Lewendige beeldmateriaal op YouTube wys hoe John F. Kennedy se lyfwagte aangesê is om van die Amerikaanse president se motor af weg te tree. Kort daarna het Lee Harvey Oswald vir Kennedy doodgeskiet.
Sal ‘n Christen ooit sonder ‘n lyfwag wees? Die gebeure in Handelinge 21:23-23:35 roep ‘n definitiewe ‘nee’.
Beskerm deur die wet (22:23-29)
Een van my vriende het in die grensoorlog geveg. Hy vertel hoe hulle SWAPO (South West African People’s Orginization) terroriste gevang en ondervra het. As die terroriste nie die inligting wou gee nie, is hulle kop-eerste begrawe. As hulle opgehou skop het, is hulle oopgegrawe en wéér ondervra. Nóg ‘n manier hoe hulle inligting gekry het, was om die terroriste tussen twee perde vas te maak en die perde te laat hardloop. Ja, dis wreed. Maar in Paulus se tyd was dit erger.
Die kommandant wou uitvind hoekom die skare so teen Paulus gekant was. Om die inligting te kry het hy beveel dat Paulus gegesel moes word. Paulus het al voorheen dié straf gekry (2 Korintiërs 11:23-25): slae oor sy bene en rug met ‘n kort sweep wat stukke yster of been aan die punte gehad het. Hy wou dit vermy en het van sy Romeinse regte gebruik gemaak: “Is dit u geoorloof om ‘n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel?” (22:25). Volgens wet kon ‘n Romeinse burger nie geboei word, voordat hy nie regverdig verhoor is nie. En selfs dán kon hy nie op só ‘n skandelike wyse gestraf word nie. Toe die kaptein gehoor dat Paulus ‘n Romeinse burger was, het hy dadelik vir die kommandant gaan sê. Die kommandant was bang; hy kon in groot moeilikheid beland het. Hy moes seker maak en het vir Paulus gevra: “Sê vir my of jy ‘n Romein is? En hy antwoord: Ja. Toe sê die owerste oor duisend: Ek het hierdie burgerreg vir ‘n groot som verkry (deur omkopery)! En Paulus sê vir hom: Maar ek het dit deur geboorte.” (22:27-28).
Kan ons God se beskerming verwag as ons martelaarskap soek, sodat ons beroemd kan wees? Wil jy bejammer of geprys word as ‘n martelaar? Ek praat nie net van fisiese marteling nie. Party mis etes, slaap min, raak siek, brand uit, of sterf omdat hulle hard werk vir Jesus. Maar eintlik doen party dit omdat hulle lof soek. In Matteus 10 wys Jesus vir ons die balans. Ja, as jy die Here dien sal jou lewe soms in gevaar wees (v.16). Tog sê Jesus in dieselfde konteks: “En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe.” (v.23). Geld dié beginsel nie in al ons diens vir Jesus nie? Moet jy siek raak, min slaap, of uitbrand as jy dit kan help? God het ons geroep om so lank as moontlik te lewe. Om martelaarskap te soek is selfmoord en ‘n oortreding van die sesde gebod. Die kannibale op Tanna eiland wou vir John Paton doodmaak. Hy en Mnr. en mev. Mathieson het bootjies gereed gekry om te vlug. Toe besluit Mnr. Mathieson om te bly. Hy het hom in sy studeerkamer toegesluit en gesê dat hy op die eiland wou sterf. Paton skryf:
‘We tried to show him the inconsistency of praying to God to protect us or grant us means of escape, and then refusing to accept a rescue sent to us in our last extremity. We argued that it was surely better to live and work for Jesus than to die a self-made martyr, who, in God’s sight, was guilty of self-murder. His wife wept aloud and pled with him, but all in vain! He refused to leave or to unlock his door. I then said, ‘It is now getting dark. Your wife must go with the vessel, but I will not leave you alone. I shall send a note explaining why I am forced to remain; and as it is certain that we shall be murdered whenever the vessel leaves, I tell you that God will charge you with the guilt of our murder.’[1]
Genadiglik het Mnr. Mathieson tot sy sinne gekom en kon hulle die eiland veilig verlaat.
God sal ons beskerm, maar Hy red ons dikwels deurdat ons – soos Paulus (22:25) – ons gesonde verstand gebruik.
Beskerm deur die kommandant (22:30-23:10)
In die laat 1800’s het liberale teologie in Engeland se Baptiste Unie ingesluip. Predikante het die liggaamlike opstanding van Jesus, sy maagdelike geboorte, die sondeval, die inspirasie van die Skrif, en ander sentrale leerstellings in twyfel getrek. Charles Spurgeon het dit teëgestaan. In ‘n preek op 16 Oktober 1887 het hy gesê: ‘Truth is usually in the minority in this evil world… what I believe I shall believe, even if I believe it alone.’[2] Op 28 Oktober 1887 het hy die Unie bedank. By die Unie se vergadering in April 1888, het hulle Spurgeon uitgestem: 2000 teen 7! Sy eie broer is mislei en het teen hom gestem. Spurgeon het vir ‘n vriend geskryf: ‘Pray for me, that my faith fail not.’[3] Vyf jaar later, op 26 Oktober 1891 het Spurgeon sy vriende by Herne Hill stasie gegroet met dié woorde: ‘The fight is killing me.’[4] Dit was die laaste keer wat hy hulle gesien het. Hy het siek geword, en op 31 Januarie 1892 die hemelse kus bereik.
Soos Spurgeon het Paulus in Handelinge 23 alleen gestaan. Tog was hulle nie heeltemal alleen nie. Die Here het by hulle gestaan.
Die kommandant kon nogsteeds nie agterkom hoekom die Jode vir Paulus wou doodmaak nie. Wat sou hy doen om uit te vind? Hy het die Joodse Raad bymekaar geroep. Paulus het homself verdedig en dadelik aangedui dat hy onskuldig was: “Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.” (23:1). Die hoëpriester, Ananias, was bekend vir sy kort humeur. Hy het beveel dat hulle Paulus op die mond moes klap (cf. Johannes 18:22). Paulus het kwaad geword: “God sal u slaan, gewitte muur! U sit tog om my volgens die wet te oordeel, en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word?” (23:3). Die implikasie van sy woorde was duidelik: ‘Van buite af lyk jy mooi soos ‘n wit muur, maar binne jou is die stene van modder gemaak. Jy is skynheilig. Jy maak of ék die wet oortree, maar eintlik is dit jý wat die wet oortree en straf uitdeel sonder dat ek skuldig bevind is. Het jy vergeet dat die wet sê: “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie... Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.” (Levitikus 19:15)? Het jy Spreuke 17:26 mis gelees: “Is dit alreeds nie goed om die regverdige te beboet nie—om edeles te slaan is onbetaamlik.”?’
Hoe het die Raad gereageer toe hy dít sê? “Skel jy die hoëpriester van God uit? Daarop sê Paulus: Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van ‘n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.” (23:4-5). Hoe het Paulus dan nie geweet Ananias is die hoëpriester nie? Miskien het sy swak sig hom verhinder om dit te weet (Galasiërs 4:13-15, 6:11). Of dalk het die hoëpriester nie sy ‘uniform’ aangehad nie, omdat die kommandánt die vergadering byeengeroep en gelei het (22:30). Wat die rede ookal was, Paulus het Eksodus 22:28 geken en bely dat hy verkeerd was.
Paulus het besef dat hy geen geregtigheid in dié vergadering sou kry nie. Hy het uitgeroep: “Broeders, ek is ‘n Fariseër, die seun van ‘n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.” (23:6). Die Sadduseërs was teologies liberaal. Hulle het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament aanvaar. Volgens hulle was daar niks van die opstanding of lewe na die dood in Genesis tot Deuteronomium nie. Jesus het hulle reeds in Lukas 20:27-40 verkeerd bewys. Die Fariseërs was teologies konserwatief. Hulle het in die opstanding, asook in lewe na die dood geglo. Hulle het die hele Ou Testament geglo, maar ook die oorlewerings van hulle voorvaders as gesaghebbend aanvaar. Toe hulle besef dat Paulus, soos hulle, in die opstanding glo, het hulle hom verdedig: “Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as ‘n gees met hom gespreek het, of ‘n engel, laat ons nie teen God stry nie.” (23:9). Paulus het in die vorige hoofstuk vertel hoe hy die opgestane Jesus gesien het, maar hulle het gedink dat dit dalk ‘n engel was (Johannes 12:29). Toe die vergadering warm raak, het die kommandant gesien dat Paulus verskeur gaan word. Sy soldate het gekom en vir Paulus gered. Hulle het hom na die Fort toe geneem en daar bewaar.
Moes jy al ooit alleen stand inneem by die werksplek, skool, of in jou familie? Het dit al gebeur dat jy die enigste een was wat teen aborsie, homoseksualiteit en seks buite die huwelik moes staan; wat Bybelse tugtiging verdedig het; wat Genesis 1 as geskiedenis, en Jesus as die enigste Weg na die Vader toe aanvaar het? Jesus sal jou help, vertroos en verdedig. Paulus se woorde geld ook vir jóú: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos. En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Timoteus 4:16-18).
‘n Rein gewete sal help wanneer almal teen jou staan. Is daar iets waaroor jou gewete jou pla? Net deur Jesus se kruisdood kan jy ‘n rein gewete hê. Jy moet jou bekeer, jou sonde bely, en op Jesus vertrou. Jy moet glo dat Hy God is, mens geword het, en die straf gedra het wat óns verdien. Jy moet bely dat Hy die Here is, en Hom gehoorsaam. Hoor wat die Bybel oor ‘n rein gewete sê:
- “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” (24:16).
- “want ek is my van geen ding bewus [teen my] nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.” (1 Korintiërs 4:4).
- “Want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God, nie in vleeslike wysheid nie, maar in die genade van God in die wêreld verkeer het, en veral by julle.” (2 Korintiërs 1:12).
- “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.” (2 Korintiërs 5:11).
- “Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ‘n rein gewete dien” (2 Timoteus 1:3).
- “laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:22).
Wat sal gebeur as jy aanhoudend jou gewete ignoreer? Jy sal jy dit skroei, sodat dit soos ‘n eelt geen gevoel meer het nie. Wanneer die Gees jou gewete waarsku en sê: ‘Daar is ‘n afgrond voor!’, sal jy dit nie hoor nie. Iemand wat sy gewete skroei het sy waarskuwings- en beskermingsisteem beskadig.
Beskerm deur sy susterskind (23:11-22)
In Alfred Hitchcock se film, The man who knew too much, het Doris Day gesing:
When I was just a little girl
I asked my mother, what will I be
Will I be pretty, will I be rich
Here's what she said to me.
Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future's not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.
When I was young, I fell in love
I asked my sweetheart what lies ahead
Will we have rainbows, day after day
Here's what my sweetheart said.
Now I have children of my own
They ask their mother, what will I be
Will I be handsome, will I be rich
I tell them tenderly.
Stem die Bybel saam met hierdie woorde? God is die Een wat “alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11). Teoloë noem dit predestinasie. Die lied wat ek aangehaal het leer nie predestinasie nie, maar fatalisme. Wat is die verskil? Fatalisme sê dat toeval die oorsaak van alles is. Mense wat dít glo is geneig om passief te wees en depressief te raak: ‘Whatever will be, will be,’ en jy kan níks daaraan doen nie. Paulus het in predestinasie geglo: God bepaal nie net die einddoel nie, maar ook die middele. Ja, God het bepaal dat Paulus Rome toe sou gaan (23:11), maar dit het nie gemaak dat Paulus passief is nie. Inteendeel, dit het hom vertroos. Hy was bly dat sy wens om Rome toe te gaan, vervul kon word (Romeine 15:31-32). Hy was bly dat die evangelie deur hóm, die eindes van die aarde sou bereik (1:8). Toe die nuus kom dat die Jode hom wou doodmaak, het hy aksie geneem en gesorg dat hulle plan omver gegooi word (23:17).
Om in God se Naam te sweer dat jy sonde sal doen, is om sy Naam ydelik te gebruik. Dit is wat 40 Jode gedoen het. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink, totdat hulle vir Paulus doodgemaak het nie. Hulle het vir die Joodse Raad gesê: “Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie. Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom môre af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen. En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom.” (23:14-15). God het gesorg dat Paulus se susterskind dit uitgevind het. Hy het dadelik vir Paulus gaan sê. Paulus het hom na die kommandant toe gestuur. Die kommandant sou sorg dat Paulus veilig is.
As jy nie onderskeid maak tussen Bybelse predestinasie en heidense fatalisme nie, sal jy jou God-gegewe verantwoordelikheid ignoreer. ‘n Paar voorbeelde sal duidelik maak wat ek bedoel.
[1] Jy móét glo dat die dag van jou dood bepaal is (Job 14:5), maar jy moenie sê: ‘Ek hoef nie medisyne te gebruik as ek siek is nie; ek kan in elk geval nie voor my tyd sterf nie.’ ‘n Vrou in Nelspruit het kanker gekry en gesterf. Ek het vir die predikant gevra: ‘Hoekom laat die Here dit toe?’ Sy antwoord was Bybels en wys: ‘Wel Ivor, sy het vir 47 jaar gerook.’
[2] Jy móét glo dat die Here jou veilig in die hemel sal uitbring (Filippense 1:6), maar jy moenie sê: ‘Ek kan nie my redding verloor nie; daarom kan ek sondig soos ek wil’ nie. As jy onheilig is sal jy nie hemel toe gaan nie (Hebreërs 12:14).
[3] Jy móét glo dat God jou teen versoeking sal beskerm (Matteus 6:13), maar jy moenie daarmee speel en sê: ‘Ek verstaan nie hoekom het ek in sonde geval nie – die Here het dan belowe om my te beskerm?’ nie.
[4] Jy móét glo dat God in jou behoeftes sal voorsien (Hebreërs 13:5), maar jy kan nie sê: ‘God het belowe om in sy kinders se behoeftes te voorsien, en daarom kan ek lui wees en heeldag voor die TV lê en ontspan’ nie.
God wil hê ons moet sy bepaalde middele gebruik, en só sal Hy sy planne tot vervulling bring. As jy bid sal jy ontvang; as jy nie bid nie sal jy nié ontvang nie (Jakobus 4:2). Maar natuurlik moet ons nie die middele verafgod, sodat ons dáárop begin vertrou nie. “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Psalm 127:1). Sê dié vers jy moenie wagte op die mure plaas, medisyne drink, hard werk vir ‘n inkomste, en teen sonde stry nie? Óf sê dit jy moenie op hierdie dinge vertrou nie?
Beskerm deur soldate (23:23-35)
Maggie is ‘n Amerikaanse vrou. Een nag stap sy om 23:00 in Hillbrow se strate. Die stad se naglewe gons. Sy sien ‘n groep van twintig Nigeriese dwelm-base buite ‘n shebeen. Hulle staar haar aan. Hoekom is sy nie bang nie? Want saam met haar is 450 Navy Seals. Die wat vír ons is, is baie sterker en meer as die wat téén ons is. Die Here het vir Paulus hieraan herinner.
Die kommandant het twee van sy kapteins opdrag gegee om 200 voetsoldate, 70 ruiters, en 200 spiesvegters gereed te kry, sodat hulle vir Paulus Sesarea toe kon vat. Die Here het 472 soldate gebruik om één man te beskerm! Die soldate het in die nag vertrek (21:00), sodat hulle minder sigbaar sou wees. Hulle het 64 km noord-wes gereis tot in Antipatris (vernoem na Herodes die Grote se pa, Antipater). Die voetsoldate en spiesvegters het teruggedraai Jerusalem toe, en die ruiters het Paulus verder begelei tot in Sesarea. Herodes Agrippa II se paleis en die goewerneur (Felix) se amptelike woning was hier. Hier het hulle Paulus saam met die kommandant (Claudius Lisias) se brief aan Felix oorhandig.
Felix was ‘n wrede man. Hy het omkoopgeskenke aanvaar. Hy het rowery en geweld geïgnoreer. Hy het honderde Joodse selote (‘n regse politieke party) gekruisig. Hy het ‘n groep sluipmoordenaars oorwin, maar later van hulle gehuur om die Joodse hoëpriester Jonatan te vermoor. As dit van sy karakter afgehang het, sou Felix nooit goewerneur geword het nie. Sy broer Pallas was goed bevriend met die keiser. Dít het gehelp dat hy goewerneur geword het. Felix se lelike karakter verduidelik hoekom die kommandant, in sy brief, sekere feite uitgelaat en verdraai het. In sy brief sê Claudius Lisias dat hy vir Paulus gered omdat hy uitgevind het hy is ‘n Romeinse burger. Maar uit hfst.22 weet ons dat hy eers later uitgevind het dat Paulus ‘n Romeinse burger was. Lisias sê ook nie ‘n dooie woord oor die feit dat hy vir Paulus gebind het nie. As Felix dít moes uitvind was daar perde. Felix het gesorg dat Paulus in Herodes se paleis bewaak word.
Jy hoef nie bang te wees vir die vyand nie. Bid en vertrou dat God hulp sal stuur – selfs meer as wat jy nodig het (23:23). Dink jy genoeg daaraan dat God sy engele opdrag gee om jou te beskerm? Hoor die Woord van die Here:
- Engele het vir Jakob beskerm toe hy vir Esau gevlug het (Genesis 28:12).
- Toe die Siriese weermag vir Elisa omsingel het, het God duisende strydwaens van vuur gestuur om hom te beskerm (2 Konings 6:15-17).
- In 2 Konings 19:35 het God ‘n engel gestuur om vir Hiskia en Jerusalem teen die Assiriërs te beskerm. Dié engel het in een nag 185 000 Assiriese soldate doodgemaak.
- Psalm 34:8 sê: “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”
- Psalm 91:11-12 sê: “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”
- In Daniël 6:22 het ‘n engel die leeus se bekke gesluit, sodat Daniël nie verskeur is nie.
- Jesus het gesê: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 18:10).
- Toe die apostels in die tronk was, het ‘n engel hulle kom uithaal (Handelinge 5:19).
- In Handelinge 12:7-11 het ‘n engel vir Petrus uit die tronk bevry.
- Hebreërs 1:14 sê van die engele: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?”
Moenie bang wees nie. God is jou persoonlike lyfwag. En as Hý vir jou is, wie kan teen jou wees?
Het jy al gehoor hoe die gedagte van bruidsmeisies onstaan het? Party sê dat mense in sekere kulture bygelowig was. Hulle het geglo dat bose geeste geluk gehaat het, en enige bruid ongelukkig wou maak. ‘n Paar ander vroue het dus dieselfde rokke as die bruid aangetrek, sodat die bose gees nie geweet het wie die bruid was nie. So kon hulle die gees flous, sodat dit nie iets aan die bruid kon doen nie.
Bose geeste weet wie die hemelse Bruid is. Beteken dit ons moet bygelowig raak en bang wees? Hoekom nie? Want die Almagtige Bruidegom self is ons lyfwag, en daarom is ons altyd veilig.
[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.217
[2] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, p.138
[3] Ibid, p.148
[4] Ibid, p.163