Lukas 9:37-43a
In ’n bekende skildery van Raphael (1483-1520) is Jesus op die berg van verheerliking, terwyl die dissipels onder in die vallei misluk toe hulle ’n demoon nie kon uitdryf nie. Die vallei is donker, terwyl Jesus op die berg met lig omhul is.
Dié kontras moet ons aanspoor om minder op onsself te vertrou en meer op Jesus: “Hy moet meer word, en ek minder.” (Joh. 3:30).1
1. Menslike mislukking (v.37-41)
Baie predikante ly aan PSD: Post Sunday Depression. Die hele week werk vir hulle op na ’n Sondag. Wanneer die gegewe Sondag verby is, is hulle wiele pap en beleef hulle ’n blou Maandag.
So was dit met Moses nadat hy vir 40 dae in God se teenwoordigheid op die berg was (Eks. 24:15-18). Toe hy van die berg afkom, het die Israeliete ’n afgod aanbid (Eks. 32). Dit het hom gebreek.
Elia het ’n soortgelyke ervaring gehad. In 1Kon. 18 het hy die Baälprofete op ’n berg oorwin toe God vuur uit die hemel stuur. In 1Kon. 19 het hy depressief geraak toe Isebel hom wou doodmaak.
Dieselfde het in Lukas 9 gebeur toe Moses en Elia op die berg aan Jesus verskyn het. Jesus se gesig het soos die son gestraal en die Vader het Hom as sy unieke en geliefde Seun uitgewys. Toe Hy egter van die berg afkom, het sy dissipels onder in die vallei misluk (v.37-41). Die skrifgeleerdes het met die dissipels gestry (Mark. 8:14) en daar was ’n skare by hulle. Toe die skare vir Jesus sien, was hulle bly en het hulle Hom tegemoet gehardloop (v.37, Mark. 8:15). ’n Man uit die skare het vir Jesus gesê: “Meester, ek smeek U, kom kyk asseblief na my seun, want hy is my enigste kind.” (v.38). Hy het desperaat uitgeroep: “Here, ontferm U oor my seun” (Matt. 17:15). Dit was sy enigste seun (v.38, vgl. 7:12, 8:42).
Is daar iemand oor wie jy so voel; ’n geliefde familielid of vriend? Bring die persoon in gebed voor die Here en smeek Hom om jou te help. Ek besef dat jy dit dalk al in die verlede gedoen het en dat Jesus nee gesê het. Moenie dat dit jou afsit nie. Hierdie is ’n nuwe saak. Lê dit aan die Here se voete (18:1-8, Matt. 15:21-28, Gen. 32:26, Jes. 62:6-7). Al sê Hy ook nee is dit vir ’n baie groter ja (sien Mark. 14:32-42, 2Kor. 12:7-10, Heb. 5:7).
Vrees jy dat niemand jou probleem kan oplos nie? Is dit dalk hoekom jy dit ook nie vir die Here wil bring nie? Die pa in ons storie het ’n baie groot probleem gehad. Hy beskryf sy seun se toestand as volg: “Kyk, ’n gees pak hom gereeld beet en dan gaan hy skielik aan die skreeu. Hy gee hom stuiptrekkings met skuim om die mond, en verniel hom en wil hom beswaarlik los.” (v.39). Hierdie is meer as gewone epilepsie. Ons praat hier van ’n demoon wat die seun doofstom gemaak en hom in water en vuur gegooi het om hom te vernietig (Matt. 17:15, Mark. 9:17-18, 25). Dit het byna elke dag gebeur; die gees het hom skaars gelos (v.39).
’n Mens kan verstaan dat die pa desperaat is, want hoe baklei jy teen ’n gees? Jesus weet hoe en daarom is jou grootste krisis vir Hom geen krisis nie. Al is jou probleem ook baie erg, dra jy dit elke dag met jou saam en gebeur dit al vir jare; Jesus kan dit oplos (v.39, Mark. 9:21). Gee die saak vir Hom (1Pet. 5:7).
Dalk sê jy: ‘Ek was al by die kerk; by predikante, beraders, sielkundiges, geloofsgenesers en dokters—niemand kan my help nie. Ek is kwaad vir die Here en gaan nie meer kerk toe nie.’ Dit klink of jy by die dissipels was en dat hulle misluk het (v.40). Hoekom is jy kwaad vir die Here? Hy is nie sy dissipels nie. Lê jou saak voor Hom. Maak seker jy doen dit vir die regte redes en met die regte motief:
“Wat onreg betref, as ek dit in my hart sou gewaar, sou my Heer nie geluister het nie.” (Ps. 66:18).
“Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring.” (Jak. 4:3).
Is jy die persoon wat iemand anders wou help en misluk het (v.40)? Hoekom het jy misluk? Hoekom het die dissipels misluk, veral as Jesus hulle in v.1 oor alle demone mag gegee het? Die rede vir hulle mislukking was kleingeloof (Matt. 17:19-20). Toe die dissipels die demoon die eerste keer nie kon uitdryf nie, moes hulle aangehou het om v.1 te glo. Dit opsigself was nie genoeg. Hulle moes Jesus se voorbeeld volg en ’n lewe van gebed kweek (v.18, 28-29, 32, Mark. 9:28-29). Hulle het dit nie gedoen nie, maar het op hulle eie krag staatgemaak. Daarom was hulle oneffektief en kragteloos.
Is ons nie maar dieselfde nie? Ons is soos die NG dominee wat in 2011 gesê het gebed werk nie.2 Ons sê dit wel nie so nie, maar ons lewe so: ons is kleingelowig en biddeloos. Soos die dissipels kies ons slaap, TV, ontspanning, kuier, sport, werk en ander dinge bo gebed (v.28-29, 32). Om dié rede is baie gemeentes nie eers ’n kerslig in ons donker land, omgewing en samelewing nie. Om ’n slag teen die koninkryk van duisternis te slaan, benodig ons die Here se krag. Hiervoor moet ons op ons knieë lewe; in die binnekamer en by die bidure.
Doen jy dit? Het jy ’n persoonlike gebedslewe? Hoe sterk is dit? Is jy deel van jou gemeente se biduur? Is dit vir jou ’n prioriteit om daar te wees? Indien nie, moet jy nie wonder as die magte van duisternis weier om uit jou lewe, gesin en samelewing te wyk nie. Moenie wonder as daar nie bekerings is nie. Spurgeon vertel van ’n gemeente wat vir 15 jaar nie ’n biduur gehad het nie. Die leraar het bedank en die kerk het byna uitgesterf.3
Vir ’n gemeente om kragtig te wees, moet ons bid. Dit is hoe die eerste gemeentes in Handelinge was (Hand. 1:14, 2:42, 4:24-31, 6:4, 9:11, 40, 10:9, 12:5, 12, 13:2-3, 14:23, 16:25, 20:36, 21:5, Rom. 1:9-10, Ef. 1:16, 3:14, 6:18-20, Kol. 1:9, 4:2, 1Tess. 1:2, 3:10, 5:17, 25, 2Tess. 3:1, 1Tim. 2:1, 8, ens.). Dit is hoekom hulle bekerings gesien het en verskil in die wêreld gemaak het (Hand. 2:41, 47, 4:4, 5:14, 6:1, 7, 8:5-8, 12, 9:35, 42, 11:21, 24, 12:24, 13:44, 49, 14:1, 21, 16:5, 17:4, 12, 18:8, 19:10, 20, ens.).
Sal jou werk, familie, woonbuurt en dorp slegter af wees as jy nie meer daar is nie en jou gemeente ophou bestaan? Of sal hulle nie eers weet jy is weg nie? Om regtig ’n verskil te maak, moet ons ons aan gebed wy. Sowat 150 jaar gelede het Andrew Bonar gesê: ‘O brother, pray; in spite of Satan, pray; spend hours in prayer; rather neglect friends than not pray; rather fast, and lose breakfast, dinner, tea, and supper—and sleep too—than not pray.’4
Die meeste mense doen dit nie, omdat hulle deel van ’n ongelowige en verdraaide geslag is (v.41). Die dissipels was so: hulle het v.1 betwyfel en was biddeloos. Die skrifgeleerdes was so: hulle het met die dissipels gestry, maar het niks gedoen om die seun te help nie (Mark. 9:14). Die skare was so: hulle het net wonderwerke gesoek (Mark. 9:15, 25). Die seun se pa was so: hy het nie heeltemal geglo Jesus kan hom help nie (Mark. 9:22-24). Almal van ons is so, sodat Jesus moes sterf om ons vry te maak (v.41, 44, Deut. 32:5, Hand. 2:40).
Is jy ongelowig en verdraaid (Fil. 2:15)? Dit is hartseer dat party teoloë en predikante ongelowig en verdraaid is. Ek verwys na leiers wat waarhede soos die maagdelike geboorte verwerp; wat homoseksualiteit en saambly goedkeur. Hoe sal ons die wêreld vir die Here bereik as ons soos hulle is? Ons sal nie. Mens sien dit in Europa waar kerkgeboue leeg staan. Ons sien dit in Suid-Afrika waar liberalisme die kerk doodmaak. ’n Gemeente in Kemptonpark het toegemaak, omdat hulle ’n liberale predikant gehad het.
Jesus het nie geduld met mense wat na vele bewyse nog steeds nie glo nie (v.41). In ons eie gemeente is daar sulke mense. Hulle sit hulle lewe lank in die kerk—hulle sien hoe die Here gebede beantwoord en hoe mense om hulle gered word, maar nog steeds bly hulle ongelowig en dien hulle die wêreld. Moet die Here hulle vir ewig verdra (v.41)? Wanneer sal jy nie net jou probleme nie (v.41), maar jouself vir die Here gee? Dit geld ook as jy ’n Christen is: moenie langer oor jou probleem top nie, maar gee dit vir die Here. Hy kan, wil en sal jou help: “Bring jou seun hier.” (v.41).
2. Die majesteit van God (v.42-43a)
As ek aan die woord majesteit dink, sien ek vreeslose maanhaar leeu. Dit is hoe die Bybel vir Jesus beskryf: “die Leeu uit die stam van Juda” (Op. 5:5). In v.42-43a sien ons sy majesteit. Toe die pa met sy seun nader kom, toe skreeu die demoon en gooi hy die seun teen die grond, sodat hy stuiptrekkings gekry het (v.42, Mark. 9:26). Die demoon was vreesbevange vir Jesus (Jak. 2:19) en het ’n laaste poging aangewend om die seun te verniel. Jesus het die demoon bestraf, die seun genees en hom vir sy pa teruggegee (v.42).
Jesus het mag oor Satan en alle demone. Hy het hulle aan die kruis oorwin (Kol. 2:15, 1Joh. 3:8) en werk nou deur gemeentes wat bid en die evangelie deel om mense uit die duiwel se mag te bevry en hulle na God toe te bring (Hand. 26:18, Kol. 1:12-14).
Glo jy dit of wil jy moed verloor, omdat die saak hopeloos lyk: drank, dwelms, misdaad, seksuele losbandigheid, egskeiding, aborsie, korrupsie, vals godsdiens, pornografie en meer? Laat ons nie biddeloos en ongelowig wees, asof Jesus en die evangelie onvoldoende is om die situasie te beredder nie. Ja, mense is onder die mag van die bose (2Kor. 4:4, Ef. 2:2, 1Joh. 5:19). Maar om te lewe asof Jesus nog in die graf is, verheerlik nie die Here nie en maak ons oneffektief. Jesus het opgestaan en triomfeer oor sy vyande. Hy sal aan die Vader se regterhand bly tot al sy vyande onder sy voete is (Ps. 110:1). God is aan ons kant en daarom kan ons nie verloor nie:
“op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:18).
“Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31).
“Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1Joh. 4:4).
Glo jy dit? Bid dan vir ’n Goddelike ingrype en getuig vreesloos van Jesus en die evangelie. As ons dit nie doen nie, is ons so dood soos die bakstene in hierdie gebou en moet ons ons deure toemaak. Ek weet ons is klein en in onsself het ons nie krag nie. Dit beperk egter nie die Here nie. Wat ons in ’n honderd of selfs in ’n duisend jaar nie kan regkry nie, kan God in ’n oogwink doen (v.40, 42, Matt. 17:18). Voor 1860 het Nicolaas Hofmeyr van Calvinia probeer om sy mense by ’n biduur te kry. Vir ses jaar het nie een persoon die bidure bygewoon nie. Toe die herlewing uitbreek, was daar ewe skielik ’n geweldige gebedslas.5
Die meeste mense sal sê dit kan nie in ons tyd gebeur nie. Gevolglik vertrou gemeentes en denominasies op strategieë eerder as op gebed. Hulle mag dalk met gebed open en afsluit, maar vir die grootste gedeelte vertrou hulle op hulleself en hulle beplanning. A.C. Dixon het gesê: ‘When we depend upon organizations, we get what organizations can do; when we depend upon education, we get what education can do; when we depend upon man, we get what man can do; but when we depend upon prayer, we get what God can do.’6
Wanneer sal dit by ons insink? Solank as wat ons op onsself vertrou, sal die Here ons nie seën nie. As Hy dit moes doen, sou ons in ons beplanning roem en die eer vir onsself vat. Die Here wil hê ons moet soos die skare wees en ons oor God se majesteit verwonder. Sy heerlikheid moet ons skok, stomslaan en die wind uit ons seile haal, sodat ons monde van verbasing oophang (v.43a, Gk. ekplēssō).
Anders as die skare egter moet ons besef dat Jesus meer as ’n wonderwerkende prediker is. Hy is die Seun van die Allerhoogste God; vol heerlikheid en majesteit (v.28-36, 2Pet. 1:16-18). Dit is waarvoor ons moet mik: nie om deur die Here se krag te werk dat mense óns kan raaksien nie, maar sodat hulle die majesteit van God in Jesus kan sien en Hom kan aanbid. Dit kan net gebeur as hulle die boodskap van die kruis verstaan (v.44). Tensy die Here hulle oë open, sal hulle dit nie verstaan nie (v.45, 24:45-46). Jesus se wonderwerke trek mense nader (v.43), terwyl sy kruisdood hulle afsit (1Kor. 1:18, 23). Vir ongelowiges is die kruis afstootlik, want hoe kan ’n gekruisigde Messias iemand red? Volgens die kruis is jou beste werke onaanvaarbaar vir die Here en kan dit jou nie aanneemlik voor Hom maak nie (Jes. 64:6, Rom. 3:20). Volgens die kruis is jy ’n slegte sondaar wat die dood verdien. Jy is ’n ondankbare skirminkel wat vir jouself lewe. Ten spyte daarvan dat die Here jou gemaak het, gee jy Hom nie die eer wat Hom toekom nie. Jou lewe is vir Hom so afskuwelik soos wat ’n bloedbesmeerde kruis vir jou is. Daar is niks in die kruis wat die sondaar aantrek nie. Daarom moet die Heilige Gees sy oë open om te sien dat hy die ewige dood verdien; dat Jesus hom liefhet en sy straf gedra het, sodat hy redding en vergifnis kan kry.
Vra die Here om jou na die kruis toe te neem en jou daar los waar die Seun van God naak aan ’n bebloede kruis hang en vir jou bid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (23:34). Moenie na jou skoene kyk nie. Kyk na Jesus aan die kruis en vra sy Gees om jou oë te open, sodat jy deur al die bloed sy majesteit as die Verlosser van die wêreld kan raaksien.
Dit is wat Charles Simeon in 1779 gesien het. Toe hy op 19 jarige ouderdom Cambridge toe is, het die universiteit se opsiener daarop aangedring dat hy die nagmaal moet bywoon. Hy was bang, het oor die nagmaal opgelees en desperaat probeer om hom te bekeer. Niks het gebeur nie. Gedurende die Paasseisoen het hy ’n tweede boek oor die nagmaal gelees. Hy het die boodskap van die kruis begin verstaan, naamlik dat hy sy sonde op Jesus moet plaas soos die Jode simbolies hulle sonde op die offerdier se kop gelê het. En toe gebeur het:
‘...on the Wednesday began to have a hope of mercy; on the Thursday that hope increased; on the Friday and Saturday it became more strong; and on the Sunday morning, Easter-day, April 4, I awoke early with those words upon my heart and lips, “Jesus Christ is risen to-day! Hallelujah! Hallelujah!” From that hour peace flowed in rich abundance into my soul; and at the Lord’s Table in our Chapel I had the sweetest access to God through my blessed Saviour.’7
Jesus se majesteit is groter as al jou mislukkings. Die vraag is wat jy met jou sonde en mislukkings sal doen.
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 https://www.glodiebybel.co.za/bid-werk-nie-se-dominee-2011-02-28/
3 C.H. Spurgeon, An All-Round Ministry (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 1972 [1900]), 355
4 Aangehaal in John Piper, Brothers, We Are Not Professionals (Nashville, Tennessee: Broadman & Holman Publishers, 2002), 64
5 https://www.reformationsa.org/index.php/history/54-1860revival
6 Aangehaal in Piper, ibid., 56
7 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 302-3