1Tessalonisense 2:17-3:5
Omdat ek self ‘n leraar is, gesels ek baie met ander leraars. Uit my gesprekke met hulle, asook uit my eie ervaring, weet ek hoe ‘n herder dink en voel. Hy wíl by die gemeente wees. As hy hulle vir ‘n lang tyd nie by die kerk sien nie, pla dit hom. Hy lê wakker oor mense wat in hulle toewyding verflou het. Dit pla hom as hulle met sonde besig is. Hy geniet dit om mense met die groen weiding van God se Woord te voed en te sien hoe hulle geestelik groei en die Here getrou dien (Joh. 21:15-17). Hy bid aanhoudend vir die gemeente.
Hierdie is die tipe dinge wat Paulus in 1Tess. 2:17-3:5 vir die Tessalonisense gedoen het. In Paulus lewe het ons ‘n goeie voorbeeld van ‘n herder se hart vir die gemeente.
- Hy wil by hulle wees (2:17-18)
Ek onthou hoe ek as 12-jarige seun saam met ‘n ander kind huistoe gestap het. Hy wou huil. ‘Wat is fout?’ het ek gevra. ‘My pa het gesê hy gaan kom kyk hoe ek atletiek doen, en hy’t nie eers gekom,’ het hy met sy Engelse aksent gesê. Dit is pynlik as ouers, vriende en familie nie by jou wil wees nie, of as hulle net by jou is omdat hulle gedwing voel.
Paulus was nie so nie. Hy het die nuwe gelowiges liefgehad soos wat ‘n goeie pa en ma hulle kinders liefhet (2:7, 11-12). Hy wóú by hulle wees maar kon nie, omdat die duiwel die Jode aangehits het om hom en sy span uit Tessalonika en Berea te verdryf (2:17-18, 15-16, Hand. 17:5-10, 13-15, 2Tess. 3:2). Hulle is as’t ware van die Tessalonisense weggeskeur en moes hulle vir ‘n tydjie soos weeskinders agterlaat (2:17, Gk. aporphanizō). Hy het hulle weer op sy derde sendingreis besoek (Hand. 20:1-4).
Alhoewel Paulus hulle nie kon sien nie, het hy na hulle verlang en was sy hart met hulle (2:17, 1Kor. 5:3, Kol. 2:5). Dit was egter nie genoeg om aan hulle te dink of briewe te skryf nie; hy wou by hulle wees om ‘n verhouding met hulle te bou (2:17, 3:10, Hand. 28:15, 2Joh. 12, 3Joh. 14).
Dus is dit nie genoeg om net jou leraar se preke op ‘n blog te lees, of na die tyd daarna op die internet te luister nie. Die herder en die gemeente moet mekaar sien om ‘n verhouding te bou. Hoe gaan God se herders jou groei dophou, hulp verleen, jou deur ‘n tyd van krisis lei, jou reghelp as jy sonde doen, as jy nie by die gemeente is nie? Jy het die gemeenskap van die gelowiges nodig (Hand. 2:42). Moenie in die slegte gewoonte verval om van die gemeentelike samekomste af weg te bly nie (Heb. 10:24-25). Buiten dat jou broers en susters jou moet sien, moet die herders jou saam met die res van die kudde sien.
Paulus se woorde impliseer ook dat ‘n Bybelse herder met ‘n eerlike hart kan sê: ‘Die kerk is my lewe. Ek wil nêrens anders wees nie. Ek is nie hier, omdat ek ‘n predikant is, of omdat die gemeente my salaris betaal nie. Ek wíl hier wees.’
Omdat ‘n herder se verhouding met die gemeente so belangrik is, sal die duiwel probeer keer dat hy by hulle uitkom. Dalk doen hy dit deur siekte. Of miskien hits hy mense teen hom aan, sodat hulle hom afdank (soos wat met Jonathan Edwards gebeur het), of hom in die tronk toesluit (soos wat met John Bunyan gebeur het). Dit is wat met Paulus gebeur het: die duiwel het hom verhinder om by die Tessalonisense uit te kom (2:18).
Maar die duiwel kon nie wen nie. Nadat Paulus uit Tessalonika en Berea verdryf is, het hy die evangelie in Atene en Korinte verkondig. En omdat hy nie by die Tessalonisense kon uitkom nie, het hy ook hierdie brief vir hulle geskryf. Só het God die duiwel se werk gebruik om die evangelie te versprei (vgl. Hand. 8:1-4, 11:19-26, 13:1-3, Rom. 1:13, 15:20-22)!
Dit herinner my aan die storie van ‘n evangelis genaamd Ray Comfort. Ateïste het hom vreeslik gespot, omdat hy gesê het dat piesangs ‘n bewys van intelligente ontwerp is. Volgens ateïste het mense piesang geneties gemanipuleer om dit eetbaar te maak. Hulle het Comfort op die internet belaglik gemaak en hom Banana Man genoem. Die gevolg hiervan was dat hy op die internet, in seminare en in onderhoude die evangelie met der duisende ateïste en met ander mense kon deel!
As die Here wil, kan Hy die duiwel gebruik om die evangelie te versprei. Hy doen dit soms deurdat Hy die duiwel toelaat om ‘n prediker se ‘goeie’ planne in die wiele ry. So bereik die Here sy doel en bevoordeel Hy sy kinders (Rom. 8:28).
- Hy verbly hom oor hulle (2:19-20)
‘n Ou oom het my onlangs gevra: ‘Sal ek my vrou in die hemel herken?’ Hy was ook bekommerd dat hy nie meer ‘n spesiale verhouding met haar sal hê nie. Wat moes ek vir die oom sê? Ek het o.a. Paulus se woorde in 1Tess. 2:19-20 gebruik om hom te bemoedig. Paulus het hom in die Tessalonisense verbly en die Here vir hulle verlossing en groei verheerlik (2:20). By die wederkoms sou hy hierdie spesiale verhouding met hulle behou. Dít was sy hoop, dat hy hom steeds oor hulle sou verbly en dat hy in die Here sou roem wat hulle deur sý bediening tot bekering gebring het (2:19, Rom. 15:16-18, Fil. 4:1).
Sien jy dan dat die spesiale verhouding wat jy hier met mense het, sal aanhou wanneer ons by die Here is? Ons sal mekaar in die lewe hierna herken, soos wat 1Tess. 2:19-20, 4:13-18, Matt. 17:3-4, Luk. 16:22-24, 2Kor. 1:14 duidelik maak.
Die ou oom met wie ek gepraat het, sal nou wel nie meer met sy vrou getroud wees nie (Matt. 22:30), maar daar sal ‘n perfekte huwelik wees, naamlik die huwelik tussen Jesus en sy kerk (Ef. 5:31-32). In die lewe hierna sal die oom se verhouding met sy vrou ook beter wees as wat dit op die beste dag hier op aarde was. Dit is omdat daar geen sonde op die nuwe aarde sal wees nie.
Ek sien uit na perfekte verhoudings in hemel. Op die aarde is verhoudings gebroke, omdat ons verhouding met God nie reg is nie. Jesus het dit egter kom herstel: die verhouding tussen ons en God, asook ons verhouding met ander mense. Nie een van die twee is al volmaak nie, maar op die nuwe aarde sal dit wees. Laat die herder wat met moeilike skape werk, asook die skape wat ‘n onvolmaakte en sondige herder het, dit onthou en bly wees.
- Hy is besorg oor hulle welstand (3:1-5)
Iemand het my van ‘n predikant vertel (ek ken die predikant goed) wat huil wanneer iemand uit die gemeente bedank—dit is vir hom baie erg. Dit laat my dink aan Paulus wat baie besorg was oor die geestelike welstand van die gemeente in Tessalonika, asook die welstand van die ander gemeentes in die eerste eeu (3:1-5, vgl. 2Kor. 11:28). Toe hy van die Tessalonisense geskei is, was hy angstig om te weet hoe dit met hulle gaan. Alhoewel hy Silas en Timoteus se ondersteuning nodig gehad het, was hy besorg oor die nuwe gelowiges se welstand. Hy was bereid om alleen in Atene agter te bly en Timoteus Tessalonika toe te stuur om te hoor hoe dit met hulle gaan (3:1-2, Hand. 17:15-16).
Hy wou graag self gaan, maar is verhinder (2:18). Daarom het hy sy kollega, Timoteus na hulle toe gestuur. Hy noem hom ‘n dienaar en medewerker van God (3:2, 1Kor. 3:9). God het in en deur Timoteus gewerk om die evangelie te verkondig. Hy moes die gelowiges in die Christelike geloof vestig deur aan hulle waarhede te leer wat Paulus nie kon nie, omdat hy ontydig van hulle weggeneem is (3:2). Timoteus moes hulle aanmoedig om hierdie waarhede te gehoorsaam (Matt. 28:20).
Dit is die hooftaak van enige herder wat sy sout werd is: hy moet die kudde se geestelike welstand op die hart dra, die evangelie aan hulle verkondig, hulle in die volle waarheid van die Woord onderrig, en hulle aanmoedig om dit te gehoorsaam (3:2, 2Tim. 4:2). Prakties beteken dit dat die herder sy tyd sal insit om mense die Woord te leer: op Sondae, by die Bybelstudies, as hy mense in die week dissipeleer, as hy mense moet beraad of aanspreek oor hulle sonde, waar hy hulle moet troos, by ‘n huisbesoek, langs ‘n siekbed, ens.
‘n Herder is nie ‘n sosiale vlinder wat die hele dag by mense kuier en tee drink nie. Hy is nie die CEO van die gemeente nie. Hy is nie ‘n motiverende spreker wat mense se selfbeeld moet op pomp nie. Hy is nie die gemeente se persoonlike sosiale werker, sodat jy hóm moet bel as jy ‘n siek familielid in die hospitaal het, of as jou arm vriend kos nodig het nie. Hy is ‘n leraar en prediker van die Woord. Hy moet dit vir mense verduidelik en vir hulle wys hoe die Here wil hê hulle moet dit toepas (3:2). As hy dit nie wil doen nie, moet hy bedank.
Timoteus moes die nuwe gelowiges aanmoedig om nie die Here te verloën in die vervolging nie (3:2-3). Om dit reg te kry, moes hulle sterk wees in die Woord (3:2-3). Enigiemand wat nie sterk is in die Woord nie, sal die Here verloën as dinge te warm raak. Jy kan tog nie opstaan vir iets waarvan jy nie heeltemal seker is, of wat jy nie met oortuiging kan verduidelik of verdedig nie.
As jy nie goed gegrond is in die waarheid van die Woord nie, sal jy die Here verloën as die Australiese Rugby Unie vir jou sê: ‘Jy mag nie sê homoseksualiteit is sonde nie; as jy dit sê, gaan ons jou uit internasionale rugby skors en gaan jy jou $1.5 kontrak verloor.’
Om vas te staan in vervolging, moet jy ook besef dat Christene hiervoor bestem is (3:3, Matt. 10:22, 25, Luk. 9:23, Joh. 15:20, 16:33, Hand. 9:16, 14:22, 2Tim. 3:12, 1Pet. 2:21). So het Paulus die gelowiges gewaarsku en so het dit gebeur (3:4).
‘n Vriend van my sit met ‘n situasie waar ‘n pa en ma hulle Christen dogter verbied om kerk toe te gaan. Party van julle is al by die werk vervolg, omdat julle die evangelie met ander wou deel. Pro-gay mense in die NG-Kerk is besig om die ware gelowiges te vervolg. In party lande is dit ‘n misdaad om ‘n Christen te wees!
Die wêreld sal jou vervolg, slegsê, beboet, leuens oor jou versprei, jou in die tronk toesluit, jou aanrand en jou doodmaak (Matt. 24:9). As jy dit betwyfel en nie die koste van dissipelskap bereken nie, sal jy omkant gevang word wanneer die vervolging kom. Dit sal jou soos ‘n emmer koue water tref. Jy sal uitgeboul word. Jy sal jou broers en susters aan die owerhede uitlewer (Mark. 13:12). Jy sal die Here verloën. Dalk is jy oortuig dat jy Hom nie sal verloën nie, maar jy sal. Onthou vir Petrus (Mark. 14:29-31, 66-72).
Is dit enige wonder dat Paulus besorg was oor die nuwe gelowiges se welstand (3:5)? Hy wou weet hoe dit met hulle gaan? Staan hulle nog vas in die geloof? Die duiwel het hulle verseker versoek om die Here te verloën eerder as om vir Hom te ly. Was hy suksesvol? Het ons verniet in Tessalonika gearbei? Dit was die vrae wat in Paulus se gemoed gemaal het (3:5, 2).
Min dinge laat ‘n herder so mismoedig voel soos wanneer ‘n ywerige jong ‘bekeerling’ na ‘n paar maande of ‘n jaar sy rug op die Here draai. Dit het onlangs met ‘n vriend van my gebeur. Hy het ‘n nuwe kerk in ‘n Tsonga dorpie geplant. Nadat hy vir ‘n paar jaar gewerk het, het hy sy eerste bekeerling gehad. Sy het vir meer as ‘n jaar gehou, maar uit vrees vir hekse het sy die Here verloën en na haar toordokters toe teruggekeer.
Wat ‘n teleurstelling! Ek hoop nie dat enige van ons op die einde so sal wees nie. Ek is besorg oor jou geestelike welstand en wil jou aanspoor om tot die einde te volhard. “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matt. 24:13). “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14).
As jy opgee, was jy in die eerste plek nie gered nie (1Joh. 2:19). Jy het vir ‘n rukkie jou sonde gelos, maar het soos ‘n vark na die modder van jou sonde teruggekeer, omdat jy nog altyd ‘n vark was en nie van binne af verander het nie.
Christus alleen kan jou verander. Bekeer jou van die sonde van baie kerkmense: hulle beskou Jesus as ‘n kruk om hulle te help om in die hemel te kom, en nie as hulle enigste hoop en ‘n absolute noodsaaklikheid nie. Hulle dink dat hulle darem met sy hulp goed genoeg kan lewe om gered te word. Hulle bely nie dat hulle verlamdes is wat niks vir hulleself kan doen nie.
Wat ek eintlik vir jou sê, is dat jy jou nie net van jou sonde moet bekeer nie, maar van die goeie werke waarop jy staatmaak om in die hemel te kom (Fil. 3:4-9). Glo in Christus alleen en in die verlossing wat Hy aan die kruis bewerk het.
Dit is hoofsaaklik waaroor Paulus besorg was toe hy Timoteus na die Tessalonisense toe gestuur het, en dit is ook waaroor ek besorg is: vertrou jy op Christus alleen? ‘n Bybelse herder is soos ‘n goeie dokter wat nie net jou geld soek nie, maar wat wil weet hoe dit met jou siel gaan.