Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 December 2022

’n Nederige Kersfees

Filippense 2:5-7

Oor die afgelope paar weke het die Here hoogmoed in my hart uitgewys. Toe ek Hom hierdie week vir ’n preekteks vra, toe bring Hy Fil. 2:5-7 tot my gedagtes. Sy Gees het my gewys dat Christus se menswording die begin van nederigheid is. Ons is skepsels van stof. Hoe kan ek dan hoogmoedige gedagtes hê? Vandag se preek is eerste vir my bedoel en daarna vir die wat dit hoor.

 

1. Paulus se opdrag (v.5)

Paulus verduidelik gewoonlik seker waarhede (die indikatief) voor hy dit toepas (die imperatief). In Filippense 2 gee hy eers die toepassing, dan sê hy hoekom jy dit moet doen. Wat is die toepassing? “Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees” (v.5).1 Eenheid begin by ’n regte gesindheid (v.5, Ef. 4:1-3). Die Grieks vir ‘gesindheid’ (phroneō) kombineer gedagtes met ’n diep emosie. God wil hê jy moet jou gedagtes en emosie daarop rig om ander se belange bo jou eie te stel (v.3-4). Dit druis teen die sondige natuur in. Van geboorte af lewe elke mens vir homself. ’n Baba trek sy rug styf en skreeu as sy ma hom nie dadelik voer nie. Kinders gooi ‘tantrums’ vir lekkers. Hulle baklei oor speelgoed.

Volwassenes se tantrums is groter. Ons intimideer mense met woede-uitbarstings, boeliegedrag en magsvertoon. Of ons manipuleer hulle met selfbejammering, stilstuipe en trane om ons sin te kry. Ons doen dit selfs met die Here. As Hy nie ons wil doen nie, word ons kwaad. Ons hou op kerk toe gaan, Bybellees en bid. Ons weier om Hom te dien en gee onsself oor aan sonde. Dit wys dat ons onsself as die senter van die heelal beskou. Ons dink die Here bestaan om ons te dien. Of ons dien Hom vir goeie omstandighede, voorspoed, ’n stil gewete en beskerming teen die hel. Dit is om van Hom ’n afgod te maak. Sedert die sondeval doen mense dit. God het ons na sy beeld gemaak (Hand. 17:28), maar ons maak Hom na ons beeld (Hand. 17:29). Ons doen dit nie noodwendig deur afbeeldings nie, maar in ons verbeelding skep ons ’n god met wie ons gemaklik is.

Jesus het gekom om ons hiervan te red en te wys God is groter as ons. Hy is groter as die heelal. Hy is die Skepper van alle dinge; ons is nietige skepsels van stof. Hiervoor haat mense Hom. Ons soek Hom uit ons persoonlike lewe, ons kinders se opvoeding en die samelewing. Eers as die Here ingryp, sal mense hulleself verneder en Hom as Koning en Here dien (2Kron. 33:12-13, Daniël 4, Handelinge 9). Sulke mense weet hulle verdien niks; dit is genade dat die Here hulle red. Omdat hulle hulleself so beskou, stel hulle ander bo hulleself (v.3-4).

Bid vir hierdie gesindheid. God gee ons dit in Christus (v.5). Jesus het dit deur sy voorbeeld kom wys (v.6-8), maar dit verander nie ons harte nie. Ons harte is selfsugtig en hoogmoedig. Ons wil nie Jesus se voorbeeld volg nie; ons wil eerste wees. God moet ons ’n sagte en nederige hart gee wat soos Jesus wil wees (Eseg. 36:25-27). Sodra dit gebeur en ons in Christus glo, vergewe God ons sonde en reken Christus se nederige en volmaakte lewe aan ons toe (2Kor. 5:21, Fil. 3:9). Daarna verneder ons onsself daagliks om Christus te volg (Luk. 9:23). Ons volg sy nederige voorbeeld en bid om soos Hy te wees (2Kor. 3:18, Gal. 5:22-23). Waar ons sondig en hoogmoedig is, bely ons dit en word vergewe (1Joh. 1:9). Waar ’n hele gesin of gemeente so lewe, is daar eenheid en vrede (v.1-4).

 

2. Paulus se lering (v.6-7)

Paulus sê Jesus was in die gestalte van God. Die Grieks (morphē) beteken sy uiterlike vorm het die innerlike wese weerkaats (v.6).2 Jesus het nie net soos God gelyk nie; Hy is God. Jesus en die Vader is gelyk (v.6, Gk. isos, Joh. 1:1, 5:18, 10:30). Hy is die presiese afdruksel van die Vader se wese net soos die embleem op ’n koning se seëlring presies so op die klei afgedruk word (Heb. 1:3).

Maar al is Jesus God het Hy sy gelykheid aan die Vader nie geweldadig vasgegryp toe die Vader Hom aarde toe stuur nie (v.6). Hy het besluit om Hom te verneder, mens te word en Hom vir 33 jaar aan die Vader te onderwerp (v.7, Joh. 14:28). Volgens Paulus het Hy Homself leeggemaak. Wat beteken dit? Het Hy sy Goddelike natuur prysgegee toe Hy aarde toe kom (v.7)? Nee. Selfs toe Hy op aarde was, was Hy Immanuel, God met ons (Matt. 1:23). Die volheid van God was liggaamlik in Hom (Kol. 1:19, 2:9).

Waarvan het Jesus Homself leeggemaak? Party mense dink Hy het sekere van sy Goddelike eienskappe prysgegee. Blykbaar was Hy nie meer almagtig, alwetend en alomteenwoordig nie. Maar dit is onwaar. Paulus bedoel eerder Jesus het die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee. Hy het nie uit sy Goddelike natuur getap om Homself uit ’n krisis te help nie (Matt. 4:3), maar het slegs gedoen wat sy Vader wil hê (Matt. 4:4, Joh. 5:19, 30, 12:49). Hy het al sy werke as mens en deur die krag van die Heilige Gees gedoen (Matt. 12:28, Hand. 10:38). Dat Jesus Homself leeggemaak het, beteken Hy het Homself verneder deur sy hemelse heerlikheid en status vir 33 jaar te verlaat en aarde toe te kom (v.7, Joh. 17:5). Ons sien sy nederigheid daarin dat Hy die Vader eerder as Homself wou behaag. Hy het sondaars se nood en belange bo sy eie gestel (v.8). Laat ons sy voorbeeld volg “deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander. Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees” (v.3-5).

Vir God om mens te word, is onpeilbaar. Nogtans kon Jesus as koning of keiser in ’n paleis gebore word. Hy het as ’n slaaf gekom (v.7). Jesus is in ’n klein en onbelangrike dorpie gebore (Matt. 2:5-6). Sy ouers was onbekend en arm (Luk. 1:27, 2:24, Lev. 12:8). Daar was geen plek vir hulle in die herberg nie, dus het Jesus se ma Hom in ’n krip neergelê (Luk. 2:7, 12). Hy het in Nasaret, ’n dorp met ’n reputasie, grootgeword (Matt. 2:23, Joh. 1:45-46). Hy was arm en moes alles leen: ’n huis, ’n muntstuk, ’n boot, ’n donkie, ’n bovertrek, ’n graf (Matt. 17:27, 22:19, 21:2-3, 27:59-60, Luk. 5:3, 9:58, 22:11-12, 2Kor. 8:9). Soos ’n heidense slaaf het Jesus sy dissipels se voete gewas (Johannes 13). Hy het nie soos ander konings op ’n wit perd gery nie, maar op ’n donkie (Sag. 9:9). Hy is soos en saam met misdadigers gekruisig (v.8, Jes. 53:12). Uit die oneindige hoogte van sy hemelse heerlikheid, het die Seun van God laer en laer neergedaal, totdat Hy in mense oë as niks beskou is nie. Hy wat aan God gelyk is, het aan mense gelyk geword (v.6-7, Joh. 1:1, 14). Dit beteken nie Jesus was ’n sondaar nie. Van geboorte af en deur sy hele lewe, was Hy perfek heilig (Heb. 7:26, 1Pet. 2:22). Tog het Hy die gevolge van sonde in sy liggaam gevoel (Rom. 8:4): Jesus was moeg, hartseer, honger en dors; Hy het gesterf (Luk. 4:2, 22:44, Joh. 4:6, 11:35, 19:28, 30, Hand. 3:15).

Man’s maker was made man,
that He, Ruler of the stars, might nurse at His mother’s breast;
that the Bread might hunger,
the Fountain thirst,
the Light sleep,
the Way be tired on its journey;
that the Truth might be accused of false witness,
the Teacher be beaten with whips,
the Foundation be suspended on wood;
that Strength might grow weak;
that the Healer might be wounded;
that Life might die.3

Niemand het Jesus gedwing om Homself so te verneder nie. As Jesus wou, kon Hy ons in ons verlore toestand van ellende gelos het. Of Hy kon ons uitwis en sy Goddelike heerlikheid in die hemel geniet. Die feit dat Hy Homself verneder het, is ’n bewys van sy liefde. Dat God aarde toe sou kom en Homself aan ondraaglike fisieke-, emosionele- en geestelike pyn onderwerp om ons te red, is ’n wonder. Laat ons so Hom aanbid, liefhê, onsself aan Hom toewy en Hom gehoorsaam. Staan in verwondering oor God in die krip en verneder jouself voor Hom.

‘That man should be made in God’s image was a wonder, but that God should be made in man’s image is a greater wonder. That the Ancient of Days should be born, that he who thunders in the heavens should cry in the cradle...that he who rules the stars should suck the breast; that a virgin should conceive; that Christ should be made of a woman, and of that woman which himself made; that the branch should bear the vine; that the mother should be younger than the child she bare, and the child in the womb bigger than the mother; that the human nature should not be God, yet one with God; this was not only mirum (wonderful) but miraculum (a miracle).’ (Thomas Watson).4


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Johannes P. Louw & Eugene A. Nida (Ed.), Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains: Vol. 1 (Cape Town: Bible Society of South Africa, 1989 [1988]), 58.2, p. 586 en https://biblehub.com/greek/3444.htm

3  Augustinus van Hippo (354-430). Aangehaal in Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 33-4

4  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 198

Kategorieë