder. Toe Hy aan die kruis dood is, is die gordyn in twee geskeur (Matteus 27:51). Deur die offer van Jesus ons Hoëpriester, is die hemel oop en kan sondaars na God toe kom. In 10:19-22 sê die Hebreërskrywer:
“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.”
Hoekom het God sy Seun Jesus gekies om ons Hoëpriester en offer te wees (Hebreërs 5:4-6, Romeine 3:25)? Kon dit nie net sowel iemand anders gewees het nie? Nee, dit kon nie.
- In die Ou Testament moes die priester en offer geen fisiese gebrek hê nie (Levitikus 21:16-24, 22:21-25). Jesus alleen was sondeloos en sonder gebrek (Hebreërs 4:15, 7:26, 1 Petrus 1:19, 2:22). As Hy sonde gehad het, sou Hy eers vir sy eie sonde moes sterf en kon Hy nie vir óns s’n gestraf word nie (Hebreërs 7:27).
- Net Jesus is volkome God en mens. Omdat ‘n mens gesondig het, moet ‘n mens gestraf word (Hebreërs 2:17). Die bloed van diere kan nie ons sonde wegvat nie (Hebreërs 10:1-4). Ons Hoëpriester moet God wees (Hebreërs 4:14), want net God kan sondes vergewe (Markus 2:7, Psalm 49:8-10, 16).
In die Ou Testament het die hoëpriester vir Israel se sondes geoffer. Vir wie het Jesus die offer gebring? Vir die nuwe volk van God: die kerk wat bestaan uit Jode en heidene wat in Jesus glo (Hebreërs 2:17, Handelinge 20:28, Efesiërs 5:25, 2:12-19, Titus 2:14, Matteus 1:21, 1 Petrus 2:9).
Jesus bring nie aanhoudend offers soos die priesters in die Ou Testament nie (Hebreërs 10:11). Hy het ons sonde weggevat en kon dus aan die regterhand van God gaan sit (Hebreërs 10:14, 12). Hy hoef nie weer ‘n offer te bring nie.
Hoe moet jy hierop reageer?
[1] Erken dat sy volmaakte offer jou enigste hoop is. God sal dit nie aanvaar as jy jou eie ‘offer’ van tiendes, Bybelstudie, vas, gebed, armsorg, goeie werke, doop, lidmaatskap, kerkbywoning probeer byvoeg nie. Selfregverdige mense sê in effek: ‘Jesus se offer is nie volmaak nie; ek kan ‘n beter een bring.’ God haat dit. Net Jesus se bloed kan jou skuldige gewete reinig (Hebreërs 9:14, 10:19, 22). Die hemel is reeds oop deur sy offer. Vertrou op Hom en sy offer, en kom in!
[2] Moenie wag dat die tempel herbou sal word, die Jode weer offers sal bring, en die voorhangsel weer opgehang gaan word nie. Die tempel was ‘n skadu van die allerheiligste in die hemel, Jesus is die finale offer, die voorhangsel is geskeur, en die hemel is vir ewig oop (Hebreërs 9:24, 26, 10:20).
[3] Net deur Jesus en die oop gordyn kan jy na die Vader toe kom (Johannes 14:6, Handelinge 4:12). Alle paaie lei nie na die hemel toe nie. Húlle wat nie deur Jesus kom nie gaan hel toe.
[4] Deur Jesus se offer is alle gelowiges priesters (1 Petrus 2:9, Openbaring 1:6, 5:10). Deur Hom bring ons geestelike offers vir God (1 Petrus 2:5). Gee jou liggaam as offer om Hom te dien (Romeine 12:1). Gee lofprysing, goeie werke, en mededeelsaamheid as offers (Hebreërs 13:15-16). Offer jou gebede aan die Here; tree in vir ander (Openbaring 5:8). Offer ‘n gebroke hart (Psalm 51:19). As jy vir sending gee aanvaar die Here dit as ‘n offer (Filippense 4:18). As jy mense vir Jesus wen is dit ‘n offer vir die Here (Romeine 15:16). Die man is wel die hoof van sy huis, maar as elke gelowige ‘n priester is, verstaan ek nie hoekom mense soms sê: ‘Die man is die priester van die huis’ nie. Waar staan dit in die Bybel?
Ons Hoëpriester in die hemel
Het jy al boeke gelees of films gekyk oor mense wat sê dat hulle in die hemel was? Wat het Jesus – volgens húlle – in die hemel gedoen? Dié mense sê hulle het saam met Hom op die gras gelê, tee gedrink, gelag en geswem. Hulle jok. Hebreërs 7:25 sê Hy bid vir ons: “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”
[1] Vir wie bid Hy? Hy bid vir sy uitverkorenes: “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort... Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo” (Johannes 17:9, 20).
[2] Wat bid Hy vir ons?
- Hy bid dat die Vader ons teen die duiwel sal bewaar (Johannes 17:15).
- Hy bid dat die Vader ons sal heilig deur die Woord (Johannes 17:17).
- Hy bid vir eenheid tussen gelowiges (Johannes 17:21).
- Hy bid dat ons by Hom sal wees en sy heerlikheid sal sien (Johannes 17:24). Ons bid soms dat gelowiges wat baie siek is nie moet doodgaan nie, maar Jesus bid dat hulle by Hom moet wees.
- Hy bid dat ons sal volhard tot die einde toe; dat ons geloof nie sal faal nie (Hebreërs 7:25, Lukas 22:32).
- Hy bid dat die Vader ons sondes sal vergewe (1 Johannes 2:1, Jesaja 53:12, Lukas 23:34).
- Hy bid dat die Vader alles – ook lyding – tot ons voordeel sal laat strek (Romeine 8:34, 32, 28).
Wees gerus dat die Vader altyd gee wat Jesus vra (Johannes 11:42). Jesus bid nie as ‘n skepsel tot die Skepper nie; Hy vra as ‘n Seun vir sy Vader. Het jy al daaraan gedink dat elke seën wat jy ontvang die Vader se antwoord op Jesus se gebede is – selfs wanneer jý ontrou is om te bid? Louis Berkhof sê:
‘It is a consoling thought that Christ is praying for us, even when we are negligent in our prayer life; that He is presenting to the Father those spiritual needs which were not present to our minds and which we often neglect to include in our prayers; and that He prays for our protection against the dangers of which we are not even concious, and against the enemies which threaten us, though we do not notice it. He is praying that our faith may not cease, and that we may come out victoriously in the end.’[1]
[3] Hoekom kan Hy vir ons bid? In die Ou Testament het die hoëpriester die twaalf stamme se name op sy bors en skouers gedra (Eksodus 28:12, 29). Hy het elke oggend wierook op die altaar gebrand. So het hy onthou om vir die volk te bid (Eksodus 30:7, Psalm 141:2). Hy moes jaarliks die wierookaltaar heilig deur bloed aan die horings te sit (Eksodus 30:10). Jesus is ons Hoëpriester. Ons name is altyd op sy hart en ons laste altyd op sy skouers. Deur die bloed van sy priesterlike offer aanvaar God sy gebede as ons Hoëpriester. Ook jóú gebede is aanneemlik op dié gronde (1 Petrus 2:5), en nie omdat jy opreg bid, die regte woorde gebruik, vas glo jy sal dit kry (‘name-it-and-claim-it’), lank bid, in tale bid, twintig mense het wat saamstem, die Onse Vader bid, of jou gebed afsluit met ‘in Jesus Naam’ nie.
Omdat Jesus God is en alles weet, kan Hy vir miljoene Christene bid en gelyk almal se gebede hoor. Omdat Hy mens is, het Hy simpatie wanneer ons swak is en stry teen versoeking (Hebreërs 2:18, 4:15). Jy kan nie sê dat Hy nie ‘n idee het wat jy deurgaan nie. Hy verstaan. Deel dit met Hom soos Hy dit in gebed met sy Vader deel (Hebreërs 4:15-16).
[4] Wat is die verband tussen Jesus se gebede en joune? Jesus is die enigste Middelaar tussen jou en God (1 Timoteus 2:5). Die voorhangsel is geskeur en daarom kan jy direk na God toe kom. Ons bid nie deur die voorvaders, Maria, die saints, die engele, of deur ‘n menslike priester nie. Moet ook nie dink dat ‘n predikant of toegewyde gelowige ‘n direkte lyn na God toe het nie. Ek ken ‘n getroue Christen vrou wat dink dat ek ‘n beter kans het om beantwoord te word as sy. Sy is verkeerd, “want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.”(Efesiërs 2:18).
Het dit al gebeur dat jy skielik ‘n oorweldigende las kry om vir ‘n saak te bid (dat die Here ‘n mede-Christen sal beskerm, ‘n ongelowige sal red, sendelinge na ‘n onbereikte stam toe sal stuur)? Waar het hierdie las vandaan gekom? Die Heilige Gees weet wat Jesus bid en maak dit aan jou hart bekend (Romeine 8:26-27, 34). Hy is soos ‘n ma wat vir haar kind die woorde gee om te bid. Die Gees wil hê jy moet bid waarvoor Jesus bid; jy moet in sy Naam bid. Moenie die Gees se impulse weerstaan as Hy in jou ‘n begeerte plaas om vir iets te bid nie. ‘Where God leads you to pray, He means you to receive.’ (C.H. Spurgeon).
[5] Hoe help sy gebede gelowiges wat twyfel oor hulle redding? Deur sy offer het Hy ‘n ewige verlossing verseker (Hebreërs 9:11-12). Sy gebede verseker dit ook. Hy bid vir dié wat deur Hom na God toe gaan, en as Hy vir jou bid kan jy nie jou geloof verloor nie – selfs al is al die magte van die hel teen jou (Lukas 22:31-32, Romeine 8:33-34, 38-39, Sagaria 3:1-5, 9). Sou jy sterker gevoel het as jy gehoor het hoe Hy jou naam bid? Glo sy Woord dat Hy vir jou bid, al hoor jy dit nie met jou ore nie (Hebreërs 7:25). Ook as jy in die hemel is sal Jesus vir jou bid (Hebreërs 7:16-17, 24), en daarom kan jy nooit – soos Satan – uitgeskop word nie. Iemand het gesê: ‘Die hemel is om in God se teenwoordigheid te wees met ‘n Middelaar. Die hel is om in God se teenwoordigheid te wees sonder ‘n Middelaar.’
In die ou dae was kerkgeboue dag en nag oop, sodat jy enige tyd daar kon stil raak. In Kempton Park kan ons dit nie doen nie. Ons het al te veel inbrake en diefstal gehad. Ons het ‘n alarmstelsel, palesades, en groot hekke by ons kerk. In die hemel sal dit nie so wees nie. Deur Jesus se offer en gebede is die hemel oop vir sondaars. Vir ewig “sal sy poorte nooit gesluit word nie” (Openbaring 21:25).
[1] Systematic Theology, p.403