Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 April 2014

'n Nuwe begin

Sprout

Die prente van die tsunami in 2011 wys verwoesting.  Ek wonder hoe die aarde gelyk het na die vloed in Noag se tyd?  Dinge moes heeltemal van voor af begin word.  Genesis 8:20-9:29 beskryf letterlik 'n nuwe begin.

 

God se seën (8:20-9:17)

Toe Noag uit die ark uitkom het hy 'n altaar vir die Here gebou.  Hy sou van die ark se hout gebruik het om 'n vuur te maak.  Hy het van die rein voëls en diere aan die Here geoffer (8:20, 7:2-3).  Deur dit te doen het hy erken dat hy en sy familie ook sondaars was wat die Here se genade benodig het.  Die offers se lieflike geur wys nie dat die gebraaide vleis lekker geruik het vir die Here nie (8:21).  Eerder:  die sonde-offers het heengewys na Jesus wat in die toekoms geoffer sou word vir ons sondes.  God het 'n welbehae in die perfkete lewe en offer van sy Seun:  “Christus [het] ons ook liefgehad en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.” (Efesiërs 5:2).

 

Tydens die vloed is die gewone siklus deurmekaar gegooi.  Na die vloed sou God die siklus weer normaal laat voortgaan:  “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” (8:22, geen Christen hoef globale verhitting te vrees nie!).  God het beveel dat die menslike lewe bevorder moes word:  wees vrugbaar (9:1, 7, cf. 1:28).  Om te lewe sou mense nie net meer vrugte en groente eet nie, maar vleis ook (9:2-3, 1:29-30).  Hulle kon egter nie die bloed in die vleis geëet het nie, want die bloed was 'n simbool van lewe.  Die bloed moes versoening doen vir sonde, en uitgegooi word voor die Here.  Moses skryf later:

 

“En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.  Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.  Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê:  Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.  En elkeen uit die kinders van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat ‘n stuk wild of ‘n voël vang wat geëet mag word hy moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak; want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind.  Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê:  Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word.” (Levitikus 17:10-14).

 

Vir kos mag die mens dan diere doodgemaak het.  Maar geen mens of dier mag 'n ander mens doodgemaak het nie.  Die mens is na God se beeld gemaak.  Sy lewe is kosbaar en waardig (9:5-6).  Enigiemand wat 'n mens doodgemaak het, sou die doodstraf kry (9:6).  Eksodus 21:28 sê:  “En as ‘n bees ‘n man of ‘n vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die baas van die bees sal ongestraf bly.”  ’n Tyd gelede het ’n Pittbul ’n jong meisie in die gesig gegryp en begin rondpluk.  Die veearts het dadelik die hond losgekry en uitgesit.  Dis reg, want ’n mens se lewe is kosbaar.  In die Nuwe Testament nog geld die doodstraf vir iemand wat ’n mens se lewe neem.  Romeine 13:4 sê die regering dra die swaard om kwaaddoeners te straf.

 

Alhoewel die mens vol van sonde is, het God belowe om nooit weer die hele wêreld uit te wis met water nie (8:21, 9:8-11).  As teken het Hy sy boog in die wolke gehang (9:12-17).  Die prentjie is van iemand wat sy vyande doodgeskiet het, en nou sy boog ophang om nie weer oorlog te maak nie (tekste soos Psalm 7:13 praat van God se boog).  Die reënboog se helder kleure teen die agtergrond van donker wolke is 'n prentjie van God se genade wat seëvier bo sy oordeel.  God se genade wat hier ten toon gestel word, sal vir ewig en altyd onthou word, want ook in die hemel is daar 'n reënboog (Openbaring 4:3).

 

Ons moenie sê:  ‘God sal ons nooit weer uitwis met 'n vloed nie – al sondig ons ook hoe baie.  Dit gee my sommer nuwe ywer om meer te sondig’.  God sal nie weer die hele wêreld uitwis met 'n vloed nie, maar Hy sal jóú straf as jy aanhou met sonde.  En alhoewel Hy nie die wêreld met water sal uitwis nie, sal Hy dit eendag met vuur doen (2 Petrus 3:6-7).  Volhard jy in een of ander sonde?  Is daar dinge wat jy moet regmaak, maar jy hou aan om dit uit te stel?  God gee vir jou 'n nuwe kans; 'n nuwe begin.  Moet dit nie as 'n geleentheid sien om te sondig, en droogmaak soos Noag en Gam in 9:21-22 nie.  Jerry Wragg vertel van 'n ongelowige man wat deur 'n haai aangeval is.  Sy vriend het hom in die hospitaal besoek en gesê hy moet hom tot die Here bekeer.  Die man het geweier.  'n Ruk nadat hy uit die hospitaal uitgekom het, is hy deur 'n beer aangeval.  Hy het dit ook oorleef, maar wou hom nogsteeds nie van sy sonde bekeer het nie.  Hoe baie mense kry oor en oor kanse by die Here, maar weier om hulle te bekeer (soos mense wat terminaal siek word, maar aanhou in hulle ongeloof)?  Dis tragies.

 

Noag se vloek (9:18-29)

Al die nasies het ontstaan uit Noag en sy seuns (9:18-19).  Tog ontvang sommige nasies nie soveel seën soos ander nie.  Hoekom is dit?  Die verse wat volg sê vir ons.

 

Na die vloed was daar nie genoeg diere om 'n veeboerdery te begin nie.  Noag het besluit om 'n wynboer te word en het 'n wingerd geplant (9:20).  Noag het wyn gemaak, dronk geword, en naak in sy tent gelê (9:21).  Dronkenskap lei dikwels tot onbeskeidenheid (19:30-35).  Sy naaktheid herinner ons aan Adam en Eva wat skaam was en hulle naaktheid probeer bedek het (3:7).  Hoe skandelik dat Noag sy naaktheid ontbloot het!  Gam het gesien hoe sy pa kaal in die tent lê.  Hy het nie sy pa se naaktheid probeer bedek nie, maar uitgegaan en vir sy broers vertel.  As hy sy pa geëer het, sou hy niks gesê het nie.  Dit is dan duidelik dat hy sy pa uitgelag het (9:22).  Sem en Jafet het hulle pa gerespekteer.  Net soos die Here Adam en Eva se naaktheid bedek het, het hulle vir Noag gedoen:  hulle wou nie na hulle pa se naaktheid kyk nie, en het agteruit geloop om hom te bedek (9:23, 3:21).

 

Toe Noag nugter raak, het hy Gam se seun, Kanaän, vervloek:  ‘Jy sal 'n slaaf van slawe wees vir Sem en Jafet’ (9:24-27).  Die volke van Kanaän was die nageslag van Gam, die volk Israel die nageslag van Sem, en die heidene (ons ook) die nageslag van Jafet (sien hoofstukke 10-11).  Genesis 9 gee vir die eerste lesers 'n teologiese rede waarom hulle binnekort die Beloofde Land sou binnegaan, en die Kanaäniete sou verslaan.  Die Kanaäniete sou hulle diensknegte geword het, net soos wat Noag aan sy rebelse seun voorspel het:

 

“Nou dan, vervloek is julle!  En nooit sal julle ophou om knegte, houtkappers sowel as waterputters, vir die huis van my God te wees nie.” (Josua 9:23).

 

“Maar die kinders van Juda kon die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, nie verdryf nie; daarom het die Jebusiete saam met die kinders van Juda in Jerusalem bly woon tot vandag toe.” (Josua 15:63).

 

“Maar hulle het die Kanaäniete, die inwoners van Geser, nie verdrywe nie; so het dan die Kanaäniete onder Efraim bly woon tot vandag toe; maar hulle moes dwangarbeid verrig.” (Josua 16:10).

 

“hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel nie met die banvloek kon tref nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe.” (1 Konings 9:21).

 

Noag het gesê dat die God van Sem (Israel se voorvader) geseënd was (9:26).  Jafet (die heidene) sou ook uitbrei en saam met Sem in sy tent bly (9:27).  In 10:5 sien ons hoe Jafet se nageslag uitbrei.  En in die Nuwe Testament sien ons telkemale hoe die heidene in Christus een word met Israel en deel in die seëninge wat God aan hulle gegee het (Efesiërs 2:11-22, Romeine 11).  Ten spyte van hierdie episode was Noag 'n regverdige man.  Hy het 950 jaar oud geword.  Maar ook hý moes sterf (9:28-29).

 

Ek wil twee lesse uitlig:

 

[1] Mense het al die vervloeking in Genesis 9 gebruik om slawerny, apartheid en rassisme te regverdig.  Hulle sê dat swart mense van Gam afstam, en dat God hulle in hierdie verse vervloek het.  Dis twak.  Moses se punt was om te wys dat Kanaän vervloek was, en Israel (Sem se nageslag) geseënd.  Dit het niks met rasse diskriminasie te doen nie.  Buitendien is daar volgens die Nuwe Testament geen meer ‘vervloekte’ volk nie.  In Christus is alle volke en tale een:  “waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11).

 

[2] Gam het teen Noag gesondig, maar Noag het Gam se seun vervloek (9:25).  Die Skrif sê:  “die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat” (Eksodus 20:5).  Beide Genesis 9 en Eksodus 20 het niks te doen met die moderne charismatiese teologie van bloedlynvloeke nie (‘As die oupa 'n dronklap is, sal sy kind, kleinkind en agterkleinkind ook so wees’).  Het 'n ouer se sondige voorbeeld en keuses 'n invloed op sy nageslag?  Natuurlik.  Maar straf God kinders omdat hulle oupas sonde gedoen het?  Nee.  Die Bybel sê:  “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.” (Deuteronomium 24:16).  “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” (Esegiël 18:20).  Let asseblief op dat God in Eksodus 20:5 die ouers se sonde straf op die kinders wat Hom haat.  In Jesus is ons vry van alle vloeke, want Hy het óns vloek op Homself geneem:  “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang” (Galasiërs 3:13).  God is die Een wat mense seën en vervloek.  In 9:27 doen Hy dit deur Noag.  As jy bang is dat slegte mense of duiwels jou gaan vervloek, moet jy Numeri 23:23 en Nehemia 13:2 onthou:  “Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie... [Moab het] Bíleam teen hulle gehuur om hulle te vervloek; maar onse God het die vloek in ‘n seën verander.”

 

Is daar 'n area in jou lewe waar God vir jou 'n nuwe begin gegee het:  'n nuwe skool, 'n nuwe baba, 'n nuwe huweliksmaat, 'n nuwe werk, 'n nuwe kerk, nuwe vriende, 'n nuwe huis, herstelde gesondheid?  Moenie die geleentheid wat die Here jou gee vermors nie.  Gebruik dit om reg te lewe en Hom te verheerlik.

Kategorieë