Volgens John MacArthur is die kerk se grootste probleem dat ons nie die waarheid en vals lering van mekaar onderskei nie. Soos CUM sal ons ‘n boek van Spurgeon op ons rakke hê, maar ook William P. Young se boek, The Shack.
Natuurlik moet ons nie sg. ‘heresy hunters’ wees wat ‘n duiwel agter elke bos soek nie. Maar ons kan ook nie beleefd glimlag en wolwe tussen die skape verwelkom nie. Soms moet ons die wolwe se name aan die groot klok hang, veral as die giftige bossies van hulle dwaling die skape siek maak (2Tim. 2:17-18). Ons kan nie hulle leuens onder die mat invee, omdat ons nie op mense se tone wil trap nie.
Mense het al gesê ek is liefdeloos, omdat ek die ketters se name noem. Maar eintlik is dit liefdeloos as jy weet dat iemand ‘n wolf is en jy nie die skape waarsku nie. Onthou dat ons nie hier van mense praat wat oor die fyner besonderhede van die eindtyd verskil nie. Dit gaan oor mense wat die evangelie in gedrang bring en ‘n ander Jesus verkondig (2Kor. 11:4, Gal. 1:6-7). As jy hulle lering volg verloor jy nie net jou geld of jou vriende nie, maar jou siel (Gal. 1:8-9). Dit is hoekom Judas in v.1-4 en die res van sy brief so dringend is.
Judas se seënbede (v.1-2)
My oudste sussie het nog kontak met van die mense wat saam met ons op skool was. Nou en dan sê sy vir my wie oorlede is, wie met wie getroud het, en waar een of die ander persoon werk. ‘n Paar jaar gelede toe sê sy dat twee seuns wat die jaar na my in matriek was tot bekering gekom het. Jy kon my met ‘n veer omslaan, omdat hulle van die slegste kinders in die skool was. Ek was bly toe ek van hulle bekering hoor.
Judas (nie Judas Iskariot of die ander apostel van wie ons in Luk. 6:16 en Joh. 14:22 lees nie) was in ‘n sekere sin soos hulle. Hy was die broer van Jakobus en die halfbroer[1] van Jesus (v.1a, Matt. 13:55, Gal. 1:19, Jak. 1:1). Maar ten spyte daarvan dat hy saam met Jesus groot geword het, het hy nie in Hom geglo nie (Mark. 3:21, 31, Joh. 7:5). Hy het eers ná Jesus se opstanding tot bekering gekom (Hand. 1:14), en was nou ‘n slaaf of dienskneg van Jesus Christus, die Verlosser en Gesalfde Seun van God (v.1a).
Het jy familielede, vriende en kollegas wat van Jesus weet, maar nie in Hom glo nie? Het jy al vir hulle die waarheid verduidelik, maar hulle kan en wil dit nie insien nie? Is hulle dalk soos die rotte van Hamelin: net soos hulle die toweragtige fluitspeler gevolg het, loop hierdie mense agter ‘n vals leraar aan? Is daar hoop vir hulle? Onthou Jesus se halfbroer Judas, en moenie ophou bid nie.
Judas het sy brief gerig aan dié wat geroep is (v.1b). Toe hulle geestelik dood was het God hulle geroep om nie meer aan die wêreld te behoort nie, maar aan Hom (Rom. 1:6-7, 2Tim. 1:9). Deur die Heilige Gees het Hy sy lewe - die ewige lewe - in hulle harte ingeblaas.
Hoekom het Hy hulle geroep? Want Hy het hulle liefgehad; Hy wou hulle afsonder om sy kinders te wees (v.1b, 3, 17, 20). Wanneer het Hy hulle liefgehad? Nog voordat Hy die wêreld gemaak het (Jer. 31:3, Joh. 17:23-24, Ef. 1:4-5, 1Tess. 1:4). Hoe het Hy sy liefde aan hulle bewys? Hy het hulle nie gestraf nie, maar sy Seun gegee om in hulle plek te sterf (Joh. 3:16, Rom. 5:8, 1Joh. 4:10). Deur die Gees wat in hulle woon, weet hulle dat die Vader en die Seun hulle liefhet (Joh. 14:23, Rom. 5:5, Ef. 3:16-19, 1Joh. 3:1).
Hoe weet hulle dat Hy hulle altyd sal liefhê? Hy bewaar hulle (v.1b). In 2017 was hulle Christene, en in 2018 is hulle nog steeds die Here s’n. Hulle het nie hulle redding verloor nie, en kan ook nie (Joh. 10:28-29). Niks kan hulle van God se liefde skei nie (Rom. 8:38-39); Hy sal hulle tot die einde toe bewaar (v.1b, 24, Joh. 17:11, Fil. 1:6, 1Pet. 1:5).
Die vraag wat jy dan vir jouself moet vra is nie of jy ‘n dag en ‘n datum het, of jy gedoop is, of jy in ‘n Christelike huis groot geword het, of jy een of ander geestelike ervaring gehad het, of daar ‘n warm gevoel in jou bors is, of jy jare gelede ‘n ouderling of diaken was, of jy ‘n teologiese diploma of sertifikaat het, en of jy ‘n lidmaat van die kerk is nie.
Die vraag is of jy die Here se roepstem gehoor het. Het jy in Jesus geglo en jou van jou sonde bekeer? Het jy besef dat jy verlore is, dat jy God se straf verdien, dat jy niks kan doen om jouself te red nie? Het die Here jou oë oopgemaak om te sien dat Jesus die ware God is wat mens geword het, dat Hy namens jou die wet perfek gehoorsaam het, dat Hy in sy kruisdood die straf gedra het wat jy verdien, dat Hy begrawe is, en dat Hy na drie dae opgestaan het uit die dood?
Het jy ‘n Stem agter die prediker se stem gehoor, en gevoel dat jy nie vir Hom kan ‘nee’ sê nie? Het jy besef dat dit die Stem is wat die skepping tot stand gebring het? Onthou jy nog hoe hierdie onhoorbare Stem geklink het? Dit was soet; jy wóú Hom volg. Dit was so onsigbaar soos die lente wat die perske bloeisels oopmaak; jy kon dit nie weerstaan nie, en wou ook nie.
Jy het ‘n liefde ervaar wat jy nie voorheen geken het nie. Soos ‘n sterk seestroom het dit jou na Hom toe getrek. Jy het geweet dat jy vir altyd syne is en Hy joune. Jy het veilig gevoel en sonder twyfel geweet Hy sal jou nie los nie. Sal Hy jou voor die skepping liefhê, sy lewe gee om jou te red, die Gees stuur om jou te wederbaar, en jou daarna soos olie deur sy vingers laat glip?
Wat Judas in v.2 vir sy lesers bid kom van die Here af, en geld ook vir jou: “Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!” God is soos ‘n fontein wat nie opraak nie. Hy geniet dit om te gee, en wíl graag hierdie dinge in jou lewe vermenigvuldig.
- Barmhartigheid beteken dat Hy ons nie straf volgens wat ons verdien nie (Ps. 103:10). Ook die res van jou lewe hier op aarde (selfs die beproewings) en daarna in die hemel, is barmhartigheid.
- Vrede beteken dat daar nie meer vyandskap tussen ons en God is nie. Omdat God jou sonde vergewe het, kan jou gewete rus en hoef jy nie die hele dag met ‘n swaard oor jou kop rond te loop nie.
- Liefde beteken dat God se goedheid soos die oggendson oor ons skyn, en sy guns soos sagte reën op ons val. Soos Paulus, bid Judas dat jy al hoe meer daarvan bewus sal wees, sodat jy later in die vloed van sy liefde sal swem (v.2, Ef. 3:17-19).
Judas se skrywe (v.3-4)
Voddie Baucham is ‘n Amerikaanse prediker wat in Zambië woon. In Sept. 2017 het hy by die Rezolution en Sola 5 konferensies in Johannesburg gepreek. Sy preke het my beïndruk, maar die laaste een het my veral diep getref. Op ‘n stadium het hy met dié gepraat wat tot die bediening geroep is, maar traag is om te reageer. Hier is wat hy gesê het:
‘[If] you are saying that God is calling you, what are you waiting for? Men are fighting and dying while you twiddle your thumbs to figure out whether or not you are ready to take up a weapon and man a post. Enough already! Are you in or are you not, because the stakes are to high to wait for you? “I solemnly charge you in the presence of God and of Christ Jesus, who is to judge the living and the dead, and by His appearing and His kingdom” (2Tim. 4:1). He’s coming! Don’t let Him find you navel-gazing to figure out whether or not you’re gonna respond to his call!’[2]
Wat Baucham oor die evangelie bediening gesê het, geld vir elke gelowige se stryd teen vals lering. Die prys is te hoog om onkundig te wees. In ‘n era waar daar so baie vals lering is, kan jy dit nie bekostig om ‘n vlak kennis van die Bybel te hê nie. Jy kan nie meer rustig voor TBN sit en alles wat hulle sê vir soetkoek opeet nie. Jy kan nie elke boek wat jy in CUM koop lees, net omdat Jesus se Naam daarin verskyn nie. Ken jou wapen; gebruik dit om jouself, jou familie en medegelowiges teen die wolwe te beskerm.
Dit is hoekom Judas sy brief geskryf het. Hy wou eers ‘n brief oor ons gemeenskaplike verlossing skryf, maar a.g.v. vals leraars wat in die kerk ingesluip het, moes hy die brief skryf wat ons vandag in ons Bybels het (v.3-4). Ek staan verwonderd dat die Here selfs die infiltrasie van vals leraars kan gebruik om vir ons goeie dinge soos hierdie brief te gee!
Judas het die gelowiges vermaan om vir die Christelike geloof te stry, om die Skrif wat eens en vir altyd deur Jesus, die apostels en die profete aan ons oorgelewer is, te verdedig (v.3, Hand. 2:42, Fil. 1:27, 1Tim. 6:12, 14, 20, 2Tim. 1:13-14, 3:16-17, 2Pet. 1:20-21). Doen alles wat jy kan om jou Bybel beter te ken, sodat jy nie vir vals lering val nie (Ef. 4:14).
Wees op Woensdae en Sondae saam met die gelowiges om die Bybel te bestudeer. Lees, bestudeer en memoriseer dit op jou eie. Lees boeke van Paul Tripp, John Piper, John MacArthur, Martyn Lloyd-Jones, R.C. Sproul en ander goeie outeurs. Laai ook hulle preke van die internet af.
Moenie na mense luister wat die waarheid herdefinieer en nuwe dinge sê nie. Glo die boodskap wat Christene deur die eeue verkondig het, “wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (v.3). “Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” (Jer. 6:16).
As jy die ou waarhede verlaat sal die vals leraars jou vang. Hulle is so slinks en skelm soos Jakkals in die Jakkals en Wolf stories. Volgens Judas het hulle onopgemerk in die kerk ingesluip (v.4, Gal. 2:4). Dit is wat hulle so gevaarlik gemaak. Hulle het nie rooi oë en skerp tande nie; hulle lyk soos ons (Hand. 20:29-30). Hulle is in selgroepe, kansels, populêre Christelike DVD’s, boeke, tydskrifte, TV kanale en radiostasies. Hulle is gaaf en vriendelik. Hulle gebruik woorde soos Jesus, God, Heilige Gees, Bybel, genade, Christene en kerk. Hulle haal die Bybel aan (Matt. 4:6). Hulle verdraai ‘n woord of twee om so die gif van hulle vals lering met die soet tee van God se Woord te meng.
Wees daarom op jou hoede. Is dit wat hulle sê in die teks? Maak jou Bybel oop en lees die konteks. Moet dit nie net aanvaar as hulle sê dat die Grieks of Hebreeus so-en-so sê, of dat ‘n sekere vers iets leer nie. Is dit regtig so? Daar is meer as genoeg bronne op die internet om vir jou te wys wat die oorspronklike tale sê.
Vra ook vir jouself of Christene dit deur die eeue so verstaan het, en of dit ‘n nuwe leerstelling is? Het die kerk al in die verlede hiermee te doen gekry, en dit tóé reeds as dwaling bestempel? Ons het laas week gesien dat die Hebrew Roots Movement Judaïsme herhaal, en dat Paulus dit in sy Galasiër-brief aangespreek het.
Die Jehova’s Getuies se vals lering is reeds in 325 n.C. as dwaling bestempel (Arianisme). Liberale teoloë sê dat Jesus meer liefdevol is as die God van die Ou Testament, en dat Hy nie dieselfde God is nie. Hulle sê ook dat Hy nie liggaamlik opgestaan het nie. Joh. 1 en 1Kor. 15 blaas egter hulle dwaling op, en wys dat dit niks ander as Gnostisisme is nie - dit het al in die vroeë kerk bestaan.
Kerke wat nuwe profesieë en brabbel-tale beoefen, herhaal Montanisme wat in die 2de eeu n.C. verdoem is. Mense wat sê dat ons nie met ‘n sondige natuur gebore is nie, maar deur ons vrye wil beter kan word om in die hemel te kom, is in 431 n.C. as ketters afgeskiet (Pelagianisme).[3]
God sal hierdie dwaalleraars saam met die ketters van Judas se tyd straf. Hy het hulle straf al in die Ou Testament opgeskryf (v.4). ‘Their doom was “pre-written” in Scripture as a warning to all who would come later.’[4] Ou Testament karakters soos Henog het hulle oordeel voorspel (v.14-15), terwyl Jesus en die apostels dit bevestig het (v.17-18, Matt. 7:15-20, 2Pet. 2:3, 17).
Hoekom het die Here besluit om hulle te oordeel? Hulle leef goddeloos (v.4). Hulle misbruik God se genade as ‘n dekmantel of lisensie om sonde te doen (v.4, Gal. 5:13, 1Pet. 2:16). ‘Sy genade ken geen perke nie,’ is wat hulle sal sê. ‘Jy hoef nie skuldig te voel oor jou sonde nie. Hou op om so wetties te wees! Dit is nie sonde as jy een keer dronk word, of films met seks tonele in kyk nie. Die Here het alles gemaak om te geniet. Hy is genadig, wat beteken dat jy altyd weer na Hom toe kan gaan om vergewe te word. Om die waarheid te sê hoef jy nie eers jou sonde te bely nie; Jesus het dit mos reeds deur sy kruisdood vergewe.’
Hulle redeneer soos Paulus se opponente in Rom. 6:1: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?” Maar God het sy genade in Christus gegee om ons van sonde te bevry, en nie sodat ons daarin kan lewe nie. Iemand wat vry is om sonde te doen, is nie werklik vry nie maar ‘n slaaf (Rom. 6:2). Hy is soos ‘n walvis in die see wat dink sy vryheid beteken hy kan op die strand swem.
Volgens v.4 het die vals leraars ook ons Here en Meester, Jesus Christus verloën. Hulle het dit eerstens met hulle lippe gedoen, en ‘n verkeerde lering oor Hom verkondig. Judas sê nie vir ons wát hulle gepreek het nie, maar ons weet dat alle ketters ‘n ander Jesus verkondig. Ek kan talle voorbeelde noem, maar wil my toepassings tot die Word of Faith Movement, of die sg. Prosperity gospel beperk.
Benny Hinn en Kenneth Copeland sê bv. dat Jesus Satan se natuur op Homself geneem toe Hy aan die kruis gehang het. Op 1 Des. 1990 het Hinn die volgende uitlating op TBN gemaak: ‘He who is the nature of God [Jesus] became the nature of Satan when he became sin!’[5] Op 21 Apr. van die volgende jaar het Kenneth Copeland gesê: ‘How did Jesus then on the cross say, “My God”? Because God was not His Father any more. He took upon Himself the nature of Satan.’[6]
‘n Paar jaar voor dit, in Feb. 1987, het Jesus blykbaar die volgende woorde vir Copeland gesê: ‘Don’t be disturbed when people accuse you of thinking you are God... They crucified me for claiming I was God. I didn’t claim that I was God; I just claimed that I walked with Him and that He was in Me. Hallelujah! That’s what you’re doing.’[7]
Oor Jesus se kruisdood het Joyce Meyer in die 1996 weergawe van haar boek, The Most Important Decision You Will Ever Make, die volgende gesê: ‘[Jesus] entered hell and defeated Satan... Jesus paid for our sins on the cross and went to hell in our place... His spirit went to hell because that is where we deserved to go... Jesus went to hell for you.’[8] In die 1991 weergawe van dieselfde boek sê sy dat Jesus weergebore is, en dat jy nie hemel toe kan gaan tensy jy glo dat Hy namens jou in die hel gely het nie.[9]
In ‘n ander preek sê sy: ‘The devil thought he had him. The devil thought he’d won. Oh, they were having the biggest party that had ever been had. They had my Jesus in the floor and they were standing on his back jumping up and down laughing. And he had become sin. Don’t you think that God was pacing, wanting to put a stop to what was going on?
‘All the host of hell were upon him. Upon him. Up on him. The angels were in agony. All the creation is groaning. All the host of hell was upon him. Up on him. They got on him. They got him down in the floor and got on him; and they were laughing and mocking. Ha ha ha ha ha. You trusted God and look where you ended up. You thought he’d save you and get you off that cross. He didn’t, ha ha ha.’[10]
Maar die vals leraars verloën nie net vir Jesus met hulle lering nie; hulle verloën hom ook met hulle lewens (v.4, Tit. 1:16). Hulle tree op asof Hy nie die Here en Meester van hulle lewens is nie (v.4). Hulle leef in sonde en gee hulleself oor aan hulle luste (v.4). Ek sal in die volgende preek oor hulle immorele en losbandige lewens praat.
Vir nou is dit genoeg om te weet dat jy hulle nie moet verdedig nie. Dit is ook nie genoeg om maar tevrede te wees dat jy hulle verkeerde leringe ken nie. Volgens Judas moet jy die waarheid teen hulle verdedig, en ander gelowiges help om nie vir hulle leuens te val nie (v.3, 23). Mense sal jou aanvanklik nie glo nie en dalk selfs vir jou kwaad wees. Maar as jy die waarheid en ander gelowiges liefhet sal jy dit doen.
John MacArthur se boek, Strange Fire sal help. Hank Hanegraaff se Christianity in Crisis is behulpsaam en lees maklik. A Call for Discernment van Justin Peters is goed vir iemand wat nie graag lees nie.
Wees soos Spurgeon wat die positiewe waarheid verkondig het, maar nie geskroom het valsheid uit te wys nie. Op die einde het sy stand vir die waarheid beteken dat hy uit die Baptist Union geskors is. Maar hy sou eerder geskors word as om vals lering te omhels. In ‘n preek op 16 Okt. 1887 het hy gesê: ‘I thank God, what I believe I shall believe, even if I believe it alone.’[11] Ek hoop jy kan dieselfde sê.
[1] Hulle het dieselfde ma gehad, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Judas se aardse pa, terwyl Jesus uit ‘n maagd gebore is en nie ‘n aardse pa gehad het nie.
[2] http://rezolution.co.za/sermons/preserve-proclaim-and-endure-part-3/ 20:23 - 22:50 minutes
[3] Sien N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997 vir ‘n volledige beskrywing van die bg. dwalinge in die geskiedenis.
[4] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, Thomas Nelson, Inc. 1997, note on Jude 4
[5] https://www.tms.edu/preachersandpreaching/did-jesus-become-sinner-cross/
[6] Ibid.
[7] John MacArthur, Strange Fire, Nelson Books, 2013, p. 48
[8] Joyce Meyer, The Most Important Decision You Will Ever Make, Harrison House, Tulsa Oklahoma, 1996, pp. 39-41
[9] http://www.equip.org/article/the-teachings-of-joyce-meyer/
[10] https://www.youtube.com/watch?v=sL08t3kUEjw
[11] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1966, p. 138