[youtube=http://youtu.be/jD1KF-54qhI]
Omtrent 15 jaar gelede het een van my dosente dié storie vertel. Toe hy ‘n jong pa was het hy sy kinders een Vrydag na skool opgelaai. ‘Waarheen wil julle ry?’ het hy gevra. Hulle moes eenvoudig ‘links, regs of reguit’ sê. Hulle klere was in die kattebak. Hy het êrens in Mpumalanga geeïndig toe dit donker was. Daar het hulle vir die nag by ‘n gastehuis ingeboek.
Party mense se lewens lyk so: hulle het nie die vaagste benul waarheen hulle oppad is nie. In Filippense 3:14 het Paulus ‘n doel gehad en geweet waarheen hy oppad is.
Vergeet die verlede en strek vorentoe (v.14a)
Paulus het reeds God se verlossing gesmaak (v.8-9), maar het geweet dat dit nog nie voltooi was nie. Sy liggaam moes nog verlos word (v.10-11). Soos alle volwasse gelowiges het hy nie gedink hy is volmaak of het die einde bereik nie (v.12-13, 15). Ongelukkig is daar vandag gelowiges wat dink hulle is reeds volmaak. My vriend het vertel van ‘n man in sy gemeente wat so dink. Indien Paulus so gedink het sou hy nie verder gehardloop het nie. Hy sou soos my sussie gewees het. My laerskool se atletiekbaan was nie ‘n gewone 400m baan nie, maar was 300m lank. Toe my sussie eenkeer die 1200m gehardloop het, het sy dit vergeet en na drie rondtes opgehou. Drie atlete het haar verbygesteek. ‘n Baanbeampte het vir haar gesê om nog ‘n rondte te hardloop. Sy het die groep ingehaal en tweede gekom. As sy nie gestop het nie kon sy eerste gekom het. Enigiemand wat dink hy is volmaak sal ophou om te hardloop en nie die prys wen nie.
Paulus het geweet dat hy nog nie volmaak was nie. Hy die verlede vergeet en vorentoe gestrek. Hy was nie soos kinders by ‘n kleuterskool sportbyeenkoms nie. Het jy al gesien hoe hulle hardloop? Om seker te maak hy is eerste kyk Piet agtertoe. Jan waai vir sy ouers en grootouers langs die veld. Sarie kyk vir haar voete en skaduwee om te sien hoe vinnig sy hardloop. Hulle kyk orals behalwe vir die wenpaal. Moenie so hardloop nie. Vergeet 2014 en strek jou uit na 2015. Jesus het gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” (Lukas 9:62). Om die verlede te vergeet beteken nie dat jou geheue verloor nie. Dit beteken eerder dat jy nie in die verlede lewe, sodat dit jou terughou nie.
[1] Vergeet 2014 se selfgeregtigheid. Voor sy bekering het Paulus baie gehad om op te roem, maar toe hy Jesus ontdek het hy besef dat dit drek was (v.4-7). As jy op jou eie geregtigheid staatmaak sal jy jouself bedrieg en dink dat jy die wenpaal bereik het.
[2] Vergeet 2014 se mislukking en sonde. As jy gedurig daaraan dink sal dit jou terughou in die wedloop, sodat jy dink: ‘Dit help nie eers ek probeer nie?’ Bely jou sonde en bekeer jou daarvan. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9). As jy dit gedoen het moet jy daarvan vergeet. Is dit reg dat jy die sonde wat God vergeet het onthou? “aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” (Hebreërs 10:17).
[3] Vergeet ander se sonde teen jou in 2014. Bitterheid sal jou vergiftig; dit sal maak dat jy aanhoudend omkyk en nie vorentoe beweeg nie. Ander se sonde teen jou is nie reg nie, maar God is soewerein daaroor en sal dit vir die goeie uitwerk: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is” (Genesis 50:20). Vergewe ander mense soos God jou vergewe het (Efesiërs 4:32).
[4] Vergeet 2014 se geestelike hoogtepunte. Ek sê nie jy moenie daaroor moet bly wees nie. Ek bedoel eerder dat 2014 se geestelike fiksheid nie stamina kan gee vir 2015 se geestelike wedloop nie. Sorg elke dag dat jy geestelik fiks bly. Iemand wat op 2014 se hoogtepunte fokus sal wens vir gister en vergeet om vorentoe te strek. Salomo sê: “Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.” (Prediker 7:10).
[5] Vergeet 2014 se bekeringsdatum. Dié waarskuwing gee ek nie vir mense wat hulle sonde haat en op Jesus alleen vertrou nie. Ek gee dit vir mense wat staatmaak op ‘n bekeringsdatum en nie op Jesus nie. Sulke mense glo hulle gaan hemel toe omdat hulle ‘n sondaarsgebed gebid het – al lewe hulle soos die duiwel. Vergeet van jou bekeringsdatum. Kyk na die gekruisigde en opgestane Jesus. Bekeer jou van jou sonde en moenie op jouself vertrou nie.
Jy kan slegs na die wenpaal gryp as Jesus jou gegryp het (v.12, 14). Het Hy? Is jy bewus van ‘n sondeoortuiging in jou hart? Is jy aangegryp deur sy sterkte, heerlikheid, kruisdood en vergifnis? Besef jy dat Hy jou enigste hoop is; dat jy sonder Hom in jou sonde en onder sy oordeel sal sterf? As jy dít besef het moet jy hardloop om te wen. Strek vorentoe in 2015. Streef om God en sy Woord beter te ken, om meer getrou en gehoorsaam te wees. Moenie ‘n kind bly nie. Word ‘n jong man en ‘n vader (1 Johannes 2:12-14). Doen wat die Bybel sê:
“Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel. En dit sal ons doen as God dit toelaat.” (Hebreërs 6:1-3). “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (2 Petrus 3:18).
Jy kan nie die horlosie terugdraai nie. Maar jy kan die tafels draai, sodat dit in jou guns tel. As jy vashou aan die verlede sal dit jóú vashou en terughou in die wedloop. In die Christelike wedloop kan jy nie stilstaan nie. Iemand wat nie vorentoe gaan nie beweeg agtertoe.
Hardloop om te wen en dink aan die prys (v.14b)
Elke keer as ek in ons kerk preek kies ek vooraf ‘n woord wat die kinders moet tel. Die kind wat die naaste aan reg is kry twee Mini Fizzers en die res een. As iemand nie lus is vir ‘n lekker nie dan luister hulle nie na die preek nie. Ek het een Sondag gesê dat die wenner ‘n slab sjokolade kry. Jy kan raai dat almal op dié Sondag getel het. So is dit in die Christelike wedloop. As jy weet dat daar ‘n groot beloning wag help dit jou om te volhard, selfs wanneer jy moeg is.
Paulus het die doel nagejaag soos die verkeerspolisie ‘n oortreder agterna sit en vervolg tot hulle hom gevang het. As die beloning klein was sou hy gestop het. Die feit dat die prys oneindig keer groter as die pyn was, het hom gedryf en gemaak dat hy die pyn verduur. Die Bybel sê: “die evangelie van die koninkryk van God [word] verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.” (Lukas 16:16). “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Timoteus 4:7-8). “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2).
Wat is die prys? Die hoë roeping van God om volmaak te wees soos Jesus en vir ewig die heerlikheid van die hemel in Hom te geniet. Hy het ons “tot sy koninkryk en heerlikheid roep.” (1 Tessalonisense 2:12). Ons is “deelgenote van die hemelse roeping” (Hebreërs 3:1). “ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” (1 Johannes 3:2). Sê jy van die prys: ‘Dit trek my nie aan nie’? Is die rede nie omdat jy ‘n swak kennis van Jesus het en nie regtig weet hoe dit in die hemel sal wees nie?
Word jy versoek om op te gee en af te dwaal? Kry soveel as moontlik inligting oor die prys, totdat dit jou opgewonde maak en dryf om te volhard. Oordink hoofstukke oor wie Jesus is (soos Hebreërs 1). Dink aan hoe jou nuwe liggaam gaan lyk (3:21, 1 Korintiërs 15:42-44). Bestudeer en oordink Openbaring 21-22 totdat jy weet hoe dit in die hemel sal wees. Dissiplineer jouself om te oefen. Lees jou Bybel in 2015. Bid meer. Wees meer getrou by die kerk. Raak ontslae van sonde in jou lewe. Is daar dinge wat jou terughou om meer effektief te hardloop? Lê dit af. Hardloop om te wen. Die Bybel sê:
“Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” (1 Korintiërs 9:24-27).
“oefen jou in die godsaligheid. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.” (1 Timoteus 4:7-8).
“Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1).
Moenie tevrede wees met ‘n halfhartige poging nie. As jy met hout, hooi en stoppels bou sal jy teleurgesteld wees. “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1 Korintiërs 3:12-15).
Dis hartseer dat baie Christene sterk begin maar stadiger hardloop as hulle oud word en naby die einde kom. Ouer gelowiges moet sterk eindig, baie vrug dra (Psalm 92:15), en ‘n voorbeeld stel vir die jonges. Is jy jonk? Moenie sê dat jy nie belangstel om te hardloop, dat jy later sal begin nie. Hoe weet jy of daar vir jou ‘n ‘later’ sal wees?
Hoekom is dit belangrik om te volhard? Want volharding wys of jy waarlik gered is of nie. “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:14). “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19).
Die Engelse gesegde lui: ‘Jack of all trades, master of none.’ John MacArthur se pa het vir hom gesê: ‘Baie mense kan baie dinge goed doen. Min mense kan een ding uitstekend doen. Kies vir jou een ding en doen dit uitstekend.’ Doen dit in 2015 en werk met alles in jou om die prys te behaal.