Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 December 2012

'n Negatiewe reaksie op kersfees

Hate Christmas ballMatteus 2:4-8

'n Tyd gelede het 'n man met my kom praat oor sy probleme.  Hy ken die Skrif baie goed, maar toe ons by die kwessie van wedergeboorte kom het alles daarop gedui dat hy ongered is.  So het 'n sendeling my vertel van 'n Moslem in sy dorp wat die Bybel baie goed ken.  Liberale teoloë en baie Jehova’s Getuies ken die Bybel goed, maar hulle is ongered.  In 'n Bybelstudie het 'n predikant verwys na Paulus wat vir Petrus tereggewys het in die boek Handelinge.  'n Ouderling het vir die predikant gesê dat hierdie gebeure in Galasiërs plaasgevind het en nie in Handelinge nie.  Die predikant het gesê:  “Nee, dis in Handelinge.”  Weer het die ouderling gesê:  “Dis in Galasiërs 2.”  Die predikant moes die knie buig.

Die voorgenoemde voorbeelde illustreer iets van wat ons in Matteus 2 sien.  Herodes was nie 'n Jood nie, maar 'n Edomiet van Idumea.  Geen uitlander mag as koning regeer het oor Israel nie (Deuteronomium 17:15).  Maar die koning wat wel regeer het moes die Skrif geken het:  “En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die Here sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.” (Deuteronomium 17:18-20).  Herodes het die Joodse godsdiens geken, en daarom is dit skandelik dat hy nie die Skrif geken het nie.  Hy moes antwoorde van die owerpriesters (meesal Sadduseërs) en skrifgeleerdes (Fariseërs) vra (v.4).  Maar alhoewel húlle die Skrif geken het (v.5-6), het hulle nie saam met die wyse manne gegaan om die Messias te aanbid nie (v.9-11).  Hulle was ongered.

Ons moet sekerlik die Bybel beter as dit ken en sorg dat ons dit toepas.  As iemand vir jou vra wat die Bybel sê oor..., moet jy soos Filippus aan die Etiopiese hofdienaar antwoorde kan bied (Handelinge 8:34-35).  Wees gereed om 'n antwoord te gee aan enigiemand wat jou vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).  En wees dan gehoorsaam aan die dinge wat jy weet:  “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” (Jakobus 1:22).  Pasop dat jy nie soos die owerpriesters en skrifgeleerdes bloot die feite oor die Messias ken sonder dat jy Hom aanbid nie.

Miga het geprofeteer dat Israel slawe sal word in Babilon (Miga 4:10, 14).  Maar God sou Babilon vernietig en Israel uit slawerny red (4:10-13).  Hy sou hulle uiteindelik en finaal red deur 'n leier wat in Betlehem gebore sou word.  Híér is hoe Miga dit sê:

“En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.  Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat ‘n barende gebaar het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.  En Hy sal optree en hulle laat wei in die sterkte van die Here, in die majesteit van die Naam van die Here sy God; en hulle sal rustig woon, want nou sal Hy groot wees tot aan die eindes van die aarde.” (Miga 5:1-3).

Miga sê dat hierdie koning nie begin het nie, maar ewig is (5:1).  Duidelik is hierdie koning nie maar net ’n mens nie, maar God.  Maar Hy is ook ’n mens omdat Hy uit ’n vrou gebore sal word (5:2).  Miga sê verder dat Hy die verstrooide oorblyfsel uit die lande sal vergader, sodat hulle na Hom toe terugkeer (5:2).  Hy is hulle vrede (5:4a).  Hy sal nie ’n diktator wees soos Herodes nie, maar sal ’n herder wees wat sy volk soos skape laat wei (5:3, cf. Esegiël 34:23).  Hy sal beroemd wees tot in die verste lande (5:3).  Hy is waarlik die nageslag van koning Dawid wat in Betlehem gebore is en ’n herder was vir God se volk (1 Samuel 16:4, 2 Samuel 5:2).  Elf wyses hoe Herder ons versorg:  lê lewe neer, red, behou, bewaak, lei, voed, voorsien, tug, troos, herstel, gee rus.  Dank vir kersfees, rus in Hom.

Hierdie profesieë wat in Jesus vervul is spoor ons aan om die Ou Testament te glo.  Miga profeteer ongeveer 735 v.C. en maak nie 'n fout in een detail nie.  Dit gebeur presies soos hy gesê het (v.1, 4-6).  Hierdie een profesie is genoeg om vir ons te wys dat Jesus die Messias is.  Maar daar is baie meer as een profesie wat in Jesus vervul is.  Daar is 456.  Wiskundige David Williams vertel van navorsing wat deur 'n wetenskap professor by Westmont College (Peter Stoner) gedoen is.  Volgens die populasie van die wêreld in Jesus se tyd, was die kanse dat 'n persoon in Betlehem gebore sou word een uit 300 000.  Die kanse dat net agt profesieë in een persoon vervul word is 1017 ('n 1 met 17 nulle – onthou dat 'n miljoen maar ses het).  Stoner illustreer die punt so:

“If you mark one of ten tickets, and place all the tickets in a hat, and thoroughly stir them, and then ask a blindfolded man to draw one, his chance of getting the right ticket is one in ten.  Suppose that we take 1017 silver dollars and lay them on the face of Texas.  They'll cover all of the state two feet deep.  Now mark one of these silver dollars and stir the whole mass thoroughly, all over the state.  Blindfold a man and tell him that he can travel as far as he wishes, but he must pick up one silver dollar and say that this is the right one.  What chance would he have of getting the right one?  Just the same chance that the prophets would've had of writing these eight prophecies and having them all come true in any one man, from their day to the present time, providing they wrote them in their own wisdom...” (http://sciencespeaks.dstoner.net/Christ_of_Prophecy.html#c9).

Volgens Stoner is die kanse dat 48 profesieë in een persoon vervul word 10157 ('n getal met 157 nulle!).  Weer 'n illustrasie van Stoner:  “Electrons are very small objects.  They're smaller than atoms.  It would take 2.5 times 1015 of them, laid side by side, to make one inch.  Even if we counted 250 of these electrons each minute, and counted day and night, it would still take 19 million years just to count a line of electrons one-inch long.”  Gestel jy kon een van daardie elektrone merk en die hele massa meng, wat sou die kans wees dat 'n blinde man met die eerste probeerslag die regte een kies?  Die feit dat 48 profesieë in een Man vervul is, is 'n wonder.  Wat nog te praat van 456 profesieë.  Stoner se slotsom is:  “Any man who rejects Christ as the Son of God is rejecting a fact, proved perhaps more absolutely than any other fact in the world.”

Tydens sy heerskappy het Herodes 'n Babiloniër aangestel as hoëpriester.  Herodes se skoonma Alexandra het hom teengegaan.  Mariamne (Herodes se vrou) het gevra dat hy haar broer Aristobulus hoëpriester moes maak.  Hy het so gedoen, maar toe hy agterkom dat mense vir Aristobulus meer navolg as vir hom, het hy jaloers geraak.  Hy het sy swaer na 'n swempartytjie by die Jordaanrivier naby Jerigo uitgenooi.  Vir die eerste ruk het Herodes en sy swaer saam op die rivierbank gesit.  Maar het Herodes daarop aangedring dat Aristobulus saam met die ander moet gaan swem.  Sekere jong manne is deur die koning aangestel om te maak of hulle met Aristobulus speel en hom dan onder die water te hou tot hy verdrink.  Hulle het die koning se opdrag uitgevoer en die jong hoëpriester vermoor.  Herodes het 'n groot begrafnis gereël en gemaak of hy huil oor sy swaer wat ‘per ongeluk’ verdrink het (uit Hendriksen, W.; Matthew:  New Testament Commentary; Banner of Truth; EDINBURGH; 1973; p.162).  Herodes was 'n jakkals (sien hoe sy seun sy slegte voorbeeld navolg in Lukas 13:32).  Herodes het blatant gelieg deur te sê hy wil ook vir Jesus aanbid (v.8).  Hy wou uitwerk hoe oud Jesus was, sodat hy Hom kon doodmaak (v.7, 16).  Hy wou ook nie hê dat almal agterdogtig moes wees oor sy bose plan nie, en daarom vra hy die wyse manne uit in die geheim (v.7).  Sonde is altyd so.  Jesus het gesê:  “En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.  Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.” (Johannes 3:19-20).  Ons moenie soos Herodes wees nie.  Ons moenie sonde wegsteek nie.  Ons moenie betrokke wees by geheime vergaderings, organisasies (soos die vryemessleaars), en bendes nie.  Die Skrif sê vir ons:

“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).

“En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig:  God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde...As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:5-7, 9).

In die Christelike lewe is daar nie plek vir donker en geheime planne soos Herodes s'n nie.  Jesus is die Lig wat die duisternis verdryf (Johannes 8:12).  En ons is deelgenote in daardie koninkryk van lig.  Paulus se gebed is dat ons “die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig – Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.” (Kolossense 1:12-14).

Moenie soos Herodes onkundig wees oor die waarheid van kersfees nie.  Moenie soos die Joodse Raad die waarheid ken, maar nalaat om die Messias te aanbid nie.  Ken die profesieë.  Glo dit.  Erken dat Jesus die Messias is.  Aanbid Hom.  Kom uit die duisternis, ontvang vergifnis vir sondes, en wandel in die lig.  Enigiets in die lyn van Herodes se optrede is 'n sondige en negatiewe reaksie op kersfees.

Kategorieë