Lukas 20:27-40
Op 29 Mei 2005 was daar ’n oopgesprek op RSG. Die vraag is aan professor Julian Müller van Tukkies gevra: ‘Glo jy in die fisieke of liggaamlike opstanding van Jesus?’ Hy het die vraag ontduik en gesê dat hy met graagte die Apostoliese Geloofsbelydenis in die kerk opsê: ‘Ek glo...in Jesus Christus, sy [die Vader] eniggebore Seun, ons Here...wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is...wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode.’1
In 2011 is Müller se boek, Om te mag twyfel vrygestel.2 Wat ’n hopelose lewe van twyfel! Soos Müller het die Sadduseërs die opstanding van die liggaam of vlees betwyfel en Jesus hierop uitgedaag.
1. Skeptiese Sadduseërs (v.27-33)
Die Sadduseërs was die ryk priesterlike klas (Hand. 5:17, 4:1-2, 5-6). Hulle was bang Jesus se invloed trek die Romeine se aandag, sodat dié Jerusalem en die tempel verwoes (Joh. 11:47-48). Daardeur sou hulle hulle posisie, asook hulle rykdom verloor. Die logiese oplossing was om vir Jesus dood te maak (Joh. 11:49-50). Om Hom te vang, het hulle die volgende storie vertel:
“Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer ’n nageslag verwek.’ So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het ’n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. Ten laaste het ook die vrou gesterf. Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” (v.28-33).
Die storie is op Deut. 25:5-6 gebaseer: “As broers by mekaar woon en een van hulle sterf sonder dat hy ’n seun nalaat, dan mag die vrou van die oorledene nie buite die familie aan ’n vreemde man behoort nie. Haar swaer moet by haar ingaan, haar as sy vrou neem en sy plig as swaer nakom. Die eersgebore seun wat sy in die wêreld bring, moet die naam van sy oorlede broer in stand hou, sodat sy naam nie uit Israel verdwyn nie.”
Het die Sadduseërs gehoop Jesus opponeer vir Moses, sodat hulle Hom kon aankla (vgl. Hand. 6:11)? As liberale teoloë het hulle slegs die boeke van Moses—Genesis tot Deuteronomium—as gesaghebbend beskou;3 die opstanding van die liggaam, asook die bestaan van engele en geeste verwerp (Hand. 23:8). Volgens hulle was daar geen lewe na die dood nie, maar die mens se siel het saam met sy liggaam gesterf.4 Die Sadduseërs het nie geglo God onderhou, regeer of sorg vir sy skepping nie. God se voorsienigheid (Eng. providence) was nie deel van hulle teologie nie.5
Die meeste van ons gaan nie so ver nie, maar betwyfel jy dele van God se Woord? ’n Ou Skotse teoloog genaamd Marcus Dods (1834-1909) het gesê inspirasie raak net die tekste oor verlossing—die res van die Bybel is nie geïnspireer nie.6 Ek wonder wie het dit besluit? In stede daarvan dat mnr. Dods hom aan die Bybel onderwerp het, het hy dit veroordeel (Jak. 4:11).
Ongeloof is die giftige wortel waaruit elke ander sonde spruit: “En wanneer Hy [die Heilige Gees] kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde...Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie” (Joh. 16:8-9). Ongeloof lê agter Adam en Eva se sonde in die begin. Hulle het God nie geglo nie, maar sy Woord betwyfel: “Is dit werklik so dat God gesê het...?” (Gen. 3:1). Hulle ongeloof het die dood meegebring en die ganse mensdom in sonde gedompel (Rom. 5:12). Ongeloof is dodelik. Die Bybel sê:
“Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.” (Joh. 8:24).
“Dit is deur hulle [Israel] ongeloof dat hulle uitgebreek is.” (Rom. 11:20).
“en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.” (2Tess. 2:12).
“Ons sien dus dat hulle [Israel] vanweë ongeloof nie in staat was om in sy rus in te gaan nie.” (Heb. 3:19).
Ongeloof laat mense se koppe swel, sodat hulle dink hulle weet beter as die Bybel. Tot my skande moet ek sê ek het in hierdie strik getrap. Tydens my studiejare het ek twee liberale dosente gehad. Toe ek my professor eendag oor Adam en Eva uitvra, toe sê hy: ‘Hulle het nie regtig bestaan nie. Dit is net ’n mite waardeur God vir ons sekere lesse wil leer.’ Sy ‘slimheid’ het my beïndruk.
’n Jaar of wat later toe kry ek die geleentheid om in Vryheid te preek. ’n Elfjarige seun het my die volgende gevra: ‘Waar het Kain sy vrou gekry?’ Sy ouer broer het hom geleer om skepties te wees. As ek die Bybel beter geken het, kon ek hom uit Gen. 5:4 antwoord: “Die lewensdae van Adam was ná Set se geboorte nog 800 jaar, en hy het seuns en dogters verwek.” (eie beklemtoning). Maar ek het nie. Ek het my professor se voorbeeld gevolg en gesê: ‘Adam en Eva het nie regtig bestaan nie, en daarom Kain ook nie.’ Ek moes my gesonde verstand gebruik het, want as Adam en Eva nie bestaan het nie val Jesus se geslagsregister in Lukas 3 plat! Dan is die evangelie daarmee heen. Waar het sonde en dood vandaan gekom as Adam nie regtig was nie?
Ai! Vandag is ek bitter spyt. Ek wens ek kon die horlosie terugdraai, maar ek kan nie. Ek hoop van harte dat die Here hierdie jong man in die waarheid sal lei. Hopelik kom hy eendag op hierdie preek af. Mag hy tog my dwase misleiding vergewe soos die Here my vergewe het.
Ongeloof is aaklig. Dit suig die lewe uit jou uit. Dit steel mense se vrede, blydskap en ewige hoop. Vat Ferdinand Christian Baur (1792-1860) as ’n voorbeeld. As jong man het hy die Here vurig gedien en die evangelie verkondig. Maar toe hy met liberale teologie deurmekaar raak, het alles verander. Dinge het so erg geraak, hy kon later nie meer bid nie. Dit het hom duur gekos toe sy vrou op haar sterfbed lê. Hy kon nie vir haar bid nie en moes ’n evangeliese leraar ontbied om dit te doen. Horatius Bonar (1808-89) sê: ‘Unbelief could do nothing for him. It had closed his lips; and it had hidden the face of God.’7
Sien jy enige ongeloof in jou lewe? Bely dit onmiddellik, sodat die Here jou verhouding met Hom kan herstel: “En wat hulle [Israel] betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal ook hulle weer ingeënt word. God is magtig om hulle weer terug te kan ent.” (Rom. 11:23).
2. Onfeilbare Here (v.34-40)
Jesus se aanklag teen die Sadduseërs was dat hulle God se Woord nie ken nie (Matt. 22:29). Het hulle nooit in die Ou Testament van die lewe hierna en die finale opstanding gelees nie (sien 1Kon. 17:17-24, 2Kon. 4:18-37, 13:20-21, Job 19:25-27, Ps. 16:10-11, 23:4-6, 73:24-25, Jes. 25:8, 26:19, Dan. 12:2, Hos. 13:14)?
Natuurlik sou hulle sê dit staan nie in die Pentateug (die boeke van Moses) nie. Jesus het hulle verkeerd bewys, maar selfs al was dit nie in die Pentateug nie, moes hulle glo God is almagtig en kan die dooies opwek. Daarom het Jesus gesê: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie.” (Matt. 22:29). Paulus het dieselfde gesê: “Waarom word dit deur julle as ongeloofbaar beskou dat God dooies opwek?” (Hand. 26:8).
*****
In die bedeling wat kom, verval die tydelike instelling van die huwelik. Jesus sê: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie.” (v.34-35).
Soos die engele sal ons onsterflik wees! Die Sadduseërs moes weet dat engele bestaan; selfs in die Pentateug (Gen. 3:24, 19:1, 28:12, 32:1, Deut. 33:2)! God het hulle in die begin geskep (Job 38:4-7, Kol. 1:16). Anders as ons is hulle onsterflik (v.36). Deur Adam se sonde het die dood in die wêreld ingekom (Gen. 3:19). Voortaan sterf ’n mens se liggaam sterf, maar sy siel lewe vir ewig (v.36, Pred. 12:7, 3:11 [esv], Luk. 23:43, Joh. 8:51, 11:25, Hand. 7:59, 2Kor. 5:8, Fil. 1:23).
Ons siele slaap nie in die graf soos iemand my onlangs probeer wysmaak het nie. Met die opstanding word jou liggaam so onsterflik soos jou siel (v.35-36, 1Kor. 15:42, 50-54). Soos die engele trou mense nie meer nie (v.35-36). Ons sal vir ewig met Jesus getroud wees (v.34-36, Ef. 5:31-32, Op. 19:7-9). Die engele deel nie hierdie voorreg nie. In hierdie opsig is ons groter as die engele (Heb. 2:6-9). Hulle is God se seuns deur skepping (Job 1:6, 2:1, 38:7). Ons is dit deur verlossing en aanneming (Rom. 8:15-17). By die opstanding sal ons weet wie die erfgename van God is (v.36, Rom. 8:23).
Sal Jesus nie die ongereddes ook opgewek nie? Hy sal (Joh. 5:28-29, Hand. 24:15). Maar Hy sal ons tussen die dooies uit opwek (v.35, Fil. 3:11, Gk. ek nekrōn). Ons sal ’n verheerlikte liggaam ontvang (1Kor. 15:42-44). Hulle sal nie, maar sal vir ewig lelik bly (Jes. 66:24). God verheerlik net dié wat waardig is: “maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry” (v.35).
Wie is hierdie mense? Weens ons swakheid en sonde is almal van ons onwaardig (15:21, 17:10). Jesus alleen is waardig en deur sy bloed en geregtigheid maak Hy ons waardig (Sag. 3:3-5, Fil. 3:9, Op. 3:4, 5:9, 12, 7:14). Deur Hom verkry ons die lewe hierna en die opstanding uit die dood. Dit staan nie net in die Nuwe Testament of die Profete nie. Die Pentateug bevestig dit! “Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem.” (v.37).
In Eks. 3:6 het God vir Moses gesê: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Hy het nie gesê Hy was God van Abraham, Isak en Jakob nie; Hy is hulle God. Dooie mense het nie ’n God nie; net lewende mense het. Daarom sê Jesus: “Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.” (Matt. 22:32). Toe die aartsvaders dood is, het hulle siele in die hemel bly voortlewe (v.38). In 16:22-31 lees ons van Abraham in die lewe hierna. In die hemel is “die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is” (Heb. 12:23).
Toe hulle gesterf het, is Abraham en Isak en Jakob met hulle mense verenig (Gen. 25:8, 35:29, 49:33). Beteken dit hulle is by hulle voorvaders begrawe? Nee. Die oomblik toe Jakob sterf, is hy met sy mense verenig (Gen. 49:33). Hy is eers 77 dae later begrawe (Gen. 50:1-14). Wat beteken dit anders as dat hy hemel toe is?
Ek glo in die ewige lewe!
’n Amerikaanse evangelis in die 1800’s het gesê: ‘Some day you will read in the papers that D. L. Moody, of East Northfield, is dead. Don’t you believe a word of it! At that moment I shall be more alive than I am now. I shall have gone up higher, that is all... I was born of the flesh in 1837. I was born of the Spirit in 1856. That which is born of the flesh may die. That which is born of the Spirit will live forever.’8 As die Here jou siel verheerlik, sal Hy vir seker ook jou liggaam verheerlik (Joh. 5:24-25, 28-29).
So het die Sadduseërs dan ’n gratis les in teologie ontvang. Hulle moes op die harde manier leer dat ’n mens Jesus nooit vir ’n Bybelvasvra uitdaag nie—jy gaan verloor (v.39-40)! Glo liewer sy lering en bely saam met gelowiges deur die eeue: ‘Ek glo...in die opstanding van die vlees en die ewige lewe.’9
1 Ferdi Mulder, Opgestaan (Cambridge, England: Opgestaan Publikasies, 2011), 54-5 en https://kerkargief.co.za/doks/bely/GB_12.pdf (toegang verkry op 25 November 2023).
2 https://www.glodiebybel.co.za/om-te-mag-twyfel-julian-muller-2013/
3 Hyppolitus (170-236), Refutation of all Heresies, 9.24. Toegang verkry op 15 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/050109.htm; Origen (185-254), Contra Celsum, 1.49. Toegang verkry op 15 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/04161.htm
4 Flavius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 18.1.4, p. 377.
5 Ibid., The Wars of the Jews, 2.8.14.
6 Iain H. Murray, A Scottish Christian Heritage (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2006), 370.
7 Murray, ibid., 384-5.
8 D.L. Moody (Emma Moody Fitt, ed.), Mornings with Moody: A Daily Devotional Message from the Words of D. L. Moody, December 22. Toegang verkry op 16 November 2023, https://christiandiet.com.ng/wp-content/uploads/2020/07/Mornings-With-Moody-D.-L.-Moody-Christiandiet.com_.ng_.pdf
9 Henry Bettenson, Documents of the Christian Church (Oxford: Oxford University Press, 1963 [1943]), 23-4 en https://www.desiringgod.org/articles/we-believe (toegang verkry op 17 November 2023).