Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 December 2018

Maak die beste van 2019

Image result for 2019 painted on road

Efesiërs 5:15-18

Onthou jy wat jy verledejaar op Nuwejaarsdag gedoen het? Voel dit vir jou soos ‘n jaar gelede? Dit is ‘n cliché om te sê: ‘Die tyd vlieg,’ maar dit is waar. By die ABK Vergaderings het ‘n 68-jarige dominee vir my gesê: ‘Voor jy jou oë uitvee is jy so oud soos ek; dit gaan nét so...’ Omdat die lewe kort is, kan jy nie tyd mors nie. Wie weet of 2019 jou laaste jaar sal wees (Jak. 4:14)? Wat sal jy daarmee doen? In Ef. 5:15-18 leer Paulus ons hoe om die beste daarvan te maak.

 

  1. Wees wys (v.15)

Iemand wat sy kar bestuur, kan nog steeds ‘n mooi landskap waardeer en veilig wees. As jy egter motorfiets ry, moet jy harder konsentreer, omdat die geringste fout of ‘n gat in die pad jou lewe kan kos.

Net so moet jy versigtig en noukeurig let op hoe jy dag na dag wandel of lewe (v.15). Wandel soos dit by ‘n Christen pas (4:1). Moenie soos die heidene in dwaasheid en sonde wandel nie (4:17). Wandel in liefde (v.2). Wandel as mense wat nie meer in die duisternis van sonde is nie, maar in die lig van Christus (v.8). Moenie in dwaasheid wandel nie, maar in wysheid (v.15).

Om in wysheid te wandel, sal dit help om elke dag ‘n hoofstuk uit Spreuke lees, ‘n vers kies, daaroor bid en die Here se hulp vra om dit toe te pas. Om hierdie wysheid te kry, moet jy:

  • Die Here vrees (Spr. 1:7).
  • Hom daarvoor vra (Spr. 2:3, 6, vgl. Jak. 1:5).
  • Nederig wees (Spr. 11:2). Iemand wat hoogmoedig is,dink dat hy alles weet en sal nie vir wysheid vra nie.
  • Bereid wees om by wyse mense te leer (Spr. 8:33, 13:10, 19:20). Maak vriende met wyse mense (Spr. 13:20).
  • Uit ander mense se foute leer (Spr. 21:11).
  • Tug aanvaar (Spr. 22:15, 29:15, 31:26).
  • Nie eiewys wees nie (Spr. 3:7, 26:12, 28:26).

Hoe sal jou lewe lyk as jy wysheid het en daarin wandel?

  • Jy sal hard werk en nie lui wees nie (Spr. 6:6-8).
  • Jy sal mense vir die Here wen (Spr. 11:30).
  • Jy sal nie jou gesinen ander mense met jou woorde en aksies afbreek nie, maar hulle opbou (Spr. 12:18, 14:1).
  • Jy sal nie baie drink of met vriende uithang wat gedurig partytjies hou nie (Spr. 20:1, 23:19-21).
  • Jy sal nie geld mors nie (Spr. 21:20, 24:3-4).
  • Jy sal weet hoe om ‘n spanningvolle situasie te ontlont (Spr. 29:8).
  • Jy sal nie maklik aanstoot neem of jou humeur verloornie, maar kalm bly (Spr. 14:29, 19:11, 29:11).
  • Jy sal nie seksueel losbandig wees nie (Spr. 2:16, 7:4-5).
  • Jy sal dink voor jy doen of praat (Spr. 14:8, 29:20).
  • Jy sal nie aanhoudend praat nie, maarweet wanneer om stil te bly (Spr. 10:8).
  • Jy sal nie kwaadpraat van ander nie (Spr. 10:18).
  • Jy sal nie soos party mense sê: ‘Ek bly nie stilnie, maar sê wat ek dink’ (Spr. 12:23).
  • Jy sal uit jou foute en beproewings leer (Spr. 17:10, 27:22). Jy sal nie jou foute herhaal nie (Spr. 26:11).
  • Jy sal nie alewig wil stry nie (Spr. 20:3).
  • Jy sal jou nie steur aan mense wat jou slegsê nie (Spr. 12:16).
  • Jy sal die ander persoon se kant wil verstaan en nie net jou opinie wil lig nie (Spr. 18:2).
  • Jy sal nie net aan jouself dinknie, maar jou ouers in ag neem en hulle nie deur jou dwase besluite en aksies ruïneer nie (Spr. 17:25).

Volgens Jak. 3:17 lyk die wyse persoon se lewe ook soos volg: “rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.”

Jy kan nie hierdie wysheid hê as jy ongered is nie, aangesien dit slegs gevind kan word in Jesus en die evangelie (1:8, 17, 10, 1Kor. 1:24, 30, Kol. 2:3). Sonder Jesus is jy dwaas, al is jy ook die slimste wetenskaplike in die wêreld.

 

  1. Koop die tyd uit (v.16)

My goeie vriend Johan Delport het ysies verkoop toe hy op skool was. ‘n Ander kind het sý ysies goedkoper verkoop as wat Johan dit aangekoop het. Johan het die ander kind se ysies opgekoop en dit teen ‘n wins verkoop.

Net so moet jy die tyd uitkoop, totdat daar nie tyd oor is vir jou om sonde te doen nie (v.16). As jy ledig is, sal die duiwel en die wêreld vir jou iets kry om te doen. Dit is wat Paulus in v.16 bedoel: “koop die tyd uit, omdat die dae boos is.”

Hoe gaan jy jou tyd gebruik in 2019? Jy het wysheid nodig om te weet hoe (v.15-16, Kol. 4:5). Anders sal jou voornemens leeg bly. Het jy in 2018 gesê: ‘Ek wil hierdie jaar die Bybel meer lees, meer bid, meer betrokke raak in die kerk, iemand beter leer ken en meer dien,’ maar nog steeds nie daarby uitgekom nie? Sonder God se wysheid sal 2019 dieselfde wees.

Vra die Here se wysheid om nie net goeie keuses te maak nie, maar die beste keuses. Die beste keuses is as jy dinge doen wat ewigheidswaarde het. Dit beteken nie dat jy jou net met sg. geestelike dinge moet besig hou nie, maar eerder met dié dinge waartoe die Here jou geroep het. Doen wat jou hand vind om te doen. Sorg dat jy dit tot eer van die Here doen en dat dit ooreenstem met die Bybel.

Wat is hierdie dinge? Was die skottelgoed, doen jou werk, leer vir die eksamen, koop kruideniers, speel met jou kinders, spandeer tyd met jou huweliksmaat, slaap, hou vakansie, sny die gras, was die hond, lees jou Bybel, bid baie, dien ander mense, ens. Paulus sê op ‘n ander plek: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1Kor. 10:31).

Dit is nie tot verheerliking van God as jy jou werk doen, maar jou gesin afskeep nie. Dit verheerlik Hom ook nie as jy laat slaap of op Facebook is, terwyl jy moet werk nie. Moenie so leef, dat jy eendag sal moet sê: ‘Ek is jammer ek het nie meer tyd saam met my gesin deurgebring nie... Ek is jammer dat ek lui was en nie harder gewerk het nie... Ek is jammer dat ek nie meer betrokke was by die kerk nie... Ek is jammer dat ek nie meer tyd aan so-en-so gegee het nie... Ek is jammer dat ek nie genoeg tyd in die Woord en gebed spandeer het nie... ens.’

Beplan jou dag en week, sodat jy nie tyd mors nie. As jy geld mors kan jy dit terugkry (nie dat jy dit móét mors nie), maar as jy tyd mors kan jy dit nie terugkry nie. Jy kan dit veral nie terugkry as jy jou asem uitblaas nie. Maak daarom heel eerste seker dat jou sonde vergewe is, want as jy in die hel is, sal jy wens dat jy die tyd gebruik het om dinge reg te maak met die Here, maar dan sal dit te laat wees.

Moenie tevrede wees dat jy gedoop is of ‘n dag en datum van bekering het nie. Vra jouself of jou sonde vergewe is, of jy jou bekeer het, of jou gewete skoon is? Indien nie, moet jy nie tyd mors nie, maar op hierdie eerste dag van 2019 die Here vra om jou te vergewe en jou te red. Glo in Jesus en maak vandag nog dinge met Hom reg. As jy dit nie vandag doen nie, mag jy dalk net eendag hierdie preek onthou en sê: ‘Hoekom het ek dit nie maar net gedoen nie?’

 

  1. Doen God se wil (v.17)

Mense sê maklik dat hulle nie tyd het vir dit of dat nie. Maar dit is ‘n leuen. ‘n Mens máák tyd vir wat vir jou belangrik is: gym, vakansie, braai, vriende, familie wat van oorsee af kom, TV, die internet, geld maak, sonde, ens. Ons sit baie tyd in om ons liggame aan die lewe te hou (oefen, eet, dokter toe gaan, slaap), maar as dit by ons siele kom is ons roekeloos. Volgens Paulus moet ons nie dwaas wees nie, maar God se wil verstaan en dit uitvoer (v.17).

Hoe kan jy sy wil ken en doen? Maak tyd om die Woord te ken (Rom. 12:2). Neem jou voor om die Bybel meer te lees hierdie jaar. Vat ‘n kort boek soos Efesiërs en lees dit elke dag deur vir ‘n maand. Lees dit noukeurig. Dink en bid oor wat jy lees. Vra die Here om jou te help om dit toe te pas. As jy klaar is, beweeg jy na ‘n nuwe boek toe (bv. Filippense).

Maak ook vir jou ‘n lysie van die verse wat God se wil opsom:

  • Die Tien Gebooie in Eks. 20.
  • Jesus se opsomming van die Tien Gebooie in Matt. 22:37-40: ‘Jy moet die Here liefhê met jou hele wese en jou naaste soos jou’
  • “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).
  • “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery” (1Tess. 4:3).
  • “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1Tess. 5:16-18).
  • “Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring” (1Pet. 2:15).
  • “Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen... So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.” (1Pet. 3:17, 4:19).
  • “Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1Joh. 2:16-17).

Om hierdie dinge toe te pas, het jy die Gees se hulp nodig. Dit bring ons by v.18.

 

  1. Word met die Gees vervul (v.18)

Die storie word vertel van ‘n dronk man wat die Evangelis, D.L. Moody (1837-1899) op ‘n trein gesien het en gesê het: ‘Mnr. Moody, ek is een van jou bekeerlinge!’ Moody het hom geantwoord: ‘Jy moet een van mý bekeerlinge wees, want jy is verseker nie een van die Here s’n nie.’

Christene moenie dronk word of enigiets doen wat maak dat hulle losbandig lewe en nie beheer het oor hulle gedagtes, emosies, begeertes, woorde en dade nie (v.18). As jy te veel drank of pille drink, of ander mense se opinies te veel vrees, kan jy nie die tyd wys gebruik of die wil van die Here doen nie (v.15-17). Om God se wil te doen en jou tyd reg te gebruik, moet die Gees jou vul (v.18). Wat beteken dit en hoe gebeur dit?

Dit beteken nie dat jy die Gees gedeeltelik by jou bekering ontvang en ten volle wanneer jy met die Gees gedoop word en in tale praat nie. Volgens Rom. 8:9 en 1Kor. 12:13 woon die Gees in elke gelowige en word jy met Hom gedoop sodra jy tot bekering kom. As die Gees nie in jou woon nie, is jy ongered en deel van die wêreld (Joh. 14:16-17).

Vervulling met die Heilige Gees beteken eerder dat Hy jou al hoe meer beheer net soos wat alkohol ‘n dronk man beïnvloed. Net soos wat hy ‘vol’ is van alkohol, moet God se kinders ‘vol’ wees van die Gees en moet Hy jou beheer. Stel jouself tot sy beskikking, sodat Hy jou beheer. Ek hou nie daarvan om te sê dat jy die Gees moet ‘toelaat’ nie. Die Heilige Gees is soewerein en het nie jou toestemming nodig nie. En tog wil Hy hê dat jy jou hart en lewe vir Hom moet oopstel.

Om Geesvervuld te lewe is ‘n opdrag. Jý moet die Gees vra om jou te vul en jou te beïnvloed. Jý moet doen wat Hy jou beveel. Hy gaan dit nie vir jou doen nie. Volgens die Griekse teks moet jy dit aanhoudend doen. Ons glo nie soos die AEB in ‘n tweede genadewerk waarin jy ‘n hoër vlak van geestelikheid bereik nie. Ons glo eerder in ‘n tweede, derde, vierde, vyfde en meervoudige vervulling van die Heilige Gees (Hand. 2:4, 4:8, 31). Die Christen se lewe is nie soos ‘n glas wat half vol water is en voller kan word nie. Sy lewe is eerder soos ‘n klein ballon wat vol lug is, maar voller kan word.

Wat moet jy prakties doen om met die Gees vervul te word? Volgens Ef. 5:18 moet jy met die Gees gevul wees en volgens Kol. 3:16 moet die Woord van Christus jou ryklik vul. Volgens Ef. 5:19-6:9 is die gevolge van ‘n lewe vol van die Gees dieselfde as Kol. 3:17-4:1 se Woordgevulde lewe. Die slotsom is dus dat ‘n lewe vol van die Gees en lewe vol van die Woord een en dieselfde ding is.

Om dus met die Gees gevul te wees, moet jy die Gees-geïnspireerde Woord so baie lees en oordink soos wat dronk man wyn drink. Lees dit biddend en vra die Gees om jou daardeur te leer, te help, te verander en te beïnvloed. Bekeer jou van jou sonde, omdat dit die Heilige Gees bedroef (Ef. 4:30).

As jy klaar hierdie stappe geneem het, moet jy onthou dat die Heilige Gees soewerein is (Joh. 3:8). Jy kan Hom nie dwing nie. Maar jy kan op Hom wag en glo dat God nie vir jou ‘n klip sal gee as jy vir brood gevra het nie. “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Luk. 11:13).

Ongelukkig beteken ‘n lewe vol van die Gees nie noodwendig dat 2019 makliker sal wees as 2018 nie. Maar jy sal beter toegerus wees om jou probleme te hanteer. Jy sal wees soos ‘n man wat ‘n gereedskapkas by sy vrou gekry het en nie meer met ‘n tafelmes en ‘n baksteen hoef reg te kom nie.

Kategorieë