Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 November 2018

’n Belofte wat jou sal help om vas te byt

Image result for image of romans 8:28-30

Romeine 8:28-30

In tye van nood soek almal iets om aan vas te hou. Vir sommige mense is dit hulle geliefdes, hulle gesondheid, hulle geld of hulle lewens. Maar wat as jou beproewing die verlies van hierdie dinge insluit─waaraan hou jy dan vas? Gelowiges het die Here om aan vas te hou; ons het die belofte van Rom. 8:28-30.

 

  1. Wat is die belofte? (v.28)

Rom. 8:28 is ‘n gunsteling belofte vir baie. In 1663 het Thomas Watson ‘n hele boek hieroor geskryf. Wat is hierdie belofte en wat maak dit so spesiaal? Wanneer ons beproef word, is daar baie dinge waarvan ons onseker is. Ons weet bv. nie altyd hoe of waarvoor ons moet bid nie (v.26). Wat ons wel weet, is dat die Here ons beproewings tot ons voordeel sal uitwerk (v.28).

Wat is die les? Tydens beproewing voel dit soms of die Here ver is. In sulke tye kan ons nie lewe volgens wat ons voel nie. Ons moet eerder lewe volgens wat ons weet, naamlik dat God se beloftes en karakter stabiel is en nie verander nie. Ons weet ook dat die Heilige Gees vir ons bid en dat Hy daardeur alles tot ons voordeel laat uitwerk (v.26-28).

Volgens die Here se belofte in v.28 sal Hy alles tot ons voordeel uitwerk; ook ons pyn en lyding (v.18). Die seer in jou lewe is soos ‘n stukkie van ‘n legkaart. Op sy eie maak die stukkie nie sin nie. Wanneer Jesus egter terugkeer, sal jy die hele legkaart sien en verstaan hoe die Here jou lyding gebruik het om die prentjie te voltooi. Vat Josef as ‘n voorbeeld. Sy broers het hom sleg behandel en as ‘n slaaf verkoop. Potifar se vrou het hom valslik beskuldig, sodat hy in die tronk beland het. In die tronk het hy die skinker gevra om ‘n goeie woordjie vir hom by Farao in te sit. Ongelukkig het die skinker hom vir 2 jaar in die tronk vergeet.

Maar die Here het hierdie dinge tot sy voordeel uitgewerk. Die Here wou Josef in Egipte hê en het die pad van lyding gevolg om hom nederigheid en vaardigheid te leer, omdat hy in die toekoms ‘n top posisie sou beklee. Josef moes in Egipte wees om koring op te gaar, sodat, toe hongersnood kom, hy sy familie aan die lewe kon hou. Dit is hoe Josef sy ervaring verstaan het. Baie jare later het hy vir sy broers gesê: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou.” (Gen. 50:20).

Beteken dit dat die Here selfs jou sonde tot jou voordeel sal uitwerk? Ja en nee. As jy in sonde lewe wys dit dat jy die Here haat. In daardie geval geld die belofte van v.28 nie vir jou nie. As ander mense teen jou sondig, sal die Here sorg dat dit uiteindelik tot jou voordeel werk (soos vir Josef). As jy gered is en sonde doen, sal die Here dit tot jou voordeel uitwerk. Hy laat immers alles tot ons voordeel uitwerk (v.28). En: “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2Tim. 2:13).

Maar as jy sonde doen sal dit met baie pyn kom. Nadat Petrus die Here verloën het, het hy berou gehad en het die Here hom vergewe, nader gebring en kragtig gebruik. Sy sonde het hom egter bygebly en baie pyn veroorsaak. Moet dan nie dink dat v.28 ‘n lisense is om sonde te doen, bloot omdat die Here selfs ons sonde vir die goeie sal uitwerk nie.

 

  1. Vir wie is dit? (v.28)

‘n Paar jaar gelede het ek die gemeente gevra om ná die diens agter te bly vir ‘n kort vergadering. ‘n Besoeker het aanstoot geneem en vir my gesê: ‘Hoekom kan die besoekers nie ook agterbly nie; hoekom sluit julle ons uit?’ Maar die Bybel doen dit. Die belofte van v.28 is bv. nie vir almal nie, maar vir gelowiges wat die Here liefhet en volgens sy ewige besluit geroep is. As jy die Here verwerp en nie in Hom glo nie, maar Hom haat, ignoreer en ongehoorsaam is, sal alles in jou lewe (selfs die beste dinge wat met jou gebeur) jou op die ou end benadeel.

Moet dus nie vir ‘n ongelowige Rom. 8:28 of ‘n ander trooswoord uit die Bybel gee wanneer hy swaarkry nie. Dit geld nie vir hom nie. Deel eerder die evangelie met hom. Die belofte van Rom. 8:28 is vir mense wat in die Drie-Enige God van die Bybel glo en Hom liefhet. Hoe wys jy jou liefde vir Hom?

  • Wy jou hele self aan Hom.
  • Koester Hom soos wat jy ‘n kosbare skat sou koester.
  • Begeer Hom soos wat ‘n bok in die woestyn na water dors.
  • Wees lief vir Hom bo alles, selfs bo jou eie lewe (Matt. 10:37, Luk. 10:27, Op. 2:4).
  • Leef vir Hom en nie vir jouself nie (2Kor. 5:14-15).
  • Gehoorsaam Hom (Joh. 14:15, 1Joh. 5:3).
  • Praat met Hom in gebed (Jud. 20-21).
  • Wees lief vir ander gelowiges (1Joh. 4:20-5:1).
  • Haat jou sonde (Ps. 97:10, Amos 5:15, Rom. 12:9).
  • Moenie die wêreld liefhê nie (Matt. 24:12, Jak. 4:4, 1Joh. 2:15).
  • Fokus op sy liefde vir jou. Jou liefde vir Hom vloei immers uit die fontein van sy liefde vir jou (5:5, 8, Gal. 5:22, 2Tess. 3:5, 1Joh. 4:10, 19).

Mense wat die Here liefhet is dié wat volgens God se ewige voorneme of besluit geroep is (v.28). Voor Hy die wêreld geskep het, het Hy besluit om ons te red (2Tim. 1:9). Lank daarna het Hy ons deur die evangelie geroep om sy kinders te wees (1Tess. 1:5-6, 2Tess. 2:13-14, Tit. 1:1-3).

Jy het nie net die prediker se stem gehoor nie, maar vir Jesus wat jou by die naam roep (1:7, Joh. 10:3-4, 14, 27). Hy het jou hart, verstand, oë en ore oopgemaak om die evangelie te verstaan (Hand. 16:14). Jy het geglo en geweet jy is syne. Rom. 8:28 en die res van die Bybel se beloftes is vir jou (2Kor. 1:20, 2Pet. 1:4).

Dit geld egter nie net vir die individu nie. Die Here werk ook alles tot die voordeel van die kerk in haar geheel, oor alle tye en grense. Rom. 8:28 begin met die meervoud: “En ons weet...” Wat beteken dit prakties?

Josef se beproewing het nie net tot sý voordeel uitgewerk toe hy op die einde ‘n top posisie beklee nie. Dit het ook sy familie bevoordeel, sodat hulle die hongersnood oorleef het. Dit het God se kinders deur die ganse geskiedenis bevoordeel. As Josef se familie uitgesterf het, sou Israel uitsterf en sou Josef se nageslag met die Egiptenare vermeng raak. Die Messias sou nie uit die stam van Juda gebore word nie, wat beteken dat ons nie ‘n Verlosser sou hê nie.

Vat nog ‘n voorbeeld. In Rom. 1:13, 1Tess. 2:18, 1Tim. 3:14-15 het Paulus se reisplanne misluk. Hy kon nie betyds by sy bestemming kom nie, en moes dus Romeine, 1Tessalonisense en 1Timoteus skryf. So het die Here Paulus se mislukte reisplanne uitgewerk om die hele kerk te bevoordeel.

Dink daarom aan ander wanneer jy swaarkry. Moenie net bid dat die Here jóú daardeur sal bevoordeel nie; bid ook dat Hy ander bevoordeel. Dalk gebruik die Here jou lyding, sodat die kerk ernstig vir jou intree en daardeur groei. In 2005 het ek ‘n ouer predikant iets gevra oor ‘n siek man in ons gemeente. Hy het gesê: ‘Bid jy vir hom? Bid die ouderlinge vir hom? Bid die gemeente vir hom? Jy gaan sien hoe die gemeente geestelik groei omdat hierdie man siek is. Hy besef tien-teen-een nie eers dat die Here sy siekte gebruik om die gemeente te versterk nie.’

 

  1. Waaroor gaan dit? (v.29)

Om die vraag te antwoord het Douglas Moo se kommentaar my gehelp. Moo wys hoe ons Rom. 8:28 verkeerd toepas. Wanneer ‘n medegelowige swaarkry, troos ons hulle soos volg: ‘Moenie bekommerd wees omdat jy jou werk verloor het nie; die Here sal vir jou ‘n beter een gee... Moenie bekommerd wees omdat jou meisie die verlowing verbreek het nie; die Here het ‘n beter lewensmaat in gedagte.’

Maar dit is nie noodwendig so nie. Dalk het die persoon sy werk verloor en sal hy nooit weer so ‘n goeie werk kry nie, omdat die Here hom uit sy materiële denkwyse wil skud. Of dalk wil die Here nie hê die persoon moet trou nie, omdat Hy hom in ‘n bediening wil gebruik (bv. as ‘n sendeling na Soedan) waar ‘n enkel persoon beter sal inpas as iemand wat getroud is.

Maar wat is dan die dinge wat die Here vir die goeie sal uitwerk (v.28)? Die konteks wys vir ons: om soos Jesus te wees (v.29). Dit is waarvoor Hy ons voor die skepping bestem het (v.29). In Gen. 1:26-27 het Hy die mens na sy beeld gemaak, naamlik om sy heiligheid, goedheid, liefde, heerlikheid, heerskappy, ens. te weerspieël. Toe die mens in Gen. 3 ongehoorsaam is, toe breek sy sonde die spieël. God kon nie meer sy beeld mooi in ons sien nie. Hy het vir Jesus gestuur om sy beeld perfek vir ons te wys (Kol. 1:15, 2Kor. 4:4, Heb. 1:3).

Jesus het ons van die sonde gered wat God se beeld in ons gebreek het. Deur die proses van heiligmaking is Hy besig om die spieël stadig maar seker reg te maak. Ons word meer en meer soos Jesus, totdat ons by die wederkoms sondeloos volmaak sal wees en ‘n nuwe liggaam soos Hy sal ontvang (v.29, 2Kor. 3:18, Fil. 3:21, Kol. 3:10, 1Tess. 5:23, 1Joh. 3:2). By die wederkoms sal die Vader weer sy Seun se beeld in ons sien, net soos Hy dit van die begin af bedoel het.

Dít is wat die belofte in Rom. 8:28 beteken: die Here gebruik alles in die gelowige se lewe om hom soos Jesus te maak. Hierin sal Hy suksesvol wees. Maar gelykheid aan Jesus se beeld beteken nie dat ons God word soos Hy nie. Ons is net die spieëlbeeld; Hy is die Een wat Homself in die spieël sien. Hy is die Eersgeborene wat alles erf en wat die Hoof is oor alles (v.29, Ef. 1:22, Kol. 1:15, 18, Heb. 1:2). Hy deel hierdie erfenis met baie broers (v.29, 17, Heb. 2:11-12, Op. 7:9). Jesus is ons Koning, Here, Verlosser en God, maar Hy is ook ons Broer, Herder, Bruidegom en Vriend.

Ek onthou hoe ek as kind soos my ouer broer wou wees. En wil jý nie soos jou Oudste Broer, Jesus wees nie? Hou sy lewe, kruisdood, opstanding, Persoon en heerlikheid dop. Laat Hy jou patroon wees (1Joh. 2:6). Wees by die mense wat soos Hy is, sodat jy hulle voorbeeld kan volg (1Kor. 11:1). Maak baie van preke, boeke en liede waarin Hy sentraal is. Vra jouself waar Jesus is wanneer jy die Bybel lees. Hoe meer jy Hom sien, hoe meer sal jy soos Hy word (2Kor. 3:18).

 

  1. Is dit betroubaar? (v.29-30)

Voor ‘n nasionale verkiesing maak politieke partye beloftes wat hulle nie nakom nie. Besighede maak beloftes wat hulle nie nakom. Ons belowe soms om dinge te doen wat ons nie nakom nie. Die Here is nie so nie: as Hy iets belowe, doen Hy dit. Jy kan verseker weet dat Hy die belofte van v.28 sal hou. Hoe weet jy dit? Hy het jou al voor die skepping liefgehad; Hy het jou gered en sal jou vir ewig liefhê (v.29-30). Kom ons ondersoek hierdie verse frase vir frase.

[a] Hy het jou voor die skepping geken (v.29). Wat beteken dit? Sommige sê dat Hy voor die skepping geweet het wie sal glo, en dat Hy op grond daarvan besluit het om hulle te red. Maar Paulus sê nie bloot dat die Here iets tevore geken het nie, maar iemand. Die kennis in v.29 is ‘n intieme kennis soos in Amos 3:2, waar die Here uit al die nasies net vir Israel geken het. Dit beteken nie dat Hy net van Israel geweet het nie. Dit beteken eerder dat Hy uit al die nasies net vir Israel intiem en persoonlik as sy eie geken het (vgl. Gen. 4:1).

In Hand. 2:23 en 1Pet. 1:20 lees ons van die Vader wat Jesus vooruit geken het as die Verlosser. Dit beteken nie net dat Hy vooruit geweet het Jesus sal die Verlosser wees nie, maar dat Hy Hom gekies en persoonlik geken het as die Verlosser. Dit is ook wat v.29 en 1Pet. 1:1-2 bedoel wanneer dit sê dat die Here ons voor die skepping geken het. Hy het ons gekies en persoonlik geken as sy eie.

[b] God het ons voor die skepping bestem om soos Jesus te wees en om ons as sy kinders aan te neem (v.29-30, Ef. 1:4-5, 11).

[c] God het ons in ons harte geroep om sy kinders te wees (v.30). Ek het reeds in v.28 gewys wat roeping beteken.

[d] Deur die geloof reken die Vader Jesus se perfekte rekord van gehoorsaamheid aan ons toe. Deur sy dood betaal Jesus ons sondeskuld. So verklaar die Vader ons dan onskuldig en regverdig deur geloof in Jesus (Rom. 3-5).

[e] Die Here maak jou meer en meer heilig, totdat jy sterf en ‘n volmaakte gees het (Heb. 12:23). By die wederkoms ontvang jy ‘n nuwe, onsterflike, sondelose en verheerlikte liggaam soos Jesus (v.29-30, 1Joh. 3:2).

Teoloë noem die orde van v.29-30 die goue ketting van verlossing. Ons kan nie een van die skakels knip nie. As jy in Jesus glo en reg is met God, kan jy ook weet dat Hy jou ken en voor die skepping bestem het om sy kind te wees, dat Hy jou roep om Hom te volg en dat Hy jou by Jesus se wederkoms sal verheerlik (v.29-30, Hand. 13:48, 1Tess. 1:4-5, 2Tim. 2:10).

Dit impliseer ook dat jy nie jou redding kan verloor nie. Jou verlossing is vas van die ewige verlede af tot in die ewige toekoms (v.29-30, Fil. 1:6). Die feit dat die woord ‘verheerlik’ in die verledetyd staan, wys dat dit absoluut seker is. Jesus sal nie een van sy kinders verloor nie, maar Hy sal hulle op die laaste dag opwek (Joh. 6:37-40). Rom. 8:28-30 is voorwaar ‘n groot troos.

Maar sal dit nie maak dat mense sê: ‘God het my voor die skepping geken en bestem; ek kan nie my redding verloor nie en kan daarom leef soos ek wil’ nie? Nee. God het jou bestem om heilig te wees soos Jesus (v.29, Ef. 1:4, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:1-2). Moet dan nie daarin roem dat God jou gekies en gered het as jy onheilig lewe nie.

Soos reeds gesê is die belofte van Rom. 8:28-30 vir dié wat God liefhet. Vir hulle is die belofte van ‘n goeie, ewige en heerlike toekoms by Jesus vaster as ‘n rots onder jou voete of as die aarde in sy wentelbaan.

Kategorieë