Coram Deo Cover Image

Coming soon...

7 June 2014

My kind vra oor die doop en die nagmaal (riglyne vir ouers en grootouers)

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Child baptism

Elke ouer wil die beste vir sy kind hê.  Daarom kyk ons maklik hulle foute mis.  ’n Vrou in Nelspruit het vir my gesê:  ‘Ek weet my 13-jarige is nóú rebels, maar hy het sy hart vir die Here gegee toe hy 5 was.’  As dit jóú kind is, erken jy moeilik dat syne waarskynlik ’n vals bekering was.  Ons glo gou dat kinders wat die sondaarsgebed opsê of ‘hulle harte vir die Here gee’ (‘n frase wat nêrens in die Bybel voorkom nie) tot bekering gekom het.  Dit is reg om bly te wees as hulle ’n sondebesef het – dit is immers noodsaaklik vir ware bekering.

Maar sonde oortuiging op sy eie is nie genoeg nie.  Ongelowige Feliks het gesidder toe Paulus van God se oordeel gepraat het.[i]  Die demone self glo God is Een, en sidder.[ii]  Iain Murray is reg:  ‘to be awakened is not the same as to be saved.’[iii]  Eers as jou kind weergebore is, die evangelie glo, en weggedraai van sonde, is hy of sy reg om gedoop te word en die nagmaal te gebruik.  Oorweeg gerus die volgende riglyne om te sien of jou kind gereed is:

Jou kind hoef nie handboek antwoorde te gee nie, maar hy moet ’n basiese begrip van die evangelie hê.

 

  • Weet hy hy gaan nie hemel toe omdat hy ‘sy hart vir die Here gegee het’, in God glo, die Bybel lees, bid, kerk toe gaan, die Tien Gebooie gehoorsaam, of opreg is nie?
  • Weet hy ’n mens gaan hemel toe omdat Jesus aan die kruis gesterf het vir sondaars, begrawe is en opgestaan het uit die dood?
  • Weet hy hy ontvang vergifnis en verlossing deur dít te glo en op Jesus te vertrou?

Dit moet duidelik wees dat jou kind die vrug van bekering dra.

 

  • Is hy regtig jammer as hy gesondig het – jammer dat dit God bedroef en nie net omdat hy die gevolge wil vryspring of skuldgevoelens haat nie?
  • Bekeer hy hom van sy sonde?
  • Is hy lief vir die Bybel en verstaan hy as dit gelees en gepreek word?
  • Bid hy? Word sy gebede beantwoord?
  • Sien hy uit om kerk toe te kom om met maatjies te speel, of omdat hy die Here wil aanbid, die Woord wil hoor en ander Christene wil sien?
  • Sien ander mense die vrug van bekering in sy lewe?

Jou kind moet verstaan waaroor die doop en die nagmaal gaan.

 

  • Weet hy dat die doop en die nagmaal niks tot sy saligheid bydra nie?
  • Weet hy dat die doop die reiniging van sy sondes, asook sy begrafnis en opstanding saam met Jesus uitbeeld?
  • Weet hy dat die nagmaal ons aan Jesus se soendood herinner: die brood spreek van sy liggaam wat vir ons gebreek is en die druiwesap van sy bloed wat ons sondes weg was?
  • Weet hy dat die doop en die nagmaal, sonder geloof, geen waarde vir sy siel het nie?
  • Weet hy dat hy sy sonde moet haat en laat staan as hy na die nagmaaltafel toe wil kom?

Wat sal gebeur as jou kind nog nie gered is nie, maar gedoop word en die nagmaal gebruik?

  1. Hy sal vals sekerheid hê en dínk hy is gered, omdat hy gedoop is. Dalk word hy een van dié wat vir Jesus sê: ‘Here, Here!’, maar nie die koninkryk van God sal ingaan nie.[iv]
  2. Omdat sy getuienis en leefwyse nie ooreenstem nie, sal Hy die Here se Naam beskadig.
  3. Sy aksie in die doopbad en by die nagmaaltafel bely dat hy gered is, maar sy lewe lyk nie soos ‘n Christen s’n nie. Hy leer om skynheilig te wees en bring sodoende ‘n swaarder oordeel oor homself.
  4. In jare wat kom sal hy ‘n lidmaat van die kerk of dalk selfs ‘n ouderling word. As ongelowige sal hy eindelose probleme veroorsaak.
  5. As dinge sleg gaan sal hy ‘n weersin kry in die Here en die kerk: ‘Hoekom help die Here my nie – my doop bewys dan dat ek gered is?’
  6. Hy maak ‘n bespotting van die doop en die nagmaal, omdat hy deelneem aan heilige dinge, maar nie sy sonde wil los nie. God sal hom met siekte of selfs die dood straf.[v]
  7. Ander kinders sal sy slegte voorbeeld volg. Hulle sal vra om gedoop te word en die nagmaal te gebruik, terwyl hulle nog ongered is. Hulle sal die gevolge van hulle verkeerde keuses moet dra.
  8. Wanneer hy eendag groot is sal hy sý kinders in die kerk groot maak. Hulle sal sy dubbele lewe sien, dink dat dít Christenskap is, en die Here en sy kerk verafsku.
  9. In die toekoms sal hy toelaat dat sý ongeredde kinders gedoop word en die nagmaal gebruik. Hulle sal dieselfde bitter vrugte pluk as hy. Die Here beskou die doop en die nagmaal as ernstige sake. Ons moet ook, en ons kinders moet dit weet. As jy jou kinders reg leer en self die voorbeeld stel, glo ek dat die Here hulle sal red.[vi] As jy hulle dán doop en toelaat by die nagmaal tafel, sal jy én jou kinders julle in die Here verbly.

________________________________

[i] Handelinge 24:25

[ii] Jakobus 2:19

[iii] Revival and Revivalism, p.209.

[iv] Matteus 7:21-23

[v] 1 Korintiërs 11:27-30

[vi] Genesis 18:19, Maleagi 2:15, 1 Korintiërs 7:14

[/column]

Kategorieë