Hebreërs 4:1-13
Meer as 90% van die mense met wie ek die evangelie deel, is oortuig hulle gaan hemel toe. As ek hulle vra hoe hulle dit weet, sê die meeste van hulle: ‘Want ek bid elke dag en gaan kerk toe.’ Maar die Hebreërs was godsdienstig, en tog het die outeur hulle gewaarsku om nie die rus van die hemel te mis nie. As jy ‘n trein verpas, kan jy altyd weer op die volgende een klim. Maar as jy die trein na die hemel mis, kry jy nie nóg ‘n kans nie. Maak dus seker jy haal hierdie trein deurdat jy die volgende drie opdragte uitvoer.
- Glo die evangelie (v.1-5)
Toe ek eenkeer met my motorfiets op die gras ry en die rem trek, toe gly ek. Ek het amper geval. Ek het nie uit my fout geleer nie. ‘n Paar maande later het ek dieselfde gedoen en geval.
Ongelukkig werk dit geestelik ook so: ons leer nie uit ons eie en ander mense se foute nie. Ons dink dat ander mense die hemel sal mis as hulle die evangelie ligtelik opneem en met hulle sonde aanhou. Ons oortuig onsself dat dit nie met óns sal gebeur nie. Ek sien dit wanneer ek die evangelie met mense deel. Party van hulle erken dat hulle in sonde lewe, maar dink nog steeds dat hulle hemel toe gaan.
Die voorbeeld van sulke mense moet ons laat vrees. Dit is wat die Hebreërskrywer by sy lesers wou tuisbring: as Israel weens hulle ongeloof nie God se rus kon ingaan nie, moes die lesers 3:7-11 ter harte neem en vrees (v.1). Ons moet ook vrees dat party mense in ons gemeente God se verlossing en die rus van die hemel sal mis (v.1, 12:15). Ek is oortuig dat Jesus vir ons gemeente sê: ‘Julle doen a, b en c goed, maar Ek het x, y en z teen julle... Baie mense in julle gemeente gehoorsaam My, maar daar is ook ‘n klomp van julle wat My nie eer nie.’ (Op. 2-3).
Ek is besorg oor party van ons mense en tog skryf ek jou nie af nie. Ek herinner jou eerder daaraan dat die belofte om die rus van die hemel in te gaan, nog staan (v.1). Jy het die evangelie gehoor net soos Israel. Hulle het dit in skadus en tipes gehoor (die diereoffers, die tabernakel, die Beloofde Land, die beloftes van die Messias, ens.), terwyl jy dit volledig gehoor het. Om egter net die evangelie te hóór, is nie genoeg nie. Israel het dit gehoor, maar geglo nie (v.2). Hulle het nie die goeie nuus geglo dat God die Beloofde Land vir hulle kan gee nie. Daarom kon hulle nie die land ingaan nie (v.2, 3:19, Num. 13-14).
Moenie soos hulle wees nie, maar glo en wees gehoorsaam soos Moses, Josua, Kaleb, en die res van die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testament (v.2-3). Jy kan nie die rus van die hemel ingaan as jy die evangelie en die Woord van God in twyfel trek nie. Jy kan nie soos postmodernes en liberales glo die Bybel is irrelevant en nog steeds dink jy is ‘n Christen nie. Jy móét glo wat God sê (v.3).
Om te glo beteken meer as net dat jy instem met jou verstand. Die duiwels glo ook (Jak. 2:19). Geloof beteken eerder om die feite van Jesus se kruisdood en opstanding te aanvaar en op grond daarvan berou te hê dat jy teen ‘n liefdevolle Verlosser gesondig het. Geloof beteken ook dat jy jou bekeer en glo dat God sy Seun se dood in jou plek aanvaar.
Glo jy? Dan sê God dat Hy jou vergewe. Jou gewete hoef nie meer rond te skarrel nie. Jy kan rus (v.3). Jy hoef nie meer God se guns te probeer wen nie. Rus eenvoudig in die wete dat Jesus die Vader se guns namens jou gewen het.
As jy nié volgens die Bybelse definisie glo nie, sweer God in sy toorn dat jy nié die rus van die hemel sal ingaan nie (v.3, Ps. 95:11). Jy het nie ‘n verskoning vir jou ongeloof nie. God se goedheid, bestaan, almag en wysheid is van die begin af sigbaar in die skepping wat Hy gemaak het (v.3, Rom. 1:19-21). Jy kan nie sê: ‘Ek het nie geweet Hy bestaan nie; ek het nie geweet Hy is goed, genadig, almagtig om my te red nie; ek het nie geweet Hy wil die rus van verlossing vir ons gee nie.’
‘Jy hét geweet,’ sê die Bybel. Jy werk ses dae en rus een (Eks. 20:8-11). Waar kom dit vandaan? God het wêreld in ses dae geskep en op die sewende dag gerus (v.4, Gen. 2:2). Hy het as Koning op sy troon gaan rus en om sy goeie skepping te geniet (Gen. 1:31, Ps. 132:8, 14). Sy rus beteken nie dat Hy onaktief geraak het nie (Joh. 5:17). Dit beteken eerder dat Hy ná die sesde dag niks nuut geskep het nie, maar dat Hy alles onderhou (Kol. 1:17, Heb. 1:3).
Israel kon in hierdie rus deel en die Here se rus en verlossing geniet. Omdat hulle egter ongelowig was, het Hy hulle verbied om sy rus in te gaan (v.5). Dít is dan die groot rede hoekom mense die rus van die hemel mis. Dit is nie dat God nie bereid is om dit vir hulle te gee nie, maar eerder dat hulle dit nie wíl hê nie. As hulle moet kies tussen hulle werk, vriende, braai, sport, drank, familie en ontspanning aan die een kant, of Jesus, die Bybel, gebed en die kerk aan die ander kant, sal hulle elke keer die eerste opsie kies (Luk. 14:18-20). Maar as Jesus nie vir jou nr. 1, 2, 3 en alles is nie, is jy nie werd om sy dissipel te wees nie (Luk. 14:26, 33).
- Koop die tyd uit (v.6-10)
Soms adverteer besighede ‘n produk wat vir ‘n beperkte tyd op ‘n spesiale aanbod is. As jy egter lank genoeg wag, kom die aanbod weer. Met die evangelie is dit anders. Die tyd is regtig beperk. Israel het die goeie nuus van ‘n land van melk en heuning gehoor, maar die kans verbeur om dit in te gaan, omdat hulle ongelowig was en dit nie met beide hande aangegryp het nie (v.6, 3:19, Num. 13-14).
Moenie so wees nie, maar gebruik die kans wat die Here jou gee (v.6). Vandag het jy die geleentheid om die Here se rus in te gaan (v.7, 2Kor. 6:2). Moenie wag tot môre nie, want dalk verloor jy jou kans. Dalk is vandag jou laaste dag, of die laaste keer wat jy die evangelie hoor. Dalk besluit die Here om jou ná vandag aan die hardheid van jou hart oor te gee, sodat jy nooit weer die geleentheid sal hê om jou te bekeer nie (6:4-6). Moet dan nie jou kans weggooi en jou hart verhard nie (v.7). Sê eerder dankie vir die voorreg wat jy het om die evangelie te hoor.
Jy is meer bevoorreg as die Israeliete onder Josua, want selfs húlle het nie die ware rus ontvang nie (v.8). Hulle het nou wel die Beloofde Land gekry, maar die rus was beperk (Rigt. 3:11, 30, 5:31, 8:28). A.g.v. hulle sonde het die Here vyande gestuur om die rus te versteur.
Die les wat ons hieruit leer, is dat Jesus groter is as Josua, omdat Hy deur sy kruisdood en opstanding ‘n ‘nuwe dag’ van rus en verlossing kom gee het [Jesus en Josua is die Griekse en Hebreeuse weergawes van dieselfde naam. Dit beteken ‘Jahwe verlos’.]. Dit is nie die Sewendedag Sabbat soos aan die einde van die skeppingsweek nie, maar die Sabbatsrus van verlossing en die hemel vir die volk wat Hy met sy eie bloed gekoop het (v.8, 4, Matt. 11:28-29, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).
Wie is hierdie volk? Hulle is dié wat in Jesus glo, ‘n nuwe skepping is en in Hom rus vind vir hulle siele (v.10, 3, 2Kor. 5:17). Hulle herdenk nie hierdie rus op die sewende dag soos ná die skepping nie, maar op die eerste dag van die nuwe skepping; die dag van Jesus se opstanding (Ps. 118:22-24, Hand. 4:9-10, Matt. 28:1, Joh. 20:1, Hand. 20:7, 1Kor. 16:2, Kol. 2:16-17, Op. 1:10).
As die rus van verlossing en die viering van Jesus se opstanding op ‘n Sondag vir jou ‘n straf is, gaan die hemel vir jou hel wees, aangesien dit ‘n ewige Sabbat is (Op. 14:13). As die erediens jou verveel en jy verplig voel om hier te wees; as jy alewig die horlosie dophou en nie kan wag om hier uit te kom nie, sal jy nie die hemel geniet nie. Ek weet dat ons nog sonde het, dat predikers partykeer vervelig is, dat jy soms uit asem raak wanneer ons sing, en dat jy soms die draad van mense se gebede verloor. As jy egter iets van die rus van verlossing verstaan, wens jy om by die Here te wees. Jy wens jy hoef nie môre skool toe, of werk toe te gaan nie. Jy wens Jesus kom vanaand, sodat jy vir ewig saam met die gelowiges in sy teenwoordigheid kan wees. Jy is soos iemand wat wens dat die vakansie nooit ophou nie.
- Strewe om sy rus in te gaan (v.10-13)
Die Engelse woord ‘relentless’ beteken om aan te hou. Eintlik is dit ‘n bietjie sterker as dit en verwys dit na iemand wat aanhou tot hy sy sin kry. Sommige boemelaars is so. Hulle sal aanhou roep, totdat ek uitkom en hulle help.
So moet jy wees met die rus van verlossing: beywer jou tot jy dit gekry het (v.11). Soek dit ook vir ander in die gemeente (v.11, ons). Vermaan hulle as jy sien dat hulle besig is om te verslap (3:13). Party van julle sal dit nie doen nie, want jy gee nie eers om vir jou eie siel nie. Jou geestelike leiers gee meer om vir jou siel as jy. Hulle bid vir jou siel, terwyl jy salig onbewus is van die geestelike gevaar waarin jy verkeer. Jy bid nie vir jou geestelike welstand nie en gebruik ook nie die middele van God se Woord, gebed en die kerk wat die Here jou gegee het om te groei nie. As dit nie vir jou geestelike leiers was nie, het niemand omgegee vir jou siel nie (Ps. 142:4). Jou vriende stel nie belang in geestelike dinge nie. Hulle eie siele is nie eers vir hulle belangrik nie; hoekom sal jóú siel dan vir hulle belangrik wees?
Moenie geestelik onverskillig wees nie. Baie mense wil by die smal poort ingaan, maar hulle kan nie, omdat hulle nog die wêreld soek (Matt. 19:21-22). Stry om in te gaan (v.11, Luk. 13:24). Die Here wil nie hê enigiemand moet tot ‘n val kom en die hemel mis nie (v.11, Eseg. 18:32, 2Pet. 3:9). Dalk sê jy dat jy die hemel soek, terwyl jy eintlik net die voordele soek wat Hy jou kan gee. Of jy begeer regtig die Here, maar twyfel of jy gered is. Die Here weet wat in jou hart is (v.13) en wys deur sy Woord in watter een van die kategorieë jy val (v.12).
Hy het Ps. 95 gebruik om die Hebreërs se harte bloot te lê (3:7-11, 4:3, 5, 7) en hopelik gebruik Hy vandag Heb. 4 om te wys wat in jóú hart is. Die Woord van God is lewend (v.12). Ps. 95, Heb. 4 en die res van die Bybel is nie irrelevant en verouderd soos liberales en postmodernes glo nie. Dit is nog so lewend en relevant soos die dag wat dit geskryf is (v.12).
Dit is ook kragtig om deur die Gees ons sonde uit te wys, ons van binne nuut te maak, en ons te verander (v.12, Joh. 17:17, Hand. 20:32, 1Tess. 2:13, Jak. 1:21, 1Pet. 1:23). Dit is skerper as ‘n tweesnydende swaard (v.12. Jes. 49:2, Op. 1:16). Die Gees gebruik dit om die diepste deel van ons menswees—siel en gees—oop te sny (v.12, Ef. 6:17). Deur die Woord werk Hy waar niemand anders kan nie. Net soos wat ‘n vlymskerp swaard deur harde gewrigte tot by die sagte murg sny, gebruik die Gees sy Woord om harte van klip te penetreer en vir die sondaar ‘n hart van vlees te gee wat sensitief is vir die evangelie (v.12, Jer. 23:29, Eseg. 36:26).
God se Woord beoordeel die oorlegginge en gedagtes van die hart (v.12). Dit wys wat jy dink en wat jou motiewe is (v.12, 1Kor. 14:24-25). Dit is soos ‘n spieël waarin jy jouself sien. Dit weet of jy net sê dat jy ‘n Christen is, terwyl jou hart eintlik op ‘n ander plek is. Dit weet ook of jy onnodig oor jou redding twyfel.
Ek wil dus aanraai om jouself aan die Woord van God te onderwerp. Lees dit elke dag en vra die Here om te wys wat in jou hart is. Vra Hom om jou te wys as jy jou eie hart verkeerd opsom. Hy weet beter as jy wat in jou hart is (Jer. 17:9-10). Hy weet alles; niks kan van Hom weggesteek word nie (v.13, Job 34:21, Ps. 33:13-15, 139:1-4, Spr. 5:21, 15:3, 2Kron. 16:9). Alles is oop en bloot voor sy oë (v.13, Job 26:6, Spr. 15:11). Lig en donker is vir Hom dieselfde (Ps. 139:11-12).
Hy is die God met wie ons te doen het (v.13). As jy ongered is, sal jy moet rekenskap gee van jou woorde, dade, gedagtes en motiewe (Pred. 12:14, Rom. 2:16, 1Kor. 4:5). As jy gered is, vergewe Jesus al jou sonde en kry jy die perfekte rekord van sý woorde, dade, gedagtes en motiewe (2Kor. 5:21). Hoe kan jy nié hierdie Jesus liefhê met alles wat jy het en is nie?
Only one life,
‘twill soon be past,
Only what’s done
for Christ will last.
—C.T. Studd (1860-1931)