“4 En Hy moes deur Samaría gaan. 5 Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6 En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur. 7 Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink—8 want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. 9 En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie. 10 Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. 11 Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? 12 U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? 13 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. 15 Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie. 16 Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier. 17 Die vrou antwoord en sê: Ek het nie ‘n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; 18 want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. 19 Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is. 20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.” (Johannes 4).
Die afspraak (v.4-6)
Die Jode het geglo die Samaritane is onrein. Sommige Jode sou eerder 'n ompad loop as om deur die Samaritane se streek te reis. Jesus was oppad van Jerusalem in die suide van Israel na Galilea in die noorde (v.3-4, 45). As Hy wou kon Hy die Samaria-streek vermy en kuslangs reis. Maar Hy was haastig en het die kortpad deur Samaria gevat. Daarom sê Johannes Hy moés deur Samaria gaan. Maar daar is 'n ander rede waarom Hy deur hulle streek moés gaan: Hy het 'n ‘afspraak’ gehad met 'n sekere vrou. Hy het beplan om haar te red. Die ontmoeting het plaasgevind buite 'n dorp met die naam Sigar; naby die stuk grond wat Jakob as geskenk aan sy ‘blou-oog seun’ Josef gegee het (v.5, sien Genesis 48:22, Josua 24:32). Net 'n vraag voor ek verder gaan: dink jy dis toevallig dat jý hierdie preek lees of hoor? Of moés jy dit lees/hoor, omdat Jesus 'n afspraak het met jou; omdat Hy beplan om jou te red?
Sigar is omtrent 50 kilometer van Jerusalem af. Daar was geen taxi’s of busse nie. Jy kan jou indink hoe moeg Jesus was, nadat Hy so ver moes stap in die warm woestynson. Hy was moeg en het langs die put gaan sit (v.6). Hy was dors en het gevra vir iets om te drink (v.7). Hy was honger en het sy dissipels dorp toe gestuur om kos te koop (v.8). Al hierdie dinge bewys vir ons dat, alhoewel Jesus volkome God is, Hy ook volkome mens was. Johannes sê dat dit die sesde uur was (v.6). Die Romeine tel van 12 uur die middag of aand af. Indien Johannes dié tydsindeling volg, beteken dit dat dit omtrent 18:00 was – die gewone tyd wat vroue water sou kom skep (Genesis 24:11). Maar die Jode tel van 6 uur in die oggend of aand af. Indien Johannes die Joodse tydsindeling gebruik het, was dit nou 12 uur in die middag. Dan het hierdie vrou op 'n ongewone tyd kom water skep. As gevolg van haar sondige leefstyl was sy 'n uitgeworpene in die samelewing. Maar al verwerp almal jou as die slegste sondaar – by Jesus is daar hoop.
Die aanbod (v.7-15)
Jesus was dors. Hoekom het Hy nie sy dissipels vir water gevra nie: dit was mos algemeen vir dissipels om hulle leermeester te bedien? Hoekom het Hy nie ook vir die vrou kos gevra nie? Die antwoord op beide vrae is in v.8: “want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.” Daarom het Jesus die vrou gevra vir water (v.7). Maar daar was nog 'n rede hoekom hy vir haár gevra het: Hy wou 'n gesprek aanknoop om die evangelie met haar te deel ('n goeie evangelisasie-wenk).
Die vrou was verbaas dat 'n Joodse man met haar, 'n slegte Samaritaanse vrou, sou praat. In die eerste plek het mans nie in die openbaar met vroue gepraat nie (v.27), en in die tweede plek sou Jode en Samaritane nie eers dieselfde eetgerei en kruike gebruik het nie (v.9). Die Jode het die Samaritane gehaat. As 'n Jood jou wou slegsê sou hy jou 'n ‘Samaritaan’ noem (8:48). En as 'n Samaritaan geweet het jy het simpatie met die Jode, sou hy jou ignoreer (Lukas 9:53). Die Samaritane was volbloed Jode wat as slawe weggevoer is Assirië toe. Die paar wat in Samaria agtergebly het, het uiteindelik met Assiriërs en ander volke ondertrou en is uitgebaster, sodat hulle nie meer suiwer Jode was nie (sien 2 Konings 17). Maar Jesus het hierdie tradisie geïgnoreer, want Hy het gekom om mense van alle nasies, sosiale klasse, en morele agtergronde te red. In Johannes 3 deel Hy die evangelie met 'n morele Joodse man, en in Johannes 4 met 'n immorele Samaritaanse vrou. Johannes 4 is onder andere in die Bybel, om te wys hoe Jesus die plek van die vrou in die samelewing kom herstel het.
Jesus het vir die vrou gesê dat sy Hóm vir water sou vra as sy regtig geweet het dat Hy lewende water kon gee (die gawe van die ewige lewe en die Heilige Gees): “Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” (v.10). Sien jy dit? As sy gevra het, sou Jesus dit vir haar gegee het. Dit is die evangelie: God gee die ewige lewe gratis as jy jou dors erken (sonde oortuiging), jou gekraakte waterbak los (bekering), en vra vir die lewende water (geloof).
Maar die vrou was blind vir geestelike dinge. Sy het nie verstaan wat Jesus sê nie. Haar antwoord wys dit: “Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding ['n emmer aan 'n tou] nie, en die put is diep [omtrent 40 meter – dit bestaan vandag nog]; waarvandaan kry U dan die lewende water?” (v.11). Ai, die blinde hart van die sondaar. Toe Jesus vir Nikodemus sê hy moet weergebore word, was sy reaksie: “Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” (3:4). In Johannes 6 het Jesus gepraat van brood wat jou vir ewig kan versadig. Die Jode se reaksie was: “Here, gee ons altyd hierdie brood.” (6:34). Ongelowiges verstaan nie geestelike dinge nie: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Korintiërs 2:14).
Die vrou was teen dié tyd 'n bietjie opgewerk: “Dink Jesus Hy is groter as Jakob? Hy kan miskien lewende water gee, maar Jakob het die put gegee waaruit die water kom (v.12).” Natuurlik is Jesus groter as Jakob. Jakob moes elke dag water gaan skep – die vrou ook. En indien iemand nie water drink nie sal hy doodgaan. Die persoon wat nie van Jesus se water kry nie sal geestelik sterf, maar die een wat daarvan drink sal nie weer dors word soos mense wat van Jakob se put gedrink het nie. Inteendeel, die bron en fontein van lewende water sou binne-in die persoon wees (v.13-14). Anders gestel:
“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe” (3:36).
“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (6:35).
“En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” (7:37-39).
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” (10:10).
“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (17:3).
“En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” (Isaiah 12:3).
Enigiemand wat hierdie fontein van lewende water (Jesus en sy evangelie) verruil vir die vuil waterbakke van seks, dwelms, drank, of enigiets anders, is ’n dwaas. In Jeremia 2:13 sê die Here: “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”
Leer nog ’n les uit die vrou se reaksie in v.12: solank as wat jy dink jou godsdienstige erfenis (Jakob, in haar geval) is groter as Jesus, kan daar geen verlossing wees nie. Jou eie ‘waterput’ van seks, dwelms, drank, godsdiens of watookal, is onvoldoende. Jesus alleen kan jou dors les en die leemte in jou siel versadig. Pasop dat jy nie soos die vrou is nie: “Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.” (v.15). Sy wou die voordele hê wat Jesus kon gee. Sy wou die lewende water hê om die ongerief van 800 meter se stap elke dag, te vermy. Party mense soek so 'n evangelie: “As jy Jesus dien sal jy ryk, gesond, en voorspoedig wees” (die vals ‘Prosperity Gospel’). Die vrou het nogsteeds nie haar nood vir Jesus en sy lewende water gesien nie (v.14).
Die oortuiging (v.16-20)
Jesus het nou haar gewete geteiken: Hy het haar gevra om haar man te roep (v.16). Haar gewete het haar gepla, omdat sy in seksuele sonde saam met 'n man gebly het. Dadelik het sy haar sonde probeer toesmeer deur te sê: “Ek het nie 'n man nie.” (v.17). Sy het nie die hele waarheid vertel nie. Sy het probeer om haar verlede en hede vir Hom wegsteek. Leer tog: daar kan geen verlossing wees, totdat jy nie jou sonde erken nie (Spreuke 28:13). Jesus het gekom om sondaars te red – nie self-regverdige mense wat sê dat alles reg is nie (sie Lukas 18:9-14).
Jesus het vir die vrou gewys dat seksuele losbandigheid (net soos drank, dwelms, en ander sondes) haar leeg laat. Sy het gedink: “Miskien sal hierdie die man wees wat my gelukkig maak?” Maar haar dors was nie geles nie. Sy was al 5 keer getroud en het, toe Jesus met haar praat, in seksuele sonde gelewe met 'n man (v.17-18). Sy het uiteindelik erken dat dit so is, en het bely dat Jesus haar geheime denke en dade ken (v.19). Maar sy was nog nie gered nie. Om jou sonde te erken is nie genoeg nie – selfs al het jy trane daaroor. Ek het al baie keer gesien hoe mense huil wanneer ek met hulle die evangelie deel. Maar dan blý hulle ongered. 2 Korintiërs 7:10 sê: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.” Sommige mense huil, omdat die sonde hulle laat skuldig voel, en ander omdat hulle nie die gevolge van hulle sonde wil hê nie. Nog ánder huil omdat hulle jammer is hulle is uitgevang. Geeneen van hierdie dinge is 'n plaasvervanger vir ware berou en bekering nie. Die vrou was nog nie gered nie.
Die vrou het die onderwerp van haar sonde na godsdiens toe verander (v.20). Sy het dit gedoen, omdat sy haar sonde wou ontduik. Sy het godsdiens as haar onderwerp gekies, omdat sy haar gewete wou sus. Baie mense werk so met godsdiens. Hulle woon kerk by, lees die Bybel, bid, gee tiendes, en doen ander godsdienstige dinge, om hulle gewete stil te maak (veral wanneer die sonde erg pla). Hulle dink dat hulle goeie dade die slegte dade sal uitkanselleer voor God. Ander mense sê net vir hulleself dat skuldgevoelens die gevolg van 'n slegte selfbeeld is, en probeer hulle selfbeeld opbou. Ander drink of gebruik dwelms om van hulle gewete te ontsnap. Maar sodra die verdowingsmiddel uitgewerk het, sit hulle probleem lewensgroot voor hulle neuse, en hulle gewete pla hulle nogsteeds.
Die vrou het Jesus nodig gehad (soos sy uiteindelik besef het), want net Hy kan afreken met die oorsaak van 'n skuldige gewete, naamlik die skuld self. Jesus het deur sy kruisdood die rekord van ons skuld afbetaal. Hy het die sondaar se skuld op Homself geneem en die straf daarvoor gedra. Hy is begrawe en het opgestaan uit die dood. Vir almal wat hulle bekeer en heelhartig op Hom alleen vertrou (nie op Jesus plus jou eie godsdienstige pogings nie), is daar vergifnis, lewe, en 'n rein gewete. “hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien... laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 9:14, 10:22). Sonde sal jou siel uitdroog en kan nooit jou sielsdors les nie. Net Jesus kan. Vra Hom.