‘n Slegte advertensie is so snaaks dat jy die advervensie onthou, maar vergeet wat geadverteer is. ‘n Goeie advertensie, daarenteen, vestig jou aandag op die produk, en nie op die advertensie self nie. Genesings, wonderwerke, en ander kragtige werke van God is veronderstel om ‘n advertensie vir die evangelie te wees. Die aandag moet op die evangelie wees en nie op die genesing self nie.
“32 En onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon; 33 en hy het daar ‘n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. 34 En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. 35 En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.
36 En in Joppe was daar ‘n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. 37 En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in ‘n bovertrek neergelê. 38 En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. 39 En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder— en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was. 40 En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. 41 En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. 42 En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo. 43 En hy het ‘n geruime tyd in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.” (Handelinge 9).
Enas word genees (v.32-35)
Die kerk in Jerusalem het in 8:1-4 uitmekaar gespat. Die apostels het in Jerusalem agtergebly om die Christene wat in die tronk was te vertroos. Toe hulle tereggestel is, was daar skaars Christene in Jerusalem oor. Petrus, die leier van die twaalf, het rondgereis om die verspreide Christene te onderrig en te bemoedig. Hy het 40 km noord-wes gereis tot in Lidda (v.32). In Lidda was Enas vir 8 jaar bedlêend; hy was verlam (v.33). Petrus het vir Enas gesê: ‘Jesus genees jou. Staan op en trek jou bed reg.’ (v.34). Die mense in Lidda en die Saron-vlakte noord van die dorp het vir Enas geken. Hulle het geweet dat hy vir 8 jaar verlam was. Hulle het ook die Christene se boodskap en lewe geken. Toe hulle vir Enas sien, het hulle die evangelie geglo en tot bekering gekom (v.35).
Moderne genesings op TV is selfgerig, kragteloos, en ‘n swak advertensie vir die evangelie. Die genesing in Handelinge 9 is kragtig en fokus op Jesus. Petrus het geen lof ontvang nie. Die teks sê: “En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.” (v.34-35). Met die opwekking van Dorkas het Petrus en die skare ook op die Here gefokus: “En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit... En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo.” (v.40, 42). Nóg verskille tussen Handelinge 9 en moderne genesings op TV is:
- Enas se siekte was ‘n sigbare probleem. Syne was nie bloot ‘n rugpyn of maagsweer nie.
- Enas is volkome genees; hy het opgestaan. Hy het nie nog ‘n bietjie mank geloop nie.
- Enas se genesing was permanent. Hy moes sy bed opmaak, omdat hy, behalwe om te rus, nie weer daarop sou lê nie (v.34a).
- Enas het dadelik opgestaan; sy genesing het onmiddellik plaasgevind (v.34b). Hy het nie geleidelik beter begin word nie.
- Daar was ooggetuies wat kon sien dat Enas gesond was (v.41). Moderne genesings is moeilik om te bewys.
- Enas se genesing is deur ‘n mediese dokter, Lukas, op rekord geplaas. Ek sal graag wil hoor van moderne genesings wat medies bewys kan word.
Wonderwerke was uniek tot die apostels en hulle helpers. In 2 Korintiërs 12:12 sê Paulus: “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” Maar ten spyte hiervan adverteer God vandag steeds evangelie. Hoe doen Hy dit?
Dorkas word opgewek (v.36-43)
Joppe, ‘n dorp aan die kus, was 20 km noord-wes van Lidda. Daar was ‘n gelowige met die naam Tabita. In Grieks is haar naam Dorkas. Beide name (Tabita is Hebreeus) beteken ‘gazelle’. Sy was vol van goeie werke en sorg vir die armes. Sy het veral die weduwees gehelp (v.36, 39). Haar lewe was ‘n kommentaar op die evangelie. ‘n Christen se lewe behoort soos hare te lyk:
“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Efesiërs 2:10).
“[Jesus het] Homself vir ons gegee om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” (Titus 2:14).
“Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld.” (Jakobus 1:27).
“Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie?” (Jakobus 2:14).
Tabita het siek geword en gesterf. Volgens Joodse gebruik het die gelowiges haar lyk gewas. Dit bewys ook vir ons dat sy regtig dood was. Hulle het haar liggaam in die bo-vertrek neergelê (v.37). Hulle het gehoor dat Petrus in Lidda was (hoe kon hulle na die genesing van Enas nié weet nie). Hulle het hom Lidda toe gebring (v.38). Wou hulle hê Petrus moes hulle troos, of het hulle geglo dat hy vir Tabita uit die dood kon opwek? Toe Petrus daar aankom het die weduwees gehuil en vir hom gewys wat Tabita vir hulle gemaak het (v.39, Hoe gebruik jy jóú vaardigheid in die Here se diens?). Hulle trane was die bewys dat hulle haar liefgehad het, en dat sy regtig dood was. Petrus wou privaatheid en stilte hê, en het die weduwees gevra om die vertrek te verlaat (cf. Markus 5:40-41). Hy het gekniel (cf. 2 Konings 4:33) en vir die opstane Jesus gevra om vir Tabita op te wek. God het sy gebed verhoor. Tabita is uit die dood opgewek (v.40). Sy het regop gesit. Sy was nie net lewendig nie, maar gesond ook (v.40, 37). Baie mense in Joppe het in Jesus geglo (v.42). Petrus het vir ‘n lang tyd in Joppe gebly om die nuwe Christene te leer en te help (v.43). Hy het in Simon die leerlooier se huis gebly (v.43). In die Jode se oë was iemand wat met dooie diere se velle gewerk het, onrein. Petrus was nie veel gepla nie. Die Here was besig om hom voor te berei, omdat hy binnekort moes leer dat heidene nie onrein is nie (cf. hfst.10).
Vandag nog doen die Here kragtige werke om sy evangelie te adverteer; om die kollig op Jesus te skyn:
[1] Hy verander slegte persone in liewe mense. Min dinge is so ‘n effektiewe advertertensie vir die evangelie.
[2] ‘n Sagmoedige, liefdevolle, en onderdanige Christen-vrou in ‘n moeilike huwelik is ‘n kragtige advertensie vir die evangelie (1 Petrus 3:1-2, Titus 2:5). Alvin Schmidt skryf: ‘the pagan Libanius said when the lauded the Christian womens’ high level of commitment and dedication to their role as wives and mothers: ‘What women these Christians have!’ (How Christianity Changed the World, p.85).
[3] Wonderwerke in antwoord op gebed roep uit: ‘Kyk na die evangelie!’ In die vroeë 90’s het my ma galstene gehad. Dit kon duidelik op die sonar gesien word. Die huisdokter het haar na die snydokter toe verwys. By die biduur het sy haar situasie verduidelik en voorbidding gevra. Toe sy vier dae later by die snydokter kom het hy haar getoets en gevra: ‘Waar is die galstene?’ God het haar genees.
John Howie skryf in The Scots Worthies: ‘those who were past all recovery with epileptic disease, or falling sickness, were brought to [Robert Bruce], and were, after prayer by him in their behalf, fully restored from that maladay. This may seem strange, but it is true, for he was such a wrestler with God, and had more than ordinary familiarity with Him.’ (The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 2001, p.148).
Howie vertel ook van ‘n jong man wat na ‘n tyd van siekte in John Welch se huis gesterf het. Twaalf ure later het die oorledene se vriende ‘n kis gebring om hom daarin te plaas. Welch het geweier en gesê: ‘Hy is nie dood nie.’ Vir 36 uur het Welch by die jong man gebly en voortdurend gebid. Die familie het gevra om die man te begrawe, maar Welch het vir nog 12 ure gevra. Na 48 uur het Welch aangedring dat die man nie dood is nie. Die dokters het gekom en allerhande toeste gedoen. Hulle het gesê dat hy morsdood is. Welch het aangehou dat die man nie dood is nie, en het vir nog 2 ure alleen gevra. Howie skryf: ‘Then Mr Welch fell down before the pallet, and cried to the Lord with all his might, and sometimes looked upon the dead body, continuing to wrestle with the Lord, till at length the dead youth opened his eyes, and cried out to Mr Welch, whom he distinctly knew, ‘O sir, I am all whole, but my head and legs;’ and these were the places [the doctors] had sorely hurt with their pinching. When Mr Welch perceived this, he called upon his friends; and showed them the dead young man restored to life again, to their great astonishment.” (Ibid, p.133).
[4] Antwoorde op alledaagse gebede plaas die evangelie op die verhoog. Na ‘n antwoord op gebed het my jongste dogter gesê: ‘Nou wéét ek God is waar!’
[5] Buitengewone voorsienigheid, soos wanneer ‘n tornado elke gebou in die dorp, behalwe die kerk, verwoes, adverteer die evangelie.
[6] Christene se liefde is ‘n sterk getuienis vir die evangelie. Jesus het gesê: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:34-35). Op Aniwa het Nasi een van die Christene vermoor. Die vermoorde se vrou en ander Christene het hom liefgehad. John Paton skryf: “So they began to show him every possible kindness, and one after another helped him in his daily tasks, embracing every opportunity of pleading with him to yield to Jesus and take the new path of life. At first he repelled them, and sullenly held aloof. But their prayers never ceased, and their patient affections continued to grow. At last, after long waiting, Nasi broke down, and cried to one of the Teachers, ‘I can opose your Jesus no longer. If He can make you treat me like that, I yield myself to Him and to you. I want Him to change me too. I want a heart like that of Jesus.’ (John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.413).
[7] Eenheid onder Christene verhef die evangelie. Mark Dever vertel van ‘n sielkundige wat sy kerk besoek het. Toe hy sien hoe jonk en oud, ryk en arm, swart en wit, man en vrou in liefde en harmonie saamlewe, was hy verbaas. Dit het hom na die evangelie toe aangetrek. Jesus het gebid: “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” (Johannes 17:23).
[8] ‘n Heilige lewe is ‘n goeie advertensie vir die evangelie. “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16). ‘n Jaar ná hulle bekering het ‘n Swiss paar vir Stuart Olyott gesê: ‘Nou wéét ons die evangelie is waar. Oor die afgelope jaar het ons nie gehoor dat een persoon in hierdie kerk ‘n ander slegpraat nie.’ ‘n Man in Nelspruit het in sy weermag dae nie gelag toe een van die ander troepe ‘n vuil grap vertel nie. Iemand het gesien hy lag nie en het hom voor almal gespot: ‘Oooo, julle! Ons het ‘n dominee onder ons!’ Ná ete het die man wat hom gespot het gesê: ‘Hoekom het jy nie vir die vuil grap gelag nie?’ Hy het verduidelik dat hy ‘n Christen is, en het die evangelie gedeel. Die man het sy vriende geroep en vir die Christen gesê: ‘Vertel vir hulle ook.’ Voordat hy klaar was het hulle ander geroep en gesê: ‘Vertel dit weer.’ Uiteindelik het hy op ‘n stoel gestaan en vir ‘n tent vol troepe die evangelie gepreek.
[9] Dankbaarheid skyn ‘n groot kollig op die evangelie. Paulus skryf: “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:14-15).
[10] ‘n Christen wat eerlik werk, sy werk met vreugde doen, en kwaliteit werk lewer trek mense se aandag na Jesus en die evangelie toe: “Die diensknegte moet onderdanig wees aan hul eie here, hulle in alles behaag en nie teëpraat nie; hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier.” (Titus 2:9-10). Oorlede Martin Holdt sê dat hy voor sy bekering lui was. Ná sy bekering het hy begin om hard te werk. Kort daarna het sy baas hom ingeroep en gevra: ‘Holdt, wat het met jou gebeur?’ Hy het die geleentheid gebruik om die evangelie te deel.
[11] As jy, soos Dorkas, goeie werke met die regte motiewe doen, sal mense se aandag op die evangelie gefokus word (cf. Matteus 5:16).
[12] ‘n Christen wat te midde van lyding vreugde het, adverteer die evangelie (1 Petrus 3:15). Moenie die TV-predikers glo nie. Hulle sê hulle rykdom skep ‘n geleentheid om te sê: ‘Ons God maak sy kinders ryk.’ Dis onsin. Rykdom fokus mense se aandag op geld en hulle vleeslike begeertes, en nie op die evangelie nie.
Laat Handelinge 9 jou aandag op die evangelie fokus; op die geestelike lewe en genesing wat die evangelie bring. Wonderwerke en die res is maar net die voetheuwels, aptytwekker, en winkelpop. Die evangelie is berg Everest, die liplekker hoofgereg, en die peperduur ontwerpersklere. Laat ons gemeente en jou lewe die evangelie aan die wêreld adverteer.