Hebreërs 13:8
Konstantes en veranderlikes is wiskundige terme. In x + y = 7, is 7 die konstante met x en y as veranderlikes. Jou lewe en die heelal is veranderlikes. God en sy Woord is konstantes. Om deur ’n onseker jaar konstant te bly, moet jy die enigste konstante vertrou: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid.” (Heb. 13:8).1
1. ’n Konstante Verlosser
Jesus beteken: ‘Jahwe verlos’ (Matt. 1:21). As Verlosser verander Jesus nie (v.8). Soos Hy in die verlede mense gered het, red Hy hulle vandag. Hy red oneerlike tollenaars soos Levi en Saggeus; demoon-besete mense soos Maria Magdalena en die besetene van Gadara; godsdienstige mense soos Nikodemus; losbandige mense soos die vroue in Lukas 7 en Johannes 4; een van die soldate wat Hom gekruisig het; ’n misdadiger aan die kruis langs Hom; sy eie halfbroers; ’n verlamde bedelaar; Samaritane en Etiopiërs; Paulus en sondaars van die ergste soort. Hy het my gered. Ek was ’n dief en ’n leuenaar, disrespekvol met my ouers. Ek het my sussie geslaan. Ek wou mense beïndruk en was skynheilig. Tydens ’n aanddiens in 1992 het ek onder sonde oortuiging gekom. Ek het huistoe gegaan, my kamerdeur toegemaak, langs my bed gaan kniel, en die Here gesmeek om my te red. Hy het my gebed verhoor. Dit het Hy gedoen, omdat Hy nie verander nie en nog steeds die Verlosser van sondaars is (v.8).
Is jy ongered? Jesus kan jou red. Begin die nuwe jaar met Hom. Bring jou sonde van die verlede; die dinge wat jou gewete pla en jou lewe vernietig. Erken jou sonde en vra dat Hy jou vergewe (Jes. 1:18). Glo Hy sal jou gewete reinig en jou sondeskuld uitdelg (9:14, Kol. 2:14). Dit is die beste manier om die jaar te begin: los jou verlede by Hom eerder as wat dit aanhoudend by jou spook en jou op die einde inhaal (Num. 32:23).
Is jy reeds gered, maar dra verledejaar se krisisse oor na die nuwe jaar? Jesus bly dieselfde (v.8). Hy kan jou deur die nuwe jaar lei soos Hy jou deur 2022 gelei het (v.5-6). Wie kan jou so help? Jou leiers sterf (v.7), maar Jesus bly dieselfde (v.8). As Moses sterf, sal die Here vir Josua opwek; as Paulus sterf, sal Hy Timoteus opwek (Jos. 1:1-9, 2Tim. 2:2). Christus voorsien leiers wat mense na Hom toe wys (v.7-8) eerder as na rituele wat niks beteken nie (v.9). Hy gee leiers vir wie Hy alles is; leiers wat meer soos Hy wil word (Fil. 1:21, 3:7-8, 2Pet. 3:18). Skaar jou by sulke leiers. Binnekort sal jy hulle vergeet en die onderveranderlike Christus sien, omdat hulle jou aandag op Hom fokus (v.7-8). Dit sal die rots onder jou voete wees. As daar storms in die nuwe jaar voorlê, sal jou huis staande bly.
2. ’n Konstante Messias
Messias of Christus is nie Jesus se middelnaam of van nie. Dit is ’n titel wat Gesalfde beteken. In die Ou Testament is priesters, profete en konings met olie gesalf. Die olie was simbolies dat God hulle deur sy Gees vir hulle taak toerus of bekragtig. Christus is God se Gesalfde Priester, Profeet en Koning. Omdat Hy nie verander nie, bly Hy dit vir ewig (v.8, 7:21, 24, 1:8, 2).
As Priester bly sy gebede en offer kragtig om ons te red (7:25). Sy belofte in Joh. 6:37 staan vir altyd: “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie”. Die waarskuwings in Hebreërs 2, 3-4, 6, 10, 12 bly ook vas vir die wat hulle rug op Christus keer! Vir so iemand sou dit beter wees as hy nie gebore is nie (10:29)! Kom liewer nederig en berouvol deur geloof na Jesus ons Hoëpriester. Hy sal jou woelige lewe en -gedagtes soos ’n storm op die see bedaar (Matt. 11:28-30).
As Profeet bly Jesus dieselfde (v.8, 1:2). Hy het God se wil vir die apostels geleer (2:3). Onder die inspirasie van die Heilige Gees het hulle dit neergeskryf (Joh. 14:26, 16:13, 2Pet. 1:21). Christus se Woord is so onveranderlik soos Hy (v.8, 3:7, 4:7, Jes. 40:8). Die Hebreërbrief en die res van die Bybel is so betroubaar soos toe Hy dit geskryf het. Moenie my woord daarvoor aanvaar nie. Lees die Bybel vir jouself. Kry ’n gratis eenjaar program op die internet. Lees die Bybel noukeurig en met ’n oop gemoed deur. Luister of jy Christus se stem daarin hoor en of die Bybel die opinie van mense is. As die Bybel God se Woord is soos ek sê, hoef ek dit nie te verdedig nie; dit dra sy eie gesag. Dit is soos as iemand jou met ’n skerp swaard deurboor. Niemand hoef jou te oortuig dat die swaard skerp is nie; jy kan dit voel. So sal jy weet die Bybel is God se Woord as die Heilige Gees dit deur jou dryf (4:12).
As Koning bly Jesus op die troon (1:8-9). Niks wat in die nuwe jaar of in die toekoms gebeur, kan dit nie verander nie: nie die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne, die toenemende boosheid, ’n onstabiele ekonomie, die duiwel se aanslae op die kerk of jou lewe nie. Jesus is Koning van konings en Here van here (Op. 19:16). Elke knie sal voor Hom buig en erken dat Hy die Here is (Fil. 2:10-11). Al hoekom die toekoms ons paniekbevange maak, is omdat ons meer op ons fone as in die Woord is. Ons kyk meer na wêreldgebeure as na die onveranderlike Christus wat langs sy Vader op die troon is (v.8, 1:13). Kyk na Christus, dan sal jy jou slap hande optel en jou lam knieë versterk (12:2, 12-13).
3. ’n Konstante God
My vrou is konstant; haar emosies is baie stabiel. Sy ken nie so iets soos depressie nie en haar liggaam is baie gesond. Tog word sy nou en dan siek, en voel sy een keer in agt maande bedruk. Ook sal sy soos die res van ons sterf. Sy is veranderlik. As Jesus net ’n mens was, was Hy soos my vrou: stabiel, maar veranderlik. Jy sou Hom nie ten volle kon vertrou nie. Maar v.8 sê Hy verander nie. Num. 23:19, Mal. 3:6, Jak. 1:17 sê God verander nie. Dit beteken Jesus is God. Hebreërs 1 sê dit uitdruklik: Jesus is die Skepper (v.2); Hy is die afskynsel van God se heerlikheid en die presiese afdruksel van sy wese (v.3); Hy onderhou die heelal deur sy magswoord (v.3); al God se engele aanbid Hom (v.6); Hy sit as God op die troon (v.8-9); Hy is ewig en onveranderlik (v.10-12); Hy is die Here of Adonai van Psalm 110 (v.13).
As mens is Jesus veranderlik: Hy het gegroei, ouer en slimmer geword (Luk. 2:40, 52). As God verander Hy nie (v.8). Ons verander, die wêreld verander, ons leiers verander (v.7, Ps. 146:3-4). Christus verander nie (v.8), daarom kan ons Hom ten volle vertrou. Hy bestaan in een oomblik in die verlede, hede en toekoms (v.8, Joh. 8:58). Jou verlede, hede en toekoms is tegelykertyd voor Hom (Jes. 46:10). Niks in 2023 is vir Hom nuus nie. As Christus soos ’n tiener se liggaam en emosies moes verander, was 2023 ’n nagmerrie. ’n Veranderlike Christus sou beteken Hy is vandag goed, môre sleg; vandag almagtig, môre swak; vandag betroubaar, môre nie; vandag regverdig, môre nie; vandag wys, môre dwaas; vandag ewig, môre sterflik. Dank Hom dat Hy nie verander nie, maar altyd dieselfde bly (v.8). Vertrou Hom. Hy sal jou nie teleurstel nie.
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.