Coram Deo Cover Image

Coming soon...

14 May 2017

‘n Kykie in die hemel in

Isaiah's calling

‘n Mens hoor dikwels van mense wat sê dat hulle in die hemel was.  Ek steur my nie daaraan nie, en sal later verduidelik hoekom.  Maar partykeer wonder ek hoe dit moet wees om die Here te sien?  Wel, as jy daaroor gewonder het hoef jy nie meer nie, want in Jes.6 deel die profeet sy visioen met ons.

 

Jesaja se visioen (v.1-7)

‘n Paar jaar gelede het ek ‘n preekkursus bygewoon.  Die dosent het gesê dat ons nie elke Bybelkarakter se presiese ervaring op ons lewens kan toepas nie.  Niemand gaan bv. ‘n brandende bos ervaring hê, Jesaja se visioen sien, of Paulus se ervaring op die Damaskuspad deurmaak nie.

 

Jy kan wel die beginsels wat jy uit hierdie mense se lewens geleer het, op jouself toepas.  Deur dit te doen en naby aan die Here te lewe, kan jy ook ‘n diep, wonderlike en oorweldigende ervaring van sy heerlikheid hê.

 

Jesaja het hierdie visioen gesien in die jaar wat koning Ussia het gesterf het (2 Kron.26:23).  Ussia was vir 52 jaar lank koning in Jerusalem (2 Kron.26:3).  Hy was ‘n goeie koning en het baie voorspoed beleef (2 Kron.26:4-15).

 

Maar toe hy voorspoedig was, het hy hoogmoedig geword.  Hy het die reg van die priesters in sy eie hande geneem en wierook vir die Here geoffer (2 Kron.26:16).  Hiervoor het die Here hom gestraf, sodat hy melaats geword het en uiteindelik in die jaar 739 v.C. daarvan dood is (2 Kron.26:17-21).

 

In die jaar wat die aardse koning gesterf het, het Jesaja die hemelse Koning of Here gesien (v.1).  Die Hebreeus vir ‘Here’ in hierdie vers is 'ădônây (Adonai); dit is die mees verhewe titel vir God in die Ou Testament.  Volgens Jh.12:41 het Jesaja Christus se heerlikheid gesien.  is die Adonai wat in Ps.110:1 aan Jahwe se regterhand sit (vgl. Mt.22:41-45).

 

Die feit dat Hy hoog en verhewe is bevestig dit (v.1).  In 52:13 is die Messias hoog en verhewe, en in v.1 en 57:15 is die Here hoog en verhewe.  Die punt is dan dat die Messias die Here is.  Hy is oor elke owerheid, mag, heerskappy en krag; alles is aan sy voete onderwerp en Hy is die Hoof bo alle dinge (v.1, Mt.28:18, Ef.1:20-22).  Hy sit as Koning op die troon (v.1, Ps.2:6).  So groot en heerlik was Hy, dat die soom van sy kleed die tempel gevul het (v.1, Eks.28:33-34, Heb.5:5-6).

 

Vlammende hemelwesens [Heb. śârâph] of serafs het bo Hom gestaan (v.2).  Elke seraf het ses vlerke gehad.  Met twee het hy sy gesig bedek, omdat selfs ‘n sondelose seraf nie vir God in sy volle heerlikheid kan aanskou nie (v.2, Job 4:18, 15:15).  Met twee het hy sy voete bedek, om te wys dat hy ‘n skepsel is, asook dat hy die Here se pad wil loop (v.2, Eks.3:5, Sp.4:27).  Met twee het hy gevlieg om vinnig by die troon uit te kom en aan te meld vir diens (v.2, Ps.103:20-21, 104:4).

 

Een seraf het die ander een toegeroep en gesê:  “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare.  Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (v.3, vgl. Op.4:8).  Heilig [Heb. qâdôsh] beteken afgesonder.  God is nie net afgesonder van sonde nie, maar van die hele die skepping (ook van die serafs).  Hy alleen is Skepper; niemand is soos Hy nie (40:18, 25, Gn.1:1).

 

Die drievoudige uitroep van sy heiligheid wys dat Hy baie heilig is (v.3, kontr. Ps.62:12, Gal.1:8-9).  Sy hele karakter word in sy heiligheid opgesom.  Sy liefde, ewigheid, genade, kennis, wysheid, almag, regverdigheid, onveranderlikheid, ens. is heilig, uniek en afgesonder.

 

Die drievoudige herhaling van sy heiligheid kan ook na die Drie-Eenheid verwys.  In v.1 lees ons van Jesus (Jh.12:41), in v.3 van die Vader (Ps.110:1), en volgens Hd.28:25-27 het die Heilige Gees in v.9-10 met Jesaja gepraat.  In v.8 praat die Here ook van Homself as ons (Gn.1:26).

 

Die serafs het gesê dat die hele aarde van hierdie Drie-Enige God se heerlikheid vol is (v.3).  God se heerlikheid is die helder vertoning van sy Goddelikheid.  Sy heerlikheid is nie net in die tempel nie, maar oor die hele aarde.  Dit word in die skepping weerspieël (Ps.19:2), maar kan die duidelikste gesien word in Jesus Christus wat die heerlikheid van God is (Heb.1:3):

 

  • In sy eerste koms (40:5, Jh.1:14).
  • In die evangelie wat tot aan die eindes van die aarde sal versprei (11:9-10, Nm.14:21, Ps.72:19, 2 Kor.4:6).
  • In sy oordele (Hab.2:14).
  • In die hemel (Jh.17:24).
  • In sy wederkoms (Mt.25:31, Kol.1:27).

 

Toe die serafs sy heilige heerlikheid besing het, het die tempel-ingang se pilare en fondasie gebewe (v.4, Esg.1:24, 10:5).  Die tempel is ook met die rookwolk van God se heerlikheid gevul (v.4, Eks.40:34, 1 Kon.8:10-12, Op.15:8).  God het indirek gesê dat Jesaja Hom nie kon sien of in sy direkte teenwoordigheid inkom nie (1 Tm.6:16).

 

Maar selfs al het hy nie die Here se gesig gesien nie, het die glans daarvan, die serafs, die rook en die aardbewing gemaak dat hy wil doodgaan (v.5).  “Wee my, ek is verlore!” het hy gesê (v.5).  Hy sou eerder nie bestaan het nie, as om God se verskriklike heerlikheid te aanskou.  Die visioen daarvan het hom laat besef dat sy hart en mond so vuil is soos die volk s’n (v.5, hfst.1-5, Mt.12:34).

 

Een van die serafs het op God se bevel na Jesaja toe gevlieg (v.6, 2).  Met ‘n tang het hy ‘n gloeiende kool van die altaar af gevat (v.6).  Hy het dit teen Jesaja se sensitiewe lippe gedruk, sodat dit blase gebrand het (v.7).  Hy het vir Jesaja gesê dat sy sonde vergewe is (v.6-7).  Die profeet het sekerlik ‘n paar lesse hieruit geleer:

 

  • ‘n Lam moes op die altaar gesterf het om sy sonde weg te vat (vgl. Jh.1:29).
  • Sonde-oortuiging, bekering en vergifnis is pynlik (2 Kor.7:11).
  • Om God se Woord te verkondig, moes sy mond en lippe rein gewees het (Jer.1:9, Dn.10:16).

 

Die lesse wat ék uit die eerste sewe verse geleer het is die volgende:

 

[1] God is die Koning wat op die troon sit (v.1).  As iets met die aardse koning of ons land se regering gebeur, is Hy nogsteeds op die troon (v.1).  Hy is in beheer van die probleme in Coligny, asook van die persoonlike probleme wat jy in jou lewe het.

 

[2] Hy is so hoog en verhewe, dat Hy nie net op die aarde neerkyk nie, maar op die hemel (v.1, Ps.113:5-6).  Hy is heilig in die ootreffende trap; sy heerlikheid vul die hele aarde.

 

Die regte reaksie hierop is nie om soos in party kerke rond te spring of in ‘n emosionele beswyming in te gaan nie.  Die gepaste reaksie is eerder om te besef dat jy ‘n verlore sondaar is, en dat jy niks is voor die Here nie (v.5).

 

As jy dink dat jy nie só sleg is nie, het jy jouself nog nie in die spieël van God se Woord gesien nie.  Jy meet jouself nog aan die mense wat slegter is as jy, of aan die standaarde wat jy vir jouself gestel het.

 

As jy jouself aan God se heilige standaard meet, sal jy bely dat jy ‘n wurm in die stof is (v.5).  Jy sal die Here met vrees en bewing aanbid, en bid dat Hy jou moet vergewe (v.2-3, 5-7).  Jy sal nie jou gebed aframmel en dink dat die Here jou vergewe het, omdat jy die sondaarsgebed opgesê het nie.

 

Nee, dit sal pynlik wees om jou sonde raak te sien; dit sal vir jou voel of daar nie hoop is nie (v.5).  En in daardie oomblik sal die Here nie vir jou sê dat jy te hard is op jouself nie.  Maar Hy sal jou ook nie verdoem nie.  Hy sal vir jou wys dat Jesus aan die kruis gesterf het om jou sonde te vergewe (v.6-7).  En dan sal jy met ‘n dankbare hart glo en die Naam van die Here prys.

 

[3] Moderne visioene van die hemel klink glad nie soos Jesaja s’n nie, en is leuens.[1]  As iemand regtig in die hemel was en die heilige God gesien het, sal hy nie in homself en sy ervarings roem en dit misbruik om geld te maak nie.  Hy sal op sy gesig val, siek word, wens om dood te gaan, en sê dat hy die grootste sondaar op die planeet is (v.5, Eks.33:18-20, 34:8, Nm.16:19-22, Rgt.6:22, 13:20-22, 1 Kon.19:13, Job 42:6, Esg.1:28, Dn.8:27, 10:7-9, Hab.3:16, Mt.17:6, Lk.5:8, Hd.9:3-4, Op.1:17).

 

Jesaja se roeping (v.8-13)

Voordat ek in die bediening ingegaan het, het die Here by vier verskillende geleenthede vir my Jes.6:8 gegee.  Ek het geglo dat ek ‘n predikant moes word, maar het later getwyfel.  ‘Het ek nie miskien Jesaja se roeping met myne verwar nie?’ het ek vir tien jaar gewonder.  ‘Hoe kan ek weet of ek geroep is as ek nie ‘n stem gehoor het soos Jesaja nie?’

 

Genadiglik het die Here vir my die objektiewe bewyse van 1 Tm.3-4 gegee om te sê dat ek in die bediening hoort.  Ek het ook besef dat Jesaja se roeping nie myne is nie, maar dat ek tog iets uit sy roeping kan leer.

 

Jesaja het die stem van die Here (Adonai) gehoor:  “Wie sal Ek stuur?  En wie sal vir ons gaan?  Toe antwoord ek:  Hier is ek, stuur my.” (v.8).  Jesaja moes vergewe word (v.7) voordat Hy vir die Here kon werk (v.8).  Hy het homself bereid verklaar.  Hoe kon hy nie ‘ja’ gesê het ná die visioen wat hy sopas gesien het nie?  “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie?  Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Am.3:8).  Die ou lied sê:  ‘As Hy ons roep tot sy diens, hoe sal ons dit mag weier?’

 

Die Here het vir hom gesê om na die volk toe te gaan en te sê:  “Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.” (v.9).  Die volk het God se Woord gesien en gehoor, maar dit nie ingeneem en verstaan nie (v.9, Jer.5:21).  En hulle sou ook nie, omdat God hulle harte so ongevoelig soos vet gemaak het, hulle ore doof en hulle oë blind (v.9-10, Ps.119:70, Mt.13:14-15, Jh.12:40, Hd.28:26-27, Rm.11:8).

 

Selfs toe Jesaja die Woord helder en duidelik verkondig het, het hulle dit nie verstaan nie (28:9-10).  Omdat hulle hulle oë en ore daarvoor toegestop het, het God hulle harte so hard gemaak soos Farao s’n (v.10, Eks.4:21, Rm.9:18).  Aangesien hulle dit dan nie verstaan het nie, het hulle hulle nie bekeer nie, en het die Here hulle nie genees nie (v.10, 1:6).

 

Jesaja het uitgeroep:  “Hoe lank, Here?” (v.11).  Vir hoe lank moes hy hierdie boodskap van God se oordeel verkondig het?  Die Here het gesê dat hy daarmee moes aanhou, totdat die stede en huise in puin gelê het, totdat daar nie meer inwoners was nie, totdat die land so leeg en verlate soos ‘n woestyn geword het, en totdat Hy hulle na ‘n ver land toe weggevoer het (v.11-12).

 

God sou die land tot die uiterste toe verwoes het.  Israel sou gewees het soos ‘n terpentyn- of eikeboom wat afgekap is, en waarvan die stam verbrand is (v.13).  Maar selfs toe dit gebeur het, was daar nog hoop (Job 14:7-9).  ‘n Tiende van die heilige geslag (Israel) het in die Here geglo (v.13, Esr.9:2).

 

Maar daar was iets meer as dit:  in die toekoms sou die Spruit van die Messias uit die gebrande stomp van Israel gegroei het (v.13, 4:2, 11:1, Gn.3:15, 22:18, Gal.3:16).  Die eindste Here wat in v.1 as God op sy heilige troon gesit het, sou in die toekoms as mens uit die gebrande stomp uit gegroei het (v.13).  Toe die donker wolke van God se oordeel oor Israel gekom het, was daar ‘n silwer randjie om.

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas?  As die Here met jou oor dinge in jou lewe praat, moet jy dadelik luister.  Moet dit nie uitstel, afskuif, en jou hart verhard nie (Heb.3:12-13, 15).  Moenie die geleenthede wat die Here vir jou gee mors nie.  Gryp dit eerder aan en bekeer jou asof dit jou laaste kans is, want dalk is dit (2 Kor.6:2).

 

Jy weet nie of jy soos koning Bélsasar in Dn.5 die onsigbare lyn oortree het, en of die Here besluit het om jou lewe te neem nie.  Dalk gaan Hy jou nie doodmaak nie, maar het Hy besluit om jou hart te verhard (v.10).  En as Hy dít eers gedoen het, is die kanse wat jy gehad het verby (Sp.29:2, Heb.6:4-6).  Dit is nie dat jy jou wíl bekeer maar nie kán nie – jy sal nie wil nie.

 

Moet dan nie met die Here se genade speel nie, maar reageer daarop.  Wees dankbaar vir die Spruit wat uit die gebrande stomp uit gegroei het; dank die Here vir die groot verlossing wat Hy aan die boom van Golgota gebring het.  Die Spruit het in ‘n reuse koelteboom verander.  Is jy moeg en oorlaai?  Kom rus deur geloof in die skaduwee van die Allerhoogste.

 

En terwyl jy daar rus, kan jy van tyd tot tyd opstaan en deur die sleutelgat van die hemel loer.  Hoofstukke soos Jes.6 sal nou wel nie vir jou alles wys nie.  Maar jy sal genoeg sien om jou opgewonde te maak.  Jy sal nie kan wag vir die dag wanneer jy Jesus van aangesig tot aangesig sien, en dan vir ewig in die sonskyn van sy heerlikheid lewe nie.

 

[1] Vir meer hieroor kan jy my preek oor Op.4 lees.  Die titel is: ‘n Visioen van die hemel.

Kategorieë