Lukas 12:8-12
Ek’s nie ’n profeet nie, maar vervolging in die Weste is op ons. In Kanada is dit verbode om iemand uit die LGBT gemeenskap aan te moedig om heteroseksueel te word. Jy mag dit nie adverteer, preek of iemand hiervoor beraad nie. Selfs al wil die persoon hom bekeer en heteroseksueel word, mag jy hom nie help nie. Enigiemand wat hierdie wetgewing oortree, kan tronk toe gaan.1 Dus is die vraag nie of ons vervolg gaan word nie, maar wanneer. Jesus help ons om hiervoor gereed te maak.
1. Bely Jesus openlik (v.8-10)
Sowat 75% van ons land se bevolking bely dat hulle Christene is. Dit is maklik om Jesus te bely as almal om jou dit doen. Dit is moeilik om Hom te bely as mense jou hiervoor vervolg (v.4, 8). Sal jy Jesus bely as jy jou werk, huis, gesin, vryheid, lewe hiervoor kan verloor? Baie mense is gou om ja te sê, maar kry skaam jy skaam as die persoon langs jou die evangelie met iemand deel? Maak jy verskoning as die LGBT gemeenskap jou as ’n eng-denkende Christen uitkryt? Dan sal jy beswaarlik vir die Here se Naam tronk toe gaan of sterf.
Party roem dat hulle vir Jesus opstaan: ‘Ek sê reguit vir hulle as hulle sonde doen.’ Kan dit wees dat jy nie regtig vir Jesus opstaan nie, maar net daarvan hou om te baklei? Die vraag is nie of jy Jesus met jou mond bely nie, maar of jou lewe dit wys: “Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie?” (6:46).2 “Hulle bely dat hulle God ken, maar weerspreek dit met hulle dade; hulle is afstootlik en onversetlik, onbekwaam om enigiets goeds te doen.” (Tit. 1:16).
Moenie soos hulle wees nie. Bely Jesus openlik deur woord en daad: “Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die Seun van die Mens ook bely voor die engele van God.” (v.8). Om Jesus openlik te bely beteken nie jy toet, omdat die plakker op die kar voor jou sê jy moet dit doen nie: Hoot if you love Jesus. Dit beteken nie dat jy boodskappe op sosiale media rondstuur nie. Jy weet waarvan ek praat. Iemand stuur vir jou ’n boodskap wat sê: Deel hierdie boodskap met al jou kontakte as jy jou nie vir Jesus skaam nie. Die implikasie is dat jy Jesus verloën as jy die boodskap nie vir almal aanstuur nie. Dit is onsin. Ek hoef nie op my toeter te lê of ’n boodskap vir almal aan te stuur om te wys dat ek vir Jesus liefhet nie. Die ware gelowige pronk nie op die verhoog nie. Hy lei ’n stil en rustige lewe (1Tim. 2:2), is vol goeie werke, bepaal hom by sy werk en hou sy neus uit ander mense se sake (Matt. 5:16, 1Tess. 4:11-12).
Moenie sê jy word vir Jesus vervolg as jy bombasties is, die Bybel in mense se kele afdruk, stiltetyd of evangelisasie doen terwyl jy moet werk nie (1Pet. 2:19-20, 4:14-16). Ek het ’n oom geken wat een van sy werkers hieroor aangespreek het. Die man het evangelisasie gedoen, terwyl hy moes werk. Toe die oom hom aanspreek, toe sê hy: ‘Are you going to prevent me from sharing the gospel at work?’ Die oom het voet by stuk gehou. Hy wou by die jongman tuisbring dat evangelisasie met swak en agterstallige werk nie die Here behaag nie. Gee liewer jou beste en werk met die regte gesindheid. Ongelowiges sal dit sien en jou oor die Here begin uitvra. Wees gereed met ’n antwoord (1Pet. 3:15).
Maak seker dat jy die regte Jesus bely. Wat help dit jy bely ’n vals Jesus en word soos die Jehovas Getuies vir Hom vervolg? Bely die Jesus van die Bybel: Jesus is God en het mens geword; Hy het sondeloos gelewe, het vir ons sonde sterf, is begrawe, het op die derde dag uit die dood opgestaan en aan verskillende mense verskyn (Joh. 1:1, 14, 8:46, 1Kor. 15:3-8). Wees bereid om hierdie Jesus te bely. As jy dit doen, sal Hy jou voor die engele bely, sodat hulle weet dat jy syne is (v.8, 15:10, Dan. 9:23, 10:11, 19, Matt. 18:10, Heb. 1:14, 2:11-13).
Jesus se belydenis voor die engele spreek verder van sy belydenis voor die Vader wat voor die engele op sy troon sit (Matt. 10:32). Jesus sal voor die Vader sê dat Hy jou met sy bloed gekoop het en dat jy syne is (vgl. 1Joh. 2:1-2). Maar as jy Hom verloën, sal Hy jou verloën (v.9, 9:26). Hy sal sê dat Hy jou nooit geken het nie en dat jy nie aan Hom behoort nie (Matt. 7:21-23).
Soos vuur die suiwerheid van goud toets, sal vervolging jou ware kleure wys (Spr. 17:3). As die vals Christen onder druk is, ontken hy Jesus en die Bybel (v.4, 9). Dit gebeur nie net in Somalië en Afghanistan nie, maar as die LGBT gemeenskap jou van haatspraak aankla en daar ’n kans is dat jy jou werk verloor of uit die sportspan geskors word.
‘Maar wat as ek Jesus verloën om my werk te behou en Hom dan in die geheim dien?’ wil iemand weet. Dan is jy soos Naäman toe hy gesê het: ‘Ek wil die Here dien, maar as ek saam met my koning voor die afgod buig, sal ek dit nie bedoel nie’ (sien 2Kon. 5:18). Om Jesus so te bely, werk nie. Sal jy tevrede wees as Jesus jou in die geheim as sy kind bely, maar op die oordeelsdag voor sy Vader en die engele sê dat Hy jou nie ken nie? Bely Jesus skaamteloos (Rom. 1:16). Sê openlik jy kan nie saam met die stroom gaan en dinge doen wat die Here bedroef nie: ‘Ek kan nie vir die maatskappy aan die pride parade deelneem nie... Ek kan nie ’n gay troue bywoon nie... Ek kan nie vals inligting op die belastingvorms invul nie... Ek kan nie by die jaareindfunksie wees waar almal dronk word nie.’
As jy jou vir Jesus skaam, hoekom wil jy by Hom in die hemel wees? Die Bybel sê jy sal nie (v.9, Op. 21:8). Pla jou gewete jou, omdat jy Hom in die verlede verloën het? Soos Jesus vir Petrus vergewe het, kan Hy jou vergewe (v.10, 22:31-34, 54-62, 24:34, Joh. 21:15-19). Wang Ming-Dao van China het van dieselfde getuig. Hy en sy vrou was in die tronk vir die evangelie. Die owerhede het druk op hom geplaas om ’n verklaring te onderteken. ‘Belowe dat jy net sal preek wat die Three-Self Patriotic Movement vir jou voorsê,’ het hulle beveel. Hy het geweier. Uiteindelik het hulle ’n leuen oor sy vrou vertel en gesê dat hy die verklaring moet onderteken. Hy het onder die druk geknak.
Nadat hulle hom vrygelaat het, het hy nie sy ooreenkoms met hulle nagekom nie. Hy het nie gepreek wat hulle gesê het nie. Maar sy gewete het hom gepla. Hy het in die strate geloop en vir homself gesê: ‘Ek is Petrus, ek is Petrus! Ek is Judas, ek is Judas!’ Hy het homself aan die owerhede oorhandig en gesê: ‘Ek het gejok. Ek was nie van plan om die ooreenkoms na te kom nie. Ek het die verklaring onderteken om vry te kom.’ Net daar het hulle hom weer toegesluit. Hy was in ’n donker gat van depressie, omdat hy die Here verloën het.
Op ’n dag toe bemoedig die Here hom uit Miga 7:9: “Die toorn van die Here sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.” (1953). Wang Ming-Dao het vergifnis ontvang en hom in die Here verbly. Hy is in 1979 vrygelaat en het die Here saam met sy vrou gedien, totdat hy in 1991 oorlede is.3
Daar is vergifnis as jy die Here verloën (v.10). Hierdie vergifnis is nie vir almal nie, maar vir dié wat Hom nie verder verloën nie en openlik bely (v.8-9). Thomas Cranmer (1489-1556) is ’n voorbeeld hiervan. Alhoewel hy ’n toegewyde gelowige was, het hy onder die druk van vervolging geswig en die evangelie afgesweer. Sy gewete het hom gekasty. Op die brandstapel het hy bely dat hy ’n fout gemaak het en sy regterhand eerste in die vlamme gesteek.4
Het jy Jesus met jou lippe of deur jou lewe verloën? Het jy Hom as die Seun van God ontken en op die ergste denkbare manier teen Hom gelaster? Hy kan jou vergewe: “Elkeen wat iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word...” (v.10). Die man wat langs Jesus aan die kruis gehang het, het Hom belaster, sy sonde bely en is vergewe (23:34, 39-43, Matt. 27:44). Die volk wat vir Jesus gekruisig het, het Hom belaster en is vergewe (Hand. 3:17, 1Kor. 2:8). Paulus het Hom belaster en is vergewe (1Tim. 1:13, 15). Wat die Here van jou vra, is dat jy die saak met Hom uitpraat:
“‘Kom tog, laat ons die saak uitpraat!’ sê die Here. ‘Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.” (Jes. 1:18).
‘Maar wat as ek teen die Heilige Gees gelaster het?’ (vgl. v.10b). Baie Christene vrees dat hulle dit gedoen het en verval in ’n depressie. Hulle voel wanhopig, beland in ’n inrigting en wil selfmoord pleeg. Die rede vir hierdie reaksie, is omdat hulle v.10b misverstaan: “...maar wie teen die Heilige Gees laster, sal nie vergewe word nie.” Hierdie sonde is nie dieselfde as in v.10a nie: “Elkeen wat iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word...” Iemand wat teen die Seun van die Mens laster, dink dat Jesus net ’n mens is. Paulus was so voor sy bekering en het Christus net volgens die uiterlike geken (2Kor. 5:16). Dalk sondig so iemand selfs deurdat hy Jesus se Godheid uitlag. Baie mense doen dit, omdat hulle nie weet wat dit beteken nie.
Latering teen die Heilige Gees is iets anders. Dit gebeur as die Heilige Gees Jesus onmiskenbaar as die Seun van God aan jou bekendmaak. Jy sien hoe Jesus mense se lewens radikaal verander; hoe hulle binne 24 uur nuwe mense is. Jy sien hoe die Here sy kinders se gebede kragtig beantwoord. Jy kan dit nie menslik verduidelik nie. Jy beleef verder hoe jou geheime dade, motiewe, begeertes en gedagtes onder die prediking van God se Woord oopgevlek word (1Kor. 14:24-25, Heb. 4:12). Die prediker sê dinge van jou wat net jy weet. Die dinge wat jy in die gemeente beleef, is bonatuurlik en goed. Maar dan draai jy om en sê dit is die duiwel se werk (11:15, Mark. 3:22, 29-30). Dit is die onvergeeflike sonde.
Party mense dink jy pleeg die onvergeeflike sonde as jy die Word of Faith beweging (soos op TBN gesien) se wonderwerke bevraagteken. Die feite is dat hierdie beweging ’n vals evangelie van voorspoed en gesondheid preek. Hulle sogenaamde wonderwerke is oë verblindery; ’n mens kan dit sielkundig of as die werk van demone verduidelik (Eks. 7:11, 22, 8:7, Deut. 13:1-5, Hand. 8:9-11, 13:6).
Die onvergeeflike sonde gaan oor die Heilige Gees wat Jesus as die God-mens uitwys. Die bewyse is oorweldigend, maar dan verhard jy jou daarteen. Hiervoor is daar geen vergifnis nie (v.10b). Dit is nie dat Jesus kragteloos is om jou te vergewe nie. Die rede hoekom Hy sy vergifnis weerhou, is omdat jy jou nie bekeer en jou sonde bely nie. Dit is nie ’n geval van iemand wat vergewe wil word, maar nie kan nie. Dit gaan liewer oor iemand wat hom voortdurend teen die Here verhard, totdat Hy hom uiteindelik sy sin gee (Eksodus 3-14, Spr. 29:1, Hand. 28:24-27, Heb. 6:4-6). Die Here verhard die persoon, omdat hy homself verhard het. So iemand kan en sal nooit na die Here toe terugkeer nie.
Vrees jy dat jy dit gedoen het? Wil jy jou bekeer, in Jesus glo en Hom aanroep? Dan het jy nie hierdie sonde gedoen nie. Moenie wag tot jy dit gedoen het nie, maar vra die Here onmiddellik om jou te vergewe (v.10a).
2. Vertrou die Heilige Gees (v.11-12)
’n Paar jaar gelede het ’n NG leraar hom teen homoseksualiteit uitgespreek. Hiervoor het ’n proponent (iemand wat sy teologiese studies voltooi het, maar nog nie ’n predikant van ’n gemeente is nie) hom by die Menseregtekommissie (MRK) verkla.5
Volgens Jesus sal godsdienstige mense jou vervolg: “En wanneer hulle julle voor die sinagoges...bring” (v.11, vgl. Gal. 4:29). Net so sal mense buite die kerk jou vervolg: “En wanneer hulle julle voor...die owerhede en die maghebbers bring” (v.11, vgl. 21:12, Matt. 10:25, Joh. 15:18-20). Hierdie mense voel ’n veer vir Jesus en die Bybel. Hulle kerkorde, tradisies, reëls en regulasies, konstitusies en menseregte is vir hulle die belangrikste. Hulle voel gemaklik met ’n ander Jesus wat hulle sonde goedkeur (2Kor. 11:4, 2Tim. 4:3-4). Hulle gee nie om as jy strewe om volgens Matteus 5-7 te lewe nie. Hulle bewonder Jesus as ’n wyse leermeester. Maar as jy Hom as Here en God aanbid, vervolg hulle jou (Joh. 20:28). Moenie sê dat Jesus die enigste weg van verlossing is nie (Joh. 14:6, Hand. 4:12). Moenie sê dat Hy alles van jou eis as jy Hom wil volg nie (Luk. 9:23, 14:26). Moenie sê dat jy jou aan sy lering moet onderwerp as jy sy dissipel wil wees nie (Matt. 28:19-20). Moenie sê mense se werke kan hulle nie red nie en dat Jesus ’n vervloekte dood aan die kruis moes sterf om ons van die vervloeking te red (Gal. 3:10, 13, Ef. 2:8-9). Moenie sê die Bybel is die enigste geïnspireerde, onfeilbare, foutlose, gesaghebbende, algenoegsame Woord van God nie (2Tim. 3:16). As jy dit sê, dan haat hulle jou.
Wat moet jy doen as hulle jou voor die beheerliggaam, dissiplinêre komitee, MRK, rugby unie, hof daag? Volgens v.11 “moet julle nie bekommerd wees oor wat julle ter verdediging moet sê nie”. In 21:14 lees ons: “Neem julle dan voor om nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie”.
In v.12 wys Jesus hoekom ons nie ’n toespraak vir die geleentheid hoef voor te berei nie: “want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat julle moet sê.” Hier gaan dit nie oor preekvoorbereiding nie. Natuurlik gee die Heilige Gees soms buitengewone wysheid in ’n herlewing, beradingsituasie, evangelisasie-gesprek of as jy jou teen dwaling moet uitspreek. Maar Jesus is nie teen deeglike voorbereiding of studie nie (Ps. 1:2, 119:97, Spr. 2:1-5, 16:20, Esra 7:10, Hand. 17:11, 2Tim. 2:7, 15, 4:13). Hier gaan dit oor vervolging (v.11-12). As jy jou in so ’n situasie bevind en nie weet wat om te sê nie, sal die Heilige Gees jou help (v.12, 21:15, Spr. 21:30, Matt. 10:19-20, Hand. 4:8, 13, 6:10).
Hy het dit in 1558 vir Alice Driver gedoen. Toe sy voor die biskop moes verskyn en hy haar aansê om Christus se fisieke teenwoordigheid in die nagmaal te bely, het sy geweier. Die res van die gesprek het as volg verloop:
Alice: Die brood is ’n teken van Jesus se liggaam.
Biskop: Jesus het gesê dit is sy liggaam.
Alice: Het Hy dan nie brood vir sy dissipels gegee nie?
Biskop: Nee, dit was sy liggaam.
Alice: Het die dissipels Hom daardie nag opgeëet?
Biskop: Ja, dit was sy liggaam.
Alice: Watter liggaam is dan die volgende dag gekruisig?
Biskop: Dit was Christus se liggaam.6
Die biskop kon Alice se wysheid deur die Heilige Gees nie weerstaan nie. As jy dieselfde wysheid wil hê, moet jy jou hart en gedagtes met die Bybel vul (Ps. 119:11). Berei jou voor vir die dag van vervolging. Die Heilige Gees sal sy Woord soos ’n swaard teen jou opponente gebruik (Ef. 6:17). Hy sal jou aan Jesus se woorde herinner (Joh. 14:26). Hy sal jou selfs groot en wonderbare dinge leer wat jy nie geweet het nie (Jer. 33:3). Hy sal op jou rus en jou help om die vervolging te deurstaan (1Pet. 4:14).
Soms wonder Christene of hulle dit sal maak as hulle vir Jesus se Naam vervolg word: ‘Wat as ek Hom verloën, omdat die pyn te erg is?’
In 1555 is Thomas Hauker vir sy geloof in Christus op die brandstapel geplaas. Sy vriende het vooraf gevra dat hy sy hande drie keer klap as die pyn draaglik is. Ongelukkig het hy aan die rook verstik. Hy is deur die vlamme verswelg. Toe sy vriende dink dit is verby, het sy hande deur die rook gekom en het hy drie keer geklap.7
Die Here sal met jou wees as jy vir sy Naam vervolg word (Matt. 1:23, Hand. 23:11, 2Tim. 4:17). Jesus het aan die kruis uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46), sodat ons dit nooit hoef te sê nie: “want Hy het gesê, ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie’” (Heb. 13:5).
1 https://www.canada.ca/en/department-justice/news/2021/11/government-introduces-legislation-to-ban-conversion-therapy-practices-in-canada.html
2 Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit 2020 Vertaling van die Afrikaanse Bybel.
3 Faith Cook, Singing in the Fire (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995), 19-32
4 Michael Reeves, The Unquenchable Flame (Nashville: Tennessee: B&H Academic, 2009), 138
5 https://www.glodiebybel.co.za/opsomming-van-klag-van-haatspraak-teen-chris-van-wyk/ en https://www.glodiebybel.co.za/chris-van-wyk-onskuldig/
6 John Foxe, The Acts and Monuments of the Church (New York: Robert Carter & Brothers, 1855), 974-5
7 John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs (New Kensington, PA: Whitaker House, 1981), 393-4