Coram Deo Cover Image

Coming soon...

12 December 2021

Kersfees in die laaste dae

Jesaja 8:23-9:6

In elke era is daar mense wat dink dat hulle in die laaste dae lewe. Volgens tekste soos 1Kor. 10:11, Heb. 1:1-2, 9:26 het die laaste dae met Jesus se eerste koms begin. Die laaste dae strek tot by sy tweede koms. Elke dag is een dag nader daaraan as gister (Rom. 13:11). Jesaja 9 leer ons hiervan.

 

1. Lig na die donker (8:23-9:1)

Verlede November het my vriend en sy gesin die Hugenote museum en monument in Franschhoek besoek. Hy het vir my ’n foto van die volgende woorde gestuur: Post Tenebras Lux. Dit beteken: ‘na duisternis lig’ en verwys na die Protestantse Hervorming.

Jesus se eerste koms was so: na duisternis lig. Dinge was donker vir Israel toe die Assiriërs hulle in 722 v.C. in ballingskap wegvoer (8:21-22). Die duisternis het eerste oor Sebulon en Naftali in die noorde gekom (2Kon. 15:29). Net so het God se lig eerste na hulle toe gekom (8:23-9:1). Toe Jesus aarde toe kom, het sy bediening hier begin: in Galilea van die heidene (8:23, Rigt. 1:30, 33, Matt. 4:12-17). Die lig was nie vir Israel alleen nie, maar vir die heidene (Matt. 8:5-13, 15:21-28, Joh. 3:16).

Ongelukkig vermy party mense die lig as gevolg van hulle donker verlede (Joh. 3:19-20). Hulle vermy God se Woord en die gemeente; hulle vermy ander Christene. Hulle is soos iemand wat die dokter vermy, omdat hy bang is vir slegte nuus. Moenie so wees nie. Kom liewer vir genesing (1Joh. 1:7, 9). Jesus kan jou van jou donker verlede red (Luk. 7:36-50, 23:39-43).

Hy is hiervoor bekwaam, omdat Hy self in die duisternis gesterf het om ons na sy wonderbare lig toe te bring (Matt. 27:45, Kol. 1:12-14). Glo in die Lig (Joh. 8:12, 12:46, Ef. 5:14). Vermy die duisternis en groei soos ’n potplant in die lig (Rom. 13:12-13, 2Kor. 6:14, Ef. 5:8-9, 11). Waardeer die lig terwyl jy dit het, sodat Hy nie sy lig onttrek en jou permanent in die buitenste duisternis werp nie (Joh. 12:35-36, Matt. 25:30).

 

2. Blydskap en vrede (9:2-4)

Vir ons gemeente was 2019 ’n wonderlike jaar. Die bidure, gemeente, finansies, onderlinge liefde en eenheid het geweldig toegeneem. Ons harte en monde was vol van die Here se lof. Die blydskap was groot.

So was dit vir Israel. Nadat die Here het hulle uitgedun het, het Hy hulle herstel en vermeerder. Dit het tot blydskap gelei (9:2). Ons sien in die boek Handelinge hoe mense vol blydskap is wanneer hulle tot bekering kom (Hand. 3:8-9, 4:21, 8:8, 39, 11:23, 13:48, 52, 15:3, 16:34, Rom. 15:10, 1Pet. 1:8). Dit is ook die punt wat Jesaja wil maak. God se volk het deur die bekering van die heidene gegroei en dit het tot groot blydskap gelei (54:1-3, Gen. 12:3, Ps. 22:28, Gal. 3:16, 29, Ef. 2:11-22, Op. 7:9). Hoe het dit gebeur? Deur gebed en evangelisasie (Eseg. 36:37, Hand. 6:7, 11:20-21, 19:20).

Mag ons dieselfde doen en vir die Jode en heidene se bekering bid en die evangelie met hulle deel (62:6-7, Hand. 11:19). Ons blydskap sal vermeerder as die Here hulle red en by die gemeente voeg (9:2, Hand. 2:47, 13:52, Ef. 5:19-20). Ons blydskap sal wees soos wanneer iemand die oes inbring of die vyand se buit neem (9:2, Deut. 16:9-11, 2Kron. 20:24-30). Hierdie is gepaste illustrasies, omdat bekerings soos ’n oes en soos buit is (9:2, 53:12, Luk. 11:22, Matt. 9:38, Joh. 4:35).

Nuwe bekeerlinge bring nuwe lewe in ’n gemeente. Hoe sal ek en jy betrokke raak om mense vir die Here te wen? Kom bid saam hiervoor. Nooi mense kerk toe. Gee ’n traktaatjie vir iemand. Deel die evangelie. Vertrou die Here om die saad wat jy gesaai is, te laat groei (1Kor. 3:6).

***

God se volk was bly oor die bekerings en groei, omdat Hy die juk, stok en roede van die slawedrywer soos in die tyd van Gideon gebreek het (9:3, Rigt. 6-8). Hy het sy volk nie net van Egipte, Assirië en Babilon gered nie, maar van sonde en Satan (9:3, Matt. 1:21). Dit het Hy gedoen deur die juk van die kruis namens ons op sy skouers te dra (Joh. 19:17, Luk. 23:26). Hy het ons uit die duiwel se mag bevry en sy eie sagte juk op ons skouers geplaas (Matt. 11:29-30, 12:29). Sy juk is nie daar om ons te straf nie, maar om ons naby Hom te hou.

Is jy onder die juk van sonde? Sonde belowe plesier, maar dit onderdruk en slaan jou (9:3). Kom na die kruis toe. Wat John Bunyan se Christian beleef het, sal jou eie ervaring word. Hy het ’n swaar sondelas op sy skouers gehad. Hy kon nie daarvan ontslae raak nie nie. Toe hy by die kruis kom, het dit vanself afgeval en in ’n leë graf ingerol.

Dalk is jy ’n gelowige wat sukkel met sekerheid van redding. Die kruis is die oplossing. Kyk weg van jouself af en fokus op die kruis. Maak dit die middelpunt van jou lewe en gedagtes (Gal. 6:14). Jy sal voel hoe Jesus die juk van sonde ligter maak en dit afhaal.

***

Israel was ook bly, omdat die oorlog verby was (9:4, 2:4, Ps. 46:10). Jesaja verwys nie net na die oorlog teen Assirië nie. Hier gaan dit oor Israel se oorlog teen God (40:2). Die oorlog is verby, omdat Jesus vir ons gesterf het. Omdat die Vader se swaard Hom getref het, is ons vry en is daar vrede tussen ons en God (Sag. 13:7, Rom. 5:1). ‘God drenched his sword in the blood of his Son, that it might not for ever be wet with ours’ (Stephen Carnock).1

Dit is ’n groot rede om bly te wees. Moenie vals blydskap hê as jy teen God lewe nie. R.C. Sproul vertel hoe hy byna sy kar van die pad af gery het toe hy ’n sekere kerk se advertensiebord sien: ‘God is not angry at you.’2 Die waarheid is dat God elke dag kwaad is as jy met jou sonde aanhou: “God is ’n regverdige regter, en ’n God wat elke dag toornig is.” (Ps. 7:12, Ou Vertaling).

Net as jy jou bekeer, jou sonde bely en in Jesus glo, kan jy ware blydskap hê (1Joh. 1:9). Dan sal jy wees soos die eiland-stam wat gedans en gejuig het toe die sendeling vir hulle sê dat God hulle sondes vergewe as hulle hulle bekeer en in Jesus glo. In daardie geval geld Jesus se woorde vir jou: “Kind, jou sondes word vergewe.” (Mark. 2:5).3

 

3. Die laaste dae (9:5-6)

Volgens pre- en amillennialiste gaan die wêreld al hoe slegter word. Postmillennialiste glo dit sal beter word. Soos ek dit sien is postmillennialiste reg. Nooit sal die duisternis die lig oorweldig nie (Joh. 1:5). Die lig het by Jesus se eerste koms begin (9:5). Dit word al hoe helderder totdat dit by Jesus se wederkoms soos die middagson sal skyn (9:6, Spr. 4:18). Dit is die derde rede vir Jesaja se blydskap (9:2, 5, Matt. 2:10-11, Luk. 2:20, 28, 38).

***

Die Messias is as ’n Kind gebore (9:5, Gal. 4:4). Dit wys dat Hy volkome en waarlik mens was. Maar Hy is net soveel die Seun van God (9:5, Luk. 1:32, 35). Hy is vir ons gebore en gegee (9:5). Vir ons het Hy in die krip gelê en aan die kruis gehang. Jesaja se ‘ons’ dui daarop dat Christenskap persoonlik is. Jesus het Homself vir jou gegee (Gal. 2:20). Hy is jou Here en jou God (Joh. 20:28). Jy ontvang Hom as jou persoonlike Verlosser (Joh. 1:12).

Is jy syne en Hy joune? Indien nie wil ek jou aanmoedig om te vra dat Hy jou red. Hy sal (Rom. 10:13). Miskien is jy gered, maar jy het nie sekerheid nie. Vra die Heilige Gees om jou sekerheid te gee dat jy aan God behoort (Rom. 8:16). Kom onder Christus se heerskappy en erken Hom as:

 

[a] Wonderbare Raadsman (9:5)

Die Hebreeus vir ‘wonderbaar’(pele) beteken buitengewoon, verbasend, bonatuurlik (Rigt. 13:18). Die Messias se wysheid het mense verstom (Matt. 12:42, 22:22, 33, Luk. 2:47, 20:26, 1Kor. 1:30, Kol. 2:3, vgl. 1Kon. 10:4-5). Hy is ’n koning wat nie raadgewers benodig nie (40:13-14). Hy is nooit in die war nie. Die oplossing vir elke probleem in die heelal lê by Hom. Wanneer ons wysheid kortkom, spreek Hy die regte woord op die regte tyd (50:4). Vra Hom vir raad eerder as wat jy ’n ongelowige sielkundige, berader of vriend vra (11:2, 19:11, Ps. 1:1, 119:24, Spr. 2:3, 6, Joh. 14:16, 26, Hand. 20:27, Rom. 15:14, 1Kor. 2:12, 12:8, Kol. 2:8, 2Tim. 3:16-17, Jak. 1:5, 2Pet. 1:3).

 

[b] Magtige God (9:5)

Ek het ’n Jehovas Getuie oor Jes. 9:5 gevra. ‘Jesus is die Magtige God,’ het ek gesê. ‘Hy is inderdaad ’n magtige god, maar Hy is nie die Almagtige God nie,’ het die man geantwoord. Hy is met ander woorde El-Gibbor (9:5, magtige God), maar nie El-Shaddai nie (Gen. 17:1, Almagtige God).

Dit is ’n vals onderskeid. Tekste soos 10:21, Deut. 10:17, Neh. 9:32, Jer. 32:18 gebruik El-Gibbor (magtige God) met verwysing na Jahwe, die God van Israel. Jesus is hierdie magtige God (9:5). Alle mag in die hemel en op aarde behoort aan Hom (Matt. 28:18). Hy is die Skepper van alle dinge (Joh. 1:3). Hy kan alles doen wat die Vader doen (Joh. 5:19). Eendag sal Hy die dooies opwek (Joh. 5:28-29). Hy het mag om Homself uit die dood op te wek (Joh. 10:18). Hy het sondaars uit alle nasies gered (Op. 5:9). Dus is Hy die magtige en almagtige God.

 

[c] Ewige Vader (9:5)

Modalisme is ’n dwaling wat sê dat God net een Persoon is. Volgens hierdie lering is Jesus die Vader en die Heilige Gees. Maar volgens die Bybel is Jesus nié die Vader of die Heilige Gees nie (Matt. 3:17). Volgens die Bybel bestaan die een God in drie Persone (Matt. 28:19). Omdat Jesus en die Vader een is (Joh. 10:30, 14:9-11), verwys Jesaja na Hom as ‘ewige Vader’ (9:5). Jesus is ook ’n Vader in die sin dat Hy sy volk voortbring (64:8, Deut. 32:6). Deur Christus lewe ons (Kol. 3:4, Joh. 11:25, 14:6).

 

[d] Vredevors (9:5)

Ons was God se vyande, maar deur sy kruisdood het Jesus vrede gebring (Joh. 20:19, 26, Ef. 2:14-17, Kol. 1:20). Het jy hierdie vrede? Ek vra nie of jy dit subjektief ervaar nie. Ek verwys nie na die emosie van vrede nie. Ek bedoel: het jy regtig vrede met God? Indien jy met jou sonde aanhou, bedrieg jy jouself om te dink jy het vrede met Hom (57:21, Jer. 6:14). Net deur bekering en geloof in die Messias kan jy God se vrede hê (9:5, Rom. 15:13).

Hierdie vrede neem toe namate Christus se heerskappy toeneem en meer mense tot bekering kom (9:6). Sy koninkryk sal aanhou groei, totdat daar vrede oor die hele aarde is (9:6, 11:9, Dan. 2:35, Matt. 13:31-33, Op. 11:15).

 

[e] Messias (9:6)

Jesus sit as die Messias op die troon van Dawid (9:6, 132:11-12, Luk. 1:32). Sy koninkryk begin nie by sy tweede koms soos party mense dink nie. Dit het by sy eerste koms en hemelvaart begin (9:5, Ps. 110:1, Dan. 7:13-14, Matt. 2:2, 4:17, 12:28, Luk. 17:21, 19:12, Hand. 2:34-36, Ef. 1:20-22). Dit sal versprei tot alles onder sy voete is en die nasies Hom aanbid (9:6, 2:2-3, Ps. 2:8, 72:8, 86:9, 102:22-23, Obad. 21, Sag. 9:10, 14:9). Daarna sal Hy na die aarde toe terugkeer:

“Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat ‘Hy al die vyande onder sy voete gestel het’. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood.” (1Kor. 15:24-26).

Hierdie verse wys duidelik dat Jesus aan die Vader se regterhand sal regeer, totdat al sy vyande onder sy voete is. Daarna sal Hy terugkeer, die dooies opwek en die laaste vyand (die dood) tot niet maak.

Wat is ons plig in die lig hiervan? Ons moet vir die koms van sy koninkryk bid en die evangelie van die koninkryk met ongelowiges deel (Matt. 6:10, 24:14). Ons kan dit nie alleen doen nie. Jesus moet sy Gees stuur om ons te help (Matt. 28:19-20, Hand. 1:8). Laat ons hiervoor bid. Laat ons by Hom pleit vir ’n herlewing. Laat ons vir die wederkoms bid waar Jesus vir ewig en regverdig sal regeer (9:6, Heb. 1:8).

Klink hierdie dinge onmoontlik? Lyk dit of Jesus aan die verloorkant is? Die ywer van die Here sal sorg dat Hy sy beloftes vervul (9:6). Die feit dat dit vir ons onmoontlik lyk, beteken nie dit is vir die Here onmoontlik nie (Sag. 8:6, Luk. 18:27). Die Here kan hierdie dinge in ’n oogwink doen (66:8). Wanneer die tyd kom om hierdie dinge te vervul, sal die Here dit gou doen (60:22).

Hoe jy oor die eindtyd dink, beïnvloed nie jou redding nie. Maar dit het wel ’n effek op jou gebede, prediking en hoop. Glo jy dat die Kommuniste, Islam of die Illuminati die wêreld gaan oorneem? Of glo jy dat Jesus die soewereine Seun van God is; dat Hy alreeds die oorwinning behaal het; dat Hy die nasies se planne tot niet sal maak om sy eie planne te vestig; dat die hart van elke mens in sy hande is (Kol. 2:15, 1Joh. 3:8, Ps. 33:10-11, Spr. 21:1)? Ek stem saam met Christopher Catherwood:

‘...if the whole massive edifice of Communism could collapse like a house of cards between 1989 and 1991, when the Soviet Union itself imploded, then who knows what God might do next! In the twenty-first century the solid block of Islam—from Morocco in the west to Indonesia in the east—seems, from the most rational vantage points, to be insuperable. Yet so too once did the Communist Empire, and while China remains at least nominally Communist, the church there is thriving... Do we believe in the power of God completely to thwart His enemies and confound their purposes?... Biblically, there is no reason why the frontiers of Islam should not be pushed back—not by armies as in the past, but by the power of God’s Word and His message of salvation.’4

Indien jy daaroor twyfel wil ek jou herinner dat Jesus aan die Vader se regterhand sal regeer totdat al sy vyande onder sy voete is (Ps. 110:1). Mag dit gou gebeur.


1  Aangehaal in Mark Jones, God Is: A Devotional Guide to the Attributes of God (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 138

2   Stephen J. Nichols, R.C. Sproul: A Life (Wheaton, Illinois: Crossway, 2021), 177

3  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

4  Christopher Catherwood, Church History: A Crashcourse for the Curious (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2007 [1998]), 217

Kategorieë