Coram Deo Cover Image

Coming soon...

13 February 2021

’n Geesvervulde Bediening

Lukas 4:14-30

John Livingstone was ’n gewone prediker uit Kilsyth in Skotland. In 1630 is hy gevra om by ’n gesamentlike diens te preek waar hulle die nagmaal gevier het. Hy was benoud en het gevoel dat die taak vir hom te groot is. Deur die nag het hy in die veld gaan peins en bid. Die volgende oggend het hy vir ’n uur en ’n half uit Eseg. 36 gepreek. Toe hy by die toepassing kom, het die Gees van die Here skielik op die gemeente neergedaal. Mense was onder ’n geweldige sonde oortuiging. Party van hulle het uit vrees op die grond neergeval. Livingstone het vir nog ’n uur aangehou preek. As gevolg van daardie een preek, is 500 mense by die gemeentes gevoeg. Na hierdie ervaring het Livingstone nog een keer in sy lewe so iets beleef, maar daarna was hy weer net ’n gewone prediker.1 Duidelik was hierdie gebeurtenis ’n soewereine werk van die Heilige Gees wat mense red soos, waar en wanneer Hy wil (Joh. 3:8).

Dieselfde Gees het ook op Jesus gekom toe Hy gedoop is (Luk. 3:22)—in groter maat as op enige prediker in die geskiedenis (Joh. 1:32-33, 3:34, Hand. 10:38). Geen wonder Jesus het so ’n kragtige bediening gehad nie.

 

1. ’n Bediening van krag (v.14-22a)

J.I. Packer het Martyn Lloyd-Jones se prediking as volg beskryf: ‘[I] never heard such preaching. [It came to me] with the force of electric shock, bringing to at least one of his listeners more of a sense of God than any other man [I knew].’2

Maar as Lloyd-Jones se bediening so kragtig was, wonder ek hoe kragtig Jesus s’n was? Ons het reeds gesien dat Hy by sy doop en in die woestyn met die Gees gevul was (v.1, 3:21-22). Hy het ook ná sy versoeking in die woestyn vol van die Gees na Galilea toe teruggekeer (v.14). Deur dieselfde Gees het Hy kragtig gepreek en wonderwerke gedoen, sodat die nuus oor Hom soos ’n veldbrand versprei het (v.14, Matt. 4:23-25). Die mense was in verwondering oor wat Hy in die singoges gepreek het; hulle het aan sy lippe gehang (v.15, Matt. 7:28-29, Mark. 12:37, Joh. 7:46). Die boodskap wat Hy in sy tuisdorp Nasaret gebring het, het die geheim agter sy kragtige bediening verklap (v.16). Maar kom ek gee eers ’n bietjie agtergrond.

Op die Sabbat het Jesus volgens sy goeie gewoonte sinagoge toe gegaan (v.16, vgl. Heb. 10:25). Die Joodse sinagoge was nie dieselfde as die Jerusalem-tempel waar die priesters diere vir mense se sonde geoffer het nie. Dit was eerder ’n kleiner aanbiddingsplek wat die Jode in hulle dorpe gebou het. Die onderstaande skets wys hoe dit gelyk het.

Die tipiese diensorde in die sinagoge was as volg:

a. Die Shema, of seënbede uit Deut. 6:4-9, 11:13-21, Num. 15:37-41 is aan die gemeente voorgedra.

b. ’n Gebed is aan die Here opgedra. Dit was ’n voorgeskrewe gebed uit ’n bundel van 18 gebede. Aan die einde van die gebed, het die gemeente ’n hoorbare ‘amen’ gesê.

c. Die leier van die sinagoge sou iemand van sy keuse vra om ’n gedeelte uit die wet voor te lees en daarna ’n deel uit die profete (vgl. Hand. 13:15). Iemand het die voorlesing uit Hebreeus in Aramees vertaal.

d. Hierna het die leier iemand gevra om uit die wet, of die profete te preek.

e. Die diens is met ’n seënbede afgesluit, gevolg deur ’n ‘amen’ van die gemeente.3

 

In Luk. 4 het die leier van die sinagoge Jesus gevra om uit die profete voor te lees en te preek. Hulle was so trots soos die mense van ’n klein dorp wat opgewonde is as iemand uit hulle midde skielik beroemd raak.

Toe Jesus die Skrifte voorlees, het Hy uit respek daarvoor opgestaan (v.16, Neh. 9:3). Hy het die boekrol tot by Jes. 61:1-2a oopgerol en begin lees (v.17-19). Soos by sy doop was die Drie-Eenheid betrokke in sy bediening (v.18, 3:21-22). Die Heilige Gees het Hom in sy menslike natuur gesalf, sodat Hy met groot krag die Woord verkondig het en wonderwerke gedoen (v.18-19, Matt. 12:28, Hand. 10:38). Deur die Gees het Hy krag ontvang om die goeie nuus met sondaars te deel, naamlik dat God hulle sondes vergewe, dat Hy hulle van die hel red, en dat Hy hulle die ewige lewe gee (v.18). Sy boodskap was spesifiek vir die armes bedoel (v.18). Hy het aan hulle ’n boodskap verkondig waarin Hy hulle sy hemelse rykdom gebied het (Matt. 5:3, 2Kor. 8:9, Jak. 2:5, Op. 2:9).

Sy Vader het Hom ook uit die hemel gestuur (Joh. 6:38) om vrylating aan die gevangenes te verkondig (v.18). Bevryding kom nie deur ’n professionele berader wat demone uitdryf nie, maar deur die goeie nuus van Jesus Christus (Joh. 3:16, 8:32, 34, 36, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8). Dit maak nie saak hoe vas jy in die bande van sonde is nie: Jesus kan jou vrymaak (v.18, Ps. 107:10-16).

Jesus het ook gekom om sig aan die blindes te gee. Dit geld vir dié wat fisies blind is, maar hulle genesing was ook ’n illustrasie dat Jesus mense se geestelike oë oopmaak om die waarheid te sien (v.18, Joh. 9, Hand. 9, 2Kor. 4:4-6). As God en sy Woord dan nie vir jou sin maak nie, moet jy Hom vra om jou oë te open (Ps. 119:18). As jy sonder Hom sin van die lewe probeer maak, sal jy blind bly. Jy sal dink jy sien, terwyl jy eintlik nog blind is. Jy sal soos die ateïs wees wat vir sy pa gesê het: ‘Nou het die oogklappe van my oë afgekom.’ Of jy sal soos die liberale teoloog wees wat sy verwerping van Jesus se maagdelike geboorte en sy liggaamlike opstanding as ’n weergeboorte beskryf het. Of jy sal soos die Fariseërs wees van wie ons in Joh. 9:39-41 lees:

“En Jesus het gesê: ‘Ter wille van ’n beslissing het Ek na hierdie wêreld gekom, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, blind kan word.’ Van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: ‘Ons is tog nie ook blindes nie?’ Jesus het vir hulle gesê: ‘As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie, maar nou sê julle, “Ons sien.” Daarom bly julle in julle sonde.’” (2020-Vertaling).

Dan het Jesus ook gekom om die verdruktes te bevry; om stukkende en moedelose mense weer heel te maak (v.18, Ps. 34:19, 147:3, Jes. 42:3). Is jou hart stukkend weens jou sonde, die werk van die duiwel, ander mense se sonde, of jou omstandighede? Jesus kan jou herstel, selfs al is jy reeds vir meer as ’n dekade in ’n gat (Luk. 13:11-12, 16).

Jesus het laastens gekom om die genadejaar van die Here aan te kondig (v.19). Hierdie gedagte kom uit Deut. 25 waar die Israeliete se skuld elke 50 jaar afgeskryf is en hulle as’t ware op ’n nuwe bladsy begin het. Selfs slawe het in die 50ste jaar hulle vryheid verkry. Die idee in Luk. 4 is dus dat God ons skuld deur Jesus afskryf en dat Hy ons uit die duiwel se mag kom red (v.19, 1-13, Kol. 2:14-15).

Is jy bang dat die Here daarop uit is om jou te straf? Jy het ’n verkeerde beeld van God. Jesus het juis by Jes. 61:2a gestop en nie die res van die vers aangehaal nie, omdat dit sy wraak beskryf. Dit is nog nie die dag van wraak nie, maar nou is die tyd van verlossing (v.19, Joh. 3:17, 2Kor. 6:2). Glo jy dat Jesus in v.18-19 die waarheid praat? Aanvaar jy Hom as jou enigste hoop? Is jy moeg teen die sonde gestry? Wil jy die knie voor Jesus buig en Hom as jou Here? Dan is jou sonde vergewe en sal Hy jou as sy kind aanneem.

***

Toe Jesus klaar gelees het, het Hy die boekrol opgerol en dit aan die leier van die sinagoge teruggegee. Hy het nederig gaan sit en die mense begin leer (v.20). Almal se oë was op Hom vasgenael (v.20). Hulle was in afwagting. Niemand het gedagdroom, of geslaap nie. Dit is hoe dit onder ’n Geesvervulde bediening werk.

Jesus het voor almal gesê dat Hy die Messias is en dat Jes. 61 voor hulle oë vervul is (v.21). Dit is nogal ’n stelling om te maak. Het Jesus gelieg? Was Hy mal? Of het Hy die waarheid gepraat? Wat Hy gesê het, kon nie ’n leuen wees nie, omdat Jesus nooit gelieg het nie (1Pet. 2:22). Selfs Jesus se vyande het gesê dat Hy bo verdenking is—hulle kon nie ’n vinger na Hom wys nie (Matt. 22:16, Joh. 8:46).

Jesus was ook nie mal nie, selfs al het sommige so gesê (Joh. 10:20-21). Dit het hulle egter na sy lering oor die Goeie Herder gesê. Maar vir my klink Joh. 10 nie na die woorde van iemand wat mal is nie. Dan móét v.21 mos waar wees: Jesus ís die Messias van Jes. 61.

Het jy dit al ooit betwyfel? Indien wel, wil ek jou vra: kan jy selfs net één bewys gee dat Jesus nié die Messias en die Seun van God is nie?

***

Toe Jesus klaar gepreek het, het die mense hulle oor sy woorde vol genade verwonder en het hulle met die hoogste lof van Hom gepraat (v.22, 15). En tog was hulle gou weer skepties en het hulle gesê Hy kan nie die Messias wees nie (v.22b).

Ek onthou hoe ’n besoeker in 2014 in ekstase was oor ’n boodskap wat ek oor die hemel gepreek het. Hy het vir my ’n epos geskryf en gesê dat dit sy lewe verander het. ’n Paar maande later toe val hy my aan en toe sê hy dat ek ’n vals leraar is. Ek het ’n mooi boodskap vir hom teruggeskryf en gevra hoe dit met sy vrou en sy kind gaan. Hy het ’n leuen vertel en gesê dat hy al jare lank geskei is. Omtrent twee, of drie jaar later toe sien ek hom en sy vrou in die winkel.

Dit wys net hoe ’n preek iemand kan aanraak sonder dat hy, of sy verander. Om dan Bybelse prediking te geniet—selfs Geesvervulde prediking soos Jesus s’n—is nie genoeg nie. Jesu wil hê dat ons sy woorde moet toepas (Matt. 7:24-27). Ek is bly om te sê dat baie mense in ons gemeente gehoorsaam is wanneer hulle die preke hoor. Maar daar is ook dié wat God se Woord soos ’n stopstraat ignoreer. Ek dink byvoorbeeld aan mense wat nie saam met ander gelowiges bid nie, wat nie die eredienste bywoon nie, wat nie hulle Bybels lees nie, wat nie hulle sonde laat staan nie, en wat by die aanddienste kán wees, maar geen belangstelling het nie. As dit jý is, is jy op ’n gevaarlike plek.

 

2. ’n Bediening van aanstoot (v.22b-30)

Nie elke bediening wat aanstoot gee, is ’n Geesvervulde bediening nie. Ek dink byvoorbeeld aan Steven Anderson wat meer bekend is vir dit waarteen hy preek as vir dit waarvoor hy staan. Moet dus nie dink dat iemand geestelik is net omdat hy aanstoot gee nie.

              En tog sal elke Geesvervulde bediening aanstoot gee, omdat dit mense se sonde uitwys en hulle verkeerde idees oor God, sonde en verlossing deurmekaar krap. Mense wil byvoorbeeld nie hoor dat homoseksualiteit sonde is, dat die hel werklik is, of dat jy nie deur enige godsdiens in die hemel kan kom nie. Hulle wil nie hoor dat jy nie vir Jesus kan volg én saam met jou meisie bly nie. Hulle wil nie hoor dat Jesus nie gekom het om vir ons aardse rykdom te gee nie. Hulle wil nie hoor dat Jesus nie jou politieke party ondersteun nie, maar dat jy aan sý Koninkryk moet behoort nie.

              Die Jode wou ook nie ’n Messias gehad het wat soos hulle lyk nie. In hulle gedagtes was Jesus die seun van Josef (v.22, 3:23). Min het hulle geweet dat Hy uit ’n maagd gebore is (1:34-35). Baie mense neem nog steeds aanstoot. Die Jehova’s Getuies, Moslems en die Jode dink byvoorbeeld dat Jesus net ’n gewone mens is. Of dink aan liberale teoloë en ateïste wat nie glo dat Jesus uit ’n maagd gebore is, dat Hy wonderwerke gedoen het, of dat Hy uit die dood uit opgestaan het nie.

              Die rede hoekom Jesus en sy kruisdood vir hierdie mense afstootlik is, is omdat hulle nie kan sien dat hulle die straf verdien wat Jesus in die plek van sondaar skom dra het nie. Ek dink byvoorbeeld aan ’n ateïs wat vir my gesê het: ‘Ek benodig nie ’n offer vir my sonde nie.’

              Genadiglik dink niemand in ons gemeente so nie en dus neem ons nie op hierdie manier aanstoot nie. Maar neem ons nie ook maar aanstoot as ons kwaad word wanneer die Here ons deur ’n beproewing laat gaan, as Hy ’n geliefde wegneem, as Hy ons gebede nie verhoor soos óns wil nie, of as Hy nie gou genoeg antwoord nie? In ons aanstoot besluit ons om nie meer ons Bybels te lees nie, om op te hou kerk toe gaan, of om op te hou bid. Ons tree op asof Jesus maar net die seun van Josef is en nie die Seun van God nie. Ons sê indirek: ‘Ek kan nie glo dat U die Messias is nie. As U was, dan sou U die wonders wat U in Kapernaum gedoen het in Nasaret en in my lewe kom doen het (v.23). Ons hóór en lees maar net van U wonderwerke, maar waar is dit? Red U reputasie as die Messias is, net soos wat U mense van ’n siekbed kom red het (v.23).’

              Maar om so te praat, is om namens die duiwel te praat. Satan het immers in v.3 en 9 vir Jesus uitgedaag om te bewys dat Hy die Seun van God is. As jy soos hy praat, is jy soos die Jode en ateïste wat nie wil glo tensy hulle wonderwerke sien nie (1Kor. 1:22). Op hierdie manier kyk jy dan verby God se liefde en goedheid in jou lewe: die kos wat Hy voorsien, die son wat Hy oor jou laat skyn, die sondes wat Hy jou vergewe, die mense wat Hy stuur om aan jou goed te doen. En omdat jy dit mis, gaan jy nie na Hom toe vir hulp nie, maar probeer jy om jou eie oplossings te vind. Soos altyd eindig dit in ’n gemors en moet jy buitendien vir die Here vra om jou te help. Maar hoekom doen jy dit dan nie net aan die begin nie?

              Die Jode wou dit nie aanvaar nie. Net soos hulle die Ou Testamentiese profete en hulle wonderwerke verwerp het, het hulle die goeie nuus van God se bevryding en sy genade in Christus verwerp (v.24-27, 18-19, Joh. 1:11, 7:5, Jer. 1:1, 11:21, 12:6). Derhalwe het God Hom tot die heidene gewend—in die tyd van Elia en Elisa en ook toe Jesus op die einde aarde toe gekom het (v.25-27, 1Kon. 17, 2Kon. 5, Hand. 13:45-48, 18:5-6, 28:28). Hieroor was die mense van Nasaret woedend (v.28, Hand. 21:21-23). Hulle kon nie glo dat God sy rug op die Jode sou draai en dat Hy die heidene vir Homself sou kies nie. Maar Hy sou en Hy hét ook (Deut. 32:21, Matt. 21:43).

              In hulle woede het die Jode teen Jesus opgestaan en Hom uit die dorp uit gedryf om Hom teen die rand af te gooi (v.29, vgl. 9-12). Deur ’n wonderwerk—nie die soort wonderwerk wat hulle verwag het nie—het Jesus rustig tussen hulle deurgeloop, sodat hulle nie in hulle doel geslaag het nie (v.30). Hulle kon nie vir Jesus doodmaak nie, omdat die bepaalde tyd nog nie gekom het nie (Joh. 7:30, 8:20). Maar toe die tyd reg was, hét hulle teen Hom opgestaan, Hom weer ’n keer buite die stad gedryf, en Hom doodgemaak (Mark. 15:20, Heb. 13:12). Daardeur het hulle eintlik gesê: ‘Ons verwerp vir Jesus! Hy is nié ons Messias nie!’

              En sê ons nie dieselfde as ons teen Hom sondig nie? Verwerp ons Hom nie ook maar as ons Messias nie? ‘O, Here! Vergewe ons dat ons nie oor v.18-19 jubel nie, maar dat ons opstanding raak as U nie dinge volgens óns kalender en selfsugtige begeertes doen nie!’ Moet die Here nie verwerp nie! Jy weet nie hoe gou Hy sal terugkeer en óf Hy dalk nooit weer sal terugkeer nie (v.30). Waardeer Hom en moenie dink dat jy enigiets meer as die hel verdien nie. Soek die Here terwyl Hy naby is en bereid is om jou met ope arms te ontvang (Jes. 55:6-7, Matt. 11:28-30). Dan sal Hy sal soos my senior leraar (dr. Jan Vink) in Nelspruit wees toe ek een aand anderkant Badplaas ’n pap wiel gekry het. Eintlik het my sussie ’n pap wiel gehad. Toe ek uit die kar geklim het om my sussie te help, toe sluit ek per ongeluk my kar met die sleutel nog in die aansitter [Eng. ignition]. Die spaarsleutel was in die kerk se kluis in Nelspruit. Dit was byna middernag toe dr. Vink en oom Dennis Williams 130 km gery het om ons te kom help. Toe hulle klaar die wiel geruil het, het ons weer 130 km tot in Nelspruit gery. Ons het eers na 02:00 in die bed gekom. Toe dr. Vink die volgende oggend 08:00 by die kantoor instap, toe groet hy my asof hy ’n goeie nag se rus gehad het en asof niks fout is nie. Toe ek om verskoning vra vir die vorige aand, toe sê hy: ‘Dit is glad nie ’n probleem nie, Ivor.’

              Dit is presies hoe Jesus jou sal hanteer as jy met ’n berouvolle hart na Hom toe terugkeer: Hy sal jou volkome vergewe en herstel en jou nie aan ’n enkele sonde herinner nie (Luk. 15).


1  Martyn Lloyd-Jones, Revival (Wheaton, Illinois: Crossway, 1987), 115-6

2  Aangehaal in John Piper, https://www.desiringgod.org/messages/a-passion-for-christ-exalting-power

3  James Orr (ed.), International Standard Bible Encyclopedia (1939), inskrywing onder ‘synagogue’. Verkry by https://www.internationalstandardbible.com/S/synagogue.html

Kategorieë