Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 March 2019

’n Model gemeente

Image result for thessalonian church

1Tessalonisense 1

Het jy al iemand gehoor sê: ‘As jy die perfekte kerk vind, moet jy asb. daar aansluit nie; jy sal dit opmors’? Die punt is dit: daar is nie ‘n perfekte kerk op aarde nie. Maar daar is model gemeentes wie se voorbeeld jy kan volg. In baie opsigte is my skoonma se kerk so ‘n gemeente. Hulle is sterk in prediking en lering, sending en evangelisasie, leierskap, bediening onder mekaar, samesang, bydraes vir die Koninkryk, geestelike gemeenskap en gebed.

Die Tessalonisense was so ‘n gemeente. Saam met Silas en Timoteus, het Paulus die kerk op sy tweede sendingreis deur Sirië, Turkye en Griekeland geplant (v.1, Hand. 15:40-18:22). Tessalonika was die hoofstad van Macedonië, die noordelike provinsie van Griekeland. Dit bestaan vandag nog as Salonika of Tessaloniki, en is die tweede grootste stad in Griekeland.

Toe Paulus in die stad aankom, het hy vir drie agtereenvolgende Saterdae na die Joodse sinagoge gegaan om uit die Ou Testament te bewys dat die Messias vir ons sondes moes ly en uit die dood opstaan, en dat Jesus hierdie Messias is (Hand. 17:1-3). Party van die Jode, asook ‘n groot klomp Grieke en vroue van aansien het die evangelie geglo (Hand. 17:4). Die res van die Jode was jaloers en het die stad in oproer gebring (Hand. 17:5). Paulus het die gemeente na Jason se huis toe geskuif.

In hulle soektog na Paulus, het die Jode Jason se huis aangeval. Toe hulle hom nie vind nie, toe sleep hulle Jason en ‘n paar ander gelowiges voor die owerhede (Hand. 17:5-6). Hulle het vals klagtes teen die Christene ingebring en gesê dat hulle nie die keiser gehoorsaam nie, omdat hulle blykbaar ‘n ander Koning genaamd Jesus erken (Hand. 17:7).

Die gelowiges het Paulus en sy span 70 km wes na Berea toe gestuur (Hand. 17:10). Toe die Jode van Tessalonika dit hoor, toe kom hulle Berea toe om die skare teen Paulus op te steek (Hand. 17:13). Paulus moes weer vlug (Hand. 17:14). Hy het Silas en Timoteus in Berea gelos en Atene toe gereis in die suide (Hand. 17:14-15). Hulle het hom daar gekry (Hand. 17:15-16, 1Tess. 3:1-2). Hy het Timoteus Tessalonika toe gestuur om te hoor of die gelowiges vasstaan onder die vervolging (1Tess. 3:1-2, 5). Silas is waarskynlik Filippi toe. Paulus het 80 km wes gereis Korinte toe (Hand. 18:1). Silas en Timoteus het hom later daar gekry (Hand. 18:5).

Toe Timoteus die goeie nuus oor die Tessalonisense deel (1Tess. 3:6), het Paulus hierdie brief geskryf om hulle te bemoedig. Alhoewel die gemeente maar ‘n paar maande oud was, beskryf hy dit as ‘n model gemeente. Dit sien ons reeds in die eerste tien verse.

 

  1. Haar identiteit (v.1)

Volgens die Katolieke is daar geen verlossing buite die kerk nie. ‘n Dwaling wat byna so erg is, is om te sê dat daar absoluut geen verband tussen die kerk en verlossing is nie. Volgens die Nuwe Testament is dit nie die kerk wat jou red nie. As jy egter gered is, plaas die Here jou in ‘n liggaam; jy word deel van ‘n gemeente (v.1). Hy roep jou uit die wêreld [Gk. ekklēsia] om syne te wees (v.1). Jy is een met Hom (v.1). Sy lewe is in jou. God is jou Vader (v.1). Jesus is jou Here, Messias en Verlosser (v.1).

Saam met ander gelowiges gee Hy aan jou die genade of onverdiende guns van vergifnis, ‘n regverdige rekord, die ewige lewe, kindskap en die hemel (v.1). Nou kan jy ook in vrede met Hom lewe (v.1). Jy hoef nie meer sy straf te vrees nie. Omdat Jesus jou straf gedra het aan die kruis, is God nie meer jou Vyand nie maar jou Vriend.

Let asb. op dat God hierdie voordele aan die gemeente gee (v.1). Jy kan dit nie ten volle geniet as jy op jou eie is nie. Om God as jou Vader te geniet, moet jy deel wees van sy gesin. Om Jesus as jou Verlosser te geniet, moet jy saam met ander verlostes sy dood herdenk in die nagmaal. Om sy genade of onverdiende guns ten volle te geniet, moet jy sien dat dit wyer strek as net jou eie lewe. Om sy vrede ten volle te beleef, moet jy die praktiese uitwerking daarvan sien in die hele gemeente wat vrede met Hom en met mekaar het. Hoekom word jy nie deel daarvan nie? Praat gerus na die diens met my oor hoe ‘n mens deel word van ons gemeente.

 

  1. Haar deugde (v.2-3)

In baie huise sien jy hout plankies met die volgende woorde: geloof, hoop en liefde. Ons vind dit op ‘n paar plekke in Paulus se briewe (1Kor. 13:13, Kol. 1:4-5, 1Tess. 5:8). Ons sien ook in v.2-3 hoe Paulus die Here vir hierdie deugde in die Tessalonisense dank. Die deugde het so uitgestaan, dat hy en sy span die Here aanhoudend hiervoor gedank het (v.2, 5:17-18).

Dit laat my dink aan twee paartjies wat ek goed ken. Ek bid elke week vir hulle en kan skaars aan hulle dink sonder om die Here vir hulle te dank. Dit is wat Paulus vir die Tessalonisense gedoen het.

  • Hy het die Vader gedank dat hullegeloof nie net kopkennis is nie, maar ware ‘n geloof wat lei tot goeie werke (v.3, 2Tess. 1:11, Jak. 2:14-26).
  • Hy het die Vader gedank dat die Tessalonisense se goeie werkenie gedryf is deur vrees of selfgeregtigheid nie, maar deur ‘n liefde vir God en sy kinders (v.3, 3:12, 4:9-10, 2Tess. 1:3, Gal. 5:6).
  • Hy het die Vader gedank dat hulle‘n vaste hoop gehad het in Jesus (v.3, Rom. 8:24-25). Hulle het geweet dat Hy eendag uit die hemel sou terugkeer (v.10, 2:19, 3:13, 4:13-18, 5:23, 2Tess. 1:7, 10).

Hoe lyk hierdie deugde in ons gemeente? Kan jy jou geloof meer wys in goeie werke (v.3)? Is daar iemand vir wie jy Jesus se liefde op praktiese maniere kan wys (v.3)? Kan die hoop van Jesus se koms meer deel wees van jou verlange en gebede (v.3)? Kan jy meer gereeld vir jou broers en susters bid (v.2)? Kan jy die Here meer vir hulle in jou gebede dank (v.2)? Vra dan die Here se hulp en doen dit.

 

  1. Haar redding (v.4-5)

Ek het in 1992 tot bekering gekom toe my leraar tydens ‘n aanddiens die evangelie gepreek het. Sy lewe het ook ‘n indruk op my gemaak. Hy was nederig, sagmoedig en diensbaar. Meer as tien jaar later toe verstaan ek uit die Bybel hoekom ek besluit het om my te bekeer en die evangelie te glo: die Here het my gekies om sy kind te wees nog voordat Hy die wêreld gemaak het (Joh. 15:16, 19, Ef. 1:4-5).

Dit is ook hoe dit was met die Tessalonisense se bekering.

[a] God het hulle gekies om die ewige lewe te verkry (v.4, 5:9, 2Tess. 2:13). Hy het hulle nie gekies a.g.v. enige werk wat Hy in hulle gesien het nie (Rom. 9:11). Dit is ook nie dat Hy in die toekoms in gekyk het en gesien het hulle sal Hom kies nie (Rom. 9:16). Hy het hulle eerder uit sy soewereine en vrye liefde gekies (v.4, Deut. 7:7-8).

[b] Hoe het Paulus geweet dat God die Tessalonisense voor die skepping gekies het as hy nie daar was nie? Hy het dit geweet, omdat hulle nie net die evangelie gehóór het nie, maar deur die bonatuurlike krag van die Gees verstaan het en daardeur verander is (v.5, Hand. 16:14, 1Kor. 2:4).

Paulus en sy span het die evangelie met hierdie oortuiging verkondig, nl. dat die Here mense se lewens kan verander soos wat Hy jaarliks die Okavango Delta in die Kalahari in ‘n waterparadys verander (v.5). Die Heilige Gees het dit deur Paulus se kragtige prediking vir die Tessalonisense gesê (v.5). Deur Paulus se prediking het die Gees hulle van hulle sonde oortuig (v.5, Joh. 16:8). Paulus het ook met oortuiging gewys dat die God van die Bybel waar is en dat Jesus die enigste Verlosser is (v.5).

[c] Maar dit was nie net Paulus se prediking wat die Tessalonisense van die evangelie oortuig het nie. Hy en sy span se lewens het gewys dat die evangelie ‘n realiteit is, en meer as net ‘n dooie filosofie of teorie (v.5, 2:10, Matt. 5:16, 1Tim. 4:16).

Hoe moet ons hierdie verse toepas? Moenie sit en wonder of jy uitverkies is of nie (v.4). Glo die evangelie en volhard in ‘n lewe van gehoorsaamheid (v.3, 5). As jy dit doen, kan jy weet dat jy uitverkies is (v.3-5, Hand. 13:48, 2Pet. 1:10, 5-9). Leer ook dat uitverkiesing nie iets is waarvan jy kan sê: ‘Dit is nie belangrik nie; laat die teoloë daaroor top.’ Paulus het dit vir baba Christene geleer. Blykbaar is uitverkiesing dan belangrik om jou van God se liefde te verseker wanneer die duiwel jou geloof wil skud.

 

  1. Haar voorbeeld (v.6-10)

Ek het my vriend Seth gevra wat hy by ons gemeenskaplike vriend Paul geleer het. Hy het gesê: ‘Paul is strong in so many areas, it’s hard to pick one thing that I have learned from him.’ Die Tessalonisense was so: hulle was ‘n model op baie vlakke.

Hulle lyding (v.6-7)

Toe Jesus gely het, het hy die hemelse vreugde voor oë gehou en op sy Vader vertrou (Heb. 12:2, 1Pet. 2:23). Paulus en sy span het Jesus se voorbeeld gevolg (Hand. 16:25). Die Tessalonisense het Paulus hierin gevolg, en dus ook vir Jesus (v.6, 1Kor. 11:1).

Hulle het nie die Skrif verloën toe die vervolging kom nie, maar het dit met ope harte ontvang (v.6, 2:13). T.s.v. die verdrukking het hulle hul in die Gees verbly (v.6, Matt. 5:12, Hand. 5:41, 13:52, Gal. 5:22). Hulle het aangehou om die Here met blydskap te dien. So het hulle ‘n voorbeeld geword vir die gelowiges in die hele Macedonië en Agaje; Noord- en Suid Griekeland (v.6-7).

Kan mense in ons lyding sien dat dit nog steeds die moeite werd is om die Here te dien? Of kla ons en is ons kwaad of hopeloos, sodat dit vir die wêreld lyk of die Here nie goed, betroubaar, wys en almagtig is nie?

Hulle evangelisasie (v.8)

Die Tessalonisense het nie net in hulle eie dorp, provinsie of land die evangelie gedeel nie, maar selfs wyer (v.8). Almal kon sien dat hulle, t.s.v. die vervolging, in die Here glo en aan Hom vashou (v.8, 2Tess. 1:4). As Paulus-hulle by ander gemeentes oor die Tessalonisense wou roem, het hulle gesê: ‘Ons weet!’

Die les is dat almal van ons die evangelie moet deel en ons nie vir Jesus moet skaam nie. Die vers leer ook dat ons geloof van so ‘n aard moet wees, dat mense sê: ‘Jy hoef ons nie te vertel nie; ons kan sien hoe die evangelie jou verander het. Ons het gesien hoe jy, t.s.v. jou lyding, aan die Here vashou.’ ‘n Veranderde lewe en vaste geloof is ‘n baie kragtige getuienis wat maak dat mense die evangelie as eg aanvaar.

Hulle bekering (v.9)

Die Tessalonisense het nie teen God se Woord geskop nie, maar het dit met ope harte ontvang (v.9, 6, 2:13). Toe dit sê: ‘Bekeer julle van julle afgodery en dien die lewende God,’ toe luister hulle (v.9). Hulle het geglo dat afgode dooie beelde is, terwyl die God van die Bybel die lewende en ware God is (v.9, Hand. 14:15).

Almal het gehoor dat die Tessalonisense hulle so bekeer het (v.9). Het jy jou al so tot die ware God bekeer? Het jy jou al van jou afgode bekeer: geld, drank, ‘n mooi liggaam, pille, ontspanning, rus, wat ander mense van jou dink, seks, jou geleerdheid, tegnologie, sosiale media, vermaak, ens.?

Om jou te bekeer, moet die afgod van die troon van jou hart af en moet jy plek vir God en sy Woord maak. Daar is net plek vir een. Is jy bereid om jou afgod te los, sodat die Here in jou hart kan regeer?

Hulle wederkomsverwagting (v.10)

Die Tessalonisense het geweet dat Jesus uit die dood opgestaan het en opgevaar het hemel toe (v.10). Hulle het hoopvol gelewe en gewag dat Jesus uit die hemel moet terugkeer (v.10, 3). Vir hulle was die wederkoms ‘n dag om na uit te sien, omdat hulle vir ewig by die Here sou wees (v.10, 4:17). Hulle het nie meer God se toorn en straf in die hel gevrees nie. Hulle het geweet dat Jesus die beker van God se toorn namens hulle aan die kruis gedrink het en hulle so van sy toorn in die hel verlos het (v.10, 5:9, Rom. 5:9, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13, 2Tess. 1:8-10).

Sien jy soos die Tessalonisense uit na die wederkoms? Nee? Hoekom nie? Is dit omdat jy jou nog nie bekeer het nie? Is daar nog dinge in jou lewe wat nie reg is nie? Is dit omdat jy dink ‘n Christen gaan vir sy sonde geoordeel word? Jy dink verkeerd. Die Vader het sy Seun aan die kruis geoordeel vir dié wat in Hom glo (Rom. 8:1, Joh. 5:24). As jy in Christus glo, kan jy uitsien na die wederkoms en hoef jy nie bang te wees vir die oordeel nie (v.10). Is jy dalk nie gereed nie, omdat jy vir die hier en die nou lewe? Die wêreld met sy plesiere sal verbygaan (1Joh. 2:17).

Wees dan soos die Tessalonisense wat uitgesien het na die wederkoms (v.10). As Jesus kom, sal ons nie meer ‘n model kerk nodig hê nie, omdat ons perfek sal wees. Nou is nog soos ‘n bruid wie se rok spikkels en vlekke op het. Maar daar sal ons rok spierwit wees.

Kategorieë