Dit is erg dat die wêreld vir jou sê om in jouself te glo. Maar dit is erger dat Christelike boodskappe op Whatsapp en Facebook vir jou sê om dit te doen, en dat Christelike sprekers by vroue kampe hierdie denke aanmoedig. Jes.21:11-22:25 wys vir ons wat met Israel en die nasies gebeur het toe hulle in hulleself geglo het, en nie in die Here nie.
Edom (21:11-12)
Een van my vriende het verlede jaar deur diep waters gegaan. Teen die einde van die jaar het dinge beter geraak. Maar die son het net vir ‘n maand of twee geskyn, toe iets harder hom getref het. In 21:11-12 het dit met Duma en Seïr in Edom gebeur (vgl. Gn.32:3).
Edom was suid-oos van die Dooie See. Iemand het ‘n boodskapper van Seïr af na Jesaja toe gestuur (21:11). “Wagter, hoe ver is dit in die nag?” het hy twee keer in desperaatheid gevra. Edom wou eintlik geweet het of die nag van Assirië se verwoesting amper verby was.
Die wagter het geantwoord: ‘Die verdrukking sal verbygaan en die oggend sal weer kom. Maar dan sal dit weer nag word. Moet dan nie te gou bly raak nie. Maar moet ook nie in moedeloosheid verval nie, aangesien dinge wel in die toekoms beter sal word. Ek is nie presies seker wanneer nie, maar dit sal gebeur. Stuur dus later weer ‘n boodskapper om uit te vind.’ (21:12).
Die groot les wat ons in hierdie verse leer, is dat ons op die Here moet wag. Edom het dit nie gedoen nie, en daarom het die Here hulle tot ‘n einde gebring (Obadja).
Wanneer jy deur ‘n krisis gaan, help dit nie jy raak ongeduldig of kwaad vir die Here nie – dit gaan nie die situasie verander nie. Vra eerder vir die Here om jou deur die Woord te lei (21:11).
Moenie opgee as Hy jou nie dadelik antwoord nie, of as dinge eers slegter raak voor dit beter raak nie; wag op die Here (21:12). Onthou dat niemand sy planne kan keer nie, al lyk dit ook vir jou of niks gebeur nie. Wag geduldig op die Here, volhard deur die beproewing, en moenie op jouself vertrou nie.
Arabië (21:13-17)
Dedan, Tema en Kedar was Arabiese stamme uit Abraham se nageslag by Ketura en Hagar (Gn.25:3, 13). Die karavane van die Dedaniete het in die bosse van Arabië weggekruip, omdat hulle die Assiriërs gevrees het (21:13). Hulle sou vir die Assiriërs se swaarde en boë gevlug het (21:15). Die Temaniete sou hulle met water uit die oase, en met kos gehelp het (21:14-15, vgl. Job 4:1, 6:19).
Die Arabiere se wedersydse ondersteuning het egter nie gehelp nie. Binne ‘n werksjaar sou die heerlike Kedarstam en haar boogskutters tot ‘n val gekom het (22:16-17). Die Arabiere wat op mekaar gesteun het, sou uitgedun wees (21:17). Soos die God van Israel dit voorspel het, het dit gebeur (21:17).
Die les in hierdie verse is dat die wêreld nie die middele het om hulle probleme op te los nie, al help hulle ook mekaar (21:13-17). Hulle mag dalk vir tyd en wyl ‘n oplossing vind (21:13-15), maar op die einde is daar niemand wat hulle kan help nie (21:16-17).
Waarop sal hulle staatmaak as die rykdom waarin hulle geroem het gesteel word, as die mense in wie hulle gehoop het sterf, of as die gesondheid waarop hulle vertrou het ingee? God is die enigste Rots op wie jy kan steun: “Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.” (Ps.62:3).
Vertrou op Hom en op niemand anders nie, ook nie op jouself of op dit wat jy vir die Here doen nie. Wat gaan jy doen as jy so siek raak dat jy nie meer instaat is om te bedien of jou Bybel te lees nie? Maak dus seker dat jy op Christus alleen vertrou.
John Paton het vir ‘n hele nag in ‘n boom weggekruip, terwyl die kannibale deur die bos gehardloop het om hom dood te maak. Hy het niemand gehad om hom te help nie, en het sy hart voor die Here uitgestort. Die nabyheid van Jesus het hom vertroos. Hy skryf: ‘If thus thrown back upon your own soul, alone, all, all alone, in the midnight, in the bush, in the very embrace of death itself, have you a Friend that will not fail you then?’[1]
Jerusalem (22:1-25)
Jare gelede het my oom se buurman homself doodgeskiet. Dit was ‘n nare storie toe my oom op die toneel afgekom het. Die familie het egter nie omgegee nie. Hulle het die begrafnis as ‘n geleentheid beskou om dronk te word, losbandig op te tree, en laf te wees. Dit is hoe Jerusalem in Jes.22 was.
Die vallei van die visioen verwys na Jerusalem wat deur berge omring is (22:1, 7, Ps.125:2). Dit is hiér waar Jesaja sy visioene gehad het. God se volk het egter geen vooruitsig gehad van die oordeel wat oppad was nie. Hulle het op die huise se plat dakke geklim en fees gevier terwyl die Babiloniërs Jerusalem omsingel het en mense van die honger vergaan het (22:1-2, 13).
Toe die leiers uit die stad uit gevlug het, het die Babiloniërs hulle sonder moeite gevang (22:3, 2 Kon.25:3-7). Jesaja het geweet dat die stad verwoes sou word, en daarom het hy nie saam met die res partytjie gehou nie maar gehuil (22:4). Hy wou alleen gehuil het, en nie die goedkoop troos gehad het van mense wat sê dat alles ‘okay’ gaan wees, terwyl hy geweet het dit gaan nie ‘okay’ wees nie (22:4).
Die Babiloniërs sou Jerusalem se mure in die vallei van die visioen platgeslaan het (22:5). Die geskreeu van die inwoners sou in die berge ge-eggo het (22:5). Soos God dit bepaal het, het dit gebeur (22:5). Elam en Kir het die Babiloniërs teen Jerusalem gehelp; soldate en strydwaens het die valleie gevul; perderuiters het buite die stadspoorte gewag (22:6-7).
God het nie meer vir Israel beskut nie, maar dit het haar nie gepla nie (22:8, Ps.105:39). Sy het nie op die ewige God vertrou nie, maar op haar wapens, mure en voorraad (22:8-11, 1 Kon.10:17, 2 Kron.32:4-5, Jer.33:4).
Die volk moes berou gehad het en dit gewys het, maar in stede daarvan was hulle bly en het hulle fees gevier asof niks verkeerd is nie (22:12-13). “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons,” het hulle gesê (22:13). Moes hulle hulle nie eerder tot die Here bekeer het, as om vir ‘n laaste keer fees te vier nie (22:13)?
Die mense wat só gelewe het, kon nie vergewe word nie, maar hulle sou in hulle sonde gesterf het (22:14). Hoe kon die Here hulle vergewe het as hulle op hulleself vertrou het en nie op Hom nie (Heb.10:26, 29)?
Sebna in beheer van die koning se paleis was so (22:15). Sy arrogante trots was tipies van die volk s’n. Hy het nie omgegee oor wat ná die dood met hom gaan gebeur nie (22:13), solank hy in ‘n koninklike graf gelê het en mense hom op sy begrafnis geprys het (22:16).
Hieroor het Jesaja hom aangspreek: ‘Wie dink jy is jy (22:16)? Jy is gans en al te seker van jouself en van jou belangrike posisie. Soos iemand ‘n bal uit ‘n slingervel gooi, sal die Here jou gryp en met geweld na ‘n ver land toe gooi (22:17). Daar sal jy sterf en nié in die koninklike graf lê soos jy gedink het nie (22:18, 16). Egipte se strydwaens waarop jy vertrou het, sal saam met jou daar lê (22:18, 31:1, 36:9). Niemand sal jou prys wanneer jy weg nie, maar jou as die skande van die koning se huis onthou (22:18).
‘Die Here sal jou uit jou amp uit verwyder; Hy sal jou “demote” en afbring aarde toe (22:19, 15, 36:22). Hy sal Eljakim die seun van Hilkia as sy kneg roep en hom in jou plek aanstel (22:20, 37:2). Hy sal jou leierskleed, gordel en gesag vir hom gee (22:21). Hy sal soos ‘n vader wees vir die volk (22:21, Gn.45:8). Omdat die sleutel van Dawid op sy skouerband is, sal net hý die gesag hê om te besluit wie in die paleis mag inkom en wie nie (22:22).
‘Die Here sal hom soos ‘n stewige pen vasslaan (22:23). Hy en sy familie sal egter sy ereplek en rykdom misbruik om hulleself te bevoordeel (22:23-24). Soos potte en koppies wat aan ‘n kombuishak hang, sal Eljakim se familie op hom steun om hulle te dra (22:24). Die populariteit sal vir hom te veel raak, sodat hy en sy familie onder die gewig knak (22:25). So het die Here gespreek, en so sal dit gebeur (22:25).’
Wat leer Jes.22 vir ons?
[1] Ons land is op ‘n slegte plek. Terwyl Knysna en die Bloemfonteinse stadsaal afbrand, terwyl misdaad toeneem en die regering korrup is, lê ons nie op ons gesigte voor die Here nie, maar leef ons in vrolikheid en sonde, asof daar geen oordeelsdag, hemel en hel is nie (22:2, 13, 1 Kor.15:32).
Moenie dat die wêreld jou onsensitief maak, sodat hierdie dinge jou nie pla nie. Bid vir ons land; treur en moenie lag nie (22:12-13, Jk.4:9). Wees soos Jesaja en sien die werklike toestand van sake (22:4).
[2] Ons het die Here nodig (22:11b). In ‘n era van wetenskaplike navorsing en tegnologiese vooruitgang, moet ons nie dink ons is selfgemaakte mense wat nie die Here nodig het nie (22:8-11a). “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” (Sp.3:5-6). Vertrou jy op jouself en nie op die Here nie? Het jy opgehou om te bid en jou Bybel te lees?
[3] Moenie soos Sebna te veel van jouself dink nie (22:16). Daar bestaan iets soos ‘n gesonde menswaardigheid en selfrespek, maar dit is glad nie waar dat jy ‘n fantasiese selfbeeld moet hê, sodat jy elke dag in die spieël vir jouself sê hoe goed, mooi en suksesvol jy is nie. Dit is niks anders as hoogmoed nie. En as jy hoogmoedig is, sal jy hard val (22:15-19, Sp.16:18).
[4] Dié wat op hulleself en hulle eie vermoeëns vertrou, vertrou nie op die Here nie, en kan nie gered word nie (22:14, Lk.18:9-14). Hulle hoop is ydel en leeg; dit kan hulle nie red nie. Net dié wat in Christus glo kan met sekerheid weet dat God hulle nou en op die oordeelsdag sal red (Rm.8:1). Moet dan nie op jouself vertrou nie, maar op die Here.
[5] Wat mense op jou begrafnis van jou sê is nie naastenby so belangrik soos waar jy sal wees wanneer hulle dit sê nie (22:16-18). Sal jy in die hemel of in die hel wees? Dit is die groot vraag wat jy vir jouself moet vra. Dié wat op Jesus vertrou en in Hom glo sal in die hemel wees. Hy het die sleutel van Dawid om ons in die Koninkryk van God te laat inkom (Op.3:7, Lk.10:21-22).
[6] Moenie op ander vertrou en in hulle glo om jou te red nie (22:23-25). Jy kan nie hemel toe gaan omdat jou pa ‘n dominee was, of omdat jou ouma die Here gedien het nie. Jy kan nie op grond van jou ouers se geloof gedoop word en dink dat jy nou deel van God se spesiale se verbond met die kerk is nie.
Jou geloof moet op niemand anders rus as op Jesus en sy verlossingswerk nie. Om op jouself of iets anders te vertrou, is om op sand te bou. As die hooggety van God se oordeel inkom sal die sandkasteel van jou lewe inmekaar tuimel. Vertrou daarom op die Here en nie op jouself nie.
[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.200