Coram Deo Cover Image

Coming soon...

20 October 2018

’n Kans om jou te bekeer

Repent U Turn

Dalk dink jy hieride preek is nie vir jou nie. Maar jy kan dit net ignoreer as jy perfek is, altyd naby Here, en nooit wegdwaal nie. Ek het oor die afgelope paar maande besef dat dit nie net prostitute, dwelmhandelaars en naakte barbare êrens op ‘n eiland is wat hulp nodig het nie. Daar is sonde in ons eie gemeente, onder die mense wat hulleself gelowiges noem. Dit tyd geword dat ons ons hand in eie boesem steek en voor ons eie deur vee. In Jes. 55 gee die Here jou ‘n kans om jou te bekeer en Hom te soek terwyl Hy te vinde is.

 

  1. Kom na die Here toe (v.1-5)

Ek het onlangs gehoor van ‘n man wat sy tatoeëermerk vir die predikant gewys het terwyl hy preek. Hy het die predikant uitgetart. Die dominee het eenvoudig aangehou met preek. Later het die man stil geraak en was hy baie bang. ‘n Paar dae later het hy gebreek, voor die Here gehuil en tot bekering gekom.

Niemand is buite die bereik van die evangelie nie. Die Messias het vir bose mense soos ons gesterf (hfst. 53). Om deel van God se volk te word (hfst. 54) moet hulle egter die evangelie hoor (hfst. 55). Daarom roep die Here sondaars om na Hom toe te kom (v.1). In v.1, 3 roep Hy hulle vier keer om te kom. Daardeur wys Hy dat Hy nie onwillig is om hulle te red nie. Hy begeer hulle redding en wil regtig hê dat hulle na Hom toe moet kom. Hulle wil egter nie kom nie (Joh. 5:40), maar in sy groot liefde trek Hy hulle na Hom toe (Joh. 6:44).

Is jy geestelik dors, leeg, en moeg vir jou sonde wat nie versadig nie? Kom na Jesus toe; Hy sal jou dors les (Matt. 5:6, Joh. 4:14, Op. 21:6, 22:17). Hoe kan jy nié dors wees en Hom begeer as jy sien wie Hy regtig is nie? Wie is Hy?

[a] Hy is heilig en uniek: daar is niemand soos Hy nie.

[b] Hy is voortrefliker as enigiets of -iemand in die heelal.

[c] Hy is glansryk en helderder as 10 000 sonne.

[d] Hy is skoner as ‘n kombinasie van die mooiste sononder, massiewe berge, pragtige kleure, ‘n koel bergstroom, lieflike musiek, aangename geure, ens.

[e] Hy is goed, genadig en so vol liefde dat Hy sy laaste asem vir sy vyande gegee het.

[f] Hy is ewig en sonder ‘n begin of ‘n einde.

[g] Hy is wyser as al die wysheid van China, Egipte en die mensdom deur die geskiedenis.

[h] Hy is almagtig, sodat Hy met ‘n Woord wêrelde tot stand gebring het en triljoene x triljoene sterre geskep het.

[i] Hy is onveranderlik in sy wese, Persoon, karakter en beloftes. Wie anders ken jy wat altyd dieselfde is en nie verander nie?

[j] Hy is regverdig. Hy het nog nooit vir ‘n sekonde iets verkeerd gedink, gevoel, gedoen of gesê nie.

[k] Hy is soewerein en in beheer van ‘n haar of ‘n mossie wat op die grond val; van die geskiedenis van konings en nasies; van die heelal.

Is daar nie iets in jou wat sê: ‘Ek wil hierdie lewegewende water drink en in hierdie oseaan swem nie’? Kom na die waters en drink na hartelus (v.1). Jy kan nie hierdie fontein uitput nie. Daar is meer as genoeg water, sodat duisende-miljoene mense vir ewig daaruit kan drink (Eseg. 47, Op. 22:1-2).

Maar wat as iemand nie dors is vir hierdie lewende water nie? Kom ek antwoord jou met ‘n vraag: ‘Wat sal gebeur as ‘n man in die woestyn nie water het nie, maar nie wil drink wanneer hy by ‘n oase kom nie?’ Hy sal doodgaan. Sonder die lewende water van Jesus en die Heilige Gees, sterf jy (Joh. 7:37-39).

Hoe kan jy hierdie lewende water kry? Niks wat jy doen kan dit koop of verdien nie. Dit is te duur. Jesus het dit vir ons gekoop toe Hy aan die kruis gesterf het (hfst. 53). Ontvang dit gratis, sonder prys of geld deur die geloof (v.1, Rom. 6:23b).

As jy dit wil koop sal die Here dit nie vir jou gee nie, want daardeur sê jy Jesus se dood is nie voldoende nie en jy moet iets byvoeg. Jy sê ook dat die kruis nie waardevol is nie en dat jou sub-standaard goeie werke vol sonde dit kan koop.

Om die lewende water te kry moet jy besef jy is geestelik arm en kan nie God se verlossing bekostig nie (Matt. 5:3). God het dit so bewerk, sodat niemand kan roem nie (Ef. 2:8-9). Hy het dit ook so gedoen, sodat jy nie die verskoning het wat sê: ‘Die hemel is net ryk mense en vir die elite van die samelewing’ nie. ‘Ek kon die hemel nie bekostig nie.’

Almal is welkom by die fees van verlossing. Daar is geen beperking nie: skep en eet soveel soos jy wil. Jy sal nie wil ophou as jy eers die koue water, warm brood, nuwe wyn en soet melk van Jesus gesmaak het nie (25:6, Ps. 34:9, Hoogl. 5:1, Joël 3:18, Joh. 2:1-11, 6:35, 53-58).

Hoekom wil jy jou siel versadig deur te leef vir geld, kos, oefening, seks, drank, mense, jou vriende, liefde, jou kinders, jou huwelik, ens.? Kan hierdie dinge jou leë siel vir ewig versadig en gelukkig maak (v.2, Joh. 6:27, 4:18, Pred. 2:1-11)?

Eers as jy na God se Woord in die evangelie luister, sal jou siel rus (v.2). Jesus is beter as die beste bord boerekos: Hy doen jou geestelik goed, gee jou die ewige lewe en voed jou (v.2). Hierdie kos is egter nie net om jou te versadig nie. Jesus wil ook hê dat jy Hom soos goeie en ryk kos moet geniet (v.2, Ps. 37:4, 63:4, 6). Hoe doen jy dit?

Neig jou oor en luister na die Woord, sodat jou siel kan lewe (v.3, Rom. 10:17). As jy die Woord van die evangelie ontvang, dan maak Hy ‘n onbreekbare verbond met jou dat jy syne is (v.3). Hierdie verbond van ewige liefde kom deur die Messias, die Seun van Dawid (v.3, Ps. 89:28-30, 34-38, Jer. 31:3, Hand. 13:34, Rom. 8:38-39).

Deur die kruis getuig die Messias van God se ewige liefde vir ons (v.4, hfst. 53). Hy is die Leier en Bevelvoerder wat die nasies na God toe lei (v.4, Hand. 5:31). In die Ou Testament het Hy net vir Israel as sy volk geken (Amos 3:2). Maar in die Nuwe Testament roep Hy die heidene wat Hy nie voorheen as sy eie geken het nie (v.5, 65:1). Hulle is nie traag en hardkoppig soos Israel in die Ou Testament nie, maar hardloop dadelik na die Here toe as Hy hulle roep (v.5, 65:2, 2:2-3, Sag. 8:22-23). Hulle kom wanneer die Here sy Kneg voor hulle oë verhef en Hom verheerlik (v.5, 49:7, 52:13, 15, Joh. 12:32).

Sien mense in jou lewe, in die manier waarop jy jou werk doen, hoe jy met mense praat, in jou verhoudings, jou reinheid, integriteit, opregtigheid en heiligheid dat jy anders is? Wil hulle Christus leer ken wanneer hulle na jou lewe kyk? Jy kan Hom net aanbeveel as jy self sien hoe lieflik en wonderlik Hy is. Anders sal jy jou vir Hom skaam en Hom vir mense wegsteek soos ‘n lig onder ‘n emmer.

 

  1. Soek die Here (v.6-13)

‘n Vriend van my het eenkeer sy oudste seun saam Johannesburg toe gebring en sy ander kinders by die huis gelos. ‘As die oudste seun kry hy sekere voorregte wat die ander nie kry nie.’

Net so het God die evangelie na Israel toe gestuur voordat die heidene dit ontvang het (v.6, 5, Matt. 10:6, 15:24, 28:19, Rom. 1:16). Hy het hulle die kans gegee om Hom te soek terwyl Hy te vinde en naby is (v.6). Dié wat Hom met hulle hele hart soek, sal Hom vind (v.6, Deut. 4:29, Jer. 29:13, Dan. 9:2, Luk. 11:9-10).

 Is jy ongered? Is jy ‘n gelowige wat afgedwaal het? Soek die Here terwyl Hy jou roep en jy die geleentheid het (v.6, 1, 2Kor. 6:2). As jy dit nie doen nie, sal Hy Homself wegsteek en sal jy dalk nie weer die geleentheid kry nie (Ps. 32:6, Spr. 1:28, Amos 8:11, Joh. 12:35-36, Heb. 6:4-6).

Dalk dink jy jy is veilig, omdat jy in die kerk sit? Selfs onder God se volk was daar goddelose kwaaddoeners (v.7). Net so is daar onder getroue kerkmense dié wat boos is. As jy miskien so is, het jy nou die kans om jou te bekeer (v.6-7). Draai weg van jou sondige leefstyl en gedagtes (v.7, 53:6, Jer. 4:14, Rom. 12:2). As jy dit doen, sal die Here jou in oorvloed vergewe deur die kruis (v.7, hfst. 53, Rom. 5:20, Ef. 1:7-8, 2:7, 3:8).

Twyfel jy dat die Here gewillig is om jou te red, te vergewe en te herstel? Sy gedagtes en weë is nie so sleg soos ons s’n nie, maar is oneindig keer hoër en beter (v.7-9). Hy openbaar hierdie gedagtes deur die Woord van die evangelie (v.10). Hy stuur dit soos sneeu en reën uit hemel (v.10). Dit val nie halfpad om net weer terug te keer na die wolke nie, maar val tot op die aarde en deurweek dit, sodat die gewasse groei en daar saad is vir die boer en brood vir die mens (v.10). God se Woord is m.a.w. nie sonder effek nie, maar dit sal die doel bereik waarvoor Hy dit uitstuur (v.11).

Jy kan die evangelie van die hand wys, maar as die Here besluit om Paulus se hart oop te maak en op die Damaskuspad tot bekering te bring, kan niemand sy doel en raadsplan laat misluk nie (v.11). Jesaja bedoel ook dat die Here sy profesieë sal vervul (v.11). Hy bedoel ook dat die Here wat vir sondaars sê om hulle te bekeer (v.6-7, Hand. 17:30), hulle dan die vermoë gee om dit te doen (v.11, Hand. 5:31, 11:18, 2Tim. 2:25).

As jy ‘n prediker, ouer of gelowige is wat die Woord sonder ‘sukses’ deel, moet hierdie waarheid jou bemoedig: God sal sy doel bereik (v.11). Moet daarom nie op jou ooredingsvermoë staatmaak nie, maar op die Here. Bid dat Hy mense se oë sal oopmaak en hulle sal red. Sonder Hom kan niemand gered word nie (Luk. 10:21-22, Joh. 6:44, 16:8).

Jesaja gee ‘n voorbeeld van wat hy bedoel wanneer Hy sê dat die Woord nie ledig sal terugkeer nie. Die Here voorspel bv. dat ons met vrede en blydskap uit hierdie lelike wêreld vol sonde sal trek (v.12, 35:10). Hy sal ons lei (v.12). Die skepping prys die Here saam met ons en wag vir ‘n nuwe aarde sonder die vloek, doringbome en distels (v.12-13, Gen. 3:17-18, Rom. 8:19-22). God se doel is nie bloot dat die individu moet verander nie, maar dat die hele skepping nuutgemaak word (2Kor. 5:17, Op. 21:1). Die Here maak nie net die sondaar en die skepping beter nie; Hy maak dit heeltemal nuut (v.13).

Wat is die rede vir hierdie transformasie? Die eer van God se groot Naam (v.13). Die einddoel van ons evangelie-verkondiging is dus dat mense nuut moet word en dat hulle God se blydskap en vrede moet beleef, sodat hulle Hom kan loof en sy Naam kan eer (v.12-13). Ons nuwe lewens en die nuwe aarde is die ewige teken dat God die sonde en die dood oorwin het, en dat Hy goed en genadig is (v.13, hfst. 53).

God gee jou die kans om hierin te deel en dit te geniet. Kom vandag nog na die Here toe en vra dat Hy jou stukkende lewe sal regmaak. Moenie dom wees en dink jy sal dit later doen nie (v.6). Jy weet nie eers of daar ‘n later sal wees nie (v.6). Moenie dink die Here sien nie wat jy in die geheim dink en doen, of dat jy daarmee sal wegkom nie (v.7). Erken net jou skuld, sodat die Here jou vergewe (v.7, 1:18, Spr. 28:13, Jer. 3:13, 1Joh. 1:9).

Ek praat nie net van ongelowiges nie, maar van jou wat jouself ‘n gelowige noem en soos die verlore seun in ‘n ver land woon. As jy kop onderstebo na die Vader toe terugkeer, sal Hy jou tegemoet hardloop, jou omhels, jou soen, en fees vier. Hy sal jou laat aansit by ‘n vrolike en smaaklike feesmaal wat nooit ophou nie.

Kategorieë