Dalk is hierdie nie ‘n preek wat jy wil hoor of lees nie. ‘Ek soek iets prakties wat my in my omstandighede kan help,’ sê jy. Niks is meer prakties as God nie: sy Wese, Persoon en karakter.
John Piper het eenkeer uit Jesaja 6:1-8 oor God se heiligheid gepreek. Na die preek het ‘n man na hom toe gekom. Hy en sy vrou het daardie week uitgevind dat ‘n familielid hulle dogter molesteer. Volgens die man was ‘n preek oor God se heiligheid net wat hulle nodig gehad het, omdat dit dinge vir hulle in perspektief gesit het. Ek bid dat hierdie preek uit Eksodus 27 dieselfde sal doen vir almal wat dit hoor of lees.
Die koper altaar (v.1-8)
Alex is ‘n motorwerktuigkundige; ‘n mechanic. As hy onder die karre lê word sy hande, klere, en gesig vuil. Op ‘n dag nooi die koning van Swede hom om saam met ‘n paar adelikes die prinses se verjaarsdag bal by te woon. Alex weet instinktief hy moet sy naels skrop, gesig was, stort, spuit, skeer, hare kam, tande borsel, en skoon aantrek as hy voor die koning wil staan.
So is dit met God: om voor Hom te staan moet jy innerlik rein wees (Psalm 24:3-4). Dit is die les van die koper altaar (v.1-8): voordat jy tot God kan nader, moet jou sonde vergewe wees.
Wat is die eerste ding wat jy sien as jy in die tabernakel se voorhof instap? Die koper altaar. Hoekom? Dit wys vir jou dat niemand sonder ‘n offer na God toe kan kom nie. Die altaar moes van akasiahout gemaak word. Dit was 2.25 x 2.25 x 1.35 m hoog (v.1). Op elke hoek was daar ‘n horing (v.2). Die horing was ‘n teken van God se mag om sonde te vergewe en te red van die dood (vgl. 1 Konings 1:50, hoe weerloos is ‘n renoster nie sonder sy horing nie?). Die priester het dus bloed op die horings gesmeer (Levitikus 4:7). Die dooie dier is ook aan die horings vasgebind (Psalm 118:27).
Die altaar moes met koper oordek word (v.2). Daar was ook koper potte om die as op te vang, koper grawe op die as op te skraap of kole te skep, koper bakke om die bloed op te vang sodat die priester dit aan die voet van die altaar kon gooi, koper vurke om die vleis rond te skuif en af te haal (1 Samuel 2:13-14), ‘n koper vuurpan om kole na die wierook altaar toe te dra (v.3, Levitikus 16:12-13). Alles buite die tabernakel s van koper gemaak, en alles binne-in van goud. Dit is ‘n skadubeeld van Jesus wat beide God en mens is: uiterlik onaantrelik, maar innerlik volmaak.
Aan die kant van die altaar (halfpad tussen die bo- en onderkant) moes ‘n strook van koper traliewerk wees. Dit het soos ‘n net gelyk waardeur wind kon waai, sodat die kole suurstof kon kry (v.4, sien eerste skets hierbo). Party dink die traliewerk verwys na ‘n rooster wat in die altaar moes insak tot halfpad na onder (skets). Maar as dit so was, sou die vuur die koper gesmelt en die hout kante gebrand het. Daarom is die heel boonste skets meer akkuraat, omdat die rooster, traliewerk, en horings van soliede koper was.
Daar moes vier koper ringe aan die traliewerk se vier hoeke wees (v.5, heel boonste skets). Die akasiahout pale is met koper oordek en moes deur die ringe gesteek word, sodat die Leviete dit kon dra en nie met hulle sonde-besmette hande daaraan geraak het nie: God is heilig (v.6-7, Numeri 4:13-15). Moses het alles presies gemaak soos wat God op die berg vir Hom gewys het (v.8). God se spesifieke instruksies wys weer vir ons dat Hy heilig is.
Die voorhof (v.9-19)
In 1993 was ons vir ‘n maand in Kaapstad. Naby Bloubergstrand is CALTEX se raffinadery met hoë heinings, wagtorings met dik staal en koeëlvaste glas, wagte in die nag, beton mure, en lemmetjies draad. Ek het geweet wat dit beteken: ‘Chemakalieë is gevaarlik en waardevol – moenie inkom nie!’ Net so het die tabernakel se heining gewys dat God heilig en gevaarlik is. Die volk kon nie nader kom nie.
Om die tabernakel se voorhof was daar ‘n heining van fyn linne. Dit was 45 x 22.5 m (v.9, 11-13). Per lengte was daar was twintig koper pilare met twintig koper voetstukke. Bo-op elke pilaar was daar ‘n silwer rand met ‘n silwer ring vir die tentkoorde (skets). Daar was ook silwer gordynstokke tussen die pilare (v.10-11).
In die breedte moes die pilare dieselfde lyk. Daar was tien pilare agter en tien voor (v.12). Voor was daar twee heinings van fyn linne aan die kante (v.14-15, 6.75 x 6.75 m). In die middel was daar 9 m oop vir ‘n gordyn van pers, blou, rooistof met fyn borduurwerk op (v.16). Dit wys vir ons dat daar net een weg na God toe is (Johannes 14:6).
Alles moes dus van koper en silwer gemaak word. Die voorhof was 1012.5 m² x 2.25 m hoog (v.17-18). Die heining se hoogte sou keer dat die volk kon insien en na die heilige God toe kon kom (Numeri 3:10). Die gereedskap en penne vir die voorhof en tabernakel was van koper gemaak (v.19). Dit was nou wel nie van goud nie, maar tog was dit waardevol. Ons weet mos hoe diewe in Suid-Afrika koper steel.
Die olie (v.20-21)
Ek en my vrou kyk van tyd tot tyd dokumentêre op YouTube. Ons het eendag gekyk hoe hulle die vorm-sjokolades maak wat jy gewoonlik vir geskenke koop. Alles word met die hand gemaak, en daarom is dit so duur. Tyd en moeite maak dat hierdie sjokolade duurder is as massa produksie sjokolades wat met masjiene gemaak word. Vir dieselfde rede is olyfolie (selfs in Moses se tyd) duurder as ander olies.
Moses moes vir die volk sê om geparste rou olyfolie te bring (v.20, ‘virgin oil’). Die olie was gemaak van onryp olywe wat fyn gestamp is. Die pap moes is in ‘n lap gesit, sodat die olie onder kon uitdrup. Die moes is ook soms in warm water gesit en met die hand gedruk. Die olielaag wat dan bo-op die water gedryf het, is versigtig afgeskep. Hierdie olie was die duurste en suiwerste olie beskikbaar.[1] Die suiwer olyfolie sou byna geen rook gemaak het nie. Die olie is gebruik, sodat die kandelaar die hele nag deur kon brand (v.21, Levitikus 24:1-4, 1 Samuel 3:3).
Watse lesse is daar vir ons? Reageer op God se heiligheid. Voor jy kan reageer moet jy dit verstaan. ‘God is heilig’ beteken Hy is uniek, gans-anders, een van ‘n soort, in ‘n klas van sy eie, en verhewe bo die skepping. Die Skrif sê:
- “O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (15:11).
- “By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?... By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.” (Jesaja 40:18, 25).
- “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge” (Psalm 89:7).
God se heiligheid beteken ook Hy is rein en moreel volmaak. Die suiwer olie is ‘n illustrasie hiervan, asook die lig wat in die tabernakel gebrand het (v.20-21). God is lig en in Hom is geen duisternis nie (1 Johannes 1:5). God is volmaak en sy oë is so rein dat Hy nie sonde kan aanskou nie (Matteus 5:48, Habakkuk 1:13). Hebreërs 7:26 sê van Jesus: “Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het”.
God sal nie sonde in sy heilige teenwoordigheid toelaat nie. Die heining om die tabernakel se voorhof wys dit (v.9-19). Psalm 1:5 sê: “Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.” En Psalm 5:5: “Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.” Die Hebreër-skrywer sê: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebreërs 12:14). Johannes skryf: “En daarin [in die nuwe Jerusalem] sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie” (Openbaring 21:27).
God haat die sonde in jou wese, hart, motiewe, begeertes, wil, woorde, denke, en dade. Jy is na God se beeld gemaak. As jy sonde doen lieg jy oor wie Hy is. Om sy heilige karakter te beskerm straf Hy sonde met die dood. Daarom was daar ‘n altaar tussen die priester en die tabernakel: ‘n sondelose dier moes in die sondaar se plek sterf.
Geen dier kon sonde wegvat nie, maar het heengewys na die sondelose en volmaakte Lam van God wat in ons plek gesterf het om ons sonde weg te vat (Hebreërs 10:1-4, Johannes 1:29, Jesaja 53:4-6). In sy kruisdood het Jesus die Ou Testament priester, altaar, en offer vervul (Hebreërs 13:10, 10:12, 21). Die altaar van sy kruis staan tussen ons en God, sodat Hy die sonde wat tussen ons en God staan kan wegvat. Hy het die heining wat om die tabernakel was (Jesaja 59:2) verwyder. Nou kan sondaars deur geloof en bekering vrylik na die heilige God toe kom (Hebreërs 10:22).
Was jy al by die altaar van sy kruis? Is jou sondes vergewe?
[1] Dink jy jy is ‘okay’ en kort nie die altaar nie? Toe Jesus op aarde was het Hy harder dinge te sê gehad vir die selfregverdige en hoogmoedige Fariseërs as vir prostitute. As jy deur jou werke hemel toe wil gaan, vereis God dat jy die wet perfek moet gehoorsaam – anders gaan jy hel toe (Galasiërs 3:10).
[2] Is jy soos die gemiddelde Afrikaner wat dink Jesus het vir jou sonde gesterf, maar jy leef nog daarin? Jy sal dubbel gestraf word, omdat jy ‘n bespotting maak van die kruis. Jy verag die enigste ‘altaar’ waar God sondes vergewe. En dink jy jy sal wegkom sonder om gestraf te word?
“Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie... hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebreërs 10:26, 29).
[3] Is jy moedeloos en hopeloos oor jou sonde wat jou pla, omdat jy weet God is kwaad vir jou? Kyk na die Lam van God op die altaar van die kruis, en smeek om genade. ‘Hoe weet ek God sal my aanvaar?’ vra jy. Hy is die Een wat die altaar en die kruis uitgedink het, sodat sondaars na Hom toe kan kom!
[4] Is jy ‘n Christen wat met sonde speel? Wanneer laas was jý by die altaar van die kruis? Die altaar was nie net vir ongelowiges wat tot bekering moes kom nie, maar vir uitverkore Israel. Kan jy met sonde speel as jy die diep wond in Jesus se sy sien, die snye in sy kop, die spykers in sy hande en voete, die vore in sy rug, die bloed oral, sy vyande se spoeg op sy gesig, sy verskrikking as gevolg van God se toorn op Hom?
[5] Is jy ‘n Christen wat jou sonde haat en spyt is daaroor? Die altaar van die kruis is vir jou. Kom gereeld deur belydenis en bekering na die altaar toe (1 Johannes 1:7, 9). Skep moed en onthou Jesus se offer as jy die nagmaal vier. Streef met die Gees se krag om God se heiligheid in jou lewe te weerspieël:
“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:15-16).
Hoekom moet jy op God se heiligheid regeer? God vereis ‘n reaksie. As jy bly soos jy is, vereis sy heiligheid dat jy hel toe gaan. Kom na die altaar toe en word verander.
Wat maak dat God God is? Dalk sê jy dis sy almag, ewigheid, oneindigheid, onveranderlikheid, alwetendheid, liefde, wysheid, en alles omtrent Hom. Jy is reg. Maar in essensie is dit sy heiligheid, uniekheid, en andersheid wat Hom God maak. Sy mag, kennis, liefde, wysheid is heilig, uniek, en gans-anders. As God dus sy heiligheid sou prysgee of kompromeer, is Hy nie meer God nie.
Laat niemand dan dink vergifnis en genade beteken God is nie ernstig oor sy heiligheid nie. Inteendeel, die kruis wys juis dat God eerder mens sou word en sterf, as om sy heiligheid prys te gee. In die kruis het God dus nie sy heiligheid weggegooi om na sondaars toe neer te daal nie. Hy het ons uit ons sonde kom haal om ons heilig te maak, sodat ons in sy heilige teenwoordigheid kan inkom.
[1] The NIV Study Bible, p.128 en John Currid, Evangelical Press Study Commentary: Exodus vol.2, pp.189-190